Skip to main content

Oor besluitneming

Die Bybel vir die Lewe 24/7 (2006: Lux Verbi.BM) gee ’n interessante lysie uit riglyne wat in hoofstuk 10 voorkom, wat jou kan help wanneer jy besluite moet neem:

  • Is dit waaroor ek moet besluit goed en opbouend?
  • Is dit tot eer van God?
  • Sal dit ander laat struikel of aanstoot gee?
  • Volg ek Jesus se voorbeeld hierin?
  • Het ek vrede in my hart of bly ek twyfel?
  • Wat sê my gewete?

Dit is Bybel-gebaseerd en ’n verfrissend-lekker aanvulling van die ander besluitnemings metodieke wat ek al gesien en gebruik het.

Week 6: 1 Korintiërs 11-16

Ons lees die laaste deel van 1 Korintiërs as volg:

  • Donderdag – 1 Korintiërs 11
  • Vrydag – 1 Korintiërs 12
  • Maandag – 1 Korintiërs 13
  • Dinsdag – 1 Korintiërs 14
  • Woensdag – 1 Korintiërs 15-16

1 Korintiërs 11 – Oor mans en vroue in die erediens

Paulus begin hier aandag gee aan sake wat by die erediens hoort en sal:

  1. in hoofstuk 11 stilstaan by die wyse waarop mans en vrouens in die erediens moet optree, en hoe die Nagmaal gevier moet word;
  2. in hoofstuk 12 by die verskeidenheid van geestelike gawes en hoe dit die een liggaam van Christus moet opbou;
  3. in hoofstuk 13 by die liefde wat belangriker as enigiets is en eintlik die samebindende krag is wat die verskeidenheid in die liggaam tot ’n eenheid saamsnoer; en
  4. in hoofstuk 14 terugkeer na die inrigting van die erediens en stilstaan by hoe die gawes gebruik moet word tot stigting van die hele gemeente, waarin die gawe van profesie eerder as tale gebruik moet word.

Hoe mans en vroue moet bid en profeteer

Ek kan nie anders as om my te verwonder oor die jarelange debat oor die dra van hoede deur vroue al dan nie.  Dit maak my tegelyk kwaad en hartseer – kwaad omdat mense met soveel onkunde hieroor geredeneer het en geslagte van vroue aan hoede verbind het; hartseer omdat soveel mans en vroue ’n verkeerde interpretasie as die Woord van God aanvaar het en gedink het die Here self skryf hoede vir vroue voor.

En let op dat vir baie lank die eksplisiete boodskap van hierdie gedeelte gemis is, dat vroue saam met mans mag bid en profeteer in die gemeente!  ’n Boodskap wat gemis is, omdat op die hoede gefokus is, ’n voorwerp wat in elk geval nie eers genoem word in die gedeelte nie, net ’n hoofbedekking.

Paulus werk hier met die algemene sosiale gebruik (let op in vers 14-15) dat vrouens in dié tyd lang hare gehad het en ’n hoofbedekking gedra het in die openbaar, anders sou hulle as prostitute gereken kon word, dws as hulle kort of los hare gehad het en sonder ’n hoofbedekking opgetree het.  Daarom was dit die gebruik in die gemeentes, en om geen ander rede nie.

Soos die sosiale gebruike verander, moes die gebruike in die erediens ook verander het.  Maar, helaas, dit was nie die geval nie; daar is vir eeue vasgeklou aan uitgediende sosiale gebruike asof dit deur die Here self ingegee is.

Dit hang natuurlik saam met die algemene misverstaan van die rol van vroue in die kerk, waarin die swygverbod van 1 Korintiërs 14:34 en 1 Tim 2:11-12 ’n groot rol gespeel het.

  • Paulus skryf in 1 Korintiërs 14:34 oor vroue, wat soos die gebruik vandag nog in Oosterse kerke is, apart van hulle mans in die kerk gesit het , baie keer op die balkon, en dan te veel gepraat het sodat dit die gang van die erediens onderbreek het.  Dit is wat hy verbied, ’n onderlinge gepratery, nie ’n optrede binne die gemeente deur vroue nie.  Paulus het dus geen probleem gehad dat vroue as bidders en profete en met watter ander gawe hulle ook al het, optree in die gemeente nie, soos hierdie gedeelte in hoofstuk 11 bewys.
  • Paulus het ’n paar uitsonderings gemaak rondom Timoteus, waarvan die swyg-gebod in 1 Tim 2 en Timoteus se besnydenis (Hand 16) twee was.  ’n Mens wonder hoekom?  Want die situasie in die res van die kerk was só dat vroue vryelik toegelaat is om te bid en te profeteer, bv. in Korinte.  Daarom dat kommentare dink dat die verbod aan Timoteus waarskynlik met die spesifieke situasie in Efese, waar Timoteus gewerk het, te make gehad het.  Hulle wys daarop dat vroue in daardie tyd meesal as ondergeskik aan mans gereken is, uitgesonderd sommige vroue wat in aansien was of baie geld of besittings gehad het.  In die Joodse sinagoges mag alle vroue in elk geval net geluister het, en nie gepraat het nie.  Die gemeentes het egter begin om, na die voorbeeld van Jesus, vroue op ’n gelyke voet te hanteer (Gal 3:28: “dit maak nie saak of iemand … man of vrou is nie: in Christus Jesus is julle almal één.”).  Daarom was daar ook baie wat as diakens en mede-werkers opgetree het, selfs as leraars (Phoebe) en apostels (Junia) soos ons in Romeine 16 lees.  Die groot prediker Apollos, wat so ’n groot aanhang in Korinte gehad het, is byvoorbeeld deur Priscilla en Akwila onderrig (Hand 18:24-26).  Maar die algemene sosiale status van vroue was steeds as ondergeskik gereken, en daarom lê Paulus hier ’n swaarder beperking op hulle, waarskynlik ter wille van die heidene, sowel as die Jode, in die stad.  Dit kan ook wees dat hy skerper hier optree weens die gewoonte van sommige van die vroue in Efese om van huis tot huis te skinder en ledig, bemoeisiek en praatsiek te wees (1 Tim 5:13).  En let op dat die beperking eintlik net van toepassing is op lering aan volwasse mans (nog meer spesifiek die leiers – as ’n mens in ag neem dat sy argument rondom gesag draai), want in Titus gee hy in elk geval die riglyn dat vroue ander vroue mag onderrig (2:4-5) en hy erken eksplisiet die onderrig wat Timoteus se ouma en ma aan hom as kind gegee het (2 Tim 1:5; 3:14-15).

Lees ook my ekskursus oor ‘n paar vroue in die NT.

Hoe om die Nagmaal te gebruik

Paulus brei sy voorskrifte vir die erediens uit na die wyse waarop die Nagmaal gevier moet word.

Hier moet ’n mens in gedagte hou dat baie gelowiges in Korinte slawe was.  Weens hulle omstandighede moes hulle tot laat werk (en ook van vroeg af in terme van oggendbyeenkomste) en gevolglik baie keer laat opgedaag vir die aandbyeenkomste.  Dit het dus baie keer gebeur dat die meer vermoënde lidmate solank begin eet het – onthou dit was ’n liefdesmaal waartydens die Nagmaal ingestel is – en dat daar nie meer oor was as die ander by hulle aansluit nie.  Dit het die armes verneder en Paulus spreek hom skerp hieroor uit en stel die eenheid voorop, wat uitdrukking kry in die mededeelsaamheid van ryk en arm by die Nagmaalstafel.  Die rykes moet daarom by die huis klaar eet, as hulle nie kan wag met al die kos by die nagmaalstafel nie (vers 34)!

Na hy die lering oor die Nagmaal gegee het, wat hy by die Here self ontvang het, pas hy dit toe op ’n verdere ongepaste wyse om die Nagmaal te gebruik, naamlik om nie selfondersoek te doen nie.  Daardeur drink en eet mense ’n oordeel oor hulleself wat letterlik ’n fisiese uitwerking op hulle het en sal hê.  ’n Mens moet dit nou nie interpreteer asof net diegene dood is wat die Nagmaal verkeerd gebruik het nie, maar dat daar in die algemeen meer siektes en dood by hulle teenwoordig was wat Paulus wyt aan die feit dat hulle nie as ’n gemeente genoegsaam bedagsaam voor die Here God lewe nie.

Ekskursus oor vroue in die NT

Ek het sommer ’n paar vroue uit die Nuwe Testament gaan opdiep wat ’n spesifieke rol en funksie gehad het, en dit is baie interessante leesstof:

  • Dorkas was ’n dissipel (Hand 9:36 – die woorde “gelowige vrou” in die oorspronklike beteken letterlik  “dissipel”).
  • Prisca (Priscilla) was saam met haar man Akwila mede-werkers van Paulus (Hand 18:2) en het byvoorbeeld vir Apollos, die groot prediker in Korinte, onderrig.
  • Filippus se 4 dogters was profetesse (Hand 21:9).
  • Phoebe (Rom 16:1) was óf ’n diaken (soos die woord diakonos gewoonlik vertaal word, maar die manlik vorm van die woord maak dit minder waarskynlik) óf meer waarskynlik ’n “dienaar” (soos die NAV dit vertaal) wat waarskynlik ’n “dienaar van die Woord” kon beteken, dws ’n leraar, soos die term op Timoteus van toepassing gemaak word, wat verseker ’n leraar was (vgl 1 Tim 4:6 waar die woord “dienaar” gebruik word, en uitgespel word as ’n gawe wat Skrifvoorlesing, prediking en onderrig ingesluit het [1 Tim 4:13]).
  • Junia was ’n vroulike apostel.  Junia (in NAV weergegee met Junias) was heel waarskynlik ’n vrou (so bv. geargumenteer deur die gerespekteerde Nuwe Testamentikus Cranfield in die ICC reeks, sowel as Dunn in die Word reeks – ’n bietjie ingewikkelde redenasie: Die woord Junian in die Griekse teks van Romeine 16:7 is die [akkusatiewe] verbuiging van óf Junias [manlike naam] of Junia [vroulike naam]; aangesien die manlike verbuiging egter nêrens anders in die Griekse literatuur gebruik word nie, en die vroulike vorm meer as 250 keer [Lampe], is dit baie meer waarskynlik dat Paulus hier ’n vroulike verbuiging gebruik en hier dus na ’n vrou verwys).  Waarskynlik was Junia dus getroud met Andronikus.  Dit wil ook voorkom asof die twee, Andronikus en Junia, apostels was, want die frase in Romeine 16:7 “hoogaangeskrewe by die apostels” kan eintlik beter vertaal word: “hoogaangeskrewe onder die apostels”, soos dit trouens in die Ou Afrikaanse vertaling was en in die NIV vertaal word: “outstanding among the apostles” (vgl Dunn).  Hulle was dus van die apostels aan wie die Here verskyn het waarna Paulus in 1 Kor 15:5-9 verwys en eintlik van ’n hoër orde as Paulus self, ten minste soos hy dit beskrywe!

Lees ook wat NT Wright oor vroue in die bediening te sê het!

1 Korintiërs 12 – Verskeidenheid dien die eenheid

Hoofstuk 12-14 handel oor die wyse waarop die gawes van die Gees in die gemeente gefunksioneer het.  Die gemeente se siening van die gawe van tale as die taal van die engele (13:1) en iets wat in ’n toestand van ekstase manifesteer (12:2) het gedreig om so oorbeklemtoon te word, dat die ander gawes oorheers is, en hulle eredienste onverstaanbaar begin word het.

Daarom fokus Paulus in hoofstuk 12 eerstens op die basiese belydenis van elke kind van God, dat Jesus die Here is (12:1-3).

Tweedens gebruik hy die tekening van God as Drie-enig (let op die drie woorde vir God in vers 4-6: Gees, Here, God wat met drie beskrywings van die gawes gekoppel word: genadegawes, bedieninge, kragtige werkinge) om aan die een kant die verskeidenheid van gawes wat van die persoon-ryke God kom, aan te moedig, maar aan die ander kant ook die gawes se inherente eenheid te beklemtoon omdat dié God een wese is.  Die onderskeie gawes van wysheid, kennis, geloof, gesondmaking, wonders, profesie, onderskeiding en tale kom van een Gees, en is daarom bedoel om tot die voordeel van almal in die een liggaam gebruik te word (12:7-11).

Daarmee hoop hy dat hulle met die vergelyk-speletjie sal ophou, en eerder die verskeidenheid van gawes sal gebruik tot stigting en opbou van die een liggaam van Christus in die gemeente.

Derdens brei hy uit oor die samehang van die gelowiges met hulle gawes in die een liggaam van Christus, die gemeente, wat beteken dat daar nie verdeeldheid kan wees nie (12:12-31).  Hy gebruik die beeld van ’n regte liggaam om die noodsaaklikheid van verskille (voet, hand, oor, oog) binne die groter organiese eenheid van die gemeente te demonstreer, maar ook die noodsaaklike en integrale eenheid te beklemtoon.  ’n Liggaam kan nie voortbestaan as dit verskeurd is nie.

As daar eenheid is, kan die liggaam se lede met integriteit gelyke sorg dra vir mekaar – onder andere deur mense wat spesifieke take ontvang het: apostels, profete en leraars – gawes wat veral met die Woord te make het; en deur mense wat gawes ontvang het om wonderdade te kan doen, mense gesond te maak, hulp te verleen (bystand), leiding te gee (kubernesis – bestuur of administreer), en ongewone tale of klanke te gebruik.  Die lysie kom ooreen met dié in vers 7-11, met 2 gawes wat bykom, hulp en leiding.  Dit wys dat die gawes nie ’n vaste aantal was nie, maar slegs as voorbeelde genoem word.

Paulus beklemtoon dat nie almal al die gawes het nie, en dat daar beter gawes is (profesie is bv. beter as die gawe van tale, soos hy in hoofstuk 14 sal wys), maar dat alles ondergeskik is aan die gawe van die liefde wat aan almal in die gemeente gegee is, waaroor hoofstuk 13 handel.

Onlangse kommentaar

  • Chris van Wyk on Psalm 119:169-176Absoluut!
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 119:169-176Psalm 119 is voorwaar ñ baie Geseënde Psalm
  • Chris van Wyk on Psalm 119:145-152Dis self opnuut weer ‘n vreugde vir my.
  • originalblizzard19aaa84c56 on Psalm 119:145-152Ek was altyd baie langtand om Ps 119 aan te durf, nou wens ek dat dit nie ophou nie... Ps 119 is te kort!!! PDH
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 119:105-112Goeie middag, baie dankie vir die deel van die kosbare verhaal wat so gepas is met die Psalm
  • originalblizzard19aaa84c56 on Psalm 119:1-8Sien waarlik die nou verband tussen OT EN NT. waarlik verhelderend. אמן
  • Chris van Wyk on Psalm 118:19-29Ek gee maar net aan wat ek ontvang het. Dit bly egter 'n kosbare voorreg.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 118:19-29Goeie môre, baie dankie dat u met ons deel wie en waar die vertaaling van die Bybel sy oorsprong gekry het, dit is so kosbaar, baie dankie vir een en elkeen wat deel is en was om hierdie kosbare woord ook vir ons in ons Taal te kon uitlê
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 110Baie dankie vir hierdie kosbaarhede wat u met ons deel. Ek het Openbaring 22 gelees en dit klink baie soos die tuin van Eden, hy praat van die boom van lewe. Die sondeval gemaak dat die mens gesondig het en dat hul nie meer in die tuin kon woon nie asgevolg van die sonde.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 109:6-19Goeie middag, ek wil ook by las dat in Psalm 139:23 bid David;"Deurgrond my, O GOD, en ken my hart, toets my en ken my gedagtes" GOD ken die mens en HY deersoek die hart en die gedagtes. Ek het self al telkens gebid, HERE vergewe hulle want hulle weet nie wat hulle doen nie en dan soos die woord sel…
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 107:33-38Baie dankie vir hierdie verduideliking. Ons lees die eerste keer van Baäl-Peor in Numeri 25. Baäl was die Kanaänitiese god van vrugbaarheid, terwyl Peor verwys na die berg in Moab waar hy onder andere aanbid is. Hy is ook in Kanaän aanbid en was 'n groot versoeking vir die Israeliete met hulle vesti…
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 107:33-38GOD is so goeie GOD. HY gee vir ons die voorskrifte vanaf Deut. 28 en dan volg HY dit ook op in Psalm 107 en sê as ons net doen wat HY ons beveel sal dit met ons goed gaan en ons geseënd wees, nie oor ons nie, maar oor GOD en wie HY is.
  • Chris van Wyk on Psalm 106:43-48Ons lees die eerste keer van Baäl-Peor in Numeri 25. Baäl was die Kanaänitiese god van vrugbaarheid, terwyl Peor verwys na die berg in Moab waar hy onder andere aanbid is. Hy is ook in Kanaän aanbid en was 'n groot versoeking vir die Israeliete met hulle vestiging in die Beloofde Land.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 107:1-9Psalm 1:1 Stel dit so mooi hoe ons, ons pad moet hou en dat ons moet hou en bly by GOD se gebooie
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 106:43-48Goeie naand, Psalm 106: 28 Kan u asb vir my verduidelik wat Baâlpeor is ? Baie dankie Amanda