Skip to main content

2 Korintiërs 1:1-2:11 – God gee moed in elke omstandigheid

Paulus noem homself, soos in 1 Korintiërs 1, weereens ‘n apostel van Christus, deur die wil van God, maar skryf die brief saam met Timoteus (wat vroeër na hulle gestuur is – 1 Kor 4:17), nie Sostenes nie.  Die brief is ook nie net aan die Korintiërs gerig nie, maar aan almal wat aan God behoort in die hele Agaje – die Romeinse provinsie in die suide van Griekeland, waarvan Korinte die hoofstad was (Masedonië was die noordelike provinsie).  ‘n Mens sien hier dus ook die eerste brief wat vir meer gehore bedoel is, wat God se gesagvolle boodskap aan die kerk in die breë oordra, wat in ‘n sekere sin die geboorte van die Nuwe Testament was soos ons dit vandag ken.  Ons lei ook af dat die evangelie verderaan in Agaje verkondig is, waarskynlik met Korinte as basis.

Let op hoe spesifiek Paulus die ontferming van God aan sy Vaderskap verbind, ‘n metafoor wat hy reeds in 1 Tes 2:11 op sy eie bediening van toepassing gemaak het.  Hy wat die begin is van alles, en oor alles is, is die Een wat in elke omstandigheid, in elke moeilikheid vir ons bemoedig.  Die moeilikheid is natuurlik ter wille van die boodskap van Christus, net soos die bemoediging ook deur Christus gegee word.  Die werk in die belang van Christus, word aan die bemoediging wat Hy gee, gekoppel.  Alles geskied dus in ‘n intieme verhouding met Christus.  En dié bemoediging is bedoel nie net vir onsself nie, maar ook sodat ons ander kan bemoedig wat in allerlei moeilikhede verkeer om lyding met geduld en volharding te verduur.  God red immers nie UIT die nood nie, maar IN die nood (vgl hoe Paulus hieroor skrywe in 2 Kor 12, dat as hy swak is, is hy sterk, want dan kom God se krag tot sy volle werking).

Paulus skryf oor die swaarkry wat hulle verduur het in die provinsie Asië – moontlik verwys hy na die oproer in Efese (Hand 19:21 vv en 1 Kor 15:32) – en dat dit so erg was dat hulle selfs die hoop op lewe laat vaar het.  Maar God het hulle uit die doodsgevaar gered wat hulle nie net met blydskap gevul het nie, maar ook die hoop gegee het dat Hy hulle ook verder sal red.  Interessant is dat hy krediet gee vir hulle gebede vir hom, want dié gebede het meegewerk tot hulle redding.

Paulus beweeg dan aan na ‘n lang verduideliking van die verandering in sy reisplanne, waarmee hy sy integriteit probeer aantoon deur na sy openhartigheid en eerlikheid te verwys (1:12-2:4).  Die verandering het te make met die feit dat hy hulle nie verder wou kom hartseer maak met ‘n persoonlike besoek nie, maar eerder ‘n brief geskrywe het, die sogenaamde “tranebrief” wat ons nie meer het nie (of deur sommige met 2 Kor 10-13 verbind word).  In elk geval wou hy nie regtig vir hulle hartseer maak nie, maar eerder laat besef dat hy hulle baie liefhet (2:4).

Let op hoe Paulus in die hart van dié perikoop sy integriteit vergelyk met God en Christus se getrouheid, ‘n getrouheid wat die Korintiërs self ervaar het. Net so seker as wat God sy beloftes in Christus sal nakom, net so seker kan hulle hom glo oor sy beweegredes vir sy nie-besoek.  Dit is hoe integriteit werk, om jou woord na te kom, soos wat God dit doen!

Let ook op hoe Paulus hulle aanmoedig om ‘n oortreder te vergewe, sodat hy nie MOED verloor nie, anders kan die Satan die oorhand kry.  Terloops – hoewel ‘n mens geneig is om hierdie persoon te verbind aan die man wat saam met sy stiefma geleef het (1 Kor 5), lyk dit eerder asof hy ‘n teenstander van Paulus was, wat hom onder verdenking probeer bring het.

Wat my bybly, is hoe Paulus die Korintiërs bedank vir hulle gebede, omdat dié gebede meegewerk het tot Paulus-hulle se redding, en die seën van die Here vir hulle meegebring het.  En dat die belangrikste van alles is, om MOED te hou in beproewings.  Dit spreek my as pa ook aan in terme van my eie kinders – my belangrikste taak is om hulle te bemoedig in wat hulle doen.

2 Korintiërs 2:12-3:18 – Ons raak God se woorde aan die wêreld

Dit is waarskynlik dat hierdie reis na Masedonië (2:12-13) dieselfde een is waarvan Lukas ons vertel in Handelinge 20, hoewel Lukas daar niks van Paulus se wroeginge rondom Titus vertel nie.  Die min detail is waarskynlik te wyte daaraan dat Lukas in Filippi agtergebly het (Hand 16) met Paulus se tweede sendingreis en eers weer ‘n paar jaar later in Troas by hulle aangesluit het tydens Paulus se derde sendingreis op die finale tog na Jerusalem.

Paulus gee ons hier dus meer inligting en wei uit oor Titus se sending na Korinte om nuus van die gemeente te bekom.  Toe dít nie gou genoeg kom nie, het Paulus hom gaan soek.  In 2 Kor 7:5-7 gee Paulus ‘n nog meer persoonlike perspektief daarop deur uit te brei oor hulle eie ervaringe in dié tyd – dat hulle geen rus of duurte gehad het nie, dat daar van alle kante druk was op hulle, van buite onenigheid en van binne sorge, kortom dat hulleself bemoediging nodig gehad het (vgl ook 1:8-9).

Dit tref my hoe dit presies in sulke omstandighede is wat hulle die ervaring van God se sorg ondervind: “Maar God wat die neerslagtiges opbeur” het “ons ook opgebeur deur die koms van Titus” (2 Kor 7:6).  God werk dus deur die gemeenskap van gelowiges, wat vir ‘n mens verklaar hoekom Paulus nie gemoedsrus kon kry in Troas nie, selfs al was daar ‘n oop deur vir die evangelie, en deurgedruk het na Masedonië, en eers tot rus gekom het toe hulle met Titus verenig is.

Hierdie intens persoonlike ervaringe van Paulus laat my die loflied wat hy in vers 14 aanhef oor die triomftog van die evangelie anders lees.  God soek nie in die eerste plek “lone rangers” wat lyk asof geen ontbering hulle van stryk bring nie.  Nee, hy soek mense wat, in afhanklikheid van Hom, bewus van hulle broosheid, in noue gemeenskap met mekaar die geur van Christus versprei in die wêreld.

Die vier beginsels wat Paulus dus vir sukses in die verkondiging van die evangelie aanstip in vers 17: 1) in opregtheid, 2) verbonde aan Christus, met 3) ‘n duidelike opdrag van God en 4) in finale verantwoordelikheid aan God, moet dus aangevul word met hierdie klem op die uitvoering van jou roeping in die gemeenskap met en ondersteuning van ander gelowiges.

Let op hoe al die metafore vir ons rol as Christene – wierook, briewe, spieëls –  in hoofstuk 2 en 3 met ‘n publieke sigbaarheid van die evangelie te make het.

  • Ons is soos wierook[1] wat ‘n geur versprei aan die hele wêreld.
  • Ons is ook soos ‘n oop brief wat deur die wêreld gelees kan word.
  • Ons weerspieël die heerlikheid van die Here aan die wêreld.
  • En telkens gaan dit oor die boodskap van Christus wat deur ons versprei word.

Interessant genoeg word die effek van hierdie boodskap op drie verskillende maniere uitgespel.

  • Die beeld van die wierook word gebruik om om die verkiesing van God te illustreer: dit bring ‘n lewensgeur vir dié wat gered word, en ‘n doodsreuk vir dié wat verlore gaan.
  • Die beeld van die briewe word gebruik om aan die een kant die apostels se werk aan te beveel, maar ook die nuwe verbond (kontrak) te illustreer wat God tot stand gebring het met mense.
  • En die beeld van Christene as spieëls van God se heerlikheid het die ongelooflike betekenis dat die spieëls SELF verander word om soos Christus te word.  Die spieëls reflekteer dus nie net die heerlikheid van God nie, hulle word letterlik verander om soos Christus te begin lyk.

In die proses kontrasteer Paulus die ou verbond met sy basis in die wet, met die nuwe verbond met sy basis in die Gees.  Ons het nie net God se woorde in ons hande nie, ons het dit in ons harte, meer nog:

Ons raak letterlik God se woorde!  Dit is revolusionêr!

Wat my dus bybly van dié gedeelte is die vier beginsels waaraan ek my eie bediening ook moet meet – opregtheid, verbondenheid aan Christus, besig met my opdrag en verantwoordelik aan God.  En ek hoef dit nie alleen te doen nie, gelukkig nie!

Maar die belangrikste is: dat mense God letterlik deur my lewe hoor – my kinders lees my, my vrou lees my, my kollegas lees my, my naaste voor my deur lees my.  Dit is ‘n ongelooflike voorreg … en ‘n ontsaglike verantwoordelikheid.  En as daar darem nie regdeur woorde gestaan het nie soos: “aan God die dank! Hy voer ons altyd saam …” (2:14), “geskrywe … met die Gees van die lewende God” (3:3) en “Dit doen die Here wat die Gees is” (3:18), sou dit net ‘n onhaalbare droom gewees het.


[1] Paulus werk hier eerder met ’n beeld van die wierook wat in die tempel gebrand word en soos die geur van die tempel af versprei, het dit ’n effek op die mense wat dit ruik.  Baie verklaarders dink aan die wierook wat soms by die terugkoms van die oorwinnaars op die slagveld gebrand is en vir die oorwinnaars ’n lewensgeur was en vir die verloorders ’n doodsgeur was.  Dit was egter nie ’n gereelde gebruik nie, wat eersgenoemde interpretasie moontlik meer waarskynlik maak.

2 Korintiërs 4:1-5:10 – Om te lewe soos Hy dit wil

Paulus is besig om te skryf oor die verandering in sy reisplanne.  In hoofstuk 2:14 het hy homself onderbreek om eers oor die evangelie self te skryf.  In hoofstuk 7:5 sal hy weer terugkom na sy reisplanne.

Om die onderbreking oor die evangelie goed te verstaan, help dit om na die metafore te kyk wat hy gebruik.  In sy beskrywing van die triomf van die evangelie en die wonder van die nuwe verbond het hy drie metafore gebruik om die rol van die evangelie in ons lewens te beskrywe: ons is soos wierook, briewe en spieëls.  Daaroor het ek gister geskryf.

Hier gaan hy nou verder om die evangelie en sy impak in gelowiges se lewe te beskrywe aan die hand van drie ander metafore: 1) die evangelie is die lig wat in die duisternis skyn (4:1-6); 2) die evangelie is ‘n skat wat in erdepotte opgesluit is, potte wat egter maklik breek (4:7-15); 3) die evangelie skep in ons ‘n verlange na ons vaste gebou in die hemel (ons hemelse liggaam – vgl 1 Kor 15) wat God belowe vir ons wat nou net ‘n tentbestaan (ons aardse liggaam) voer (4:16-5:10).

Met die eerste metafoor van die lig van die evangelie spel hy die implikasie daarvan vir die gelowiges se lewe na buite, in die wêreld uit – mense van die lig kan die praktyke van die duisternis nie verdra nie, veral nie dinge soos bedrog en vervalsing nie.  Die resultaat: ‘n eerlike lewe laat die lig van Jesus vanuit jou hart regdeur jou skyn.

Met die tweede metafoor van die skat in kleipotte, spel Paulus die effek van die evangelie op die omstandighede van die gelowige uit – ons lot is verdrukking, verleentheid oor raad en vervolging wat fisiese leed insluit.  Tog laat die krag van God nooit toe dat ons terneergedruk, radeloos, God-verlate of vernietig word nie.  Die lewe van Jesus word in ons sigbaar, juis in ons gebrokenheid en weerloosheid.  Daarom dat ons volhard omdat God se genade só steeds meer en meer mense kan bereik.  Hierdie gedagtes sal Paulus nog verder in die brief aan die Filippense uitwerk (Fil 2).

Met die derde metafoor van die gebou in die hemel, spel Paulus die hoop en verwagting uit wat ons in ons omdra.  Die swaarkry van hierdie lewe gaan verby, en ons wag vir dít wat God gaan bring en wat vir ewig sal staan.  Dit het ‘n tweërlei uitwerking op ons: aan die een kant sug ons dat ons die oorgang na die hemelse werklikheid kan beleef, en aan die ander kant het ons die Gees wat ons moed gee om te wag op God se tyd.  Let op dat anders as met die Grieke, wat net aan ‘n voortbestaan van die siel gedink het, Paulus steeds aan ‘n gebou dink, dws aan ‘n liggaam wat voortbestaan, soos ook in 1 Kor 15.

In dit alles, sê Paulus, het ons net een begeerte, om te lewe soos Hy dit wil (let weer op die ooreenkomste met die brief aan die Filippense, hierdie keer hfst 1:20 vv).

2 Korintiërs 5:11-6:13 – Ambassadeurs van die versoening

Paulus sit sy beskrywing van die evangelie en die impak daarvan in ons lewe voort deur te fokus op Christene as nuwe mense of skeppings van God (5:11-6:13) wat die bediening van die versoening ontvang het en nou God se gesante of ambassadeurs is.

Hy doen dit teen die agtergrond van sy teenstanders wat beswaar maak teen sy bediening.  Sommige skryf hom af as te emosioneel (in geestesvervoering) en ander dat hy te intellektueel (by ons verstand) is. Praat nou van ‘n “catch 22” situasie!  Hy antwoord daarop deur te wys dat innerlike bedoelings belangriker is as uiterlike prestasies, hoewel daar darem ook baie van sy prestasies is waarop hulle trots sou kon wees.  Dit is die liefde van Christus wat hom dring – en nie die oorweging van geldmaak wat by sy teenstanders die hoofmotivering was nie (2:17).

Daardie liefde van Christus is so ‘n groot werklikheid vir hom dat niks belangriker is as Hy nie, en omdat die evangelie vir alle mense bedoel is, kan Paulus nie anders as om net daarvoor te lewe nie. Let op die ooreenkomste met die beskrywing van sy roeping in 1 Kor 9:19-23 – “vir almal het ek alles geword om in elk geval sommiges te red”.  Redding is natuurlik nie vanselfsprekend nie, omdat mense in geloof op die aanbod van versoening moet reageer.  Maar Paulus doen alles wat hy moontlik kan om God se aanbod van versoening by mense uit te bring.

Paulus skets versoening dus hier as die hart van die bediening – versoening met God in die sin van ‘n vryspraak van sonde en ‘n nuwe verhouding met Hom, en versoening met ander deur hulle harte onderling wyd oop te maak vir mekaar.  Maar let op, 1) dit is God se program van versoening waarby Paulus-hulle inskakel – en dit is ook hoe ons die taak van versoening moet behartig, as medewerkers van God, as sy ambassadeurs; 2) dit is bedoel vir die hele wêreld, en moet deur ons na almal geneem word.

Daarmee deel Christene reeds in die nuwe skepping wat God gaan bring, en is eintlik ook reeds nuwe skepsels of skeppinge van God (5:17) deur hulle verhouding met Christus.  Daarom kyk ons ook nou na mekaar uit die hoek van ons Christenskap en die waarde van ons lewe vir die koninkryk en nie meer uit die hoek van ons menslike eienskappe en prestasies en die waarde vir hierdie lewe nie.

Paulus spel dan die praktiese implikasies hiervan uit.  Hierdie genade van God, die aanbod van die versoening, is so ‘n groot gawe dat dit omhels moet word, anders kan dit heeltemal verniet wees.  Dit tref my dat hierdie genade van God vir Paulus so belangrik is, dat hy, soos iemand een keer gesê het, eintlik in die “opposite spirit” lewe, dws: al word hy bedroef, hy is altyd opgeruimd; al is hy arm, is hy bly dat hy ander mense ryk maak (vers 10).  Dit is die paradoks van die Christelike bediening – die dood van die bedienaar is die lewe van die wat bedien word.  Hy stel dit dus as sy eer om ten spyte van belediging en minagting betroubaar te wees (vers 8), want God se genade en Christus se liefde het hom van binne verander.

Soos Chrisostomus, die groot prediker van Antiochië, later hieroor sou skryf: “Just as what brings heat makes things expand, so it is the gift of love to stretch hearts wide open; it is a warm and glowing virtue.”  Dit was Jesus se dryfveer … dit was Paulus se dryfveer … en dit is die enigste dryfveer wat ook ons lewens moet rig – die liefde vir God en vir ons naaste.

2 Korintiërs 6:14-7:16 – Toegewy aan God alleen

Paulus eindig sy beskrywing van Christenskap deur gelowiges weer te beskryf met die metafoor van die tempel van God wat daarom nie ‘n vennootskap met die ryk van die duisternis kan hê nie (6:14-7:1).  Dit is ook die beste hoek vanwaar af ‘n mens die opdrag in vers 14 moet probeer verklaar: “Moenie met ongelowiges in dieselfde juk trek nie.”  Niks moet hulle gemeenskap met Christus en mekaar in die gedrang bring nie, want hulle is God se tempel.

Paulus haal hierdie frase aan uit Deut 22:10 wat ‘n verbod plaas daarop om ‘n os en donkie saam in te span om te ploeg.  Hoewel sommige daaruit aflei dat gelowiges alle bande met ongelowiges moet verbreek, maak dit nie sin in die lig van Paulus se lering in 1 Kor 5:9-13 en sy verstaan van sy roeping in 9:19-23 nie waar hy juis kontak met ongelowiges aanmoedig ter wille van die bediening van die evangelie.  Dit is immers hoe die evangelie werk – dit is die goeie nuus van God wat bedoel is vir mense wat vasgevang sit in duisternis en hulle sondige lewenswyse.

Nog ander dink dat Paulus – soos juis uit 1 Kor 5 afgelei kan word – hier eerder van mense binne die kerk praat, wat nie volledig met hulle sondige lewenswyse breek nie, en eintlik soos ongelowiges lewe, en dat gelowiges nie met hulle in ‘n vennootskap moet leef nie.  Maar Paulus raai gelowiges op verskeie plekke in 1 en 2 Korintiërs (1 Kor 5; 2 Kor 2) om sulke mense te vermaan en te tugtig deur onder andere die gemeenskap met hulle te verbreek, maar om die gemeenskap dan weer te hervat, indien daar inkeer en berou sou wees.

Hoewel dit dus nader aan die waarheid sou kon wees, lyk dit beter om uit die 5 kort retoriese teenstellende vrae (reg/onreg; lig/duisternis; Christus/Belial [naam vir die duiwel]; gelowige/ongelowige; tempel van God/tempel van die afgode) wat Paulus gebruik om sy punt tuis te bring, af te lei dat hy praat van enigiets wat ‘n kompromie sou beteken tussen hulle Christelike waardes en standaarde en dié van die ongelowiges.  Dit kan dus mense wees, binne of buite die gemeenskap van die gelowiges, wat jou tot onreg of duistere optredes sou kon verlei.  Jy moet nie met hulle in ‘n vennootskap wees nie.

En let op dat dit eintlik gaan oor wat die effek op die gelowige gaan wees, nie soseer as maar net ‘n algemene reël dat ongelowiges vermy moet word nie.  Dit sou dwaas wees om ongelowiges te vermy in die lig van die evangelie wat juis by alle mense moet uitkom.

Met 3 aanhalings wat in 10 OT tekste voorkom (Vers 16: vgl. Lev. 26:12; Jer. 32:38; Eseg. 37:27; Vers 17: Jes. 52:11; Jer. 51:45; Eseg. 20:34; vgl ook Op. 18:4; Vers 18: Vgl. 2 Sam. 7:8; 7:14; Jes. 43:6; Jer. 31:9) word sy punt onderstreep: Niks mag die gemeenskap met God in gevaar stel nie.  En dit is nie net waar van ‘n mens se verhouding met ander nie, maar ook van jou eie persoonlike lewe: jou liggaam en gees moet gereinig word van alles wat jou gehoorsaamheid aan God in die gedrang kan bring, sodat jy in volkome toewyding aan Hom kan lewe.

Dan tel Paulus in hoofstuk 7:2 weer die draad op wat hy in hoofstuk 2:13 onderbreek het, en vertel van sy blydskap toe hy Titus weer raakgeloop het, en kon hoor dat dit goed gaan met die gelowiges in Korinte.  Hy is veral bly dat sy brief by hulle vrug gedra het.  Al was hulle hartseer, was hulle hartseer volgens die wil van God en het dit tot ‘n verdieping van hulle geloof gelei.  Dit kan Paulus sien in die feit dat hulle meer erns maak met hulle roeping as gelowiges en met groter verantwoordelikheid in die gemeente optree.

Wat my tref van hierdie hoofstuk, en eintlik daarmee van die hele korrespondensie van Paulus met die Korintiërs, is dat die gemeenskap met God só belangrik is, dat niks, MAAR NIKS – nie binne jouself of binne die gemeenskap van die gelowiges of binne die wêreld daarbuite – jou gemeenskap met God mag bedreig of in gevaar stel nie.  Gemeenskap met God is ononderhandelbaar.  Dit moet nagejaag word met alles wat in jou is, elke dag en elke oomblik van elke dag.

Dit laat my nog meer waardering kry vir die impak wat die lewe van Brother Lawrence gehad het, die ongeletterde kok in ‘n klooster, wat met sy lewenspraktyk wat bekend geword het as Practicing the Presence of God die verbeelding van die Christelike wêreld aangegryp het, toe hy sy lewensverhaal vir iemand vertel het en dié dit in boekvorm vir ons bekendgestel het.

Dit is belangriker as enigiets – om jouself en die gemeente as ‘n tempel van God te beskou en gemeenskap met Hom te beoefen – ALTYD en in ALLES en ORAL!  Geen wonder nie dat Paulus homself in hoofstuk 2 onderbreek het om dié feit net weer vir ons te onderstreep nie.

Onlangse kommentaar