Skip to main content

Tag: Johannes

Jesus se Ek is-uitsprake

Met die 8 Ek-is uitsprake van Jesus word die prentjie van Jesus in terme van sy Goddelike betekenis vir mense uitgespel.  Hy maak God bekend aan die wêreld, in terme wat ryk aan Ou Testamentiese betekenis is:
  1. “Ek is wat Ek is” – 8:24,58 – vgl Eks 3:14, waar dieselfde van God self gesê word;
  2. “Ek is die brood wat lewe gee” – 6:35,48 – vgl Eks 16:4, waar God deur die manna voorsien het;
  3. “Ek is die lig vir die wêreld” – 8:12 – vgl Jes 49:6 waar dit van die dienaar van die Here voorspel word;
  4. “Ek is die ingang vir die skape” – 10:7, 9 – vgl Eseg 41 waar die ingang na die hemelse tempel en God se ewige teenwoordigheid beskrywe word;
  5. “Ek is die goeie herder” – 10:11,14 – vgl Eseg 34 waar God self as herder optree en sy dienaar Dawid daarvoor aanstel;
  6. “Ek is die opstanding en die lewe” – 11:25 – vgl Jes 53:7-12 waar die dienaar van die Here se dood en opstanding beskrywe word wat lewe vir baie sal gee;
  7. “Ek is die weg en die waarheid en die lewe” – 14:6 – vgl Jes 30:20-21 waar God as die Een beskryf word wat sy volk leer en op die regte koers hou;
  8. “Ek is die wingerdstok” – 15:5 – vgl Jes 5 waar Israel die wingerd van die Here is, maar in hulle roeping gefaal het.

Jesus word egter ook as ’n man van vlees en bloed geteken – hy raak moeg (4:6) en dors (19:28), huil oor Lasarus (11:35), en bloei aan die kruis (19:34).  Daarmee bevestig Johannes die menslikheid van Jesus teenoor die valse profete van sy tyd wat net op Jesus se goddelikheid klem gelê het.

Johannes se prentjie van Jesus

Die prentjie wat Johannes van Jesus teken in sy evangelie is uniek, en veelvlakkig, as ’n mens dit met die sinoptiese evangelies, Markus, Matteus en Lukas se prentjie vergelyk.  Johannes beskryf Jesus in 5 tydperke (Du Rand):
  1. in sy pre-historiese bestaan as die Woord van God (1:1);
  2. in die historiese verlede soos dit in die geskrifte van Moses en die profete ’n neerslag gekry het (1:45; 5:46 – vgl 12:41 wat na Jesaja 6:10 verwys);
  3. in die narratiewe hede van sy geboorte, lewe, bediening, lyding, kruisdood en opstanding;
  4. in die historiese toekoms waar Hy sy mense begelei en bystaan deur sy Gees (14:16);
  5. in die eskatologiese toekoms vanwaar Hy sal kom om die dooies op te wek, sommige tot die ewige lewe (wat reeds nou ’n aanvang neem) en ander tot veroordeling (5:24-29).

Johannes teken Jesus as Een met die Vader (10:30), wat weet wat die Vader weet (10:38).  Johannes vertel ons ook nie, soos in die sinoptiese evangelies (Mark 14:36), dat Jesus bid dat die lydensbeker van Hom weggeneem word nie, maar juis dat Hy bid dat God se Naam daardeur verheerlik sal word, ten spyte van Sy ontsteltenis (12:27-28).  Die klem val dus in sy vertelling op Jesus se Goddelike aanvaarding van die lydensweg, eerder as op die eg-menslike worsteling wat Hy tereg ook deurgemaak het.

Die stryd tussen lig en duisternis

Hierdie keuse wat van elkeen gevra word, hou verband met die stryd tussen lig en duisternis wat van die eerste verse aan die orde gestel word.  Dit vorm die konseptuele raamwerk waarmee Johannes die boodskap van Jesus vertel.  Jou keuse vir geloof in Jesus lei na lig en lewe.  Jou keuse teen geloof in Jesus lei na duisternis en dood (Du Rand).

Johannes druk hierdie dualisme ook uit met die beskrywing van God se wêreld as “van bo” (anothen – 1:51; 3:13,31) en ons wêreld as “van onder” (tôn katô – 8:23).  Jesus kom van God se wêreld na ons toe (3:16) en sal deur sy kruisdood, opstanding en verheerliking die gelowiges na Hom toe trek (12:32) terwyl die heerser van hierdie wêreld uitgedryf sal word (12:31).  So sal gelowiges deel van die ryk van lig word, en dié wat kies om nie te glo nie, steeds deel van die ryk van die duisternis bly.

Die Woord van God het mens geword sodat ons in Jesus Christus kan glo

Die hoof-fokus van die evangelie van Johannes is om die inkarnasie, die vleeswording van die Woord van God, te beskryf en die betekenis daarvan vir die lewe hier en nou, sowel as die lewe hierna, uit te spel.

Die verhaal kyk terug na die vleeswording vanuit die perspektief wat die opstanding van Jesus en die  gawe van die Heilige Gees daaraan verleen.  Die opstanding en die uitstorting van die Gees openbaar die eintlike betekenis van wat Jesus kom doen het en watter betekenis dit vir sy dissipels inhou (2:22; 12:26; 14:23-26; 16:12-15).

Johannes vertel dus die verhaal van Jesus, die mensgeworde God, met die oog daarop om die waarheid daarvan te bevestig, dit teologies te interpreteer, en lesers wat ná die opstanding van Jesus en die uitstorting van die Heilige Gees lewe, tot geloof te beweeg – Jesus het nog baie ander wondertekens, wat nie in hierdie boek beskrywe is nie, voor sy dissipels gedoen. Maar hierdie wondertekens is beskrywe sodat julle kan glo dat Jesus die Christus is, die Seun van God, en sodat julle deur te glo, in sy Naam die lewe kan hê (Joh 20:30-31).

Reeds in die gesprek met Nikodemus is hierdie doelwit onomwonde uitgespel: “God het die wêreld so lief gehad dat Hy sy enigste Seun gegee het, sodat dié wat in Hom glo, nie verlore sal gaan nie maar die ewige lewe sal hê … Wie in Hom glo, word nie veroordeel nie; wie nie glo nie, is reeds veroordeel omdat hy nie in die enigste Seun van God glo nie” (Joh 3:16-18).  Johannes draai nie doekies om nie, maak sy punt helder en duidelik– ’n keuse word van elkeen gevra wat hierdie boodskap hoor.  En tog, sê hy dit, sonder om jou te vervreem, want hy begrond sy appèl in die liefde en deernis van God.

’n Oorsig oor die evangelie van Johannes

Die evangelie van Johannes is met die eerste oogopslag eenvoudig geskryf, maar verras jou met ’n ryk en geskakeerde teologiese betekenis soos jy dieper daarin delf.  Dit is tegelyk ’n evangelie wat ’n mens se intellek uitdaag en stimuleer, maar ook jou hart roer en meevoer.  Niemand kan onaangeraak bly met die lees van die goeie nuus van die vleeswording van die Woord van God nie.  Dit sit jou verbeelding op loop en slaan tegelykertyd jou asem weg.

Die kerkvaders het graag die arend as simbool vir die evangelie van Johannes gebruik, nie net omdat die arend die hoogste van alle voëls kon vlieg nie, maar ook omdat mense gereken het dat die arend die langste in die son kan kyk.  Die evangelie van Johannes was dus vir die vroeë kerk nie net die hoogtepunt van die beskrywing van die goeie nuus oor Jesus nie, maar ook een van die diepste openbarings van die wese en bedoelinge van God self (Andrie du Toit).

Onlangse kommentaar

  • Chris van Wyk on Psalm 119:169-176Absoluut!
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 119:169-176Psalm 119 is voorwaar ñ baie Geseënde Psalm
  • Chris van Wyk on Psalm 119:145-152Dis self opnuut weer ‘n vreugde vir my.
  • originalblizzard19aaa84c56 on Psalm 119:145-152Ek was altyd baie langtand om Ps 119 aan te durf, nou wens ek dat dit nie ophou nie... Ps 119 is te kort!!! PDH
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 119:105-112Goeie middag, baie dankie vir die deel van die kosbare verhaal wat so gepas is met die Psalm
  • originalblizzard19aaa84c56 on Psalm 119:1-8Sien waarlik die nou verband tussen OT EN NT. waarlik verhelderend. אמן
  • Chris van Wyk on Psalm 118:19-29Ek gee maar net aan wat ek ontvang het. Dit bly egter 'n kosbare voorreg.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 118:19-29Goeie môre, baie dankie dat u met ons deel wie en waar die vertaaling van die Bybel sy oorsprong gekry het, dit is so kosbaar, baie dankie vir een en elkeen wat deel is en was om hierdie kosbare woord ook vir ons in ons Taal te kon uitlê
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 110Baie dankie vir hierdie kosbaarhede wat u met ons deel. Ek het Openbaring 22 gelees en dit klink baie soos die tuin van Eden, hy praat van die boom van lewe. Die sondeval gemaak dat die mens gesondig het en dat hul nie meer in die tuin kon woon nie asgevolg van die sonde.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 109:6-19Goeie middag, ek wil ook by las dat in Psalm 139:23 bid David;"Deurgrond my, O GOD, en ken my hart, toets my en ken my gedagtes" GOD ken die mens en HY deersoek die hart en die gedagtes. Ek het self al telkens gebid, HERE vergewe hulle want hulle weet nie wat hulle doen nie en dan soos die woord sel…
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 107:33-38Baie dankie vir hierdie verduideliking. Ons lees die eerste keer van Baäl-Peor in Numeri 25. Baäl was die Kanaänitiese god van vrugbaarheid, terwyl Peor verwys na die berg in Moab waar hy onder andere aanbid is. Hy is ook in Kanaän aanbid en was 'n groot versoeking vir die Israeliete met hulle vesti…
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 107:33-38GOD is so goeie GOD. HY gee vir ons die voorskrifte vanaf Deut. 28 en dan volg HY dit ook op in Psalm 107 en sê as ons net doen wat HY ons beveel sal dit met ons goed gaan en ons geseënd wees, nie oor ons nie, maar oor GOD en wie HY is.
  • Chris van Wyk on Psalm 106:43-48Ons lees die eerste keer van Baäl-Peor in Numeri 25. Baäl was die Kanaänitiese god van vrugbaarheid, terwyl Peor verwys na die berg in Moab waar hy onder andere aanbid is. Hy is ook in Kanaän aanbid en was 'n groot versoeking vir die Israeliete met hulle vestiging in die Beloofde Land.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 107:1-9Psalm 1:1 Stel dit so mooi hoe ons, ons pad moet hou en dat ons moet hou en bly by GOD se gebooie
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 106:43-48Goeie naand, Psalm 106: 28 Kan u asb vir my verduidelik wat Baâlpeor is ? Baie dankie Amanda