Skip to main content

1 Korintiërs 7:1-24 – Dis beter om nie te trou nie

Paulus begin in hoofstuk 7 reageer op sake wat in ’n brief van die Korintiërs aan hom gerig is.  In vers 1-24 hanteer hy die vraag oor die huwelik.

Let op dat hy aansluit by ’n gedagterigting wat blykbaar by die Korintiërs ontstaan het, dat dit goed is vir ’n man om sonder ’n vrou te lewe, dit wil sê sonder seks.  Sommige het blykbaar selfs besluit het dat die huwelik nie strook met hulle opvatting van Christenwees nie en wou sonder seks in die huwelik lewe of dan skei om beter die Here te kan dien.

Daarom praat Paulus eers oor getroudes, en beveel aan dat hulle steeds in die huwelik sal bly, en steeds seksueel met mekaar sal verkeer in die huwelik, veral weens die gevaar van onsedelikheid.  Ons liggame behoort wel aan God (6:19), maar in die huwelik ook aan ons huweliksmaat.  Daarom moet huweliksmaats mekaar nie seksueel weier nie, behalwe om ’n (kort) tyd lank te bid.  Die duiwel moet nie kans kry om hulle te verlei weens hulle gebrek aan selfbeheersing nie, veral nie in ’n stad wat so berug vir sy prostitusie was nie.

Dan spits hy hom toe op die wat voorheen getroud was, die wewenaars[1] en weduwees en werk basies met twee beginsels:

  1. Paulus dink dit is beter om nie te trou nie (vers 1,8), maar relativeer dit deur homself as voorbeeld te gebruik, en te erken, soos hy self sê in vers 7, dit hang van ons gawes af, dinge wat die Here vir ons gee (vgl Matt 19:11 “Wie dit kan doen, laat hom dit doen”!);
  2. As jy jouself nie kan beheer nie, dink Paulus dit is dan beter om te trou as om deur hartstog verteer te word (vers 9).  Daarom dat ook huweliksmaats mekaar in ag moet neem (vers 2-5), sodat ’n gebrek aan seks nie hulle blootstel aan verleiding deur die duiwel nie.

Die perspektief wat egter bo alles van God af kom, is, dat as jy getroud is, jy nie mag skei nie.  Daarmee erken hy wat regdeur die Bybel as beginsel aangegee is, dat God nie wil hê huweliksmaats moet die band tussen hulle verbreek nie (vgl Jesus in Matt 19 bv. – dit sluit uiteraard dinge soos geweld en mishandeling uit).  Let ook op dat hy werk met die beginsel van een man en een vrou (“elke man sy eie vrou en elke vrou haar eie man”), dws die monogame huwelik.

Dan spreek hy die probleem van ’n ongelowige maat in die huweliksverhouding aan, en sê basies dat die ongelowige, nie die gelowige nie!, die keuse het om te bly of te ry.  Daar is ’n voordeel vir die ongelowige om te bly, maar die gelowige huweliksmaat is nie gebind aan die huwelik, as die ongelowige huweliksmaat wil skei nie.  Daar is ook ’n voordeel vir die kinders, deurdat hulle in die sfeer van die Christelike gemeenskap groot word, en daardeur beïnvloed kan word.  Anders sou hulle in ’n heidense omgewing grootword, wat eweneens ’n groot invloed op hulle sal hê.


[1] Paulus gebruik in vers 8 ‘n ander woord (agamos) vir “ongetroudes” as in vers 25 (parthenos – maagd), wat verskeie geleerdes laat vermoed dat hy eintlik in vers 8 van wewenaars praat, wat in die konteks beter pas in die lig van die gelykluidende raad wat hy vir die weduwees gee.

1 Korintiërs 7:25-40 – Die koninkryk verdien onverdeelde aandag

Weereens gee Paulus sy eie mening, hoewel hy dit as betroubaar (vers 25) – deur die genade van die Here – beskrywe en hom beroep op die feit dat hy ook die Gees het (vers 40).  Maar hy relativeer dit deur sy mening te onderskei van ’n direkte bevel van die Here.

En hier praat hy nou oor die ongetroudes (parthenos – maagde).  Met die oog op die swaarkry van die eindtyd dink hy dit is beter om nie te trou nie.  Maar as jy tog trou, doen jy nie verkeerd nie, jy maak dit net vir jou swaar.  ’n Mens hoor hier van die soortgelyke gedagtes eggo wat Jesus geopper het oor swanger vroue in die eindtyd (Mark 13:17).  Jesus sowel as Paulus het waarskynlik in die eerste plek die vervolging onder die Romeine in gedagte gehad.

Hy relativeer daarmee eintlik die hele gemeenskapslewe en maak dit ondergeskik aan ’n lewe vir die koninkryk.  Selfs om iets vir jouself te koop, word gerelativeer, omdat hierdie wêreld soos ons ken aan die verbygaan is, en ons vry van sorge moet wees om aandag aan die koms van die koninkryk te gee.  Die dinge van die Here moet voorop in ’n mens se gedagtes wees, nie die dinge van die wêreld, soos die huwelik en dergelike dinge nie. Ons aandag moenie verdeel wees nie.

Hoewel baie met Paulus sou kon verskil, sê hy hierdie dinge na sy mening tot ons beswil, nie om ons aan bande te lê nie, maar ons toewyding aan die Here te  beskerm.  Wie trou doen dus goed, maar wie nie trou nie, doen beter – aldus Paulus.

1 Korintiërs 8 – Jou vryheid mag nie ander laat sondig nie

Paulus skuif aan na die vraag oor vleis wat aan ’n afgod geoffer is, waarmee hy waarskynlik terugverwys na die spreekwoord wat hy aangehaal het in 6:13: “Die maag is vir kos, en kos vir die maag.”  Wat ’n mens ook in gedagte moet hou, is dat die situasie in Korinte so was, dat sommige van dié (sterk) gelowiges ook in die afgodstempels gaan vleis eet het (die restaurante van daardie tyd!), omdat die tempels baie keer ook die enigste plek was vanwaar jy vleis kon bekom.  Die oorskot van die tempel offervleis is selfs op die markpleine verkoop.  Maar, omdat jy van buite af kon insien by die tempels, het ander (swak) gelowiges aanstoot daaraan geneem (vers 10).

Let op hoe hy eers die beginsel van die liefde neerlê en verduidelik voordat hy sy antwoord op hulle vraag gee.  Basies sê hy, dat kennis goed is, maar nie genoeg nie.  Die liefde is belangriker (vgl. 13:2: “en besit ek al die kennis … maar ek het geen liefde nie, dan is ek niks.”), ook in ons verhouding met God.  Om die waarheid te sê, dit is wanneer ons God liefhet, dat ons in ’n verhouding kom met Hom waar Hy vir ons ken – iets wat baie belangriker is as wat ons weet (of dat ons Hom ken).

Hy sal nog meer uitbrei op hierdie idee later in sy brief aan die Galasiërs (in 4:8: “noudat julle Hom leer ken het, of liewer, noudat Hy julle ken”).  Vergelyk dit ook met die gelykenis van die tien meisies in Matteus (in 25:12 waar die bruidegom vir die 5 onverstandiges sê: “Ek ken julle nie”!”)

In sy antwoord sluit hy dan by hulle kennis aan, en erken dat daar eintlik niks aan die vleis verander as dit aan ’n afgod geoffer is nie.  Om die waarheid te sê, daar is eintlik geen ander God, behalwe Een nie.  En al sou mense dink daar is sogenaamde gode (let op sy woorde!) bestaan hulle nie vir ons nie, want ons het net een God, die Vader en Sy Seun deur wie alles bestaan en deur wie ons lewe.

Maar nou is dit so dat nie almal dié kennis het nie, en uit liefde vir hulle, moet ’n mens hulle onkunde in ag neem, en nie iets doen waardeur hulle gewete, wat alreeds swak is, nog verder verswak sal word nie.  Ons vryheid (let weer op hoe hy daarmee terugverwys na hfst. 6:12-13) mag nooit ’n aanleiding vir ander word om te sondig nie (vgl. Jesus ook hieroor in Matt 18:6: “Elkeen wat een van hierdie kleintjies wat in My glo, van My afvallig maak, vir hom is dit beter as hy met ’n groot meulsteen aan sy nek in die diep see verdrink.”).

Om die waarheid te sê, jy sondig eintlik teen die onkundiges, as jou vryheid hulle laat sondig.  Daarom sal Paulus nie sulke vleis eet nie (gelukkig nie alle vleis nie!) want hy wil nie sy medegelowiges se val veroorsaak nie.  Hy reël darem ook later dat ’n mens nou nie hoef navraag te doen oor vleis wat jy in ’n slaghuis koop, of dit nou aan ’n afgod geoffer is of nie, en jy dit dan maar mag eet (10:23-33).  Maar die gewete van die swakkeres bly ook daar ’n bepalende faktor.

Let ook op dat hierdie beginsel van die liefde na ander sake deurgetrek kan word – jou medegelowige se standvastigheid in die geloof is belangriker as jou eie kennis en vryheid in die geloof.  En lees gerus in Romeine 14:19 en 15:2 Paulus se verdere gedagtes hieroor.

’n Mens moet onthou dat Paulus hier natuurlik skryf oor mense wat pas uit die heidendom na Christus oorgekom het en nog die impak van die heidense gebruike sou ervaar.  Hy praat nie oor mense wat eintlik net hulle eie bekrompe idees op ander van toepassing wil maak nie en van beter behoort te weet nie.

Dit help my nogal om só daaroor te dink, want dit is eintlik vir my swaar woorde dié van Paulus: en ek sou ook saam met sommige gelowiges wou uitskreeu, soos Paulus hulle aanhaal in 10:29-30: “Waarom moet my vryheid beperk word deur ’n ander se gewete?”  Maar die punt is dat ons nie ons eie belang kan soek nie, want dit is die beginsel van die liefde, en die weg van die kruis (2:2).

En dit is soos Forrest Gump sê: “That’s all I have to say, about that.”

1 Korintiërs 9 – Om met passie jou roeping na te jaag

Ter inleiding

Hierdie teks is vir my heilige grond.  Die Here het aan die begin van my studies my roeping as leraar in die NG Kerk met vers 19-23 bevestig.  Saam met nog ’n teks in Sagaria 3:7 het dit die basis vir my verstaan van my bediening gevorm.  Telkens wanneer ek groot besluite moes neem, onder andere een keer met ’n beroep na die Kaap, is ek teruggeneem na hierdie gedeelte, en is my roeping in die gemeente van Somerstrand bevestig.  Dit het ook die basisteks geword vir die Gemeentedienste Netwerk waardeur ek by baie transformasiewerk in die kerk in die breë betrokke geraak het, onder andere die Seisoen van Luister en die tydskrif Kruisgewys.

Kom ons lees die teks

Paulus reageer hier op mense wat kritiek lewer op sy bediening met ’n reeks retoriese vrae waarmee hy bevestig dat hy ’n apostel is en die voorregte daaraan verbonde sou kon geniet, soos inderdaad al die ander apostels, baie keer saam met hulle eggenotes.  In die proses noem hy ’n paar riglyne van hoe apostels van ander gawes in die kerk onderskei is in sy tyd, bv, dat hulle Jesus persoonlik na sy opstanding gesien het (1 Kor 15:5-8).  In 2 Korintiërs 10-13 sal hy dit nog uitvoeriger doen.

Let op hoe hy voorbeelde uit ’n wye reeks lewensverbande gebruik om sy punt te staaf, en dit dan ook in die wet van God begrond (Deut 25:4; vgl sy raad aan Timoteus hieroor: 1 Tim 5:18).  Weereens sien ’n mens die lering van Jesus weerspieël in sy beredenering (Matt 10:10; Luk 10:7).

Tog het hy (en Barnabas) besluit om dié voorregte nie te gebruik nie, sodat niemand beswaar kon maak dat hulle hulleself verryk deur die bediening nie.  Die evangelie is vir hom belangriker as sy eie belang (let op weer die kruis-evangelie wat deurkom).  Hy gaan liewer dood!  Trouens dit is sy roem en eer dat hy dit kosteloos doen, al het hy die reg om van hulle afhanklik te wees vir sy lewensonderhoud.

Dan brei hy uit op sy passie in die lewe, om soveel mense as moontlik vir Christus te wen, en dat hy dit met alles in hom najaag, net soos ’n atleet op die baan (in die tweejaarlikse Istmiese spele) of ‘n bokser in die kryt.

Sy roeping word breed uitgespel:  vir Jode (wettiese mense), vir heidene (hy gebruik nie die woord nie, maar praat van mense wat sonder die wet lewe, wat die betekenis duidelik maak), en vir swakkes (vgl hfst 8 en Rom 14; 15).  Trouens “vir almal het ek alles geword om in elk geval sommige te red.”  Geen wonder dat sy bediening en uiteindelik skryfwerk die hele Christelike wêreld beïnvloed het en steeds doen.

Let op dat hy nie sy eie menings en oortuigings prysgee nie, nooit die liefdesgebod van Christus bv. verlaat nie, maar tog aanpas by die mense wat hy op ‘n gegewe tyd bedien, sodat hy iets vir hulle kan beteken.  Hy het bv. die sabbat nagekom ter wille van die Jode, anders sou hulle hom nooit toegelaat het om by hulle in die sinagoge op te tree nie.  Vergelyk bv. Hand. 16:3 waar Timoteus besny is; Hand 18:18 waar Paulus ‘n gelofte afgelê het; Hand 21:20-26 waar Paulus ‘n reinigingshandeling ondergaan ter wille van die Jode.

Soms het hy egter ook baie skerp verskil van mense wie se oortuigings die hart van die evangelie aangerand het.  Dit het hy gedoen teenoor Jode (Gal 2:11-14 – waar hy Petrus teengestaan het) en teenoor heidene (baie keer in hierdie brief, waar hy verkeerde idees oor allerlei aanvat).  Ander kere het hy egter sensitief opgetree teenoor mense wat nie die kennis gehad het wat hy het nie (1 Kor 8).

Die hoofstuk laat my weer besef hoe belangrik ‘n bewussyn van my roeping (doel) is, dat dit my passie in die lewe moet wees, en dat ek dit met alles in my moet najaag, beide in voorbereiding as in uitvoering, sodat ook ek nie ander uitnooi tot hulle roeping om dit met passie na te jaag nie, en nie self kwalifiseer nie.

Neem daarom ‘n tyd vandag om na te dink oor jou roeping (doel) en passie in die lewe.

  • Wat het die Here op jou hart gedruk wat jy ten alle koste moet najaag: jou roeping, jou doel?
  • Wat is jou passie in die lewe – die ding wat net so ‘n belangrike rol speel dat jy nie anders kan as om dit te doen nie?
  • En hoe staan dit met jou fokus – is jy nog met alles in jou gefokus daarop?

Lewensbelangrike vrae en lewensveranderende vrae!

En as jy nie só ‘n roeping of passie het nie – die Here gee dit aan dié wat Hom soek!

1 Korintiërs 10 – Gemeenskap met God moet ten alle koste beskerm word

’n Mens moet altyd in gedagte hou dat die hoofstuk-indeling van Bybelboeke eers in die middel-eeue gedoen is.[1] Die brief aan Korintiërs is as ’n brief geskryf, sonder verse en sonder hoofstukke.  Wat Paulus dus hier in hoofstuk 10 aan die orde stel, is integraal verbind aan dit waarmee hoofstuk 9 afgesluit is, om só die Christelike wedloop te hardloop dat jy die wenpaal kan behaal.

Paulus herinner daarom die Korintiërs aan die ervaring van die volk in Moses se tyd, dat hulle al die voorregte wat God gegee het in die woestyn kon geniet, maar tog nie die wenpaal, die intog in die beloofde land, bereik het nie.

Die oordekking met die wolk (simbool van God se teenwoordigheid) en die omsluiting met die see (simbool van God se redding) by die Uittog laat Paulus aan die funksie van die doop dink – dit ontferm en beskerm.  Net so laat die voorsiening van brood (manna was “kos uit die hemel” – Eks 16:4; Ps 78:24-25) en water (Eks 17:6; Num 20:7-11)  in die woestyn Paulus dink aan die funksie van die brood en wyn van die Nagmaal – dit voed en les ons dors deur ons gemeenskap met God.  Die rots was beide die simbool van God se voorsienigheid sowel as sy teenwoordigheid, iets wat met die werklikheid van Christus verbind word, lank voor Hy in die vlees gekom het – ’n misterieuse wonder.

Met dié voorbeeld spoor hy die Korintiërs aan om nie in onsedelikheid en afgodsdiens te verval nie, want dit bring hulle gemeenskap met God in gedrang, wat ten alle koste beskerm moet word.  Hy verwys hier terug na 5 gevalle uit die geskiedenis van Israel in die woestyn tydens die Uittog, wat vir die Korintiërs as voorbeeld en waarskuwing moet dien:

  1. vers 6: sondige begeertes (Num 11:4–35 – waar die volk gestraf word by Kibrot-Taäwa weens hulle lus vir vleis wat hulle in opstand teen die Here laat kom – die Here stuur wel kwartels, maar straf hulle vir hulle gulsigheid – ’n oortreding van die tiende gebod);
  2. vers 7: afgodsdiens (Eks 32 – die bekende verhaal van die goue kalf waar die volk die goue kalf as God aanbid het en losbandig te kere gegaan het – net Moses se tussenkoms keer dat die hele volk uitgewis word – ’n oortreding van die eerste twee gebooie);
  3. vers 8: onsedelikheid (Num 25 – die verhaal van die Israelitiese mans wat met Moabitiese en Midianitiese vroues seks gehad het as deel van die offers aan Baäl-Peor en deur die Here gestraf is – ’n oortreding van die sewende gebod.  Terloops, Moab was een van die kinders van Lot by sy dogters [Gen 19:37]);
  4. vers 9: uittarting van God (Num 21:4–9 – die verhaal van die ongeduld van die volk teenoor die Here toe hulle by die Horberg verbygetrek het, en Hom verkwalik het vir die Uittog, en waar die Here giftige slange gestuur het om hulle te straf, maar daar redding was deur die koperslang wat Moses gemaak het);
  5. vers 10: verset teen gesag/God (Num 16 – die opstand van Korag, Datan en Abiram teen Moses en Aäron dat hulle gesag as leiers, maar hulle eintlik teen die Here en sy keuses verset, en die Here wat hulle uitwis deur die aarde wat hulle insluk).

Paulus skets dus hier op ’n baie grafiese manier die versoekings van gulsigheid, onsedelikheid, afgodediens, ondankbaarheid (die uittarting van God deur nie met sy pad met jou tevrede te wees nie), en die verset teen gesag, want dit is eintlik ’n verset teen God self.

Maar daarmee saam skets hy die pad uit die versoekings – God sal nie toelaat dat ’n mens versoekings kry wat jy nie in staat is om te weerstaan nie, want Hy sal saam met die versoekings ook die uitkoms gee, sodat hulle dit kan weerstaan.

Hy sonder dan die versoeking uit om by afgodsdiens betrokke te raak, en hoewel hy steeds erken dat ‘n afgodsoffer of ’n afgod van geen betekenis is nie, het dit wel betekenis vir die persoon wat aan ’n afgod offer.  In ’n sekere sin, sê hy, is dit net soos wat die gelowiges by die Nagmaalstafel ervaar – daar is gemeenskap met God.  Dit beteken dat met ’n afgodsoffer dieselfde gebeur, maar die gemeenskap is nie met God nie, maar met bose geeste, d.i. met die duiwel self, en dit bring hulle gemeenskap met God in gedrang.

Dit gaan dus in elkeen van sy voorskrifte oor die beskerming van hierdie gemeenskap met God.  Niks mag met God in jou lewe kompeteer nie, nie jou eie begeertes nie, nie jou gedrag nie, en ook nie jou (af)godsdiens nie.

In vers 23 keer hy terug na ’n verwante tema, die eet van afgodsvleis, iets waaroor hy al vroeër in hoofstuk 8 geskryf het, en herhaal dat ’n mens nie jou vryheid moet gebruik ten koste van ander se gewete nie.  Dit gaan nie oor die vleis nie, maar oor die een saam met wie jy eet.  En nog dieper as dit gaan dit oor die eer van God – ons moet nooit aanstoot gee aan mense nie, omdat dit hulle Godsbeeld in gedrang kan bring.  Hoe ons optree sê vir hulle hoe God is!

Daarom soek Paulus nie sy eie belang nie, maar dié van ander, sodat hulle gered kan word, soos hy reeds in hoofstuk 9 vertel het.  Omdat hy hierin die voorbeeld van Christus navolg, moet ons hom ook daarin navolg (11:1).

Lees ook ‘n interessante bydrae oor besluitneming.


[1] Die eerste teks van die Nuwe Testament wat in hoofstukke verdeel is, was die Latynse Vulgaat, die amptelike Bybel van die Roomse Katolieke Kerk in Latyn.  Die hoofstuk-indeling is deur Stephen Langton, ‘n professor van Parys, gedoen in die 13de eeu.  Die eerste indeling in verse is deur Robert Estienne, ‘n Franse uitgewer, gedoen in sy 1551 uitgawe van die Griekse Nuwe Testament.  Dit het  verwysings na die Bybel makliker as tevore gemaak.  Die indeling word vandag in alle uitgawes en vertalings van die Bybel gevolg. Die Ou Testament se indeling in verse gaan terug na die Masorete se tekstekens, die Joodse groep wat verantwoordelik was om die Bybelteks oor te skryf en te bewaar.  Die gebruik van hulle tekens vir vers-indelings word aan die werk van Isaac Nathan ben Kalonymus in 1440 toegeskryf.

Onlangse kommentaar

  • Chris van Wyk on Psalm 119:169-176Absoluut!
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 119:169-176Psalm 119 is voorwaar ñ baie Geseënde Psalm
  • Chris van Wyk on Psalm 119:145-152Dis self opnuut weer ‘n vreugde vir my.
  • originalblizzard19aaa84c56 on Psalm 119:145-152Ek was altyd baie langtand om Ps 119 aan te durf, nou wens ek dat dit nie ophou nie... Ps 119 is te kort!!! PDH
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 119:105-112Goeie middag, baie dankie vir die deel van die kosbare verhaal wat so gepas is met die Psalm
  • originalblizzard19aaa84c56 on Psalm 119:1-8Sien waarlik die nou verband tussen OT EN NT. waarlik verhelderend. אמן
  • Chris van Wyk on Psalm 118:19-29Ek gee maar net aan wat ek ontvang het. Dit bly egter 'n kosbare voorreg.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 118:19-29Goeie môre, baie dankie dat u met ons deel wie en waar die vertaaling van die Bybel sy oorsprong gekry het, dit is so kosbaar, baie dankie vir een en elkeen wat deel is en was om hierdie kosbare woord ook vir ons in ons Taal te kon uitlê
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 110Baie dankie vir hierdie kosbaarhede wat u met ons deel. Ek het Openbaring 22 gelees en dit klink baie soos die tuin van Eden, hy praat van die boom van lewe. Die sondeval gemaak dat die mens gesondig het en dat hul nie meer in die tuin kon woon nie asgevolg van die sonde.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 109:6-19Goeie middag, ek wil ook by las dat in Psalm 139:23 bid David;"Deurgrond my, O GOD, en ken my hart, toets my en ken my gedagtes" GOD ken die mens en HY deersoek die hart en die gedagtes. Ek het self al telkens gebid, HERE vergewe hulle want hulle weet nie wat hulle doen nie en dan soos die woord sel…
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 107:33-38Baie dankie vir hierdie verduideliking. Ons lees die eerste keer van Baäl-Peor in Numeri 25. Baäl was die Kanaänitiese god van vrugbaarheid, terwyl Peor verwys na die berg in Moab waar hy onder andere aanbid is. Hy is ook in Kanaän aanbid en was 'n groot versoeking vir die Israeliete met hulle vesti…
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 107:33-38GOD is so goeie GOD. HY gee vir ons die voorskrifte vanaf Deut. 28 en dan volg HY dit ook op in Psalm 107 en sê as ons net doen wat HY ons beveel sal dit met ons goed gaan en ons geseënd wees, nie oor ons nie, maar oor GOD en wie HY is.
  • Chris van Wyk on Psalm 106:43-48Ons lees die eerste keer van Baäl-Peor in Numeri 25. Baäl was die Kanaänitiese god van vrugbaarheid, terwyl Peor verwys na die berg in Moab waar hy onder andere aanbid is. Hy is ook in Kanaän aanbid en was 'n groot versoeking vir die Israeliete met hulle vestiging in die Beloofde Land.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 107:1-9Psalm 1:1 Stel dit so mooi hoe ons, ons pad moet hou en dat ons moet hou en bly by GOD se gebooie
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 106:43-48Goeie naand, Psalm 106: 28 Kan u asb vir my verduidelik wat Baâlpeor is ? Baie dankie Amanda