TENNIS EN DIE BYBELSKOOL
Hoekom vertel ek dit vir jou ? Op ‘n Woensdagmiddag volg ‘n Woensdagaand en Woensdagaand is Bybelskool. In my toestand nie die beste plek om heen te gaan nie. Om vir ‘n uur te gaan konsentreer en intelligent te probeer lyk met ‘n gebroke vlees en ‘n amper onwillige gees is ‘n tall order.
Met n stomende lyf, stort ten spyt, maak ons dit net om teen halfsewe die konsistorie binne te storm. Chris, ons predikant wat die gesprek lei, staan reeds voor en begin stiptelik. Met ‘n entoesiasme wat nie anders kan as om jou mee te voer nie, begelei hy ons in die lewe en werk van Jesaja en God se betrokkenheid in die wel en wee van Sy volk. Die gees is gewillig, maar die vlees swig en ek trek so af en toe ‘n groot vis uit. My wederhelf elmboog my met liefde om my daaraan te herinner dat die nie slaaptyd is nie. Uiteindelik oorwin die gees en ek begin intens luister na die gesprek.
Ek praat spesifiek van “die gesprek”, omdat dit presies is wat gebeur. Die Bybelskool is nie ‘n lesing nie, maar ‘n diepgaande en oop gesprek tussen voorganger en deelnemers en deelnemers en deelnemers . Ja daar word intensief voorberei vir hierdie gesprek.
Vinnie het êrens in haar navorsing ‘n bron raak geloop wat ‘n bepaalde perspektief gee; Christine beklemtoon die onrus by die volk en tussen al Willem se notas kom God se deurgaanse betrokkenheid na vore. Serfies, dis nou Johan Serfontein, maak keel skoon en skiet van die heup. Slegs geloof kan jou red en van die anderkant van die vertrek word hy aangevul deur Jurie wat Christus se woorde aanhaal aan die bloedvloeiende vrou wat sy kleed aangeraak het: “Jou geloof het jou gered.”
Ek luister met verwondering hoedat gelowiges mekaar aanvul, ondersteun en onderrig om beter te kan verstaan wie die God is wat ons onvoorwaardelik aanbid. Die God wat ‘n verwarde Israel deur’ n profeet aanspreek met geregtigheid en oordeel, maar altyd getemper deur sy alles omvattende liefde van hoop, indien jy in Hom glo.
Sonder dat ek ‘n woord gesê het – want jy hoef nie iets te sê om Bybelskool toe te kom nie; jy hoef net te luister en die voorreg met dankbaarheid te geniet – besef dat uit verwarring twee goed na vore kan kom: ‘n ontsag vir die Here se hantering van enige situasie en ‘n geloof in Hom wat ek in my lewe moet demonstreer, soms met ‘n oortuiging wat stil geleef word, en soms met dieselfde oortuiging wat duidelik uitgespel word, selfs vir my teenstanders.
Dankie dat ek dit met jou kon deel en ek nooi jou om saam met my te kom luister in die Bybelskool. Jy hoef nie te praat nie net luister.
Vrede en vreugde
Frik Buys