Jeremia 31:2-40 – Ek sluit ’n nuwe verbond met julle

31:2-6 – God se genadige hervestiging van Israel en Juda

Jeremiah lamenting - Rembrand van RijnTwee belangrike eksegetiese gegewens in dié perikoop is ongelukkig wegvertaal in die NAV.  Die eerste is die feit dat Israel in vers 4 as ’n jongvrou, ’n maagd beskrywe word.  Dit beteken dat God die verhouding met Israel só nuut maak dat dit is asof hulle weer oor begin, asof dinge só nuut gemaak is, dat die verlede van hulle gebroke verhouding nie meer bestaan nie.

Die tweede is dat die hervestiging van Israel en Juda in hulle eie land met drie beloftes beskrywe word wat telkens met die woordjie weer weergegee word in vers 4 en 5.  Dit is die kern van God se prentjie van die toekoms wat Hy vir hulle skep, soos die OAV dit meer letterlik vertaal het: “4Ek sal jou weer bou, en jy sal gebou word, o jonkvrou van Israel! Jy sal jou weer versier met jou tamboeryne en uittrek in die koordans van die spelers.  5Jy sal weer wingerde plant op die berge van Samaría; die planters sal plant en die vrugte geniet.”  Die belofte van hervestiging in hulle eie land sluit dus hulle geloofsgemeenskap as God se volk, die genot van ’n normale gemeenskapslewe wat in hulle feeste tot sy reg sal kom, en die herstel van hulle ekonomiese lewe in.

Let ook op dat die woorde bou en plant direk aan Jeremia se roeping in die eerste hoofstuk verbind is.  In God se genade en geduld maak Hy alles nuut, sodat die oproep om die Here, hulle God, te aanbid, weer gehoor en gehoorsaam kan word.  Hoekom?  “Ek het jou nog altyd liefgehad,” sê die Here.

Let ook op dat die volk ten diepste in sy verhouding met God geteken word, soos dit regdeur hierdie hoofstuk die geval sal wees, trouens soos dit regdeur die OT die geval is.  Dit is nie hulle etnisiteit of afkoms wat die Godsverhouding tipeer in die eerste plek nie, maar die feit dat God Hom aan hulle verbind.  Sonder die herstel van hulle verhouding met God is daar geen godsdienstige volk van Israel nie.  Iets om in gedagte te hou in enige nadenke oor Israel as Godsvolk.  Israel as Godsvolk is ’n teologiese konsep.  Die God van Israel is bepalend vir die godsdienstige begrip Israel.

Die naam Israel mag dus nooit losgemaak word van die God wat die naam aan hulle gegee het nie.  Buite God om het die naam Israel geen selfstandige godsdienstige betekenis nie.

31:7-14 – Israel se tuiskoms om God se genade te geniet

Die Here roep almal op om ’n loflied oor sy volk te sing wat Hy van die uithoeke van die aarde af sal terugbring na hulle land.  ’n Groot menigte sal terugkom onder leiding van die Here, waaronder ook blindes en kreupeles, swanger vrouens en vrouens in kraam.  Dit dui op die wonder karakter van die terugkoms.

Die volk word met die name Jakob, Efraim (Josef se tweede kind, maar wat deur Jakob bó die eersgeborene Manasse geseën is – Esegiël 37 voorspel dat Efraim deel van Juda sal word) en Israel aangedui wat die tema van die eenheid van die Godsvolk voortsit. Hulle sal terugkom om God se genade te geniet: “Hulle sal straal van blydskap oor die goeie wat deur die Here gegee word.”

Hulle sal voorspoed geniet, amper soos dit in Psalm 1 beskrywe word: “Hulle sal floreer soos ’n tuin wat goed natgelei word.”  Alle ouderdomme sal die voordeel daarvan geniet: jong meisies, jong mans, en ou mans.  Hulle droefheid sal in vreugde verander word.  Selfs die priesters sal ‘n oorvloed goeie kos hê, omdat die volk oorgenoeg sal hê aan die goeie wat die Here vir hulle sal gee.

Let ook op hoe God as Vader beskrywe word, een van die min geleenthede in die OT.

31:15-22 – Die omkeer van Ragel se rou met Efraim se terugkeer

Die volk word in hierdie gedeelte met drie name beskryf, Ragel (Jakob se geliefde vrou, ma van Josef, ouma van Efraim), Efraim (Jakob se geliefde kleinseun) en die jongvrou of maagd Israel (soos dit in die oorspronklike teks is).

Ragel word hier dus as volksmoeder geteken, eerder as Lea, hoewel sy en Jakob net twee kinders gehad het, Josef en Benjamin.  Die smart oor die ballingskap word hier met haar verbind om ook die omkeer van die ballingskap as geskenk aan haar te kan teken: “Vir al jou swaarkry sal jy vergoed word.”

Efraim word hier as die uitverkore nageslag van Jakob geteken wat in berou die Here opsoek en oor wie die Here Hom dan ontferm en hervestig in die land.  Hoewel hulle die Here op baie maniere gefrustreer het, is die liefde van die Here meer as sy ontsteltenis oor hulle.  Daarom bring Hy hulle terug na hulle land toe.

Die volk Israel wat teruggebring word, word  as jongvrou of maagd beskrywe om die nuwe begin wat die Here met hulle maak, te skets: “Die Here skep iets nuuts in jou land: Israel sal die Here liefhê.”  Die woord skep is ’n woord wat in die OT net met God verbind word en ook net gebruik word vir beskrywings van die eerste skepping en die kere waar daar van ’n herskepping sprake is.  Dit is ook die enigste keer in Jeremia wat dié woord gebruik word, wat die gewig van dié nuwe skepping van God onderstreep, naamlik, dat die volk God se liefde sal kan eggo, sal kan beantwoord.

Die frase wat vertaal is met: “Israel sal die Here liefhê”, lui letterlik só: “vrou omhels man”.  In die konteks dui dit op Israel as die vrou en God as die man.  Dit beteken dus dat die liefde tussen die volk en God ook van die volk af sal kom, ’n baie belangrike, hoewel ietwat enigmatiese formulering.  Eugene Peterson vertaal dit op pragtige wyse: “A transformed woman will embrace the transforming God!

Dit is voorwaar ’n dinamiese formulering van die liefde vir God wat Jesus vir ons kom moontlik maak het!

31:23-40 – Die omvattende lotsverandering van Israel en Juda

Die sewende perikoop vat die voorafgaande beloftes van die Here saam en beskryf die omvattende lotverandering wat die Here vir Israel en Juda beplan.  Dit sluit die volgende vyf aspekte in:

  1. 31:23-26 – Die herstel van hulle grondgebied – die Here wil hê dat mense weer gedy in hulle eie woonplek: “Ek gee nuwe krag aan dié wat moeg is, Ek maak die moedelose weer vol moed.”
  2. 31:27-30 – Die herstel van die gemeenskapslewe – die Here wil hê dat mens en dier vrugbaar sal wees in die land, soos dit met die skepping bedoel is, en besluit om hulle te bou en te plant, die metafore van Jeremia se roepingsopdrag.  Hy sal spesifiek individuele verantwoordelikheid instel, sodat die “groen druiwe” nie die hele oes sal benadeel nie (vgl. ook Eseg. 18)!
  3. 31:31-34 – Die sluit van ’n Nuwe Verbond – die Here wil die gebreke van die Ou Verbond herstel waarin die volk dit kon verbreek, al was God getrou aan hulle.  Hy skrywe nou die wet (woorde) van die verbond as ’n interne werklikheid in hulle harte en binneste (gedagtes) wat hulle op ’n onverbreekbare manier aan Hom sal verbind.  God gee dus die innerlike motivering en krag wat nodig sal wees vir die nakoming van die wet in die nuwe verbond.  Nie dat dit nie nog altyd die droom van God vir sy mense was nie (Deut. 6:6 – “hierdie woorde moet in jou hart wees”), maar God maak self die droom nou ’n werklikheid.  “Their memories, desires, and decisions will be brought into conformity with God’s self-revelation to Israel,” sê Keown (Word kommentaar).  Elkeen sal deel in dié werklikheid, sowel as in die vergifnis van die sondes van die verlede.  Dieselfde tipe gedagtes sal herhaal word in hoofstukke 32-33, asook in Esegiël 34-37.  En in die NT word die vervulling hiervan natuurlik met Jesus Christus verbind, soos veral die Hebreërskrywer dit vir ons duidelik interpreteer (Hebr. 8:8-12; 10:16-17).
  4. 31:35-37 – Die bevestiging van die onverbreekbare band tussen die Here en die nasie Israel – die Here is aan die nasie van Israel só verbonde soos Hy aan die skepping verbonde is.  Hy sal nooit die hele nageslag van Israel in totaliteit verwerp “oor alles wat hulle gedoen het” nie.  Maar onthou die herstel van die individuele verantwoordelik in die tweede belofte wat saam met hierdie vierde belofte gelees moet word.  Die geestelike verbintenis met God is noodsaaklik om die werklikheid hiervan te kan geniet.
  5. 31:38-40 – Die herbou van die stad Jerusalem (vgl. Neh. 3) – die Here sal Jerusalem herbou sodat dit weer sy heilige plek sal wees.  En onthou, selfs in die nuwe hemel en aarde, bly Jerusalem die fokus van die belewenis van God se teenwoordigheid, soos die Openbaring aan Johannes dit veel later steeds sal bevestig.

Let op dat die belofte van die Nuwe Verbond die hart van hierdie vyf beloftes uitmaak.  Die eerste en vyfde belofte is geografies van aard en het met die grondgebied en die stad te make.  Die tweede en vierde belofte is sosiaal van aard en het met die gemeenskapslewe en God se verbintenis aan hulle as nasie te make.  Die derde belofte vorm dus die kern van die belofte van ’n omvattende lotsverandering, dit is die geestelike belofte van ’n nuwe verbond van vergifnis en vernuwing.

’n Mens sou daarom kon sê dat die Nuwe Verbond die geografiese en sosiale dimensies van God se transformasie van die volk beslissend bepaal.  Sonder die deelname aan dié verbond, kom die geestelike en godsdienstige betekenis van die ander beloftes in gedrang.

Boodskap

Die boodskap van God wat ’n omvattende lotsverandering teweegbring vir sy volk, troon bó die vorige boodskappe van die onafwendbare oordeel oor die volk uit.  Dít is die klein stukkie genade waarvoor Jeremia gebid het IN die oordeel wat eintlik só groot uittroon bo die oordeel, dat die oordeel inderdaad verdwerg word.  God se nuwe skepping is inderdaad goed, want “vrou omhels man”, die volk as: “A transformed woman will embrace the transforming God!”  (Peterson).

Dit is heerlik om aan dié boodskap van heil vas te gryp.  Dit is heerlik om die innerlike motivering en krag wat God deur sy Gees in ons gee, te kan ervaar.  Dit maak alles die moeite werd en bring ’n sekerheid wat nie op eie vermoë gebaseer is nie, maar op God wat binne ons werk.  “How great is our God, how great is our God!” (Chris Tomlin).

Jeremia


Chris van Wyk

Ek is gemeenteleraar by Somerstrand gemeente, Port Elizabeth. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am pastor at Summerstrand congregation, Port Elizabeth. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Maak 'n opmerking

  • Chris van Wyk on Numeri 36Ja, alles het eintlik met alles te make in die Skrif. Dit onderstreep die waarde van elke enkele deel daarvan vir alle tye.
  • Chris van Wyk on Numeri 36My voorreg!
  • Ansie Lessing on Numeri 36Dankie. Ek mis die stukkies vir niks nie. Groete, Ansie
  • Chris van Zyl on Numeri 36Baie dankie vir jou bydraes, Chris, en betekenisse wat vir my soveel beter insig verskaf het. Die kruisverwysings tussen OT en NT het my laat besef dat die OT se verhale konteks verskaf vir die Jesus se oorwinning in die NT. Baie dankie, ek sien uit na Deut.
  • Chris van Wyk on JeremiaHi Petro, my bydraes oor Jeremia is net op die Internet by hierdie skakel beskikbaar.
  • Petro on JeremiaMiddag Waar kan ek net die boek Jeremia aflaai Dankie
  • Chris van Wyk on Jesaja 21-23 – God se oordeel bereik alle nasiesDie boodskap van die drie hoofstukke is dat God se oordeel werklik is en dat sy waarskuwings nie in die wind geslaan moet word nie. Dit geld ook sy volk om hulle te bekeer van hulle verkeerde weë. Hulle status as God se uitverkore volk moet nie ligtelik opgeneem word nie. Groter kennis van die waarh…
  • Marizanne Louw on Jesaja 21-23 – God se oordeel bereik alle nasiesHi ek is besig met bybelstudie..en ek kry va oggend Jesaja 21..maar ek kry nie n vers op toepassing van my nie..ek kan nie opsevasie maak nie..ook nie hoe dit op toepassing van my is nie. Kan u dalk dit vir my uiteensit?/verduidelik asb??
  • Chris van Wyk on LukasHi Susanna, Lukas skryf daarvan in Lukas 24:50-53 JESUS SE HEMELVAART (Mark 16:15,19; Hand 1:4-11) 50Daarna het Jesus hulle uit die stad gelei, tot by Betanië. Hy het sy hande opgehef en hulle geseën. 51Terwyl Hy hulle seën, het Hy van hulle af weggegaan, en is in die hemel opgeneem. 52Hulle het Hom…
  • Susanna Ellis on LukasWaar in Lukas en in Markus verskyn die woord Hemelvaart in die verse.
  • Chris van Wyk on Numeri 13Hi, daar is baie teorieë oor die Nefilîm (reuse - soos die Griekse vertaling van die Hebreeuse teks dit interpreteer). Die Joodse boek 1 Henog open die moontlikheid dat van Noag se skoondogters Nefilîm gebaar het om die voorkoms na die sondvloed te verklaar. Maar, die Bybelse weergawe is stil daaroo…
  • Jerimy on Numeri 13Baie dankie vir die Skrif en bemoeding dat ons nie 45 jaar moet wag soos Kaleb om genoeg geloof bymerkaar te skraap en sdan nie eers ons erf porsie in besit wil neem nie.Is dit nie moontlik dat Noag se seuns se vroue die Nefilîm gene gedra het nie,daarom die melding van reuse na die vloed ?
  • Chris van Wyk on Openbaring 7 – God beskerm en versorg die kerk as geloofsgemeenskapHi Rudi, ja, jy is reg, maar Dan word daar net genoem as "seun" van Jakob, maar anders as met die ander stamme, word die geslagsregister van Dan nie in die res van 1 Kronieke 1-9 gegee nie. Ek het dit nou helderder gestel: "Dit korreleer onder andere met die Kronis wat die stam van Dan ook in die ge…
  • Rudi van Tonder on Openbaring 7 – God beskerm en versorg die kerk as geloofsgemeenskapDan is in 1 Kronieke 2 vers 1?
  • Chris van Wyk on Levitikus 27Menseoffers is in verskeie antieke kulture en selfs in meer onlangse kulture beoefen. Green het sy omvattende studie van menslike offerandes in die antieke Nabye Ooste opgesom met die algemene stelling dat “menslike offerande dwarsdeur hierdie streek opgespoor kan word,” d.w.s. dwarsdeur Mesopotamië…
%d bloggers like this: