Skip to main content

Jesaja 51:1-52:12 – Omhels ‘n bruikbare toekoms in jou verlede

Hoofstuk 51:1-16

Verandering – en veral die bereidheid om ja te sê vir verandering – kom baie keer as ‘n mens met nuwe oë na die verlede kyk.  Pat Keifert sê altyd: “Look for a usable future in your past”.  Dit wil sê tussen al die sleg uit die verlede, soek na dié dinge wat lewe gegee het en dit weer kan doen – ‘n bruikbare toekoms in jou verlede.

Let op hoe Jesaja in dié eerste gedeelte 51:1-10 hierdie raad rig aan dié onder die volk wat reg wil doen, wat na die wil van die Here vra.  Die ballingskap was immers ‘n reinigingsproses om die bewussyn van God te herstel.  En die raad wat hy gee is om moed te skep uit dit wat in hulle verlede lê.  In hulle verlede lê die Here se roeping van die aartsouers, Abraham (vader van vele) en Sara (prinses).  Net soos Hy hulle toe geseën het, gaan God dit nou weer vir Sion, vir die volk, doen.  Trouens, dit is nie eksklusief vir hulle bedoel nie, maar ook goeie nuus vir al die volke en nasies.

Die redding sal gou kom.  Let egter op dat dit – soos verskeie ander plekke in Jesaja – weereens kosmiese trekke aanneem, hetsy as metafore vir die lotsverandering van daardie tyd, of met die oog op die finale oordeelsdag.

Let ook op hoe belangrik drie goed in die verandering is: 1) ‘n luister na die Here – 51:1, 4, 7; 2) ‘n vasberade vashou aan God ten spyte van die spot en belediging van mense – 51:7; en 3) ‘n gebed om redding waar spesifiek die dade van die Here in die verlede voor Hom gebring word – 51:9-10.

Dan gaan Jesaja oor tot die beskrywing van die uitkoms wat die volk met hulle terugkeer sal beleef – 51:11-16.  Weereens word hulle gewys daarop dat hulle niks het om voor te vrees nie, en dat vrees eintlik kom wanneer vergeet word wat die Here in die verlede gedoen het.  Die verdrukker is hokgeslaan en die ballinge is binnekort vry.  En dit is die Here wat dit gedoen het.

Hoofstuk 51:17 – 52:12

Dié verandering vir die ballinge het uiteraard ook ‘n effek op Jerusalem en dié wat daar agtergebly het.  Jesaja roep hulle op om wakker te word sodat hulle die verandering kan omhels.  Al het hulle leiers hulle in die steek gelaat, sal God as hul leier optree en die oordeelsbeker wegneem en vir die verdrukkers gee – 51:17-23.

Daarom moet Sion hulle regmaak, mooi klere aantrek, want hulle is losgekoop.  ‘n Nuwe toekoms het aangebreek, roep die wagte op die mure, en die hele wêreld sal dit sien en God daarvoor eer – 52:1-10.

Die oproep aan die ballinge word herhaal om uit Babel te gee pad, hulleself te reinig, en agter God aan terug te keer na Israel toe – 52:11-12.

Jesaja 52:13-53:12 – Oor óns oortredings is Hy deurboor

Ons maak baie moeilik vrede met lyding.  Veral ons eie lyding of die lyding van mense na aan ons.  Tog is daar iets fassinerends in die lyding van ‘n besondere mens of ‘n leier.  En ons weet uit die geskiedenis dat daar ongelooflike krag sit in die lyding van iemand wat nie vir die opoffering van die lyding terugdeins nie, en selfs bereid is om sy of haar lewe vir ‘n saak op te offer, ten spyte van die koste daarvan.

Sulke verhale van vasberadenheid onder lyding het die potensiaal om mense tot groter hoogtes te inspireer as wat verhale van voorspoed en suksesse het.  Dink aan verhale uit die vorige eeu: Gandhi, moeder Theresa, Mandela.  Hulle het met groot persoonlike opoffering hulle aan hulle lewenstaak gewy.  En baie mense is daardeur geïnspireer.

En dit is nie net die groot leiers wat só ‘n inspirasie is nie; ook die gewone mense wat geduldig volhard het onder groot lyding – agter die Ystergordyn tot en met die val van die Berlynse muur en nou onlangs in Egipte, Tunesië en Libië wat ‘n enorme effek op die regerings gehad het, en reeds tot die val van die eerste twee gely het – dié inspireer ons.

En dit is die krag van hierdie verhaal van die lydende dienaar van die Here.

Tog is dit juis iets wat volgens Jesaja vir baie mense verborge sal wees, dat hulle die hand van die Here nie daarin sal raaksien nie.  Baie mense sal ontsteld wees oor sy voorkoms en konings sal sprakeloos wees oor hom, omdat hulle sy rol nie sal kan kleinkry nie.  Terloops, 52:13 se “voorspoedig wees” kan ook vertaal word met  “wys wees” wat beter in die konteks inpas.

Maar dit is juis in hierdie onaansienlike, veragte en verstote mens wat God sy krag ten toon sal stel, die transformasie van lyding, siektes, oortredings en sondes.  Deur Hom sal God vrede vir ons bring en ons van ons eie pad bekeer na Sy pad toe.

Wat spesifiek besonders van hierdie dienaar is, is dat hy die hoogste prys betaal – “afgesny uit die land van die lewendes … graf gekry by goddeloses … by sondaars in sy dood” – (53:8-10a) EN daarna nog lank sal lewe (53:10b-11).  Op ‘n verskuilde manier voorspel dit die opstanding uit die dood van hierdie dienaar van die Here.  En God aanvaar sy skuldoffer (53:10 – vgl Lev 5:14-6:7 waar die offer selfs vir onopsetlike sondes voorgeskryf word) as ‘n losprys vir baie.

Let ook op dat die dienaar in stille vertroue sy lyding tegemoet stap (53:7) terwyl hy vir oortreders bid (53:12).  Dit laat ‘n mens onmiddellik dink aan Jes 30 waar stilwees, vertroue en gebed die gelowige respons op groot uitdagings is.  Geen wonder dat die Here hierdie offer so hoog aanslaan, trouens aan Hom die ereplek gee onder die grotes en magtiges (53:12).  Want die geduld in lyding dra groot vrug.

Die Nuwe Testament maak daarom hierdie woorde van Jesaja op vele plekke van toepassing op Jesus, omdat die skrywers in sy lewe die vervulling van hierdie gedeelte gesien het: 53:1 in Joh 12:38; 53:4 in Matt 8:17; 53:7-8 in Hand 8:32-33; 53:9 in 1 Pet 2:22.

Inderdaad, Jesus self het ‘n vers hieruit op Homself van toepassing gemaak aan die kruis: bv. 53:12 in Luk 22:37.

Voetnota: Verbasend baie geleerdes identifiseer steeds hier die dienaar as Israel (korporatiewe interpretasie), terwyl dit regdeur duidelik is dat dit ‘n individu is wat ter wille van ander ly, en dan ook nog spesifiek ter wille van die volk van Israel (53:8).

Jesaja 54 – My liefde vir julle sal nooit vergaan nie

As dit darem nie waar was wat in hierdie hoofstuk staan nie: “My liefde vir jou sal nooit verdwyn nie” (54:10)!  Berge kan padgee, heuwels kan wankel, maar God se vredeverbond met ons sal nooit wankel nie.  Dit is die basis van ons vertroue in God wat sin en betekenis aan ons lewe gee.

Jesaja 54 juig oor hierdie liefde van God wat net nooit vergaan nie.

54:1-5: Let op hoe die volk eerstens met ‘n onvrugbare vrou vergelyk word wat meer kinders gaan hê as ‘n getroude, weens die liefde van die Here.  Hulle grondgebied sal moet uitbrei, so baie gaan hulle word.  Hulle sal nie meer verleë staan en in die skande kom nie.  God is hulle man – wat ‘n mens laat dink aan NT visie van die kerk as bruid van Jesus (Mark 2:19; Open 21:2; vgl ook Jes 62:5 wat weer met dié metafoor werk)!

Terloops, William Carey (1761-1834), die vader van die moderne sendingbeweging, het vers 2b ““lengthen its cords and strengthen its stakes”” as ‘n uitdaging aan die kerk in Engeland gehoor om die boodskap van die evangelie oor die hele wêreld te versprei.  Hy het self die res van sy lewe in Indië as sendeling gaan werk.  Dit was die stimilus vir die wêreldwye verspreiding van die boodskap van Christus waaraan sendelinge uit Suid-Afrika ook steeds onvermoeid meewerk.

54:6-8: In die tweede plek word die volk met ‘n verstote vrou vergelyk wat eweneens ontferming sal beleef deurdat die Here hulle terugneem onder sy vlerk.  Sy liefde vir hulle sal nooit vergaan nie.

54:9-10: Die sekerheid van dié beloftes word met ‘n eed gesweer, soortgelyk aan dié wat God eenmaal vir Noag gegee het.  Sy liefde sal nie verdwyn nie.

54:11-17: Die metafoor verander om van die volk as stad te praat wat vroeër bedreig was en wie se mure nou weer vasgemessel sal word.  Kosbare stene sal vir hulle gebruik word wat ‘n mens onmiddellik laat dink aan die hemelse stad Jerusalem (vgl Open 21:18-21).  Let op hoe elkeen van die inwoners “leerlinge van die Here” sal wees (54:13) – dit laat ‘n mens dink aan Jesus se laaste opdrag om dissipels (leerlinge) van al die nasies te maak (Matt 28:19).  Geregtigheid sal heers en hulle sal nie bang wees vir verdrukking of verskrikking nie, want God sal vir hulle sorg: “Dit is hoe Ek, die Here, vir my dienaars sorg” (54:17).

Jesaja 55 – Kom geniet God se genade

Waar hoofstuk 54 die volk laat juig het oor die uitkoms wat God vir hulle bewerk, nooi hoofstuk 55 hulle uit om nie net dit aan te hoor nie, maar inderdaad na God te kom, en na Hom te luister om hierdie uitkoms te kan beleef.

Met die pragtige beeld van gratis water, wyn, melk en brood (vers 1-2) word die genade van die Here gekontrasteer met die goddeloosheid om jou eie kop te volg (vers 7).  Laat ‘n mens dink aan Jesus wat die lewende water gee vir die Samaritaanse vrou by die put (Joh 4).

En wat nodig is om God se aanbod te ontvang, is om na Hom te luister, na sy wil te vra (vers 3, 6) en jou verkeerde pad en planne te laat staan (vers 7).

Let op dat die nasies weereens ingesluit word in die uitnodiging (vers 5) en dat dit juis Israel is wat hulle moet nader roep!

God se uitnodiging is gebaseer op die feit dat sy woord skeppingskrag het, en dat dit dus nie onverrigter sake na Hom toe terugkeer nie (vers 11).  Let op hoe dié skeppingskrag juis vergelyk word met wat van sy mag in die natuur gesien kan word (vers 10).

En Jesaja sluit die hoofstuk af met die herhaling en bevestiging van God se belofte dat hulle uit Babel sal wegtrek.   Selfs die natuur sal daaroor bly wees.  En die verhaal van die Tweede Uittog sal as teken van God se eer dien.

WEEK 8 – Jesaja 56-61

Ons leeswerk begin einde se kant toe staan.  In hierdie 6 hoofstukke word ons aandag weer gefokus op temas wat reeds in hoofstuk 1-2 aan die orde gestel is: God wat verlossing bring vir ‘n volk al het hulle die verbond verbreek.  En weereens word die goeie nuus vir die nasies beklemtoon.  Daar is ook ‘n pragtige gedeelte in 57:14-21 wat teruggryp op die tema van voorbereiding vir God se uitkoms waarvan ons reeds in hoofstuk 40 kennis geneem het.  Ons sluit die week se leeswerk af met Jesaja 61 wat ‘n ongelooflike belangrike rol gespeel het in Jesus se roepingsverstaan (vgl Luk 4).

Ons lees dit as volg:

Donderdag 10 Maart Jesaja 56-57
Vrydag 11 Maart Jesaja 58
Maandag 12 Maart Jesaja 59
Dinsdag 13 Maart Jesaja 60
Woensdag 14 Maart Jesaja 61

Onlangse kommentaar

  • originalblizzard19aaa84c56 on Herodes die Grote pleeg kindermoordDankie.
  • perfectly57edc75df4 on Josef-hulle vlug van Betlehem na EgipteDankie, Matteus het deurgekom. Was eers 'n dag laat, maar nou daagliks op tyd. Sover kry ek 'n paar interessante gedagtes wat mens maklik miskyk as jy net lees v/d geboorte en nie na die mesnlike aspekte kyk nie. Dankie and Vrede.
  • sparklybc467b2e69 on Josef-hulle vlug van Betlehem na EgipteGoeie môre, baie dankie, ja dit maak sin, want dit is hoekom Dawid ñ man na GOD se hart was, hy was ook elke keer gehoorsaam aan GOD. Daar is egter iets wat my so diep geraak het, terwyl ek u opmerkings lees, JESUS die seun van GOD het geen rykdom of enige voortrekkery ontvang nie, HY was regtig so…
  • originalblizzard19aaa84c56 on Josef-hulle vlug van Betlehem na EgipteTans so gepas in my vrou en my se lewe. Moet noukeurig let op die detail van die Heer se leiding. Kan nie wag om die volgende stappe te volg nie. Dankie.
  • Philip Vermaak on Hoe het “Bid die Psalms” jou gehelp?Wat my weer getref het is God se liefde vir alle mense en Dawid se nederige houding as hy tot God roep en hom met alles aan God "oorgee" En- wat ons het is aan ons deur God geskenk en wat ons is is slegs Genade Baie dankie
  • originalblizzard19aaa84c56 on Sterrekundiges besoek Jesus in die huis in Betlehem MATTEUS 2:1-12Prys die Here vir sy Heilige Woord en Gees.
  • sparklybc467b2e69 on ‘n Engel van die Here oortuig Josef dat Maria se Kind van die Heilige Gees is MATTEUS 1:18-25Dit is vir my opsig self so groot bewys van GOD se grootheid, Sy Heilige Gees wat Maria bevrug. Ek het altyd gedink dat Maria baie besonders was onder die vroue, maar as ñ mens lees van Josef en sy karakter, was hulle albei uitverkies as JESUS, GOD se seun.
  • originalblizzard19aaa84c56 on Jesus se geslagsregister in Matteus verbind Hom aan Abraham, Dawid en die volk na die ballingskap MATTEUS 1:1-17Matteus. Amazing, om my te verwonder aan die Heilige Skrif. Dankie vir navorsing.
  • Chris van Wyk on Psalm 150Hi, jy sal steeds die Matteus bydraes kry as jy ingeteken is. Die skakel is daar vir nuwe mense. Die opmerkings moet eers goedgekeur word deur my, vandaar die verposing. Hoop jy het steeds Matteus gekry?
  • perfectly57edc75df4 on Psalm 150Naand Chris. Ek dink daar is iets met die website verkeerd. Psalms was op Bybelskool beskikbaar, maar vir Mattteus vra dit jou om weer in te teken op Bybelskool. Ek is op Bybelskool. Dan stuur die opmerkings ook nie elke keer nie. Die inskrywing vir Matteus vat jou na 'n snaakse vorm. Is dit reg so,…
  • Doreen Snyders on Hoe het “Bid die Psalms” jou gehelp?Baie baie dankie vir die Psalms. Dit was só insiggewend en het baie gehelp om om die Skrif te bid. Nogmaals dankie. Ek sien baie uit na Matteus. Doreen Snyders
  • johannes buhrmann on Psalm 150Die God aan wie die Psalm digters hul lof en dankbaarheid betuig het , en teenoor wie hulle hul klagtes en swaarkry en onsekerhede kon bekendmaak is dieselfde God teenoor wie gelowiges hulle in die huidige tydsgewrig gewrig hul kan wend om geloof en lewensrigting te verkry Dankie
  • originalblizzard19aaa84c56 on Inleiding'n Mondvol oor Matteus. Sien uit na die reis. Dankie
  • Francois Du Toit on Hoe het “Bid die Psalms” jou gehelp?Dit was n wonderlike reis deur die psalms, teen n pas wat genoeg tyd vir nadenke toegelaat het. En die diep nuanses vd Onse Vader laat deurskemer het. Baie dankie vd leiding en verklari gs.
  • Hannes. on Hoe het “Bid die Psalms” jou gehelp?Middag Dr. Chris, Baie dankie vir ‘n insiggewende reis deur Psalms. Dit het beslis gehelp om my persoonlike gebedslewe te verbeter, en ek glo sterk dat elke gebed beslis my verhouding met die Here verdiep op ‘n manier waar ek tans baie meer pligsgetrou is teenoor my persoonlike stiltetyd en gesprekk…