2 Johannes – Die waarheid bly in ons en sal vir ewig met ons wees
Johannes noem homself in dié brief net die “Oudste” of “Ouderling”, soos die woord presbuteros vertaal kan word. Die brief word gerig aan “die uitverkore vrou en haar kinders” wat op ’n verskuilde manier verwys na ’n plaaslike gemeente met haar lidmate, soos dit ook die geval is in vers 13 waar waarskynlik na die gemeente Efese verwys word as dié gemeente se “uitverkore suster”.
Dit kan ook wees dat Johannes hier praat van die leier van die gemeente, soos sommige kerkvaders dit geïnterpreteer het. Sommige het selfs gedink dat die Grieks as ’n eienaam Kuria of Elekta vertaal moet word. Kuria maak nogal sin, want die frase sou dan soos volg vertaal kan word: “aan die uitverkore Kuria”. As haar naam Elekta sou wees, sou mens vertaal: “aan Elekta, (die) vrou”. Dit sou dan beteken dat die gemeente ’n vrou as leier gehad het.
Die brief is op papirus geskryf, soos Johannes dit aandui in vers 12. Die kort brief is in vier dele opgedeel.
Die aanhef – vers 1-3
Let op hoe Johannes oor die waarheid skryf. Hy beskryf sy liefde vir die gemeente as ’n liefde “in die waarheid”, verbind dit aan die liefde van die ander by hom wat die “waarheid leer ken het”, sy gemeentelede en begrond dit laastens op “die waarheid wat in ons bly en vir ewig met ons sal wees,” God self. Die waarheid is dus vir hom ’n persoon, nie ’n lering nie, hoewel hy later wel oor die waarheid gaan praat as die inhoud van wat oor dié persoon, Jesus, geglo word.
Jesus word natuurlik baie keer die Waarheid genoem in die evangelie van Johannes, soos Jesus inderdaad ook van Homself praat (Joh. 1:14,17; 4:23-24; 8:32; 14:6: “Ek is die weg en die waarheid en die lewe”.) Jesus noem die Gees ook die Waarheid, die Een wat ons in die waarheid sal lei (Joh. 14:17; 15:26; 16:13). God se woord word ook deur Jesus die waarheid genoem (Joh. 17:17).
Die aanmoediging om in die waarheid en die liefde te leef – vers 4-6
Dit stem Johannes tot dankbaarheid en vreugde dat hy kan agterkom dat die gemeentelede waar hy hulle ook al aantref die “pad van die waarheid loop”. Sy opdrag aan die gemeente is dat hulle hierin moet volhard en hy koppel die waarheid aan die liefde, soos dit inderdaad hoort. Die liefde het as inhoud die waarheid – om volgens God se gebooie te leef, waarskynlik die liefdesgebod wat op sy beurt in die Tien Gebooie begrond is. Die waarheid het op sy beurt as inhoud die liefde – dat ons mekaar moet liefhê. Dit is soos twee kante van dieselfde munt.
Die opdrag om te onderskei wie van die reisende leraars by die leer van Christus bly – vers 7-11
Dié opdrag om in die waarheid en die liefde te bly, om daarin te leef, is vir hom wesenlik belangrik weens die verleiding van mense wat van die waarheid afgedwaal het. Dié dwaling word spesifiek uitgespel as mense wat “nie bely dat Jesus Christus as mens gekom het nie”. Sulke mense is vir hom “die verleier en die antichris” – die verpersoonliking van die Bose.
Hy wil hê dat sulke mense wat nie bly by die leer van Christus nie, nie deur die gemeente ontvang moet word nie sodat hulle geen aandeel aan hulle verkeerde leringe moet hê nie. Daar moet geen gemeenskap met hulle wees nie, selfs nie om hulle met gasvryheid in hulle huise te ontvang nie. Hulle moet bly by die leer van Christus soos die apostels en natuurlik Johannes self aanvanklik dit aan hulle oorgedra het.
Anders loop die gemeente die gevaar om hulle voortbestaan in die gedrang te bring. Johannes wil eerder hê dat hulle sal behou wat hulle deur harde werk verkry het en dat hulle hul “volle loon” ontvang. Dit is immers net dié wat by die gesonde leer oor Jesus Christus se Goddelik-menslike natuur bly, wat “die Vader en die Seun” het, d.w.s. ’n aandeel aan die ware Goddelike openbaring het.
Die slot – vers 12-13
Johannes sluit die brief met die belofte dat hy hulle binnekort sal besoek en dra groete oor van hulle suster-gemeente, waarskynlik Efese.