Skip to main content

Ekskursus: Kan God van gedagte verander?

655804-breathtaking-space-artNa aanleiding van die verhaal van Sodom en Gomorra en Abraham se gebed vir die regverdiges, vra mense baie keer die vraag: “Kan God van gedagte verander?”

Die kort antwoord is die volgende, soos een kommentaar (Klein) skryf hieroor:

Daar is ‘n paradoks tussen God se vryheid, om van gedagte te kan verander, en God se betroubaarheid, om nie van gedagte te kan verander nie.  Albei is tegelykertyd waar: God verander nie sy gedagte nie, en tog doen Hy dit!

Ek wil twee aspekte in my langer antwoord uitlig:

  1. God verander nooit in sy wese of karakter nie – Hy is onveranderlik in terme van bv. sy liefde en trou. Vergelyk bv. Hosea 11:8: “Hoe kan Ek jou vernietig … Ek kan dit nie oor my hart kry nie. My liefde brand te sterk.”
  2. God kan wel van gedagte verander, omdat Hy in verhouding is met ons. Dit sien ‘n mens bv. in die bekende Pottebakker verhaal in Jer 18.  Soos klei in die hande van die pottebakker is, so is ons in God se hand.  Wanneer Hy ‘n oordeel uitspreek en mense luister (is plooibaar soos klei), SIEN HY AF van die kwaad, en omgekeerd as Hy seën uitspreek en mense luister nie (is nie plooibaar soos klei nie), SIEN HY AF van die goeie wat Hy wou doen.

God verander dus van gedagte BINNE die verhouding met ons, soos ons ook onderling met mekaar werk, hoewel Hy nooit van karakter verander nie.

Continue reading

Die tweede gebod – God verwag onverdeelde lojaliteit aan Hom

https://boisefriends.wordpress.com/family-worship/Ek het ‘n navraag gehad oor die sondes/misdade van die vaders wat tot in die derde en vierde geslag besoek/toegereken word aan dié wat my haat/verwerp. (Eks. 20:4-6).

Ek wil graag vier goed daaroor sê:

  1. Hierdie tweede gebod druk God se verwagting van onverdeelde lojaliteit aan Hom uit.  Hy verwag dat mense Hom alleen sal dien soos die eerste gebod reeds geëis het.  Daar is geen kompromie moontlik tussen Hom en ander gode nie.  Enige kompromie lei onvermydelik tot ‘n verdeelde lojaliteit aan Hom.  Waar ‘n gelowige pa en ma dus hulle lojaliteit verbreek aan Hom, het dit ‘n onvermydelike effek op hulle kinders, want dit verbreek die verbondsverhouding.  Soos Durham sê: “indifference to commitment is contagious, in a family or in a society.” Dit deurbreek die Godsverhouding en het ‘n destruktiewe effek op die komende geslagte.  En ons moet dit op geen manier onderskat nie.
  2. Die straf wat aan die tweede gebod verbonde is, is vir mense wat deel is van die geloofsgemeenskap, maar wat op ‘n punt in hulle lewe kom waar hulle God verwerp of begin haat.  God “besoek” die misdade van die ouers aan die kinders, soos die ou vertaling die werkwoord vertaal het.  Dit beteken waarskynlik dat God hulle “straf” deur sy seën van hulle te onttrek en hulle aan hulle eie lot oor te laat.  Dit is soortgelyk aan wat ons in Romeine 1 ook sien waar God die hele mensdom “oorgee” aan allerlei sondes, omdat hulle Hom nie as God geëer en gehoorsaam het nie.
  3. God se straf is natuurlik altyd daarop gemik dat mense tot inkeer kom, soos Esegiël 18 in die OT dit mooi uitlê dat die Here elke individu op sy eie meriete beoordeel.  God verwerp nooit iemand wat na Hom toe terugkeer nie.  Dieselfde word in Romeine 3 vir ons vertel waar die oplossing vir die sonde van die mensdom in Christus, en die geloof in Hom, te vinde is.  Almal het gesondig, maar hulle word in Christus vrygespreek enkel en alleen omdat hulle in Hom glo.
  4. Die effek  op vier geslagte moet veral in sy kontras met die seën vir duisende geslagte in die volgende vers gelees word.  God is “vir altyd” (dit is in wese wat die “duisende” beteken!) goed vir dié wat aan Hom lojaal is en bly, dié wat sy wet/wil/woord/riglyn vir die lewe gehoorsaam.  God gee besondere genade in geloofsgemeenskappe wat aan Hom getrou en gehoorsaam bly.

In kort sê die tweede gebod:  God verwag lojaliteit van sy mense en Hy sal alles in sy vermoë doen om hulle daarmee te help.  Dit sluit straf en seën in.

Geloofsbelydenisse verwoord die konsensus van die Christelike gemeenskap deur die eeue

Ek kry van tyd tot tyd navrae oor geloofsvrae wat met die Godheid van die Vader, Seun en die Heilige Gees verband hou, sowel as ander vraagstukke wat mense graag wil hê dat ek vir hulle opklaar.  Ek antwoord wanneer ek kan, en plaas dit dan ook op dié webtuiste.

‘n Mens kan egter baie leer by die konsensus wat in die Christelike gemeenskap oor die eeue bereik is oor allerlei.  Dit is vervat in geloofsbelydenisse wat weliswaar soms onderling verskil – ons dink immers nie dieselfde oor alles nie – maar ‘n goeie basis vir jou gee om jou eie standpunt te vorm oor die sake wat in die Bybel oor God en geloof aangeraak word.

Hier is daarom ‘n paar skakels na van die geloofsbelydenisse deur die eeue wat jou kan begelei in jou denke:

Continue reading

Die geloofwaardigheid van die getuienis oor die opstanding van die Here Jesus Christus

Matthee, Keith 2010 The Resurrection – a lawyer’s view.  Methodist Publishing House: Cape Town.
Laai The Resurrection – a Lawyer’s view hier af (pdf – 500 KB)

Die geloofwaardigheid van die getuienis oor die opstanding

Keith gebruik sy ervaring as advokaat en regter om die getuienis vir die opstanding van die Here Jesus Christus te ontleed op dieselfde wyse as wat hy dit in ’n gewone hofsitting sou doen.  Dit doen hy met volle inagneming van die belangrikheid om nie tevrede te wees met die oppervlakkige en oënskynlike interpretasies van feite nie, maar ook nie om sonder meer te swig voor die versoeking van die tydgees van skeptisisme nie.

Hy fokus op die opstanding van die Here Jesus Christus uit die hoek van die geloofwaardigheid van die getuienis waarin ’n mens altyd ook die moontlikheid moet verreken dat jy verkeerd kan wees.  Daarom is die bevestiging van die waarheid van die getuienis van die opstanding vir hom wesenlik, iets wat hy mense soos Richard Dawkins, bv. in The God Delusion, verkwalik, dat hulle geen poging aanwend om die waarheid van die NT getuienis te ondersoek nie, maar dit net sonder meer verwerp.

Oor Richard Dawkins sê hy die volgende: “he fails to address the obvious question: even if earlier religions believed in a resurrection, of what evidential value is this when assessing the evidence of the alleged resurrection of Jesus?  In a court of law such evidence would be inadmissible for lack of relevance.” (p. 29).

Continue reading

Jesus en Jahwe

Wie is Jesus in die Bybel?

Ek dink in die laaste tyd baie na oor Wie Jesus in terme van die Bybelse boodskap is. Wat is die prentjie wat die Bybel self gee van Jesus?  En hoe beïnvloed dié prentjie van Jesus my lewe?

Die rede daarvoor is aan die een kant omdat die navorsing van die afgelope paar eeue oor die historiese Jesus my ernstig frustreer.  Die poging van die historiese Jesus navorsers om agter die teks van die NT en OT in te kom en met historiese metodes ‘n rekonstruksie van die sogenaamde historiese Jesus te gee, het tot soveel diverse prentjies van Jesus aanleiding gegee, wat nie net onder navorsers tot ernstige konflik van opinies lei nie, maar ook in groot konflik is met die teks van die Bybel self.  Om daarvan sin te maak, is moeilik genoeg.  Om daarvan te leef, is onmoontlik.

Aan die ander kant word my belangstelling in die Bybelse boodskap geprikkel deur die resultate van die narratiewe benadering.  Die erns wat in dié benaderings met die teks van die Bybel self gemaak word, spreek net baie meer tot my.  Elke nuanse van die Bybelteks, elke beeld wat gebruik word, elke verbintenis wat in die teks gemaak word, en die betekenis daarvan in terme van die konteks beide van daardie tyd en vandag, word op só ‘n kreatiewe wyse in spel gebring dat dit vir my lei tot ‘n inspirerende besig-wees met die teks.  Die poging om sin te maak van die teks self, open vir my deure van luister en leef wat nie met historiese metodes moontlik is nie.

Continue reading

Onlangse kommentaar

  • Hannes. on Hoe het “Bid die Psalms” jou gehelp?Middag Dr. Chris, Baie dankie vir ‘n insiggewende reis deur Psalms. Dit het beslis gehelp om my persoonlike gebedslewe te verbeter, en ek glo sterk dat elke gebed beslis my verhouding met die Here verdiep op ‘n manier waar ek tans baie meer pligsgetrou is teenoor my persoonlike stiltetyd en gesprekk…
  • Kobus on Hoe het “Bid die Psalms” jou gehelp?Dit was vir my 'n wonderlike ervaring, ek kyk met 'n ander insig nou na die Psalms
  • Chris van Zyl on Hoe het “Bid die Psalms” jou gehelp?Bid die Psalms het vir my baie beter insig verskaf, veral die kontektualisering en verklarings wat elke gedeelte belig het. Ek is so dankbaar dat ek kon deel in hierdie bid-gerigte ervaring. Menige dag het ek gevoel dat die Psalm van die dag spesiaal vir my bedoel was. Dankie Chris van Wyk vir hierd…
  • Chris van Wyk on Psalm 137Dit is my voorreg. Groete!
  • Doreen Snyders on Psalm 137Net om weer 'n slag dankie te sê vir al die wonderlike verklarings en verduidelikings van al die Bybelse waarhede. Ons dien 'n wonderbare en allerheilige God. Ek sien baie uit na die Matteusevangelie. Nogmaals baie dankie. Doreen Snyders
  • Chris van Wyk on Psalm 119:169-176Absoluut!
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 119:169-176Psalm 119 is voorwaar ñ baie Geseënde Psalm
  • Chris van Wyk on Psalm 119:145-152Dis self opnuut weer ‘n vreugde vir my.
  • originalblizzard19aaa84c56 on Psalm 119:145-152Ek was altyd baie langtand om Ps 119 aan te durf, nou wens ek dat dit nie ophou nie... Ps 119 is te kort!!! PDH
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 119:105-112Goeie middag, baie dankie vir die deel van die kosbare verhaal wat so gepas is met die Psalm
  • originalblizzard19aaa84c56 on Psalm 119:1-8Sien waarlik die nou verband tussen OT EN NT. waarlik verhelderend. אמן
  • Chris van Wyk on Psalm 118:19-29Ek gee maar net aan wat ek ontvang het. Dit bly egter 'n kosbare voorreg.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 118:19-29Goeie môre, baie dankie dat u met ons deel wie en waar die vertaaling van die Bybel sy oorsprong gekry het, dit is so kosbaar, baie dankie vir een en elkeen wat deel is en was om hierdie kosbare woord ook vir ons in ons Taal te kon uitlê
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 110Baie dankie vir hierdie kosbaarhede wat u met ons deel. Ek het Openbaring 22 gelees en dit klink baie soos die tuin van Eden, hy praat van die boom van lewe. Die sondeval gemaak dat die mens gesondig het en dat hul nie meer in die tuin kon woon nie asgevolg van die sonde.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 109:6-19Goeie middag, ek wil ook by las dat in Psalm 139:23 bid David;"Deurgrond my, O GOD, en ken my hart, toets my en ken my gedagtes" GOD ken die mens en HY deersoek die hart en die gedagtes. Ek het self al telkens gebid, HERE vergewe hulle want hulle weet nie wat hulle doen nie en dan soos die woord sel…