Die tweede gebod – God verwag onverdeelde lojaliteit aan Hom
Ek het ‘n navraag gehad oor die sondes/misdade van die vaders wat tot in die derde en vierde geslag besoek/toegereken word aan dié wat my haat/verwerp. (Eks. 20:4-6).
Ek wil graag vier goed daaroor sê:
- Hierdie tweede gebod druk God se verwagting van onverdeelde lojaliteit aan Hom uit. Hy verwag dat mense Hom alleen sal dien soos die eerste gebod reeds geëis het. Daar is geen kompromie moontlik tussen Hom en ander gode nie. Enige kompromie lei onvermydelik tot ‘n verdeelde lojaliteit aan Hom. Waar ‘n gelowige pa en ma dus hulle lojaliteit verbreek aan Hom, het dit ‘n onvermydelike effek op hulle kinders, want dit verbreek die verbondsverhouding. Soos Durham sê: “indifference to commitment is contagious, in a family or in a society.” Dit deurbreek die Godsverhouding en het ‘n destruktiewe effek op die komende geslagte. En ons moet dit op geen manier onderskat nie.
- Die straf wat aan die tweede gebod verbonde is, is vir mense wat deel is van die geloofsgemeenskap, maar wat op ‘n punt in hulle lewe kom waar hulle God verwerp of begin haat. God “besoek” die misdade van die ouers aan die kinders, soos die ou vertaling die werkwoord vertaal het. Dit beteken waarskynlik dat God hulle “straf” deur sy seën van hulle te onttrek en hulle aan hulle eie lot oor te laat. Dit is soortgelyk aan wat ons in Romeine 1 ook sien waar God die hele mensdom “oorgee” aan allerlei sondes, omdat hulle Hom nie as God geëer en gehoorsaam het nie.
- God se straf is natuurlik altyd daarop gemik dat mense tot inkeer kom, soos Esegiël 18 in die OT dit mooi uitlê dat die Here elke individu op sy eie meriete beoordeel. God verwerp nooit iemand wat na Hom toe terugkeer nie. Dieselfde word in Romeine 3 vir ons vertel waar die oplossing vir die sonde van die mensdom in Christus, en die geloof in Hom, te vinde is. Almal het gesondig, maar hulle word in Christus vrygespreek enkel en alleen omdat hulle in Hom glo.
- Die effek op vier geslagte moet veral in sy kontras met die seën vir duisende geslagte in die volgende vers gelees word. God is “vir altyd” (dit is in wese wat die “duisende” beteken!) goed vir dié wat aan Hom lojaal is en bly, dié wat sy wet/wil/woord/riglyn vir die lewe gehoorsaam. God gee besondere genade in geloofsgemeenskappe wat aan Hom getrou en gehoorsaam bly.
In kort sê die tweede gebod: God verwag lojaliteit van sy mense en Hy sal alles in sy vermoë doen om hulle daarmee te help. Dit sluit straf en seën in.
christa marais
Baie dankie vir al jou moeite en dat jy altyd “tyd” het
Mauritz
Hi Chris
Ons het juis hierdie naweek oor die woorde wat ook in Eks 34 voorkom gepraat. Ek vind die oënskynlike paralelle tussen God se besoek aan die derde en vierde geslag en Epigenetica baie interressant.
Die groot verskil is natuurlik dat God Sy ‘besoek’ persoonlik maak, waar Epigenetica maar alleenlik ‘n onpersoonlike meganisme verduidelik hoe jy slegte gedragseienskappe by jou ouers kan oorerf.
Ek sien agter God se ‘besoek’ aan die derder en vierde geslag baie van Sy verbondstaal met Sy volk wat aan Hom as Heer en Meester behoort.
Chris van Wyk
Ja, dit is interessant. Ek sal graag verder wil dink oor hoe geestelike dinge met fisiese dinge saamhang. Ons weet immers al watter impak selfs gedagtes op die neurologiese strukture van ‘n mens kan hê. Die vraag is watter invloed het God en die geestelike wêreld op die mens. Dit bring bv. die vraag na wonderwerke en gebedsverhoring in spel. Ons is baie meer komplekse wesens as wat ons besef.