Skip to main content

2 Johannes – Die waarheid bly in ons en sal vir ewig met ons wees

Johannes noem homself in dié brief net die “Oudste” of “Ouderling”, soos die woord presbuteros  vertaal kan word.  Die brief word gerig aan “die uitverkore vrou en haar kinders” wat op ’n verskuilde manier verwys na ’n plaaslike gemeente met haar lidmate, soos dit ook die geval is in vers 13 waar waarskynlik na die gemeente Efese verwys word as dié gemeente se “uitverkore suster”.

Dit kan ook wees dat Johannes hier praat van die leier van die gemeente, soos sommige kerkvaders dit geïnterpreteer het.  Sommige het selfs gedink dat die Grieks as ’n eienaam Kuria of Elekta vertaal moet word.  Kuria maak nogal sin, want die frase sou dan soos volg vertaal kan word: “aan die uitverkore Kuria”.  As haar naam Elekta sou wees, sou mens vertaal: “aan Elekta, (die) vrou”.  Dit sou dan beteken dat die gemeente ’n vrou as leier gehad het.

Die brief is op papirus geskryf, soos Johannes dit aandui in vers 12.  Die kort brief is in vier dele opgedeel.

Die aanhef – vers 1-3

Let op hoe Johannes oor die waarheid skryf.  Hy beskryf sy liefde vir die gemeente as ’n liefde “in die waarheid”, verbind dit aan die liefde van die ander by hom wat die “waarheid leer ken het”, sy gemeentelede en begrond dit laastens op “die waarheid wat in ons bly en vir ewig met ons sal wees,” God self.  Die waarheid is dus vir hom ’n persoon, nie ’n lering nie, hoewel hy later wel oor die waarheid gaan praat as die inhoud van wat oor dié persoon, Jesus, geglo word.

Jesus word natuurlik baie keer die Waarheid genoem in die evangelie van Johannes, soos Jesus inderdaad ook van Homself praat (Joh. 1:14,17; 4:23-24; 8:32; 14:6: “Ek is die weg en die waarheid en die lewe”.)  Jesus noem die Gees ook die Waarheid, die Een wat ons in die waarheid sal lei (Joh. 14:17; 15:26; 16:13).  God se woord word ook deur Jesus die waarheid genoem (Joh. 17:17).

Die aanmoediging om in die waarheid en die liefde te leef – vers 4-6

Dit stem Johannes tot dankbaarheid en vreugde dat hy kan agterkom dat die gemeentelede waar hy hulle ook al aantref die “pad van die waarheid loop”.  Sy opdrag aan die gemeente is dat hulle hierin moet volhard en hy koppel die waarheid aan die liefde, soos dit inderdaad hoort.  Die liefde het as inhoud die waarheid – om volgens God se gebooie te leef, waarskynlik die liefdesgebod wat op sy beurt in die Tien Gebooie begrond is.  Die waarheid het op sy beurt as inhoud die liefde – dat ons mekaar moet liefhê.  Dit is soos twee kante van dieselfde munt.

Die opdrag om te onderskei wie van die reisende leraars by die leer van Christus bly  – vers 7-11

Dié opdrag om in die waarheid en die liefde te bly, om daarin te leef, is vir hom wesenlik belangrik weens die verleiding van mense wat van die waarheid afgedwaal het.  Dié dwaling word spesifiek uitgespel as mense wat “nie bely dat Jesus Christus as mens gekom het nie”. Sulke mense is vir hom “die verleier en die antichris” – die verpersoonliking van die Bose.

Hy wil hê dat sulke mense wat nie bly by die leer van Christus nie, nie deur die gemeente ontvang moet word nie sodat hulle geen aandeel aan hulle verkeerde leringe moet hê nie.  Daar moet geen gemeenskap met hulle wees nie, selfs nie om hulle met gasvryheid in hulle huise te ontvang nie. Hulle moet bly by die leer van Christus soos die apostels en natuurlik Johannes self aanvanklik dit aan hulle oorgedra het.

Anders loop die gemeente die gevaar om hulle voortbestaan in die gedrang te bring.  Johannes wil eerder hê dat hulle sal behou wat hulle deur harde werk verkry het en dat hulle hul  “volle loon” ontvang. Dit is immers net dié wat by die gesonde leer oor Jesus Christus se Goddelik-menslike natuur bly, wat “die Vader en die Seun” het, d.w.s. ’n aandeel aan die ware Goddelike openbaring het.

Die slot – vers 12-13

Johannes sluit die brief met die belofte dat hy hulle binnekort sal besoek en dra groete oor van hulle suster-gemeente, waarskynlik Efese.


Discover more from Bybelskool

Subscribe to get the latest posts sent to your email.

2 Johannes


Chris van Wyk

Ek is Direkteur van Bediening en Geestelike Vorming by Veritas College International. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am Director of Ministry and Spiritual Formation at Veritas College International. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Maak 'n opmerking

Onlangse kommentaar

  • sparklybc467b2e69 on Psalm 119:105-112Goeie middag, baie dankie vir die deel van die kosbare verhaal wat so gepas is met die Psalm
  • originalblizzard19aaa84c56 on Psalm 119:1-8Sien waarlik die nou verband tussen OT EN NT. waarlik verhelderend. אמן
  • Chris van Wyk on Psalm 118:19-29Ek gee maar net aan wat ek ontvang het. Dit bly egter 'n kosbare voorreg.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 118:19-29Goeie môre, baie dankie dat u met ons deel wie en waar die vertaaling van die Bybel sy oorsprong gekry het, dit is so kosbaar, baie dankie vir een en elkeen wat deel is en was om hierdie kosbare woord ook vir ons in ons Taal te kon uitlê
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 110Baie dankie vir hierdie kosbaarhede wat u met ons deel. Ek het Openbaring 22 gelees en dit klink baie soos die tuin van Eden, hy praat van die boom van lewe. Die sondeval gemaak dat die mens gesondig het en dat hul nie meer in die tuin kon woon nie asgevolg van die sonde.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 109:6-19Goeie middag, ek wil ook by las dat in Psalm 139:23 bid David;"Deurgrond my, O GOD, en ken my hart, toets my en ken my gedagtes" GOD ken die mens en HY deersoek die hart en die gedagtes. Ek het self al telkens gebid, HERE vergewe hulle want hulle weet nie wat hulle doen nie en dan soos die woord sel…
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 107:33-38Baie dankie vir hierdie verduideliking. Ons lees die eerste keer van Baäl-Peor in Numeri 25. Baäl was die Kanaänitiese god van vrugbaarheid, terwyl Peor verwys na die berg in Moab waar hy onder andere aanbid is. Hy is ook in Kanaän aanbid en was 'n groot versoeking vir die Israeliete met hulle vesti…
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 107:33-38GOD is so goeie GOD. HY gee vir ons die voorskrifte vanaf Deut. 28 en dan volg HY dit ook op in Psalm 107 en sê as ons net doen wat HY ons beveel sal dit met ons goed gaan en ons geseënd wees, nie oor ons nie, maar oor GOD en wie HY is.
  • Chris van Wyk on Psalm 106:43-48Ons lees die eerste keer van Baäl-Peor in Numeri 25. Baäl was die Kanaänitiese god van vrugbaarheid, terwyl Peor verwys na die berg in Moab waar hy onder andere aanbid is. Hy is ook in Kanaän aanbid en was 'n groot versoeking vir die Israeliete met hulle vestiging in die Beloofde Land.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 107:1-9Psalm 1:1 Stel dit so mooi hoe ons, ons pad moet hou en dat ons moet hou en bly by GOD se gebooie
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 106:43-48Goeie naand, Psalm 106: 28 Kan u asb vir my verduidelik wat Baâlpeor is ? Baie dankie Amanda
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 106:13-33Baie dankie vir die verduideliking, dit is hoekom ek hier is om te kan leer.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 106:13-33Dit breuk ñ mens se hart dat die Isrealiete ten spyte van al die tekens en wonders hulle telkemale opstandig word en GOD met so min agting behandel, en dat selfs Abraham vir hulle in die brese tree, en hoeveel keer die volk homself ook laat sondig het. Ek kan net sê ons dien ñ genadige GOD en GOD so…
  • Chris van Wyk on Psalm 106:6-12Die verskillende vertalings - "Rietsee", "Rooi See" en "Skelfsee" – het ontstaan omdat die Hebreeuse uitdrukking יַם־סוּף (yam sûf) verskillend vertaal is. Die Hebreeuse teks in Eksodus 13:18 beteken letterlik "See van Riete" of "Skelfsee" soos die 1933-vertaling dit vertaal het (skelf = riete, 'n w…
  • Chris van Wyk on Psalm 105:37-45Baie waar, vergifnis is genesend.