Week 8: 2 Korintiërs 8-13
Ons lees die tweede deel van 2 Korintiërs as volg:
- Donderdag: 2 Korintiërs 8-9
- Vrydag: 2 Korintiërs 10
- Maandag: 2 Korintiërs 11
- Dinsdag: 2 Korintiërs 12
- Woensdag: 2 Korintiërs 13
Ons lees die tweede deel van 2 Korintiërs as volg:
Dit is ongelooflik om te sien op hoeveel wyses Paulus die gemeente van Korinte aanmoedig om vrygewig teenoor die gelowiges in Judea te wees met ‘n mildelike dankoffer. Hy motiveer hulle op ten minste die volgende 13 wyses:
Die ding wat vir my uitstaan is die klem op regverdigheid en dankbaarheid wat eintlik regdeur die twee temas is wat die gawe beskryf.
Vrygewigheid word dus in die genadige en regverdige karakter van God begrond (8:1,9) sowel as in sy voorsiening (8:1,7; 9:8,10-11,15). En dit word as die normale Christelike praktyk voorgehou, soos dit reeds sigbaar was in die eerste gemeente in Jerusalem (Hand 4:32).
Baie mense vra dikwels hoeveel ‘n mens moet gee. Benewens die riglyn van die tiende wat eintlik regdeur die Bybel ‘n beginsel bly (hoewel die klem sterk skuif van ‘n wetlike voorskrif na een wat vrywillig gegee word) gee Paulus hier die volgende riglyne wat jou kan begelei: 1) ’n Mens moet jou beloftes gestand doen (8:10; 9:3); 2) jy moet gee soveel as wat jy kan (8:12, 9:6); 3) jy moet sélf, uit jou hart uit, besluit hoeveel (9:7); en 4) dít wat jy gee, moet in verhouding wees met dit wat God vir jóú gegee het (9:10).
Die grootte van jou dankoffer berus dus op die genade en voorsiening van God, wat aan ons gee sodat ons weer vir ander mense kan gee.
Interessant, die broers wat saam met Titus gestuur word, hoewel ons nie hulle name ken nie, word in die oorspronklike Grieks “apostels” genoem (8:23). Dit beteken hier egter moontlik meer dat hulle afgevaardigdes van die gemeente is, as dat hulle gestuurdes van God is, wat dan met die woord apostels weergegee sou kon word. Hier sien ‘n mens ‘n verdere voorbeeld (vgl Hand 15) van die gebruik van die vroeë kerk om gevolmagtigde afgevaardigdes na ‘n ander gemeente of ‘n meerdere vergadering van die kerk te stuur vir die uitvoering van ‘n sekere opdrag – iets wat ons vandag gereeld doen in terme van die kontak met ander gemeentes, sowel as in verhouding met die ring en sinode in ons konteks.
Let op die sarkastiese toon waarmee Paulus hierdie hoofstuk begin (vgl ook vers 10): “ek, wat mos ‘gedwee’ is as ek by julle is, maar ‘manhaftig’ teenoor julle as ek van julle af weg is”. Dit is ‘n duidelike aanduiding dat die volgende paar hoofstukke ‘n skerper aanslag gaan hê, dat dit inderdaad ook miskien ‘n ander brief (moontlik die tranebrief van 2:4?) is, wat êrens by die eerste brief (2 Kor 1-9) gevoeg is.
Tog koppel hy die persoonlike beroep aan die Naam van Christus wat sy sarkasme relativeer. Let op hoe hy van Christus se nederigheid (die meeste vertalings het “sagmoedigheid”, wat ek verkies – vgl Moses: Num 12:3 en Jesus Matt 11:29; 21:5) en vriendelikheid praat. Tog gee hy daarmee ook ‘n gesag aan sy woorde, dit is nie maar net ter wille van homself wat hy hulle aanspreek en sy apostelskap verdedig. Dit is ter wille van en met die gesag van God self wat hy optree.
Anders as Jeremia het Paulus nie die opdrag om af te breek nie, maar te bou (vers 8)! Dit is betekenisvol – en ‘n belangrike meetinstrument om van die profete van vandag te beoordeel wat eerder Jeremiades loods teen mense, gewoonlik ook nog dié wat anders as hulle dink, as om opbouend die evangelie soos Paulus te verkondig, nederig en vriendelik soos wat ons Here is! Lees die opdrag aan Jeremia om die verskil agter te kom: Jer 1:10 spel sy opdrag in 6 woorde uit: 4 wat afbreek (afbreek, uitroei, vernietig, platslaan) en net 2 wat bou (bou, vestig). Maar dit was vir ‘n ander tyd …
Dit gee ‘n mens ook perspektief op sy gereedheid om streng te wees (vers 2), met elke ongehoorsaamheid af te reken (vers 6), sonder egter om hulle bang te maak (vers 9). Sy opdrag en motivering is opbouend en nie afbrekend nie. Hy hoop dat hulle geloof sal toeneem (vers 15).
Ek weet die skeidslyn tussen “beroep doen” (vers 1) en “bang maak” (vers 9) is baie fyn, en dat die verdediging van sy apostoliese gesag in hierdie brief dit nog moeiliker maak om daartussen te onderskei. Een manier om te sorg dat jy binne jou perke bly, is om, soos Paulus, 1) seker te maak dat jy in jou eie werkkring optree, en 2) seker te maak dat dit God se opdrag aan jou is (vers 13).
Sommige is geneig om vers 3-6 direk aan geestelike oorlogvoering te verbind, maar Paulus is eintlik hier besig om die verkeerde idees aan te vat wat sommige van die Korintiërs het oor sy apostelskap. ‘n Mens kan wel in die tweede plek sy gedagtes op die aanvat van ander vestings in mense se gedagtewêrelde van toepassing maak, maar moet eers goed sy primêre boodskap verstaan.
Hy spel nie die kragtige wapens van God direk uit nie, maar ‘n mens lei af uit vers 4-6 dat dit op gedagtes: redenasies, en hooghartige aanvalle teen die kennis van God (intellektuele en ideologiese denkraamwerke en wêreldbeskouings), sowel as ongehoorsaamheid gerig is, dws hoe mense dink en hoe mense leef (moreel-eties). Dit kom ooreen met wat Jesus gesê het oor die waarheid wat vrymaak (Joh 8:31-32: “As julle aan my woorde getrou bly, is julle waarlik my dissipels; en julle sal die waarheid ken, en die waarheid sal julle vry maak.” – vgl ook Joh 1:10 waar Johannes skrywe oor die mense wat Jesus nie erken nie, en 1 Kor 1:21 waar Paulus die gebrekkige waarde van wêreldse wysheid en kennis uitwys).
Die waarheid verander dus beide ‘n mens se gedagtewêreld en jou gedrag. En dit is in wese wat geestelike oorlogvoering behels, nie ‘n aksie teen duiwels in die eerste plek nie, maar die bring van die waarheid wat die vestings van ongeloof en ongehoorsaamheid in mense se gedagtes en gedrag kan verower en hulle aan Christus verbind.
En hou ook in gedagte dat Paulus in Romeine 1:16 en 1 Kor 2:4 die krag van God spesifiek uitspel in terme van die invloed wat die evangelie in mense se lewens het. Dit is nie gebed teen die geeste wat mense oortuig nie, maar die evangelie wat aan die mense verkondig word. Die strydveld is die gedagtewêreld van mense en dit is waar ons die stryd moet voer!
Dit is in wese wat Paulus ook in die latere brief aan die Efesiërs gaan skrywe (hfst 6:10-20) dat die “stryd teen die geeste” oor sewe goed gaan: die 1) waarheid, 2) vryspraak, 3) verkondiging, 4) geloof, 5) verlossing, 6) God se woord en 7) gebed vir gelowiges en die bedienaars van die evangelie sal gaan. En let op dat Paulus glad nie voorskryf dat ons moet bid TEEN enigiets nie, nie teen mense nie, ook nie teen geeste nie. Net VIR die 7 sake wat hy daar noem.
Paulus beweeg in hoofstuk 11 en 12 na sy stryd met die valse apostels. Hy het egter nie ‘n sieklike obsessie met die vals apostels as sodanig nie, maar eerder steeds ‘n bruisende passie vir die geestelike volwassenheid van die Korintiërs (vgl 13:11!).
In 4 hoofdele skryf hy 1) oor sy besorgdheid oor die Korintiërs om hulle as ‘n vlekkelose bruid vir Christus voor te berei (11:1-15 – vgl Ef 5:27), 2) oor sy ontberinge in die proses (11:16-32), 3) oor die paradoks van sy ervaringe, verbluffende hoogtepunte en uitmergelende laagtepunte (12:1-10) en 4) weer oor sy besorgdheid oor hulle wat hy met die metafoor van ‘n ouer teenoor kinders uitdruk (12:11-21).
11:1-15 – Let op hoe hy steeds hom beywer dat hulle gedagtes nie weggelei sal word van Christus af nie, soos Eva aanvanklik verlei is deur die listigheid van die slang nie. Hoe hulle dink oor Jesus, is, en sal altyd belangrik bly. Die gladheid van die sprekers se optrede moet nie vir die Korintiërs swaarder weeg as die kennis van God wat hulle openbaar nie. En in kennis van God weet Paulus kan hy meer as net saamgesels!
Daarbenewens het hy ‘n stap verder gegaan en die evangelie kosteloos aan hulle verkondig (weereens verwys hy na 1 Kor 9, sy roepingsbeskrywing). Maar, belangrik, hy het dit nie gedoen om hulle te beskaam nie, maar omdat hy vir hulle liefhet! ‘n Mens kan immers hulp weier van iemand, en eintlik daarmee ‘n subtiele verwyt na hulle slinger!
Let op hoe Paulus van die vals apostels praat as Satan se dienaars – omdat hulle oneerlik is en nie deur Christus aangestel is vir die werk wat hulle doen nie! Interessant dat Paulus hier van die innerlike roeping van Woordbedienaars praat, en wys hoe die gebrek daaraan maak dat die vals apostels nie bereid is om te ly vir hulle bediening nie. Weereens ‘n maatstaf wat ons vandag ook kan aanlê.
11:16-33 – Daarom gaan Paulus nou voort, om in sy dwaasheid groot te praat. Let op hoe hy weer soos in 1 Korintiërs 7 sê dat hierdie sy woorde is en nie God s’n nie. En hy sit op die tafel 3 goed: sy afkoms (‘n Hebreër, Israeliet en van Abraham af), sy opdrag (dienaar van Christus) sowel as sy bereidheid om lyding te verduur (‘n 30-tal ontberinge!) in die uitvoering van sy bediening.
Wat my tref is veral vers 29-30, waar hy van sy daaglikse bekommernisse oor al die gemeentes wat hy gestig het, praat sowel as die effek op homself, dat as iemand swak is of in sonde val, dit vir hom voel asof dit met homself gebeur (vgl weereens die ooreenkomste met sy roepingsopdrag in 1 Kor 9:22 “vir die swakkes het ek swak geword, om die swakkes te wen”).
Sy bekommernisse druis natuurlik nie in teen Jesus se duidelike lering dat ons ons nie moet bekommer nie (Matt 6:25-34). Jesus het bedoel, dat jy jou nie moet bekommer oor jou “daaglikse brood” nie (eet, drink, die dag van môre). Jy kan immers daarvoor bid en op God se voorsiening vertrou (Matt 6:5-15).
Maar Jesus het wel geleer dat jy totaal gefokus moet wees daarop dat die wil van God gedoen sal word, en dat sy koninkryk in die lewe van mense sal kom. Paulus leer dit immers self aan die Filippense (4:6-8 – gee bekommernisse vir God; fokus op die goeie). En ‘n mens kan hierdie ywer met dieselfde woorde uitdruk: bekommerd en besorgd. Dit is immers wat dit beteken om jou met passie te beywer vir iets – Goddelike bekommernisse en besorgdhede.
Paulus brei hier uit oor die paradoks van sy ervaringe, verbluffende hoogtepunte en uitmergelende laagtepunte (12:1-10) en weer oor sy besorgdheid oor die Korintiërs wat hy met die metafoor van ‘n ouer teenoor kinders uitdruk (12:11-21).
Dit lyk op die oog af asof Paulus van ‘n ander persoon as hyself praat in vers 2-4. Dit is egter waarskynlik dat Paulus hier oor homself in die derde persoon skryf, en wel om die volgende redes: 1) hy is besig om sy apostoliese gesag te verdedig, en dit sou nie sin maak om oor iemand anders se gesigte en openbarings te skryf nie; 2) Ons lees op ‘n paar ander plekke van gesigte wat hy gehad het (vgl. Hand. 9:3; 16:9; 22:17; 27:24; Gal. 1:12); 3) vers 6 is ‘n verskuilde aanduiding dat dit wel hy is: “al sou ek wil roem, sal ek tog nie dwaas wees nie, omdat ek die waarheid sal praat;” en 4) hy wil nie eintlik oor iets praat waaroor hulle nie ‘n oordeel sal kan uitspreek nie, maar nou dwing hulle hom op dwaas te wees, om die aansprake van die valse apostels te troef.
Dit wil voorkom asof die derde hemel en die paradys dieselfde plek is, dit is, die plek waar hy in die teenwoordigheid van God kon wees.
Die doring in sy vlees is al met baie siektes verbind (bv. ‘n oogsiekte op voetspoor van Gal 4:13-15, wat vertel dat hy siek geword het, en hulle met hom deernis gehad het, en “as dit moontlik was, sou julle julle oë uitgeruk en vir my gegee het”), maar dit bly eintlik ‘n onopgeloste raaisel.
Paulus se beskrywing van God se krag wat tot sy volle werking kom wanneer ons swak is, is nie net ‘n goeie beskrywing van die lewe van ‘n apostel nie, maar ook ‘n bemoediging vir elkeen wat op een of ander stadium in sy lewe ontberinge ly in die navolging van Jesus.
Let ook op hoe Paulus die merktekens van ‘n apostel uitspel: tekens, wonders en kragtige dade (vers 12). Dit kan ook as ‘n meetinstrument aangelê word vir mense vandag wat graag die term apostel op hulle eie bediening van toepassing wil maak.
Hy is ook baie duidelik oor wat sy doel met sy bediening aan hulle is: “Alles wat ons doen, geliefdes, is in belang van julle geestelike opbou.” En hy is baie besorgd dat hulle onderlinge twis en afguns hulle van die pad af kan verlei.
Onlangse kommentaar