Skip to main content

1 Konings 17:1-24 – Gehoorsaamheid en gebedsverhoring gaan saam

24 Februarie

1 Konings 17:1-24 – Gehoorsaamheid en gebedsverhoring gaan saam

1Elia, ‘n man uit Tisbe, een van die nedersetters in Gilead, het vir Agab gesê: “So waar as die Here, die God van Israel, in wie se diens ek staan, leef, daar sal in die komende jare geen dou of reën wees nie, behalwe op gesag van my woord.” 2Die woord van die Here kom toe daarna tot hom: 3“Gaan weg hiervandaan; draai oos en gaan kruip weg by die spruit Krit, wat oos van die Jordaan is. 4Uit die spruit kan jy drink, en vir die kraaie sal Ek opdrag gee om jou daar van kos te voorsien.” 5Hy het gegaan en gemaak soos die Here gesê het. Hy het by die spruit Krit gaan bly wat oos van die Jordaan is. 6Die kraaie het telkens vir hom brood en vleis in die oggend gebring, en brood en vleis teen die aand; en uit die spruit kon hy drink. 7Maar ná verloop van baie dae het die spruit opgedroog, want daar was geen reën in die land nie. 8Die woord van die Here kom toe tot hom: 9“Maak gereed, gaan na Sarfat, wat aan Sidon behoort, en bly daar. Kyk, Ek het ‘n weduwee daar beveel om jou van kos te voorsien.” 10Hy maak toe gereed en gaan na Sarfat. Toe hy by die ingang van die dorp kom, is ‘n weduwee juis daar besig om stukkies hout bymekaar te maak. Hy roep toe na haar en sê: “Bring asseblief vir my ‘n bietjie water in ‘n houer, sodat ek kan drink.” 11Terwyl sy gaan om dit te kry, roep hy na haar en sê: “Bring asseblief vir my ‘n stukkie brood saam!” 12Maar sy antwoord: “So waar as die Here u God leef, ek het niks behalwe ‘n hand vol meel in ‘n kruik en ‘n bietjie olie in ‘n fles nie. Ek was juis besig om ‘n paar stukkies hout bymekaar te maak; dan gaan ek binnetoe en berei dit voor vir my en my seun, sodat ons dit kan eet en sterf.” 13Elia sê toe vir haar: “Moenie bang wees nie! Gaan binnetoe en doen wat jy gesê het. Maar maak net eers vir my ‘n klein roosterkoekie daarvan en bring dit vir my. Vir jou en jou seun kan jy daarna iets voorberei. 14Want so sê die Here, die God van Israel, ‘Die kruik met meel sal nie leeg raak nie, en die fles met olie sal nie leeg loop nie, tot op die dag dat die Here reën op die aarde gee.’ ” 15Sy het toe gegaan en gemaak soos Elia gesê het. En sy het geëet, sy en hy en haar huisgesin, dae lank. 16Die kruik met meel het nie leeg geraak nie, en die fles met olie het nie leeg geloop nie, ooreenkomstig die woord van die Here wat Hy by monde van Elia gespreek het. 17Ná hierdie gebeure het die vrou, die eienares van die huis, se seun siek geword. Sy siekte het so erg geword dat daar nie meer asem in hom oor was nie. 18Sy sê toe vir Elia: “Wat het jy teen my, man van God? Het jy na my gekom om my sondeskuld bloot te lê en my seun te laat sterf?” 19Hy het haar geantwoord: “Gee jou seun vir my.” Toe neem hy die seun uit haar arms en dra hom op na die bovertrek waar hy tuisgegaan het. Hy het hom op sy bed neergelê, 20tot die Here geroep en gesê: “Here my God, bring U selfs oor die weduwee by wie ek my as vreemdeling bevind, onheil deur haar seun te laat sterf?” 21Toe het hy hom drie keer bo-oor die kind uitgestrek en tot die Here geroep en gesê: “Here my God, laat die lewe van hierdie kind asseblief na hom terugkeer.” 22Die Here het geluister na Elia se smeekbede, en die lewe van die kind het na hom teruggekeer, en hy het geleef. 23Elia het die kind geneem, hom uit die bovertrek na die huis afgeneem en hom vir sy moeder gegee. Elia het gesê: “Kyk, jou seun leef!” 24Daarop sê die vrou vir Elia: “Nou is ek daarvan oortuig dat u ‘n man van God is en dat die woord van die Here uit u mond betroubaar is.”

Let op watter groot rol gehoorsaamheid speel in die vervulling van God se beloftes regdeur hierdie verhaal. Die groot profeet Elia kry die opdrag om ‘n droogte aan te kondig as teken van die Here se toorn oor Israel se afgodsdiens. Elia gehoorsaam die Here ten spyte van die gevaar vir sy eie lewe. Om hom van koning Agab se woede te beskerm, beveel die Here vir Elia om te gaan wegkruip by die spruit Krit, oos van die Jordaan. God sou daar vir Elia water in die spruit en kos deur kraaie voorsien. Weereens het Elia die Here gehoorsaam net op grond van die Here se belofte. Toe die spruit uiteindelik opdroog, het die Here hom vervolgens na Sarfat gestuur sodat ‘n weduwee daar vir hom van water en voedsel kon voorsien. Maar, Sarfat was in Sidon geleë. Die heidense koning Etbaäl wat die pa van Agab se vrou Isebel was (1 Kon 16:31), was daar koning. ‘n Groot risiko dus vir Elia. Weereens gehoorsaam Elia egter die Here en God vervul sy belofte aan Elia

Ons sien die belangrikheid van gehoorsaamheid selfs in die voorsiening van God vir die weduwee. Dit is duidelik dat sy in die Here geglo het, want sy erken dat die Here sy God leef (vers 12). Maar sy moet steeds die opdrag van Elia gehoorsaam om vir hom water te gaan haal en ‘n klein roosterkoekie van die laaste bietjie meel en olie te maak. Dit is eers wanneer sy Elia se opdrag gehoorsaam dat die belofte vir haar waar word dat die kruik met meel nie leeg geraak en die fles met olie nie leeg geloop het nie.

Die grootste toets vir Elia kom egter met die dood van die seun van die weduwee. Waar hy voorheen net opdragte uitgevoer het, en die Here sy beloftes vervul het in sy voorsiening, word Elia nou deur die dood gedwing om self die Here in gebed te nader om die lewe in die seun te laat terugkeer. Die feit dat God betroubaar was, word egter nou die basis vir sy gebed. Dit gee hom die vrymoedigheid om die Here vir die menslik onmoontlike te vra. Dat die seun weer sal lewe. Elia se gebed het daarom ‘n kragtige uitwerking, want die Here luister na sy gehoorsame profeet, en laat die seun van die weduwee – wat eweneens gehoorsaam was – weer herlewe. Gehoorsaamheid en gebedsverhoring gaan saam. Die tafel is daarmee gedek vir die nog groter demonstrasie van God se krag op Karmel waar die Here nie net vuur uit die hemel stuur om die volk van sy almag te oortuig nie, maar ook die verdere gebed van Elia vir reën, verhoor. Soos Jakobus sê: “Die gebed van ‘n regverdige is baie kragtig in sy uitwerking. Elia was ‘n mens net soos ons, en hy het vurig gebid dat dit nie moet reën nie, en dit het drie jaar en ses maande lank nie op die aarde gereën nie. Toe het hy weer gebid, en die hemel het reën gegee, en die aarde het sy vrug opgelewer.” (Jak 5:16-18)

Lees meer: https://bybelskool.com/1-konings-1621-1846-die-gebed-van-n-gelowige-het-n-kragtige-uitwerking/


Discover more from Bybelskool

Subscribe to get the latest posts sent to your email.

Beloftes


Chris van Wyk

Ek is Direkteur van Bediening en Geestelike Vorming by Veritas College International. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am Director of Ministry and Spiritual Formation at Veritas College International. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Maak 'n opmerking

Onlangse kommentaar

  • Chris van Wyk on Psalm 137Dit is my voorreg. Groete!
  • Doreen Snyders on Psalm 137Net om weer 'n slag dankie te sê vir al die wonderlike verklarings en verduidelikings van al die Bybelse waarhede. Ons dien 'n wonderbare en allerheilige God. Ek sien baie uit na die Matteusevangelie. Nogmaals baie dankie. Doreen Snyders
  • Chris van Wyk on Psalm 119:169-176Absoluut!
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 119:169-176Psalm 119 is voorwaar ñ baie Geseënde Psalm
  • Chris van Wyk on Psalm 119:145-152Dis self opnuut weer ‘n vreugde vir my.
  • originalblizzard19aaa84c56 on Psalm 119:145-152Ek was altyd baie langtand om Ps 119 aan te durf, nou wens ek dat dit nie ophou nie... Ps 119 is te kort!!! PDH
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 119:105-112Goeie middag, baie dankie vir die deel van die kosbare verhaal wat so gepas is met die Psalm
  • originalblizzard19aaa84c56 on Psalm 119:1-8Sien waarlik die nou verband tussen OT EN NT. waarlik verhelderend. אמן
  • Chris van Wyk on Psalm 118:19-29Ek gee maar net aan wat ek ontvang het. Dit bly egter 'n kosbare voorreg.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 118:19-29Goeie môre, baie dankie dat u met ons deel wie en waar die vertaaling van die Bybel sy oorsprong gekry het, dit is so kosbaar, baie dankie vir een en elkeen wat deel is en was om hierdie kosbare woord ook vir ons in ons Taal te kon uitlê
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 110Baie dankie vir hierdie kosbaarhede wat u met ons deel. Ek het Openbaring 22 gelees en dit klink baie soos die tuin van Eden, hy praat van die boom van lewe. Die sondeval gemaak dat die mens gesondig het en dat hul nie meer in die tuin kon woon nie asgevolg van die sonde.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 109:6-19Goeie middag, ek wil ook by las dat in Psalm 139:23 bid David;"Deurgrond my, O GOD, en ken my hart, toets my en ken my gedagtes" GOD ken die mens en HY deersoek die hart en die gedagtes. Ek het self al telkens gebid, HERE vergewe hulle want hulle weet nie wat hulle doen nie en dan soos die woord sel…
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 107:33-38Baie dankie vir hierdie verduideliking. Ons lees die eerste keer van Baäl-Peor in Numeri 25. Baäl was die Kanaänitiese god van vrugbaarheid, terwyl Peor verwys na die berg in Moab waar hy onder andere aanbid is. Hy is ook in Kanaän aanbid en was 'n groot versoeking vir die Israeliete met hulle vesti…
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 107:33-38GOD is so goeie GOD. HY gee vir ons die voorskrifte vanaf Deut. 28 en dan volg HY dit ook op in Psalm 107 en sê as ons net doen wat HY ons beveel sal dit met ons goed gaan en ons geseënd wees, nie oor ons nie, maar oor GOD en wie HY is.
  • Chris van Wyk on Psalm 106:43-48Ons lees die eerste keer van Baäl-Peor in Numeri 25. Baäl was die Kanaänitiese god van vrugbaarheid, terwyl Peor verwys na die berg in Moab waar hy onder andere aanbid is. Hy is ook in Kanaän aanbid en was 'n groot versoeking vir die Israeliete met hulle vestiging in die Beloofde Land.