Jeremia 30:1-31:1 – Ek sal julle lot verander

Die boek van Vertroosting

Jeremiah lamenting - Rembrand van RijnDie volgende vier hoofstukke handel oor die toekomstige herstel van die land en volk – hoofstukke 30-33.  Geleerdes noem dit die “Boek van Vertroosting”, ’n boodskap van hoop midde-in die chaos wat die volk weens hulle ongehoorsaamheid tref.

Die belofte van herstel wat reeds in Jeremia se roeping opgesluit was (Jer. 1:10), maar tot dusver min aandag gekry het (vgl wel die vorige vyf heilsprofesieë: Jer. 16:14-21: “Ek sal hulle terugbring ná die oordeel – ook die nasies”; Jer. 23:1-8: “Ek sal ’n regverdige koning voorsien”; Jer. 24: “Die ballinge van Juda is goeie vye”; Jer. 25: “Die ballingskap sal sewentig jaar duur”; Jer. 29: “Ek beplan vir julle voorspoed, nie teenspoed nie”), word nou helder verwoord.

Hoewel dit in hoofstuk 31-31 primêr om profesieë gaan, en dit in poëtiese taal geskryf is, is die tematiese en inhoudelike ooreenkomste met die verhalende gedeeltes van hoofstuk 32 soveel dat dit as ’n eenheid beskou kan word.  Die grondkooptransaksie van hoofstuk 32 staan immers as ’n simbool of teken van die profesieë van hoofstukke 30-31 van ’n hoopvolle toekoms wanneer die land van Israel en die volk van Israel en Juda weer verenig sal wees.  En hoofstuk 33 se poëtiese gedeeltes sluit weer baie nou aan by hoofstuk 32, veral as ’n mens vers 1 in ag neem: “Die woord van die Here het weer tot Jeremia gekom …”

Die beskrywing van Jeremia se inperking in die binneplaas van die paleiswag in hoofstuk 33 kan moontlik as ’n datering gebruik word vir die samestelling van die vier hoofstukke – “Skryf alles wat Ek met jou gepraat het, in ’n boek” (Jer. 30:2) – hoewel die onderskeie profesieë waarskynlik op verskillende tye ontvang is.  Dit is saamgevoeg in die tyd van Sedekia, ná Jeremia uit die put getrek is en ingeperk is in die binneplaas (Jer. 38:13), baie naby aan die einde van Sedekia se regeringstyd en die aanvang van die ballingskap in 586 v.C.

Die sentrale boodskap van die “Boek van Vertroosting” word reeds in hfst. 30:3 gegee: “Daar kom ’n tyd, sê die Here, dat Ek die lot van my volk Israel en Juda sal verander en hulle terugbring om die land te besit wat Ek aan hulle voorvaders gegee het, sê die Here.”  Die woord “lotsverandering” kom ses keer voor in dié vier hoofstukke (30:3,18; 31:23; 33:7,11,26) en som die kern van die boodskap van hoop op wat uitgepak word in terme van ’n nuwe verbond (31:31-34; 32:38-41) waarin die Godsverhouding (30:22; 31:1,33; 32:38), hulle volkseenheid (31:27,31-34; 33:14) en hulle verhouding met die land (30:2,10; 31:8,17,21; 32:37) herstel sal word wat ook die herbou van die stad Jerusalem sal insluit (31:35-37; 33:6-10).  Die effek van die ballingskap word dus omgekeer.

Let ook op dat die boodskap nie net vir die Suidryk – Juda waarby Benjamin geïnkorporeer is – se ballinge bedoel is nie, maar ook vir die ballinge wat reeds ’n eeu tevore uit die Noordryk – die tien stamme ryk van Israel – weggevoer is in ballingskap (722 v.C.).  Só is dit ook al vroeër geformuleer (Jer. 16:14-15 [lande]; 23:3 [lande]; 23:6 [Juda en Israel]; 23:8 [Israel en lande]; 29:14 [plekke]), hoewel dit uiteraard ook die huidige ballinge insluit (Jer. 24:6; 29:10).  Jeremia het selfs van ’n terugkeer van die nasies na die Here gepraat in soortgelyke terme (Jer. 16:19).

Daarom word die volk ook hier in hoofstuk 30 as Jakob aangespreek, en in  hoofstuk 31 as Efraim en Juda om die eenheid van die Godsvolk in die oë van die Here aan te dui.  Die Here se onverbreekbare band met die hele Israel word in hoofstuk 31 beklemtoon met verwysing na Sy soortgelyke onverbreekbare band met die Skepping (31:35-37).

Geen wonder dat die terugkeer uit die ballingskap gevolglik op alle Jode van toepassing was, waar hulle hulself ook al bevind het.  So is die edik van die Persiese koning Kores geformuleer wat aan alle nasies onder sy beheer gestuur is: “Enigeen onder julle wat aan sy volk behoort, kan teruggaan, en mag die Here sy God by hom wees”  (2 Kron. 36:22-23; Esra 1:1-4).  Hoewel daar dus meer mense van Juda (dele van Efraim, Manasse en Simeon is vroeër al by hulle ingesluit – 2 Kron. 15:9; ’n hele klomp “Joodse” immigrante is ook in die tyd van Hiskia by Juda ingesluit – vgl. 2 Kron. 30:25) en Benjamin, sowel as van Levi teruggekom het, het dit ook ander Joodse families ingesluit.

30:1-3 – Opskrif

Die sentrale boodskap van hierdie “Boek van Vertroosting” is die volgende: “Daar kom ’n tyd, sê die Here, dat Ek die lot van my volk Israel en Juda sal verander en hulle terugbring om die land te besit wat Ek aan hulle voorvaders gegee het, sê die Here.”  Die Here belowe dat die ballingskap opgehef sal word en dat hulle weer sal kan terugkeer na die land wat God aan hulle gegee het.

Hierna volg daar sewe profesieë, verspreid oor die volgende twee hoofstukke, wat God se boodskap van omvattende herstel beskryf:

  • 30:4-11 – Jakob se benoudheid en bevryding
  • 30:12-17 – Die genesing van Sion se ongeneeslike wonde
  • 30:18-31:1 – Die herstel van Jakob as verbondsgemeenskap
  • 31:2-6 – God se genadige hervestiging van Israel en Juda
  • 31:7-14 – Israel se tuiskoms om God se genade te geniet
  • 31:15-22 – Die omkeer van Ragel se rou met Efraim se terugkeer
  • 31:23-40 – Die omvattende lotsverandering van Israel en Juda

30:4-11 – Jakob se benoudheid en bevryding

Jeremia sluit aan by die angs en vrees wat die Jode ervaar – “Waarom het elke gesig doodsbleek geword?” – met die chaos wat die ballingskap bring.  Dit is ’n tyd van weergalose swaarkry, “maar hy (Jakob) sal daaruit gered word.”

Die Here belowe dat die juk van die vyand afgegooi sal word en hulle bevryding sal beleef.  Hulle sal die Here kan dien in vryheid met die nuut-aangestelde koning Dawid.  Daarom hoef hulle nie bang te wees waar hulle hul ook al mag bevind nie, want die Here is by hulle om nie net die nasies uit te wis nie, maar hulle te bevestig: “Ek sal jou nie uitwis nie.”  Hulle sal wel nie ongestraf bly nie, maar die Here sal regverdig wees.

30:12-17 – Die genesing van Sion se ongeneeslike wonde

Die ongeneeslike en dodelike siekte van Sion, die stad Jerusalem, word in geen onduidelike taal geskets.  “Almal wat jou liefgehad het, het jou vergeet, hulle gee nie vir jou om nie.”  Op die koop toe is dit die werk van die Here self wat hulle gestraf het weens hulle ongeregtigheid en sonde.  Daarom kan hulle nie regtig kla daaroor nie!

Maar, die genade is dat God Hy self hulle wonde sal genees: “Ek sal jou gesond maak, jou wonde genees, sê die Here.”  Dit sal insluit dat Hy hulle teëstanders sal straf en in ballingskap sal wegvoer.

30:18-31:1 – Die herstel van Jakob as verbondsgemeenskap

Die naam van die stamvader, Jakob, word doelbewus gebruik om die belofte van die herstel van die verbondsgemeenskap aan die hele volk Israel te koppel.  Al Jakob se woonplekke, al die streke waar hy woon, sal herbou word.  Die stad Jerusalem sal herbou word sowel as die paleis en daar sal weer feesgevier word soos tevore: “die gemeente in hom sal in blywende plek hê in my teenwoordigheid”.

Hulle leier sal ongehinderde toegang tot die Here hê: “Ek sal hom laat nader kom en hy sal na My toe kom.”  Uiteraard het beide Nehemia en Esra met die terugkoms ná die ballingskap dié voorreg gebruik (Neh. 1; Esra 9), maar dit slaan ook op die Messiaanse vervulling in Jesus sowel as op die voorreg wat elke kind van God het: “ons het dus nou deur die bloed van Jesus vrye toegang tot die heiligdom … laat ons tot God nader met ’n opregte hart en met volle geloofsekerheid.” (Hebr. 9:19-25).

Jeremia


Chris van Wyk

Ek is gemeenteleraar by Somerstrand gemeente, Port Elizabeth. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am pastor at Summerstrand congregation, Port Elizabeth. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Maak 'n opmerking

  • Chris van Wyk on Numeri 36Ja, alles het eintlik met alles te make in die Skrif. Dit onderstreep die waarde van elke enkele deel daarvan vir alle tye.
  • Chris van Wyk on Numeri 36My voorreg!
  • Ansie Lessing on Numeri 36Dankie. Ek mis die stukkies vir niks nie. Groete, Ansie
  • Chris van Zyl on Numeri 36Baie dankie vir jou bydraes, Chris, en betekenisse wat vir my soveel beter insig verskaf het. Die kruisverwysings tussen OT en NT het my laat besef dat die OT se verhale konteks verskaf vir die Jesus se oorwinning in die NT. Baie dankie, ek sien uit na Deut.
  • Chris van Wyk on JeremiaHi Petro, my bydraes oor Jeremia is net op die Internet by hierdie skakel beskikbaar.
  • Petro on JeremiaMiddag Waar kan ek net die boek Jeremia aflaai Dankie
  • Chris van Wyk on Jesaja 21-23 – God se oordeel bereik alle nasiesDie boodskap van die drie hoofstukke is dat God se oordeel werklik is en dat sy waarskuwings nie in die wind geslaan moet word nie. Dit geld ook sy volk om hulle te bekeer van hulle verkeerde weë. Hulle status as God se uitverkore volk moet nie ligtelik opgeneem word nie. Groter kennis van die waarh…
  • Marizanne Louw on Jesaja 21-23 – God se oordeel bereik alle nasiesHi ek is besig met bybelstudie..en ek kry va oggend Jesaja 21..maar ek kry nie n vers op toepassing van my nie..ek kan nie opsevasie maak nie..ook nie hoe dit op toepassing van my is nie. Kan u dalk dit vir my uiteensit?/verduidelik asb??
  • Chris van Wyk on LukasHi Susanna, Lukas skryf daarvan in Lukas 24:50-53 JESUS SE HEMELVAART (Mark 16:15,19; Hand 1:4-11) 50Daarna het Jesus hulle uit die stad gelei, tot by Betanië. Hy het sy hande opgehef en hulle geseën. 51Terwyl Hy hulle seën, het Hy van hulle af weggegaan, en is in die hemel opgeneem. 52Hulle het Hom…
  • Susanna Ellis on LukasWaar in Lukas en in Markus verskyn die woord Hemelvaart in die verse.
  • Chris van Wyk on Numeri 13Hi, daar is baie teorieë oor die Nefilîm (reuse - soos die Griekse vertaling van die Hebreeuse teks dit interpreteer). Die Joodse boek 1 Henog open die moontlikheid dat van Noag se skoondogters Nefilîm gebaar het om die voorkoms na die sondvloed te verklaar. Maar, die Bybelse weergawe is stil daaroo…
  • Jerimy on Numeri 13Baie dankie vir die Skrif en bemoeding dat ons nie 45 jaar moet wag soos Kaleb om genoeg geloof bymerkaar te skraap en sdan nie eers ons erf porsie in besit wil neem nie.Is dit nie moontlik dat Noag se seuns se vroue die Nefilîm gene gedra het nie,daarom die melding van reuse na die vloed ?
  • Chris van Wyk on Openbaring 7 – God beskerm en versorg die kerk as geloofsgemeenskapHi Rudi, ja, jy is reg, maar Dan word daar net genoem as "seun" van Jakob, maar anders as met die ander stamme, word die geslagsregister van Dan nie in die res van 1 Kronieke 1-9 gegee nie. Ek het dit nou helderder gestel: "Dit korreleer onder andere met die Kronis wat die stam van Dan ook in die ge…
  • Rudi van Tonder on Openbaring 7 – God beskerm en versorg die kerk as geloofsgemeenskapDan is in 1 Kronieke 2 vers 1?
  • Chris van Wyk on Levitikus 27Menseoffers is in verskeie antieke kulture en selfs in meer onlangse kulture beoefen. Green het sy omvattende studie van menslike offerandes in die antieke Nabye Ooste opgesom met die algemene stelling dat “menslike offerande dwarsdeur hierdie streek opgespoor kan word,” d.w.s. dwarsdeur Mesopotamië…
%d bloggers like this: