Skip to main content

Inleiding op Hebreërs

Die brief is gerig aan huisgemeentes in Italië

HebreërsDie brief-boodskap aan die Hebreërs word geskrywe aan huisgemeentes in ’n stad in Italië, waarskynlik Rome.  Dit is ’n “Boodskap van aansporing” of ’n “Boodskap van bemoediging” (hfst. 13:22) aan ’n diverse groep gelowiges wat onder baie druk verkeer.

Hierdie gelowiges het tot bekering gekom deur die werk van eerstehandse getuies van die boodskap van Jesus (hfst. 2:3;13:7).  Hulle was veral Jode (vgl. die titel: “Aan die Hebreërs”, hoewel dit eers later bygevoeg is), goed bekend met die Joodse geloof en tradisies, maar het waarskynlik ook gelowiges uit die heidene in hulle geledere gehad (“dié wat van Italië is” – hfst. 13:24).

Die sestiger- of sewentigerjare van die eerste eeu is die mees waarskynlike tyd vir die brief, hoewel dit nie meer presies gedateer kan word nie.  Teen die middel negentigs haal Klemens van Rome al uit die brief aan, so dit moes voor daardie tyd geskryf gewees het.

Die gelowiges het traag geword om te luister weens teenstand

Hoewel hierdie gelowiges die verligting van die Heilige Gees en die “goeie woord van God gesmaak het” (hfst. 6:4-5), het hulle ironies genoeg “traag geword om te luister” (hfst. 5:11) en onder andere ’n “behoefte aan melk en nie vaste kos nie” (hfst. 5:12) gehad.

Hoekom?  Dit is duidelik dat hulle baie teenstand in die gemeenskap ervaar het: ’n “geweldige stryd van lyding”.  Hulle is nie net “deur beledigings en verdrukking openlik bespotlik gemaak” nie, maar daar is ook vroeër op hulle besittings beslag gelê (hfst. 10:32-36 – keiser Claudius het in 49 n.C. Joodse Christene uit Rome verdryf).  Baie van die gelowiges het dus die gevaar geloop om weens hierdie volgehoue druk uit die publieke gemeenskap van die geloof en die geloofsgemeenskap afvallig te raak.

Een van hulle geestelike leiers bemoedig hulle met die skrywe

Die skrywer, wat een van hulle eie leiers was (vgl. die “ons” in hfst. 13:17-19 en dat hy binnekort na hulle teruggebring wil word), kom sy pastorale en geestelike verantwoordelikheid teenoor hulle na met dié brief-boodskap, soos dit uit die slotgedeelte blyk (“aanvaar hierdie boodskap van aansporing, want ek het maar kortliks vir julle geskryf” – hfst. 13:22).  Dit is egter só goed saamgestel dat dit eintlik die karakter van ’n goed uitgewerkte preek of selfs teologiese bydrae aanneem.

Nie dat ons weet wie dié skrywer-prediker was nie of waar hy op dié stadium was nie.  Dit kon nie Paulus gewees het nie, hoewel die skrywer wel met Paulus se werkkring bekend was.  Hy ken bv. vir Timoteus (hfst. 13:23).  Benewens die feit dat Paulus nie ’n leier van een van die gemeentes in Rome/Italië was nie, verskil die taal, woordeskat, styl en teologiese beklemtonings van hierdie brief net te veel met dié van Paulus se ander briewe.  Dit bevat bv. van die beste Grieks in die hele NT en het 169 woorde wat nét hier in die NT voorkom (Lane, Word kommentaar). Hy haal ook meer letterlik uit die OT (LXX – Griekse vertaling) aan as wat Paulus doen.  Die skrywer het verder volgens eie getuienis nie eerstehands na die Here Jesus geluister nie (hfst. 2:3) waarvan Paulus wel getuig het (Gal. 1:11-17).

Die name van onder andere Barnabas, Apollos (Luther se voorkeur), en Silvanus (Paulus se medewerker) word deur van die ou kerkvaders en geleerdes deur die eeue voorgestel as skrywers, maar geen historiese sekerheid is daaroor moontlik nie.  Sommige stel ook Paulus se medewerker Priscilla voor (Hand 18; Rom 16:13; 1 Kor. 16:19; 2 Tim. 4:19 – in die laaste drie tekste word sy eintlik Prisca genoem; Priscilla was ’n verkleinwoord van haar naam).  Maar, volgens hfst. 11:32 was die skrywer manlik, afgelei uit die manlike vorm van die deelwoord: “om te vertel” in Grieks wat na die skrywer verwys.

Moenie vasgevang word deur buitengewone of basiese dinge, ook nie deur Joodse gebruike nie

Hoe dit ook al sy, uit hierdie skrywer se boodskap blyk dit dat sommige van die gemeentelede hulle toevlug begin soek het in óf:

  • buitengewone ervarings, waarskynlik in hulle geval veral rondom die verering van engele – daarom die beklemtoning van Jesus se uitsonderlike posisie “hoog bo die engele verhef”. Hy is immers nie een van hulle nie, maar een met God: “U troon, o God, is vir ewig en ewig.” (hfst. 1-2);
  • die grondbeginsels van die Christelike prediking: die basiese dinge, ironies genoeg hier as “melk” beskryf – daarom die afwysing van ’n vassteek by bv. dinge soos die doop en handoplegging, en die aanmoediging om eerder op geestelike volwassenheid in terme van leer en lewe te fokus (hfst. 6), d.w.s. “vaste kos”;
  • die Joodse gebruike van die wet – daarom die afwysing van bv. die reinigingsrites en reëls rondom kos en drank en die aanmoediging om eerder op die lewende verhouding met God te fokus (hfst. 9-10; 13:9).

Moenie afvallig word nie

Die grootste probleem was egter dat sommige van hulle doodgewoon afvallig begin word het, en in ongeloof (hfst. 3:12 – “’n bose hart van ongeloof”), sonde (hfst. 3:13), ongasvryheid (hfst. 13:2), seksuele wanpraktyke (hfst. 13:4), geldgierigheid (hfst. 13:5), en nog allerlei vreemde leringe (hfst. 13:9) verval het.  Hierdie mense het daarom hulle leiers teengestaan (hfst. 13:7,17) en onbarmhartig teenoor die wyer gemeenskap geraak (hfst. 13:16).

Fokus op God se werk in julle lewe

Daarom lê die skrywer van Hebreërs daarop klem dat hulle weer die werk van God in hulle lewe moet erken:

  • die lewende verhouding met Jesus Christus, die Leidsman en Voleinder van die geloof (hfst. 1:2; 2:1; 10:19-22; 12:2),
  • die dinamiese werk van die Heilige Gees (hfst. 2:4; 3:7),
  • die krag van die Woord van God (hfst. 4:12),
  • die aanmoediging van hulle onderlinge byeenkomste (hfst. 10:23-25), en
  • die inspirasie van hulle onderlinge aansporing (hfst. 3:13: “elke dag”!; 12:14-17; 13:1-6), sowel as
  • die boodskap en werk van hulle leiers (hfst. 13:7-9,17).

Dít is die dinge waarop elke gelowige in hierdie gemeente moet fokus, sê die skrywer.  Daarin lê die krag van God opgesluit.  Daardeur word sy krag in hulle lewe oopgesluit. Dit is die geloofsbeginsels waaraan hulle hul moet hou.

Luister na die Skrif en die prediking

Met talle aanhalings en voorbeelde uit die skat van die Ou Testament boodskap – ’n boodskap waarmee hulle duidelik bekend was – begrond die skrywer sy boodskap en bemoedig hulle met die evangelie van Jesus as die Leidsman van ons verlossing sowel as die Apostel en Hoëpriester van ons belydenis.  Daarmee word hulle aan die Skrif verbind soos dit deur die prediking aan hulle voorgehou word.

Hulle word opgeroep om almal saam te waak daarteen dat geeneen van hulle van die lewende God afvallig word nie.  Hulle moet styf vashou aan hulle belydenis en hulle verlossing – leer en lewe – en voortdurend met vrymoedigheid in gebed die troon van genade nader.

Fokus op geestelike volwassenheid

Hulle word dus opgeroep tot geestelike volwassenheid, om nie langer te fokus op die eerste beginsels van die geloof in Christus nie – “die bekering van dooie werke, van geloof in God, van dooponderrig, oplegging van hande, opstanding uit die dood en van ewige oordeel” (hfst. 6:1-3) – maar die wedloop wat vir hulle voorlê met volharding te hardloop, hul oog gevestig op Jesus die Leidsman en Voleinder van hulle geloof (hfst. 12:1-2).  Gasvryheid, meelewendheid, mededeelsaamheid, gehoorsaamheid en onderlinge onderdanigheid moet hulle gemeentelike lewe kenmerk. God belowe immers dat Hy hulle sal toerus met alles wat goed is, sodat hulle sy wil kan doen (hfst. 13).


Discover more from Bybelskool

Subscribe to get the latest posts sent to your email.

Hebreërs


Chris van Wyk

Ek is Direkteur van Bediening en Geestelike Vorming by Veritas College International. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am Director of Ministry and Spiritual Formation at Veritas College International. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Maak 'n opmerking

Onlangse kommentaar

  • Chris van Wyk on Psalm 119:169-176Absoluut!
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 119:169-176Psalm 119 is voorwaar ñ baie Geseënde Psalm
  • Chris van Wyk on Psalm 119:145-152Dis self opnuut weer ‘n vreugde vir my.
  • originalblizzard19aaa84c56 on Psalm 119:145-152Ek was altyd baie langtand om Ps 119 aan te durf, nou wens ek dat dit nie ophou nie... Ps 119 is te kort!!! PDH
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 119:105-112Goeie middag, baie dankie vir die deel van die kosbare verhaal wat so gepas is met die Psalm
  • originalblizzard19aaa84c56 on Psalm 119:1-8Sien waarlik die nou verband tussen OT EN NT. waarlik verhelderend. אמן
  • Chris van Wyk on Psalm 118:19-29Ek gee maar net aan wat ek ontvang het. Dit bly egter 'n kosbare voorreg.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 118:19-29Goeie môre, baie dankie dat u met ons deel wie en waar die vertaaling van die Bybel sy oorsprong gekry het, dit is so kosbaar, baie dankie vir een en elkeen wat deel is en was om hierdie kosbare woord ook vir ons in ons Taal te kon uitlê
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 110Baie dankie vir hierdie kosbaarhede wat u met ons deel. Ek het Openbaring 22 gelees en dit klink baie soos die tuin van Eden, hy praat van die boom van lewe. Die sondeval gemaak dat die mens gesondig het en dat hul nie meer in die tuin kon woon nie asgevolg van die sonde.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 109:6-19Goeie middag, ek wil ook by las dat in Psalm 139:23 bid David;"Deurgrond my, O GOD, en ken my hart, toets my en ken my gedagtes" GOD ken die mens en HY deersoek die hart en die gedagtes. Ek het self al telkens gebid, HERE vergewe hulle want hulle weet nie wat hulle doen nie en dan soos die woord sel…
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 107:33-38Baie dankie vir hierdie verduideliking. Ons lees die eerste keer van Baäl-Peor in Numeri 25. Baäl was die Kanaänitiese god van vrugbaarheid, terwyl Peor verwys na die berg in Moab waar hy onder andere aanbid is. Hy is ook in Kanaän aanbid en was 'n groot versoeking vir die Israeliete met hulle vesti…
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 107:33-38GOD is so goeie GOD. HY gee vir ons die voorskrifte vanaf Deut. 28 en dan volg HY dit ook op in Psalm 107 en sê as ons net doen wat HY ons beveel sal dit met ons goed gaan en ons geseënd wees, nie oor ons nie, maar oor GOD en wie HY is.
  • Chris van Wyk on Psalm 106:43-48Ons lees die eerste keer van Baäl-Peor in Numeri 25. Baäl was die Kanaänitiese god van vrugbaarheid, terwyl Peor verwys na die berg in Moab waar hy onder andere aanbid is. Hy is ook in Kanaän aanbid en was 'n groot versoeking vir die Israeliete met hulle vestiging in die Beloofde Land.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 107:1-9Psalm 1:1 Stel dit so mooi hoe ons, ons pad moet hou en dat ons moet hou en bly by GOD se gebooie
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 106:43-48Goeie naand, Psalm 106: 28 Kan u asb vir my verduidelik wat Baâlpeor is ? Baie dankie Amanda