Skip to main content

Lectio Divina

Indien jy ’n meer omvattende Lectio Divina metodiek wil gebruik, kan jy hierdie een van Alice Fryling (The Art of Listening) gebruik wat ek self baie sinvol vind, hoewel ’n mens meer tyd hiervoor opsy moet sit.  Dit werk met 6 bewegings:

  1. HebreërsSilencio – kom tot rus voor God en aanvaar die uitnodiging om in Sy teenwoordigheid te wees.  Gebruik musiek, óf ’n Psalmvers, óf ’n meditasie oefening, óf net die stilte van die omgewing.  Dink na oor wat sleg was die afgelope dag (week).  Vra die Here vir vergifnis, verandering, vertroosting.  Dink na oor wat goed was die afgelope dag (week).  Sê vir die Here dankie daarvoor.  Bid vir insig in jou lees van die Bybel.
  2. Lectio – lees die Skrifgedeelte, hardop indien moontlik, en fokus op die verse of gedagtes wat jou tref.  Dink na oor temas in die gedeelte.  Wat sê dit van God?  Wat sê dit van mense?  Wat sê dit van die wêreld?  Soek vir een  sleutelgedagte wat jou besonderlik tref.  Skryf dit in jou joernaal neer.  Lees my bydrae en dink na oor wat jou daarin tref.
  3. Meditatio – kies een gedagte, en oordink die praktiese impak van die gedagte op jou lewe.  Dink na oor wat God vir jou deur die sleutelgedagte wil sê.  Waar raak die gedagtes in die Bybel jou lewe in die praktyk?  Wat vra dit van jou?  Wat belowe dit vir jou?  Wat moet jy dink of doen daarmee?  Wat is die boodskap van dié gedagte vir jou dag en lewe?  Besluit hoe jy gaan reageer daarop.
  4. Oratio – antwoord God in gebed daarop.  Fokus op dit wat jy ervaar die Here op jou hart lê.  Doen ook voorbidding.  Skryf dit alles neer in jou joernaal.
  5. Contemplatio – geniet God se teenwoordigheid sonder om te praat.  Dit kan ’n paar minute wees of langer.  Spandeer een keer ’n week ’n bietjie meer tyd hieraan.
  6. Incarnatio – wees gehoorsaam aan wat God sê.  Laat die boodskap wat God jou gee met jou saamgaan deur die dag. Leef dit uit.

Óf die leier van die Bybelskool kan in wisselwerking met die groep meer tyd spandeer om  hulle insigte en vrae te fasiliteer en hoofstuk vir hoofstuk deur die Bybelteks te werk.  Fokus telkens op wat die afgelope week se leeswerk vir julle van God sê, van mense, en van die wêreld.

Probeer om deelnemers se verstaan van die Bybelteks op te helder, veral in die hantering van hulle insigte en vrae.  Lei die gesprek altyd ook in die rigting van die betekenis daarvan vir julle as gemeente, en vir elkeen persoonlik.  En beklemtoon dat ons eers regtig die teks verstaan wanneer ons begin om dit wat ons lees ook uit te leef.

Riglyne vir stiltetyd

Ek nooi jou uit om Hebreërs “geestelik” te lees, as God se woord aan jou in jou spesifieke omstandighede.  Die inligting wat ek elke weeksdag gaan gee, help jou net om sin te maak van gedeeltes wat moeiliker is om te verstaan en gee jou ’n groter raamwerk om jou eie verstaan by in te pas en ook te toets, sodat jy nie van die spoor afgaan met moeiliker gedeeltes nie.

HebreërsEk glo dat die hele Bybel God se woord aan jou is, en daarom moet jy dit ook binne jou verhouding met Hom lees, presies wat Hebreërs eintlik sê (hfst. 4:12)!

Ek het al baie maniere van lees deur die loop van die Bybelskool voorgestel.  Die een wat vir myself die beste werk, is soos volg:

  1. LEES – Raak stil voor die Here.  Lees die teksgedeelte deeglik deur, desnoods 2 of 3 keer, hardop as dit kan.  Wat tref jou?  Let op vir temas in die gedeelte.  Wat sê dit van God?  Wat sê dit van mense?  Wat sê dit van die wêreld?  Soek vir een sleutelgedagte wat jou besonderlik tref.  Skryf dit in jou joernaal neer.  Lees dan wat ek geskryf het (sinopsis van wat my tref) en dink na oor wat jou daarin tref.
  2. LUISTER – Dink na oor wat God vir jou deur die sleutelgedagte wil sê.  Waar raak hierdie gedagte jou lewe in die praktyk?  Wat vra dit van jou?  Wat belowe dit vir jou?  Wat moet jy dink of doen daarmee?  Wat is die kern van die boodskap van dié teks vir jou dag en lewe?  Dit help my sin maak van my eie ervarings in die lig van God se Woord.
  3. LEEF – Besluit hoe jy daarop gaan reageer.  Sê dit vir die Here in gebed.  Skryf dit in jou joernaal.  Geniet Sy teenwoordigheid.  Laat die boodskap wat God jou gee met jou saamgaan deur die dag.  Leef dit uit.

Die proses sal gou só deel van jou manier van lees word, dat jy dit eintlik outomaties sal kan doen: lees, luister, leef.  Jy is welkom om dit só te gebruik of aan te pas vir jou eie behoeftes.

Byeenkomste in Somerstrand gemeente

Ek bespreek die boodskap van die brief aan die Hebreërs by drie geleenthede in die gemeente onder andere aan die hand van die onderstaande temas.  Enigeen is welkom om dit by te woon.Hebreërs

Dag en datum Temas
Dinsdag21 Oktober18:00
  • HEBREËRS: Hoe praat God met ons?
Woensdag29 Oktober18:00
  • Watter rol speel tekens, wonders, kragtige dade, en gawes van die Heilige Gees?
  • Hoe hanteer ons die behoefte aan melk en nie vaste kos nie in die gemeente – d.w.s. die volgende ses dinge van die basiese prediking oor Christus: die bekering van dooie werke, van geloof in God, van dooponderrig, oplegging van hande, opstanding uit die dood en van ewige oordeel?
Woensdag5 November 18:00
  • Hoe werk God in ons verstand, hart en gewete?
  • Hoe kan ek geloofsekerheid hê?
  • Hoe weet ons God bestaan en dat Hy dié beloon wat Hom soek?

Indeling van die leeswerk

Ek het uit my voorlopige lees van die brief aan die Hebreërs die volgende indeling gemaak aan die hand van die volgende breë temas wat uit sy bemoediging van hierdie groep gelowiges in Italië  na vore tree:

  1. HebreërsHebreërs 1 – God praat met ons deur sy Seun
  2. Hebreërs 2-3:11 – Jesus is die Leidsman van ons verlossing en die Apostel en Hoëpriester van ons belydenis
  3. Hebreërs 3:12-4:13 – Waak daarteen dat geeneen van julle van die lewende God afvallig word nie
  4. Hebreërs 4:14-5:10 – Hou styf vas aan ons belydenis en nader met vrymoedigheid die troon van genade
  5. Hebreërs 5:11-6:20 – Gaan voort na volwassenheid en hou stewig vas aan die hoop wat voorlê
  6. Hebreërs 7:1-28 – Jesus Christus is Hoëpriester volgens die orde van Melgisedek
  7. Hebreërs 8:1-13 – Jesus Christus is die Middelaar van ’n beter verbond
  8. Hebreërs 9:1-22 – Jesus Christus reinig ons gewete van dooie werke sodat ons die lewende God kan dien
  9. Hebreërs 9:23-10:18 – Jesus Christus verskyn in die heiligdom voor God ter wille van ons
  10. Hebreërs 10:19-39 – Laat ons die heiligdom ingaan met ’n opregte hart, in volle geloofsekerheid
  11. Hebreërs 11 – Sonder geloof is dit onmoontlik om God te behaag
  12. Hebreërs 12 – Hardloop die wedloop wat vir ons voorlê met volharding
  13. Hebreërs 13 – Wees gasvry, meelewend, mededeelsaam, gehoorsaam en onderdanig

Dit is dan ook die wyse waarop ons hierdie brief in die loop van die Bybelskool gaan lees.

Continue reading

Inleiding op Hebreërs

Die brief is gerig aan huisgemeentes in Italië

HebreërsDie brief-boodskap aan die Hebreërs word geskrywe aan huisgemeentes in ’n stad in Italië, waarskynlik Rome.  Dit is ’n “Boodskap van aansporing” of ’n “Boodskap van bemoediging” (hfst. 13:22) aan ’n diverse groep gelowiges wat onder baie druk verkeer.

Hierdie gelowiges het tot bekering gekom deur die werk van eerstehandse getuies van die boodskap van Jesus (hfst. 2:3;13:7).  Hulle was veral Jode (vgl. die titel: “Aan die Hebreërs”, hoewel dit eers later bygevoeg is), goed bekend met die Joodse geloof en tradisies, maar het waarskynlik ook gelowiges uit die heidene in hulle geledere gehad (“dié wat van Italië is” – hfst. 13:24).

Die sestiger- of sewentigerjare van die eerste eeu is die mees waarskynlike tyd vir die brief, hoewel dit nie meer presies gedateer kan word nie.  Teen die middel negentigs haal Klemens van Rome al uit die brief aan, so dit moes voor daardie tyd geskryf gewees het.

Continue reading

Onlangse kommentaar

  • Chris van Wyk on Psalm 119:169-176Absoluut!
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 119:169-176Psalm 119 is voorwaar ñ baie Geseënde Psalm
  • Chris van Wyk on Psalm 119:145-152Dis self opnuut weer ‘n vreugde vir my.
  • originalblizzard19aaa84c56 on Psalm 119:145-152Ek was altyd baie langtand om Ps 119 aan te durf, nou wens ek dat dit nie ophou nie... Ps 119 is te kort!!! PDH
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 119:105-112Goeie middag, baie dankie vir die deel van die kosbare verhaal wat so gepas is met die Psalm
  • originalblizzard19aaa84c56 on Psalm 119:1-8Sien waarlik die nou verband tussen OT EN NT. waarlik verhelderend. אמן
  • Chris van Wyk on Psalm 118:19-29Ek gee maar net aan wat ek ontvang het. Dit bly egter 'n kosbare voorreg.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 118:19-29Goeie môre, baie dankie dat u met ons deel wie en waar die vertaaling van die Bybel sy oorsprong gekry het, dit is so kosbaar, baie dankie vir een en elkeen wat deel is en was om hierdie kosbare woord ook vir ons in ons Taal te kon uitlê
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 110Baie dankie vir hierdie kosbaarhede wat u met ons deel. Ek het Openbaring 22 gelees en dit klink baie soos die tuin van Eden, hy praat van die boom van lewe. Die sondeval gemaak dat die mens gesondig het en dat hul nie meer in die tuin kon woon nie asgevolg van die sonde.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 109:6-19Goeie middag, ek wil ook by las dat in Psalm 139:23 bid David;"Deurgrond my, O GOD, en ken my hart, toets my en ken my gedagtes" GOD ken die mens en HY deersoek die hart en die gedagtes. Ek het self al telkens gebid, HERE vergewe hulle want hulle weet nie wat hulle doen nie en dan soos die woord sel…
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 107:33-38Baie dankie vir hierdie verduideliking. Ons lees die eerste keer van Baäl-Peor in Numeri 25. Baäl was die Kanaänitiese god van vrugbaarheid, terwyl Peor verwys na die berg in Moab waar hy onder andere aanbid is. Hy is ook in Kanaän aanbid en was 'n groot versoeking vir die Israeliete met hulle vesti…
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 107:33-38GOD is so goeie GOD. HY gee vir ons die voorskrifte vanaf Deut. 28 en dan volg HY dit ook op in Psalm 107 en sê as ons net doen wat HY ons beveel sal dit met ons goed gaan en ons geseënd wees, nie oor ons nie, maar oor GOD en wie HY is.
  • Chris van Wyk on Psalm 106:43-48Ons lees die eerste keer van Baäl-Peor in Numeri 25. Baäl was die Kanaänitiese god van vrugbaarheid, terwyl Peor verwys na die berg in Moab waar hy onder andere aanbid is. Hy is ook in Kanaän aanbid en was 'n groot versoeking vir die Israeliete met hulle vestiging in die Beloofde Land.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 107:1-9Psalm 1:1 Stel dit so mooi hoe ons, ons pad moet hou en dat ons moet hou en bly by GOD se gebooie
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 106:43-48Goeie naand, Psalm 106: 28 Kan u asb vir my verduidelik wat Baâlpeor is ? Baie dankie Amanda