Skip to main content

Author: Chris van Wyk

Ek is Direkteur van Bediening en Geestelike Vorming by Veritas College International. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am Director of Ministry and Spiritual Formation at Veritas College International. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

1 Samuel 19 – die Gees maak Saul kragteloos

Ironies dat die Gees van die Here nou oor Saul kom om hom kragteloos te maak, terwyl die Gees in hoofstuk 10 met sy salwing as koning juis kragtig in hom begin werk het.

Saul illustreer hier die tragiese eienskappe van iemand wat wispelturig en gevaarlik geraak het.  Hy tree op soos iemand wie se gees gefolterd (tormented) geraak het.  Dan is Dawid goed, en dan weer nie.  Let op hoe lede van Saul se eie gesin, Jonatan en Mikal, tot Dawid se redding kom, hoewel Saul ook later teen hulle draai.  Mikal sou dit kort hierna ontgeld deur aan ‘n ander man gegee te word, wat sy eie tragiese geskiedenis tot gevolg sou hê.  En Jonatan sou self Saul se woede moes verduur.

Die ligpunt in die verhaal is dat die Here Dawid beskerm deur sy Gees en deur mense wat vir Dawid omgee.  Dit beteken nie dat Dawid dit hiervandaan maklik sou hê nie.  Sy pad na die koningskap sou deur baie ontberinge lei.  Maar terwyl hy die pad met God loop, gee die Here wysheid en uitkoms.

En dit inspireer en bemoedig my vir die pad wat ek self in hierdie lewe moet loop, al kos dit my ook ontberinge.

1 Samuel 17-18 – van skaapwagter tot soldaat

Dit lyk of daar twee tradisies oor Dawid sigbaar is in hoofstuk 16 tot 18, soos ons dit hier in die oorspronklike Hebreeuse teks het.  Volgens die een tradisie het Saul reeds vir Dawid geken voor die geveg met Goliat, en volgens die ander het hy hom eers in die geveg leer ken.

Die Griekse vertaling (LXX of Septuagint) vertel die verhaal sonder 17:21-31, 41, 50 en 17:55-18:5 wat dus net met een tradisie werk, dat Saul reeds vir Dawid geken het.  Daar moes dus twee Hebreeuse tekste gewees het, die een langer, waarin die twee tradisies vervleg is, en die ander korter waarin net die een vertel is.

Om die langer teks te verstaan, kan ‘n mens uit 17:15 aflei dat Dawid om die beurt na Saul toe gegaan het en dan weer die kleinvee opgepas het.  Dit verklaar Saul se vraag aan Abner oor Dawid se afkoms in 17:55, omdat hy hom net as musikant geken het, en nou wil weet wat dan so besonders is aan sy familie dat hy so ‘n heldedaad kon verrig.

Dit wil ook voorkom of daar twee tradisies is oor wie Goliat doodgemaak het.  Hoofstuk 17 sê Dawid, maar 2 Sam 21:19 sê dat Elganan vir Goliat doodgemaak het.  1 Kron 20:5 kan moontlik die oplossing gee, wat sê dat Elganan Goliat se broer doodgemaak het.  Maar soos dit nou staan in die Bybel, lyk dit of daar twee tradisies is.

Dawid se geheim lê in sy onwrikbare geloof in ‘n lewende Here wat hom gered het uit die kloue van die leeu en die beer, en dit ook sal doen in die geveg met Goliat.  Let op hoe hy ook praat van “die Here die Almagtige” soos Hanna in haar gebed die eerste keer in die Bybel gebruik het.

Dawid leer ons dat die oorlog aan die Here behoort en dat die oorwinning nie deur swaard of spies kom nie.

Jonatan en die volk se liefde vir Dawid staan in skerp kontras met die wantroue van Saul.  Saul het bang geword vir Dawid: “omdat die Here by hom was, maar die Here het vir Saul verlaat.”  Daarom het hy allerlei planne beraam om Dawid uit die weg te ruim.  “Saul was vir goed vyandig teenoor hom.”

WEEK 3: 1 Samuel 16 – die Here kyk na die innerlike

Drie dinge val my op in die gedeelte:

  1. Dat die verandering van koningskap met die Gees te make het.  Met die salwing van Dawid is dit die Gees wat van die dag af  kragtig in hom werk, en juis die Gees wat Saul verlaat en deur ‘n bose gees vervang word, interessant genoeg ook deur die Here gestuur; Alles hang van die Here af.
  2. Dat Dawid se verkiesing eers lank hierna tot sy werklike koningskap lei, waar hy erken word deur die hele volk; dis iets soortgelyks as wat met Samuel gebeur het, sy roeping kom eers 20 jaar na die ark geroof is tot volle ontplooiing.  Verandering neem soms lank, maar daarop moet met geduld en gehoorsaamheid gewag word, totdat die Here dit laat gebeur.
  3. Mense kyk na uiterlike dinge: voorkoms, lengte, dapperheid, welsprekendheid (let op hoe selfs Dawid beskryf word in vers 18) – God kyk na die innerlike.  Selfs Samuel het nodig dat die Here hom begelei om die verskil te kan raaksien om daarvolgens op te tree.  Die Here se keuses moet die deurslag gee, en nie ons eie insigte nie.

1 Samuel 15 – om te luister is beter as die vet van ramme

Saul se verhaal is, soos Eli s’n, ‘n verhaal van verspilde kanse.  Hier gee die Here deur Samuel vir Saul ‘n manier om reg te maak wat hy tevore verbrou het, en hy verkwis die geleentheid, deur Agag se lewe te spaar en van die beste buit te neem.

“Ek is bedroef daaroor dat Ek vir Saul koning gemaak het, want Hy het van My af weggedraai en nie my opdragte uitgevoer nie.”

Dit roer my dat Samuel die hele nag deur die Here smeek om uitkoms, want hy was lief vir Saul en die volk, en sou tot die einde van sy lewe daaroor treur.  Maar dit verontrus my dat Saul kan dink hy hét gedoen wat die Here gevra het, maar net nie raaksien dat halwe gehoorsaamheid uiteindelik geen gehoorsaamheid is nie:

“om te luister is beter as die vet van ramme.”

Saul is ook meer bekommerd oor wat sy manskappe sou sê, as wat God deur Samuel sê, en daarom sy poging om Samuel saam te neem na die manskappe toe, sodat hy nie voor hulle verneder word nie.  Let op hoe hy begin praat van die Here as Samuel se God.  Daarby is die langtermyn gevolge van hierdie ongehoorsaamheid verrykend: Agag se nageslag vind ons weer in die boek Ester, waar Hamman, ‘n Agagiet, Israel probeer uitwis!

1 Samuel 14 – Hy kan red, deur baie of deur min

Jonatan tree hier na vore as ‘n dapper vegter wat in voeling is met wat die Here wil.  Hoe pragtig sê Jonatan nie:

“Hy kan red, deur baie of deur min.”

Let op hoe die oorwinning kom deur sowel Jonatan se heldedade en die Here wat paniek en verwarring saai onder die vyand.  Selfs Hebreërs wat eintlik aan die Filistyne se kant was, kom oor na Israel toe!

Saul darenteen kan selfs met die ark by hom nie in kontak met God kom nie: “Maar God het hom nie toe geantwoord nie.”  Sy opdrag aan die manskappe om nie te eet voor die aand nie, illustreer sy dwaasheid deurdat dit die oorwinning beperk én sy seun se lewe bedreig (onthou Jefta en sy dogter!).

Die manskappe keer dat Saul vir Jonatan kwaad aandoen, interessant genoeg deur Jonatan se heldedaad aan God se hulp te verbind.

Onlangse kommentaar