Skip to main content

Tag: Kronologiese Bybelleesplan

Openbaring 8:6-13

Die eerste vier trompette van die sewende seël verskerp die oordeel

Die sewe trompette van Openbaring 8 tot 11 is ‘n verskerping van God se oordeel wat uit die sewende seël voortspruit as waarskuwing vir en oproep tot ongelowiges om bekering.

Die eerste vier trompette word in Openbaring 8 beskryf en tref veral ‘n derde van die natuur en die leefwêreld van die mense. Gelowiges word uiteraard ook daardeur getref.

Die laaste drie trompette word in Openbaring 9 en aan die einde van Openbaring 11 beskryf, maar tref nie die gelowiges nie.

Die vyfde en sesde trompette tref veral die ongelowige mense met ’n oproep tot inkeer. Die laaste en sewende trompet aan die einde van Openbaring 11 word geblaas om die einde aan te kondig.

Soos daar midde-in die ontplooiing van die oordele van die sewe seëls – tussen die sesde en sewende seël – gefokus is op die verseëling en bewaring van die 144 000 diensknegte van God, sowel as die visie op die versorging in die hemel van dié wat oorwin het, só word daar op soortgelyke wyse tussen die sesde en sewende trompet gefokus op die rol en funksie van die kerk, soos gesimboliseer deur Johannes wat ‘n boekrolletjie moet eet om verder as spreekbuis van die Here op te tree (Openb. 10) en die twee getuies (Openb. 11).

Dit is ’n uiters noodsaaklike visie wat die oordeel van God in konteks plaas. Terwyl die vlakke van onderlinge boosheid toeneem in die wêreld, beide in terme van die selfvernietigingsdrang van mense en die oordele van God, bring die diensknegte van God die verlossende boodskap dat daar in Jesus Christus ’n nuwe toekoms aangebreek het.

Dit word opgevolg met die vyfde en sesde trompet. Die trompette herinner ons aan die val van Jerigo (Jos. 6) waar sewe priesters ses dae lank trompette (ramshorings) geblaas het met die trek om die stad om God se oordeel aan te kondig, waarna die oordeel op die sewende dag voltrek is en Jerigo ingeneem is.

Interessant genoeg moes die manskappe by Jerigo ook stilbly, in hulle geval 6 dae lank, tot die bevel op die laaste dag gegee is om te skreeu en die ramshorings geblaas is en die stad se muur geval het. Dit was waarskynlik om die afwagting op God se optrede te simboliseer, soos dit ook hier in Openbaring die geval is.

Let op hoe die oordele van die trompette met sommige van die tien plae (Eks. 7-12: water word bloed, paddas, muggies, steekvlieë, pes onder die vee, swere, hael, sprinkane, drie dae donker, dood van die eersgeborenes – vgl. ook Ps. 78:44-51 en 105:28-36) van Egipte verband hou, wat ’n mens laat besef dat die oordeel van die trompette deel van die verlossende “woorde” (Ps 105:27-28) van God vir sy mense is, soos die plae in Egipte toentertyd die Eksodus, die bevryding en verlossing van God se volk te weeg gebring het en hulle die tog na die Beloofde land kon aanpak. Die oordeel bring verlossing.

Continue reading

Openbaring 7:1-8:5

God se mense word verseël teen die oordeel met die sewende seël

Tussen die sesde en sewende seël van die boekrol verskuif die fokus na twee groepe mense:

  1. 144 000 diensknegte van God op aarde wat met ’n merk op hulle voorkoppe geseël word – vers 1-8 – en,
  2. ’n ontelbare groot skare uit elke nasie, stam, volk en taal uit die groot verdrukking wat God aanbid in die hemel en deur die Lam versorg word – vers 9-17.

Continue reading

Openbaring 6

Die eerste ses seëls van God se verlossende oordeel

Die sewe seëls van God se oordeel oor die mensdom word in Openbaring 6-7 en die eerste vyf verse van Openbaring 8 geopenbaar wat ook ongekende lyding en vervolging vir gelowiges inhou. God belowe egter beskerming (die merk op hulle voorkop – Openb 7:3) en uiteindelike oorwinning.

Die eerste ses seëls laat telkens ’n ander aspek van God se oordeel ontvou. Dit is ’n proses wat tussen Christus se verlossende opstanding, hemelvaart en troonbestyging aan die eenkant en die wederkoms aan die ander kant plaasvind. Die oordeel is dus iets wat deurlopend in die geskiedenis gebeur, soos dit ook waar is van God se verlossing.

Die temas wat in dié oordele aangeraak word – ook later dié van die trompette en die bakke – toon groot ooreenkomste met die onderskeie profetiese oordele van Jesus in die evangelies – Matteus 24; Markus 13; Lukas 21. Ook met soortgelyke gedeeltes in die OT – Jesaja 24-27; 33-35; 40-66; Esegiël 38-39; Joël 2-3; Daniël 7-12; Sagaria 12-14.

Die oordele sluit onderdrukking, oorloë, tweedrag en twis, hongersnood, aardbewings, vervolging, kosmiese ontwrigting sowel as verlossing en bevryding in, hoewel laasgenoemde deur groot ontberings gebeur.

Continue reading

Openbaring 5

Die Lam van God is waardig om God se agenda uit te voer

Die hemelse erediens wentel nie net om die aanbidding van God op sy troon nie. Vanuit die erediens in die hemel neem God beheer van alles wat is en was en wat kom. Hy bepaal die agenda en die verloop van die ontplooiing van die gebeure in die heelal deur sy Seun. Die hemelse erediens het dus ’n beslissende invloed op die aarde.

Continue reading

Openbaring 4

God word as Skepper in die hemelse troonsaal aanbid

Die Here God, die Almagtige, op sy troon openbaar aan Johannes sy verseëlde agenda vir die heelal (Openb. 4) wat deur die Lam van God oopgemaak en in werking gestel word (Openb. 5).

Continue reading

Onlangse kommentaar