Skip to main content

Deuteronomium 33:26-29 – God is ons hulp, ons skuilplek, en ons skild en swaard

28 Januarie

Deuteronomium 33:26-29 – God is ons hulp, ons skuilplek, en ons skild en swaard

26“Jesurun, daar is niemand soos God nie, wat as jou hulp deur die hemel ry, deur die wolkehemel in sy verhewenheid. 27Die God van die voortyd is ‘n skuilplek, en onder jou is ewige arms. Hy het vyande voor jou verdryf en gesê, ‘Delg uit!’ 28“Israel het veilig gaan woon; die fontein van Jakob was afgesonder in ‘n land met koring en nuwe wyn, en sy hemel drup dou. 29Gelukkig is jy, Israel! Wie is soos jy, ‘n volk wat verlos is deur die Here, die skild wat jou help, en wat jou verhewe swaard is? Jou vyande kom kruipend na jou, en jy trap op hulle rûe.” (opmerking: soos letterlik gebeur het in oorlog waar die oorwonne leier na die oorwinnaar se troon op sy maag geseil en daar op sy rug getrap is)

Net voor Moses teen Neboberg sou opklim om te sterf, gee hy soos ‘n Jakob van ouds (Gen. 49-50) ‘n laaste seënbede in Deuteronomium 33. Dit is ‘n baie positiewe en deernisvolle afskeid van die volk aan die einde van sy lewe. Die indeling van die seënbede is duidelik uit die onderskeie stamme wat genoem word. Aan die begin word op die Here self gefokus, die een wat sy “wet van vuur” vir hulle gegee het. Daarna volg die seën vir die onderskeie stamme. Die seënbede word afgesluit met ‘n opsommende seën vir Jesurun. Dit is ‘n naam vir Israel wat beteken die “opregte”.

Die treffende beeld van God as hulp wat op die wolke ry om hulle te hulp te snel, is ‘n kragtige belofte nie net van God se almag nie, maar ook van sy alomteenwoordigheid (vgl Ps 68:4; 104:3; Jes 19:1; Dan 7:13). Daar is geen plek waar God nie kan kom nie. Wat beteken, God kan ons altyd bereik met sy hulp waar ons ook al is, en wat ons ook al in opdrag van Hom moet doen. Hierdie beeld van God word aangevul met die belofte dat God ‘n skuilplek is, nie net in die sin dat Hy ‘n plek gee waar ons kan “wegkruip” nie, maar dat hierdie skuilplek in sy “ewige arms” is (vgl Gen 21:33). God se arms is onder sy mense ingeskuif sodat niks of niemand hulle uit sy greep kan ruk nie. Jesus sluit hierby aan in die NT en verseker ons ook van sy eie beskerming: “Ek gee hulle die ewige lewe, en hulle sal tot in ewigheid nooit verlore gaan nie, en niemand sal hulle uit my hand ruk nie.” (Joh 10:28).

Die derde belofte in die gedeelte word gevind in die beeld van God as die skild en swaard wat hulle vyande voor hulle uit verdryf (vgl Gen 15:1; Ps 3:4; 18:3, 31). God gee ook oorwinning. ‘n Belofte wat die volk baie nodig gehad het vir die groot taak wat vir hulle voorgelê het om die Beloofde Land in te neem. Daarmee sê die Here dat Hy die geveg vir hulle sal veg, dat Hy hulle vyande voor hulle uit sal verdryf, en dat Hy hulle tot veiligheid en vrede sal begelei. Hulle kan Hom vertrou. Hulle kan sy opdragte uitvoer. Hoe uitdagend dit ook al is. God sal hulle die oorwinning gee. Daar is werklik niemand soos God nie. Hy sal dit ook vir elke kind van Hom doen. Ook vir jou.

Lees meer: https://bybelskool.com/deuteronomium-33-moses-se-finale-seenbede/


Discover more from Bybelskool

Subscribe to get the latest posts sent to your email.

Beloftes


Chris van Wyk

Ek is Direkteur van Bediening en Geestelike Vorming by Veritas College International. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am Director of Ministry and Spiritual Formation at Veritas College International. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Maak 'n opmerking

Onlangse kommentaar