Skip to main content

Tag: Jona

Jona – God ontferm Hom oor Nineve

Inleiding

prayer-shawlDie boek Jona, tydgenoot van Jesaja, Hosea, Miga en Amos, vyfde in die ry, versag die boodskap van oordeel oor die nasies en verkondig die ontferming van die Here oor diégene wat hulle tot Hom bekeer, selfs as die profeet dit nie wil hê nie! Daarmee word God se oordeel en genade weereens as ‘n integrale deel van sy nabye verhouding met mense en ook selfs die natuur uitgespel.

Die profeet Jona, seun van Amittai en afkomstig uit Gat-Gefer in Galilea, se onwilligheid om aanvanklik die opdrag as profeet na Nineve te aanvaar, en sy latere weerstand teen die Here se ontferming oor die stad, sy mense en sy diere, kan moontlik verklaar word uit die nasionalistiese ideaal wat hy gekoester het vir die volk Israel, soos uit die ander opgetekende profesie van hom blyk.

Ons lei dit af uit 2 Konings 14:25 waar dit duidelik is dat Jona geprofeteer het – in opdrag van die Here – dat die grense van Israel herstel sal word – “van Lebo-Hamat af tot by die see in die Jodaanvallei” – as deel van God se ontferming oor die ellende van Israel in die tyd van Jerobeam II, hoewel dit nie die uiteindelike ballingskap in 722 v.C. kon voorkom nie.

Jona het dit dus waarskynlik moeilik gevind om die genade van die Here teenoor vreemdelinge te versoen met dieselfde boodskap van genade aan sy eie mense. Hy vlug dus, met die ontvangs van die roeping na Nineve, weg van God se liefde af … ter wille van sy eie voorliefde.

Continue reading

Markus 8:11-21 – Hoe blind is dié wat nie wil sien nie

Markus

Hiervandaan is Jesus na Dalmanuta toe waar ‘n aantal Fariseërs met Hom begin redeneer oor ‘n wonderteken.  Jesus sug (‘n ander tipe sug as met die dowe man!) oor hulle poging om Hom op die proef te stel.  Hy het immers net tevore brood vermeerder, wat tog ‘n duidelike wonderteken is,  en verklaar stellig dat hulle beslis nie ‘n teken sal kry nie.  Hulle kies om nie te sien nie!   “Hy het hulle daar laat staan” en weer na die oorkant na Betsaida vertrek.

Op pad oor die see draai die gesprek weer oor die tema van brood, met Jesus wat in beeldspraak verwys na die wyse waarop die suurdeeg van die Fariseërs mense kan verblind.  Suurdeeg is deur die Jode as ‘n aanduiding van verderf.  Hou ook in gedagte hoe suurdeeg by die Paasfees verwyder moes word uit die huise, om gereinig te word om die Paasfees te kan geniet.  Interessant: Paulus sluit by dié gedagte aan in 1 Kor 5:6-8 waar hy verkondig dat Christene soos nuwe ongesuurde deeg moet wees, vol van reinheid en waarheid.

Die dissipels verstaan Hom egter verkeerd waarop Hy hulle skerp aanspreek oor die gevaar wat hulle bedreig; dat hulle wat in die binnekring is en van beter behoort te weet, eintlik net soos die buitestaanders en spesifiek die Fariseërs die wonder van God se teenwoordigheid kan mis, al sien hulle wat min ander ooit kon sien.  Jesus wys dan na die twee wondertekens rondom die brood (anders as met die Fariseërs ) om hulle tot begrip te probeer lei.

Dit tref my hoe blind mense is wat nie wil sien nie, die Fariseërs, en teenoor hulle, hoe blind ander mense is wat sien, maar dit nie reg kan onderskei nie, die dissipels.  Die enigste een wat dieper insig toon, is die heidense vrou van gister, wat eintlik dié voorbeeld raak van iemand wat Jesus se ware aard verstaan.

Matteus

Lukas vertel nie dié verhale nie.

Matteus gee ‘n heeltemal ander inhoud aan Jesus se gesprek met die Fariseërs – nie verrassend nie, omdat die gesprek nie verbatim weergegee word nie – en wys hulle versoek vir ‘n teken af met die voorbeeld van die tekens van die weer teenoor die tekens van die tye.  Met die eerste is die Fariseërs goed, met die tweede glad nie.  Daarom sal net een teken vir hulle gegee word, die teken van Jona, wat heel moontlik na die episode in die vis verwys, as beeld van die dood en opstanding van Jesus.

Matteus onthou anders as Markus dat daar glad nie brood in die skuit was nie (nie eers een nie!).  Hy beskryf ook die dissipels as kleingelowiges en sluit af met ‘n verwysing na ‘n dieperwordende begrip, verder as die letterlike, by die dissipels dat hulle versigtig moet wees vir die leringe van die Fariseërs.

Onlangse kommentaar