Lukas 4:16-21 – In Jesus word die genadejaar van die Here vervul

19 Januarie
Lukas 4:16-21 – In Jesus word die genadejaar van die Here vervul
16Toe Jesus in Nasaret kom, waar Hy grootgeword het, het Hy op die Sabbat na die sinagoge gegaan, soos sy gewoonte was. Toe Hy opstaan om voor te lees, 17is die boekrol van die profeet Jesaja vir Hom aangegee, en Hy het dit oopgerol en die plek gevind waar geskryf staan: 18“Die Gees van die Here is op My, omdat Hy My gesalf het om die goeie boodskap aan arm mense te verkondig. Hy het My gestuur om vir gevangenes aan te kondig dat hulle vrygelaat sal word, en vir blindes dat hulle weer sal sien, om onderdruktes te bevry, 19en om die genadejaar van die Here aan te kondig.” 20Hierna het Jesus die boekrol opgerol, dit aan die amptenaar teruggegee en gaan sit. Almal in die sinagoge se oë was stip op Hom gerig. 21Toe het Hy met hulle begin praat: “Hierdie gedeelte uit die Skrif is vandag vervul terwyl julle daarna geluister het.”
Nasaret was in die heuwels van Galilea geleë so 30 km van Kapernaum aan die See van Galilea. Dit was die grootword dorp van Jesus. Hy was dus baie bekend by die mense en het dié Sabbatdag, soos sy gewoonte was, die sinagoge ingegaan en opgestaan – die normale posisie met die lees van die Bybel – om die teks van die dag voor te lees. Die tweede boekrol van Jesaja, hoofstuk 40-66 (Jesaja 1-39 was op die eerste boekrol), is aan Jesus oorhandig en Hy het dit oopgerol tot by Jesaja 61 en dit aan die gemeente voorgelees. Die woorde uit Jesaja 61 was ‘n beskrywing van die bediening van die Messias (Jesus het ook uit Jesaja 42 gelees, want die opmerking oor die herstel van die sig van blindes kom uit Jes 42:7). Die visie van Jesaja was dat Messias in die krag van die Gees sal optree om die Goeie Nuus van God se genade te bring aan armes (mense in nood), gevangenes, blindes en verdruktes.
Nadat Jesus dié belofteryke gedeelte gelees het, het Hy gaan sit – die normale posisie van ‘n prediker in daardie tyd. Almal se oë was op Hom gerig. Jesus lewer dan ‘n eenvoudige, maar diepsinnige, preek: “Vandag is hierdie Skrif in julle ore vervul.” Daarmee sê Jesus twee goed van Homself. 1) Dat Hy die Messias is. Daarmee verklaar Hy dat die eeuelange verwagting vir die Messias verby was. Die belofte van God is in Hom vervul. Die Messias is nou hier. Jesus verklaar dat Hy die Messias is deur die teks uit Jesaja 61 op Hom van toepassing te maak. Dié teks funksioneer daarom as ‘n soort roepingsteks vir Jesus, alhoewel dit ook van talle ander gedeeltes in die profete, trouens van die hele OT, gesê kan word (vgl Luk 24:27). 2) Dat die Jubeljaar aangebreek het. Jesus sluit hier ook by die klassieke OT tradisie van die Jubeljaar aan (Lev 25:9-17) deur sy aankondiging van die genadejaar van die Here.
Lukas sal in sy Evangelie verder uitbrei op hoe Jesus hierdie boodskap in die lewe van talle mense vervul het. Want Hy kondig die genadejaar van die Here aan vir verlamdes (Luk 5:17-26), vroue wat in sonde vasgevang is (Luk 7:36-50; 8:2-3), demoon besetenes (Luk 8:26-39), melaatses (Luk 17:11-19) selfs ryk belastinggaarders soos Saggeus (Luk 19:1-9). Trouens, Jesus kondig die genadejaar aan vir almal wat genade en genesing nodig het. Dit sluit ook vir jou in. Bring jou behoeftes – en dié van die mense wat naby jou is, of jou pad kruis, of wat die Here op jou hart lê – voor Hom en bid dat Jesus ook vir jou genade en genesing sal verleen. (Ons lees oor ‘n week verder uit hierdie gedeelte.)
Lees meer: https://bybelskool.com/lukas-414-539-jesus-het-gekom-vir-armes-gevangenes-blindes-en-onderdruktes/
Discover more from Bybelskool
Subscribe to get the latest posts sent to your email.
Onlangse kommentaar