Skip to main content

Jeremia 32 – Daar sal weer huise, grond en wingerde in hierdie land gekoop word

Jeremiah lamenting - Rembrand van RijnNet na die onvergelyklike hoopvolle prentjie in sewe dele wat Jeremia laat neerskryf van die nuwe bedeling wat God ná die ballingskap sal laat aanbreek (Jer. 30-31), koop Jeremia in dieselfde jaar – dit is die 10de regeringsjaar van Sedekia – in opdrag van die Here ’n stuk grond as bevestiging van die boodskap dat die ballingskap in die toekoms omgekeer sal word.

  1. Jeremia 32:1-25 vertel die verhaal van die grondkooptransaksie en Jeremia se gebed oor die futiliteit daarvan.
  2. Jeremia 32:26-44 vertel van God se antwoord wat die implikasies van die feit dat niks vir Hom onmoontlik is nie, uitspel.
  3. Jeremia 33 brei in ses dele op die betekenis daarvan vir die volk uit.

Dit is duidelik uit die verdere verloop van die verhaal in hoofstuk 37 dat hierdie gebeure daartoe lei dat Jeremia opgesluit word deur ’n kleinseun van Gananja (die valse profeet wat ’n geswore vyand van Jeremia was, maar dood is soos Jeremia voorspel het – Jer. 28) in die staatsekretaris Jonatan se huis, wat in ’n tronk verander is (Jer. 37:11-15).  Eintlik lyk dit asof hy in ’n put met sytonnels gesit is, waar hy ‘n lang tyd gebly het (Jer. 37:16).  Ons lees ook die volgende in hoofstuk 37:

  1. In ’n “geheime” gesprek wat net ná die grondkooptransaksie plaasvind, vra Sedekia vir Jeremia om ’n woord van die Here, waarop Jeremia net herhaal wat hy die hele tyd beklemtoon: “Jy sal in die mag van die koning van Babel uitgelewer word.”  (Jer. 37:17).
  2. Jeremia vra ook in dié gesprek om ’n genadiger hantering deur Sedekia, want hy begin vrees dat hy in die tronk van honger sou sterf .  Dié staan Jeremia se versoek toe en laat hom aanhou in die binneplaas van die paleiswag en laat vir hom elke dag brood aflewer uit Bakkerstraat (kan jy nou meer!) totdat die stad se brood op was (Jer. 37:18-22).

32:1-25 – Die grondkooptransaksie

Die hoofstuk begin met een van die gesprekke wat Sedekia met Jeremia in die tyd van Nebukadnesar se beleg van Jerusalem voer.  Sedekia verkwalik Jeremia in die gesprek van verraad teenoor die volk en die koning.  Hy was in daardie tyd ingeperk deur Sedekia in die binneplaas van die paleiswag van Juda.

Jeremia probeer die koning oortuig van sy goeie bedoelings, sowel as van die hoop wat God vir hulle ná die ballingskap het, met die verhaal van die grondkooptransaksie, maar tevergeefs.  Tog staan die transaksie se betekenis vas as ’n simbool van hoop ten spyte van die koning se reaksie daarop.

Let op hoe die Here sy woord aan Jeremia bevestig deur die gebeure te beskryf vóór dit gebeur, op soortgelyke wyse as wat dit met Petrus in Handelinge 10 sou gebeur.  Sy neef Ganamel (seun van sy oom Sallum) was waarskynlik in een of ander geldelike probleem weens die oorlog, en vra dat Jeremia hom uithelp en die stuk grond in Anatot vir 200 gram silwer koop.  Jeremia doen dit op die gebruiklike manier met ’n geseëlde kontrak in ’n kleipot via sy skrywervriend Baruk.

Die Here gebruik dan dié transaksie om sy boodskap van terugkeer en herstel aan ’n konkrete simbool te koppel: “Daar sal weer huise en grond en wingerde in hierdie land gekoop word.”

Dié gebeure het Jeremia erg ontstel, nie net omdat hy in ’n tyd van swaarkry geld sou “mors” nie, maar omdat dit in die lig van die beleg van die Galdeërs net so sinloos voorgekom het.  Hy verwoord dit in ’n roerende gebed waarin hy erken dat niks vir God onmoontlik is nie en dat sy liefde die toets van die tyd deurstaan het, soos dit deur die geskiedenis bewys is.  Maar hoe daar weer konkrete hoop kan kom ná só ’n afgryslike verwoesting en ballingskap, is selfs vir Jeremia ’n moeilike konsep om in geloof te aanvaar.

32:26-44 – Niks is vir My onmoontlik nie

Die Here se antwoord beslaan twee dele.

Aan die eenkant herhaal Hy sy oordeelsboodskap (32:26-35) oor die ongehoorsaamheid van die Jode wat tans konkreet uitgevoer word met die beleg van die Galdeërs.  Die Here wys ook weereens dat dit nie van onlangs af is dat die Jode ongehoorsaam was nie.  Dit kom al ’n lang pad dat hulle nie in die Here se teenwoordigheid wou lewe nie: “Hulle het hulle rug na My toe gedraai, nie hulle gesigte nie.”  En enige dissipline (straf) wat die Here as leer ervaring toegelaat het, het op dowe ore geval.

Aan die ander kant sê die Here: “Tog … Ek sal hulle bymekaarmaak uit al die lande … Ek sal hulle hierheen terugbring en hulle sal hier rustig kom woon.” (32:36-44).  En die grondkooptransaksie speel hierin ’n baie belangrike profetiese rol.  Dit wys vooraf dat dit só sal gebeur.

Die beloftes wat hieraan verbind is, is besonder treffend.  Benewens die Godsverhouding wat herstel sal word (vers 38), belowe die Here: “Ek sal hulle ’n onverdeelde hart (een hart) en ’n vaste koers (een weg) gee: hulle sal My altyd dien vir hulle eie beswil en vir dié van hulle kinders na hulle.” (vers 39).  Dit herinner aan Dawid se gebed in Psalm 51.

In dieselfde taal as dié van die Nuwe Verbond van hoofstuk 31 belowe die Here dat Hy ’n “blywende (ewige) verbond” (vers 40) met hulle sal sluit waarin Hy nooit sal ophou om aan hulle goed te doen nie.  Wat my besonder tref, is dat Hy belowe: “Ek sal in hulle die begeerte lê om My te dien en nie van My af weg te draai nie.” Hy sorg dus dat die volk hulle kant sal kan bring as deel van sy belofte aan hulle.

Dit sluit die normalisering van die grondbesit en -gebruik in.  God sal hulle lot verander!

Boodskap

Die manier waarop die Here iets aankondig vóór dit gebeur, sodat die gebeure as ’n bevestiging van sy woord kan dien, tref my.  Dit herinner my ook op persoonlike vlak hoe die Here dit al in my eie lewe gedoen het.  Dit is sulke dinge wat geestelike merkers word in mens se lewe wat jou nie net van God se bestaan oortuig nie, maar jou aktief intrek om met Hom ’n pad te loop (Hebr. 11:6).

Maar nog dieper as dit, tref dit my dat die Here IN ons hart sy wil gee wat ons die vermoë gee om Hom met alles wat in ons te dien.  Paulus sou baie later dit só verwoord: “Julle moet julle met eerbied en ontsag daarop toelê om as verloste mense te lewe, want dit is God wat julle gewillig en bekwaam maak om sy wil uit te voer.” (Fil. 2:12-13).


Discover more from Bybelskool

Subscribe to get the latest posts sent to your email.

Jeremia


Chris van Wyk

Ek is Direkteur van Bediening en Geestelike Vorming by Veritas College International. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am Director of Ministry and Spiritual Formation at Veritas College International. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Maak 'n opmerking

Onlangse kommentaar

  • Chris van Wyk on Psalm 119:169-176Absoluut!
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 119:169-176Psalm 119 is voorwaar ñ baie Geseënde Psalm
  • Chris van Wyk on Psalm 119:145-152Dis self opnuut weer ‘n vreugde vir my.
  • originalblizzard19aaa84c56 on Psalm 119:145-152Ek was altyd baie langtand om Ps 119 aan te durf, nou wens ek dat dit nie ophou nie... Ps 119 is te kort!!! PDH
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 119:105-112Goeie middag, baie dankie vir die deel van die kosbare verhaal wat so gepas is met die Psalm
  • originalblizzard19aaa84c56 on Psalm 119:1-8Sien waarlik die nou verband tussen OT EN NT. waarlik verhelderend. אמן
  • Chris van Wyk on Psalm 118:19-29Ek gee maar net aan wat ek ontvang het. Dit bly egter 'n kosbare voorreg.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 118:19-29Goeie môre, baie dankie dat u met ons deel wie en waar die vertaaling van die Bybel sy oorsprong gekry het, dit is so kosbaar, baie dankie vir een en elkeen wat deel is en was om hierdie kosbare woord ook vir ons in ons Taal te kon uitlê
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 110Baie dankie vir hierdie kosbaarhede wat u met ons deel. Ek het Openbaring 22 gelees en dit klink baie soos die tuin van Eden, hy praat van die boom van lewe. Die sondeval gemaak dat die mens gesondig het en dat hul nie meer in die tuin kon woon nie asgevolg van die sonde.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 109:6-19Goeie middag, ek wil ook by las dat in Psalm 139:23 bid David;"Deurgrond my, O GOD, en ken my hart, toets my en ken my gedagtes" GOD ken die mens en HY deersoek die hart en die gedagtes. Ek het self al telkens gebid, HERE vergewe hulle want hulle weet nie wat hulle doen nie en dan soos die woord sel…
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 107:33-38Baie dankie vir hierdie verduideliking. Ons lees die eerste keer van Baäl-Peor in Numeri 25. Baäl was die Kanaänitiese god van vrugbaarheid, terwyl Peor verwys na die berg in Moab waar hy onder andere aanbid is. Hy is ook in Kanaän aanbid en was 'n groot versoeking vir die Israeliete met hulle vesti…
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 107:33-38GOD is so goeie GOD. HY gee vir ons die voorskrifte vanaf Deut. 28 en dan volg HY dit ook op in Psalm 107 en sê as ons net doen wat HY ons beveel sal dit met ons goed gaan en ons geseënd wees, nie oor ons nie, maar oor GOD en wie HY is.
  • Chris van Wyk on Psalm 106:43-48Ons lees die eerste keer van Baäl-Peor in Numeri 25. Baäl was die Kanaänitiese god van vrugbaarheid, terwyl Peor verwys na die berg in Moab waar hy onder andere aanbid is. Hy is ook in Kanaän aanbid en was 'n groot versoeking vir die Israeliete met hulle vestiging in die Beloofde Land.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 107:1-9Psalm 1:1 Stel dit so mooi hoe ons, ons pad moet hou en dat ons moet hou en bly by GOD se gebooie
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 106:43-48Goeie naand, Psalm 106: 28 Kan u asb vir my verduidelik wat Baâlpeor is ? Baie dankie Amanda