Filippense 1:3-11 – God sal die goeie werk in ons voltooi op die dag van Christus Jesus

5 Desember
Filippense 1:3-11 – God sal die goeie werk in ons voltooi op die dag van Christus Jesus
3Ek dank my God elke keer wanneer ek aan julle dink. 4Altyd, in elke gebed van my vir julle almal, bid ek met blydskap 5oor julle deelname aan die evangelie, van die eerste dag af tot nou, 6juis hiervan oortuig dat Hy, wat ‘n goeie werk in julle begin het, dit sal voltooi tot op die dag van Christus Jesus. 7Dit is immers vir my reg om so oor julle almal te dink, omdat ek julle in my hart hou. Wat my gevangenskap, sowel as die verdediging en bevestiging van die evangelie betref, deel julle almal saam met my in die genade. 8Want God is my getuie hoe ek met die innigheid van Christus Jesus intens na julle almal verlang. 9Ek bid juis dat julle liefde al hoe meer sal toeneem in kennis en insig, 10om die dinge wat saak maak, te kan onderskei, sodat julle, met die oog op die dag van Christus, innerlik suiwer en onberispelik kan wees, 11gevul met die vrug van geregtigheid deur Jesus Christus tot verheerliking en lof van God.
Ons fokus op die tweede Sondag in Adventstyd op Filippense 1. Paulus begin sy brief met waardering en danksegging, veral omdat hulle deelnemers in die verkondiging van die evangelie geword het (vers 5). Hy gebruik die Griekse woord koinonia hier in die betekenis van vennootskap (partnership). Dit sê vir hom dat die genade van God regtig sy werk gedoen het in die praktyk van hulle lewe (vers 7). En daaroor is hy baie bly.
Hy bid dat hulle liefde (agape) nog meer sal toeneem in kennis en insig sodat hulle die dinge wat saak maak kan onderskei. Hulle perspektief op wat God doen, moet dus – soos ’n dataprojektor se lens – verhelder en skerper gefokus word. So kan hulle intelligente keuses maak deur in liefde te onderskei wat God se wil is. Soos Hawthorne dit stel: “Paul prays that the Philippians’ love may be a controlled and developing love for two reasons: (1) that they might know how to make the best choices possible and (2) that they themselves might be the best people possible.”
Ons het dus nodig om op God se beloftes te vertrou en verantwoordelikheid te neem om in ons geloof te groei. Ons kan dit net doen as ons oortuig is daarvan – soos Paulus oor die Filippense – dat God die goeie werk in ons begin het, en dat Hy dit end-uit sal voer en voleindig op die dag van Christus (vers 6). Dit sal verseker dat ons op die dag van Christus onberispelik en sonder blaam sal wees, en deur Jesus Christus geheel en al in die regte verhouding met God.
Lees meer: https://bybelskool.com/filippense-11-11-laat-julle-liefde-in-onderskeiding-toeneem/
Discover more from Bybelskool
Subscribe to get the latest posts sent to your email.
Onlangse kommentaar