Skip to main content

Jeremia 30:1-31:1 – Ek sal julle lot verander

Die boek van Vertroosting

Jeremiah lamenting - Rembrand van RijnDie volgende vier hoofstukke handel oor die toekomstige herstel van die land en volk – hoofstukke 30-33.  Geleerdes noem dit die “Boek van Vertroosting”, ’n boodskap van hoop midde-in die chaos wat die volk weens hulle ongehoorsaamheid tref.

Die belofte van herstel wat reeds in Jeremia se roeping opgesluit was (Jer. 1:10), maar tot dusver min aandag gekry het (vgl wel die vorige vyf heilsprofesieë: Jer. 16:14-21: “Ek sal hulle terugbring ná die oordeel – ook die nasies”; Jer. 23:1-8: “Ek sal ’n regverdige koning voorsien”; Jer. 24: “Die ballinge van Juda is goeie vye”; Jer. 25: “Die ballingskap sal sewentig jaar duur”; Jer. 29: “Ek beplan vir julle voorspoed, nie teenspoed nie”), word nou helder verwoord.

Hoewel dit in hoofstuk 31-31 primêr om profesieë gaan, en dit in poëtiese taal geskryf is, is die tematiese en inhoudelike ooreenkomste met die verhalende gedeeltes van hoofstuk 32 soveel dat dit as ’n eenheid beskou kan word.  Die grondkooptransaksie van hoofstuk 32 staan immers as ’n simbool of teken van die profesieë van hoofstukke 30-31 van ’n hoopvolle toekoms wanneer die land van Israel en die volk van Israel en Juda weer verenig sal wees.  En hoofstuk 33 se poëtiese gedeeltes sluit weer baie nou aan by hoofstuk 32, veral as ’n mens vers 1 in ag neem: “Die woord van die Here het weer tot Jeremia gekom …”

Die beskrywing van Jeremia se inperking in die binneplaas van die paleiswag in hoofstuk 33 kan moontlik as ’n datering gebruik word vir die samestelling van die vier hoofstukke – “Skryf alles wat Ek met jou gepraat het, in ’n boek” (Jer. 30:2) – hoewel die onderskeie profesieë waarskynlik op verskillende tye ontvang is.  Dit is saamgevoeg in die tyd van Sedekia, ná Jeremia uit die put getrek is en ingeperk is in die binneplaas (Jer. 38:13), baie naby aan die einde van Sedekia se regeringstyd en die aanvang van die ballingskap in 586 v.C.

Die sentrale boodskap van die “Boek van Vertroosting” word reeds in hfst. 30:3 gegee: “Daar kom ’n tyd, sê die Here, dat Ek die lot van my volk Israel en Juda sal verander en hulle terugbring om die land te besit wat Ek aan hulle voorvaders gegee het, sê die Here.”  Die woord “lotsverandering” kom ses keer voor in dié vier hoofstukke (30:3,18; 31:23; 33:7,11,26) en som die kern van die boodskap van hoop op wat uitgepak word in terme van ’n nuwe verbond (31:31-34; 32:38-41) waarin die Godsverhouding (30:22; 31:1,33; 32:38), hulle volkseenheid (31:27,31-34; 33:14) en hulle verhouding met die land (30:2,10; 31:8,17,21; 32:37) herstel sal word wat ook die herbou van die stad Jerusalem sal insluit (31:35-37; 33:6-10).  Die effek van die ballingskap word dus omgekeer.

Let ook op dat die boodskap nie net vir die Suidryk – Juda waarby Benjamin geïnkorporeer is – se ballinge bedoel is nie, maar ook vir die ballinge wat reeds ’n eeu tevore uit die Noordryk – die tien stamme ryk van Israel – weggevoer is in ballingskap (722 v.C.).  Só is dit ook al vroeër geformuleer (Jer. 16:14-15 [lande]; 23:3 [lande]; 23:6 [Juda en Israel]; 23:8 [Israel en lande]; 29:14 [plekke]), hoewel dit uiteraard ook die huidige ballinge insluit (Jer. 24:6; 29:10).  Jeremia het selfs van ’n terugkeer van die nasies na die Here gepraat in soortgelyke terme (Jer. 16:19).

Daarom word die volk ook hier in hoofstuk 30 as Jakob aangespreek, en in  hoofstuk 31 as Efraim en Juda om die eenheid van die Godsvolk in die oë van die Here aan te dui.  Die Here se onverbreekbare band met die hele Israel word in hoofstuk 31 beklemtoon met verwysing na Sy soortgelyke onverbreekbare band met die Skepping (31:35-37).

Geen wonder dat die terugkeer uit die ballingskap gevolglik op alle Jode van toepassing was, waar hulle hulself ook al bevind het.  So is die edik van die Persiese koning Kores geformuleer wat aan alle nasies onder sy beheer gestuur is: “Enigeen onder julle wat aan sy volk behoort, kan teruggaan, en mag die Here sy God by hom wees”  (2 Kron. 36:22-23; Esra 1:1-4).  Hoewel daar dus meer mense van Juda (dele van Efraim, Manasse en Simeon is vroeër al by hulle ingesluit – 2 Kron. 15:9; ’n hele klomp “Joodse” immigrante is ook in die tyd van Hiskia by Juda ingesluit – vgl. 2 Kron. 30:25) en Benjamin, sowel as van Levi teruggekom het, het dit ook ander Joodse families ingesluit.

30:1-3 – Opskrif

Die sentrale boodskap van hierdie “Boek van Vertroosting” is die volgende: “Daar kom ’n tyd, sê die Here, dat Ek die lot van my volk Israel en Juda sal verander en hulle terugbring om die land te besit wat Ek aan hulle voorvaders gegee het, sê die Here.”  Die Here belowe dat die ballingskap opgehef sal word en dat hulle weer sal kan terugkeer na die land wat God aan hulle gegee het.

Hierna volg daar sewe profesieë, verspreid oor die volgende twee hoofstukke, wat God se boodskap van omvattende herstel beskryf:

  • 30:4-11 – Jakob se benoudheid en bevryding
  • 30:12-17 – Die genesing van Sion se ongeneeslike wonde
  • 30:18-31:1 – Die herstel van Jakob as verbondsgemeenskap
  • 31:2-6 – God se genadige hervestiging van Israel en Juda
  • 31:7-14 – Israel se tuiskoms om God se genade te geniet
  • 31:15-22 – Die omkeer van Ragel se rou met Efraim se terugkeer
  • 31:23-40 – Die omvattende lotsverandering van Israel en Juda

30:4-11 – Jakob se benoudheid en bevryding

Jeremia sluit aan by die angs en vrees wat die Jode ervaar – “Waarom het elke gesig doodsbleek geword?” – met die chaos wat die ballingskap bring.  Dit is ’n tyd van weergalose swaarkry, “maar hy (Jakob) sal daaruit gered word.”

Die Here belowe dat die juk van die vyand afgegooi sal word en hulle bevryding sal beleef.  Hulle sal die Here kan dien in vryheid met die nuut-aangestelde koning Dawid.  Daarom hoef hulle nie bang te wees waar hulle hul ook al mag bevind nie, want die Here is by hulle om nie net die nasies uit te wis nie, maar hulle te bevestig: “Ek sal jou nie uitwis nie.”  Hulle sal wel nie ongestraf bly nie, maar die Here sal regverdig wees.

30:12-17 – Die genesing van Sion se ongeneeslike wonde

Die ongeneeslike en dodelike siekte van Sion, die stad Jerusalem, word in geen onduidelike taal geskets.  “Almal wat jou liefgehad het, het jou vergeet, hulle gee nie vir jou om nie.”  Op die koop toe is dit die werk van die Here self wat hulle gestraf het weens hulle ongeregtigheid en sonde.  Daarom kan hulle nie regtig kla daaroor nie!

Maar, die genade is dat God Hy self hulle wonde sal genees: “Ek sal jou gesond maak, jou wonde genees, sê die Here.”  Dit sal insluit dat Hy hulle teëstanders sal straf en in ballingskap sal wegvoer.

30:18-31:1 – Die herstel van Jakob as verbondsgemeenskap

Die naam van die stamvader, Jakob, word doelbewus gebruik om die belofte van die herstel van die verbondsgemeenskap aan die hele volk Israel te koppel.  Al Jakob se woonplekke, al die streke waar hy woon, sal herbou word.  Die stad Jerusalem sal herbou word sowel as die paleis en daar sal weer feesgevier word soos tevore: “die gemeente in hom sal in blywende plek hê in my teenwoordigheid”.

Hulle leier sal ongehinderde toegang tot die Here hê: “Ek sal hom laat nader kom en hy sal na My toe kom.”  Uiteraard het beide Nehemia en Esra met die terugkoms ná die ballingskap dié voorreg gebruik (Neh. 1; Esra 9), maar dit slaan ook op die Messiaanse vervulling in Jesus sowel as op die voorreg wat elke kind van God het: “ons het dus nou deur die bloed van Jesus vrye toegang tot die heiligdom … laat ons tot God nader met ’n opregte hart en met volle geloofsekerheid.” (Hebr. 9:19-25).


Discover more from Bybelskool

Subscribe to get the latest posts sent to your email.

Jeremia


Chris van Wyk

Ek is Direkteur van Bediening en Geestelike Vorming by Veritas College International. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am Director of Ministry and Spiritual Formation at Veritas College International. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Maak 'n opmerking

Onlangse kommentaar

  • perfectly57edc75df4 on Josef-hulle vlug van Betlehem na EgipteDankie, Matteus het deurgekom. Was eers 'n dag laat, maar nou daagliks op tyd. Sover kry ek 'n paar interessante gedagtes wat mens maklik miskyk as jy net lees v/d geboorte en nie na die mesnlike aspekte kyk nie. Dankie and Vrede.
  • sparklybc467b2e69 on Josef-hulle vlug van Betlehem na EgipteGoeie môre, baie dankie, ja dit maak sin, want dit is hoekom Dawid ñ man na GOD se hart was, hy was ook elke keer gehoorsaam aan GOD. Daar is egter iets wat my so diep geraak het, terwyl ek u opmerkings lees, JESUS die seun van GOD het geen rykdom of enige voortrekkery ontvang nie, HY was regtig so…
  • originalblizzard19aaa84c56 on Josef-hulle vlug van Betlehem na EgipteTans so gepas in my vrou en my se lewe. Moet noukeurig let op die detail van die Heer se leiding. Kan nie wag om die volgende stappe te volg nie. Dankie.
  • Philip Vermaak on Hoe het “Bid die Psalms” jou gehelp?Wat my weer getref het is God se liefde vir alle mense en Dawid se nederige houding as hy tot God roep en hom met alles aan God "oorgee" En- wat ons het is aan ons deur God geskenk en wat ons is is slegs Genade Baie dankie
  • originalblizzard19aaa84c56 on Sterrekundiges besoek Jesus in die huis in Betlehem MATTEUS 2:1-12Prys die Here vir sy Heilige Woord en Gees.
  • sparklybc467b2e69 on ‘n Engel van die Here oortuig Josef dat Maria se Kind van die Heilige Gees is MATTEUS 1:18-25Dit is vir my opsig self so groot bewys van GOD se grootheid, Sy Heilige Gees wat Maria bevrug. Ek het altyd gedink dat Maria baie besonders was onder die vroue, maar as ñ mens lees van Josef en sy karakter, was hulle albei uitverkies as JESUS, GOD se seun.
  • originalblizzard19aaa84c56 on Jesus se geslagsregister in Matteus verbind Hom aan Abraham, Dawid en die volk na die ballingskap MATTEUS 1:1-17Matteus. Amazing, om my te verwonder aan die Heilige Skrif. Dankie vir navorsing.
  • Chris van Wyk on Psalm 150Hi, jy sal steeds die Matteus bydraes kry as jy ingeteken is. Die skakel is daar vir nuwe mense. Die opmerkings moet eers goedgekeur word deur my, vandaar die verposing. Hoop jy het steeds Matteus gekry?
  • perfectly57edc75df4 on Psalm 150Naand Chris. Ek dink daar is iets met die website verkeerd. Psalms was op Bybelskool beskikbaar, maar vir Mattteus vra dit jou om weer in te teken op Bybelskool. Ek is op Bybelskool. Dan stuur die opmerkings ook nie elke keer nie. Die inskrywing vir Matteus vat jou na 'n snaakse vorm. Is dit reg so,…
  • Doreen Snyders on Hoe het “Bid die Psalms” jou gehelp?Baie baie dankie vir die Psalms. Dit was só insiggewend en het baie gehelp om om die Skrif te bid. Nogmaals dankie. Ek sien baie uit na Matteus. Doreen Snyders
  • johannes buhrmann on Psalm 150Die God aan wie die Psalm digters hul lof en dankbaarheid betuig het , en teenoor wie hulle hul klagtes en swaarkry en onsekerhede kon bekendmaak is dieselfde God teenoor wie gelowiges hulle in die huidige tydsgewrig gewrig hul kan wend om geloof en lewensrigting te verkry Dankie
  • originalblizzard19aaa84c56 on Inleiding'n Mondvol oor Matteus. Sien uit na die reis. Dankie
  • Francois Du Toit on Hoe het “Bid die Psalms” jou gehelp?Dit was n wonderlike reis deur die psalms, teen n pas wat genoeg tyd vir nadenke toegelaat het. En die diep nuanses vd Onse Vader laat deurskemer het. Baie dankie vd leiding en verklari gs.
  • Hannes. on Hoe het “Bid die Psalms” jou gehelp?Middag Dr. Chris, Baie dankie vir ‘n insiggewende reis deur Psalms. Dit het beslis gehelp om my persoonlike gebedslewe te verbeter, en ek glo sterk dat elke gebed beslis my verhouding met die Here verdiep op ‘n manier waar ek tans baie meer pligsgetrou is teenoor my persoonlike stiltetyd en gesprekk…
  • Kobus on Hoe het “Bid die Psalms” jou gehelp?Dit was vir my 'n wonderlike ervaring, ek kyk met 'n ander insig nou na die Psalms