Skip to main content

Tag: Jesaja

Jesaja 24-27 – Van tragedie na triomf

Die orakel boodskappe word opgevolg in die “Apokalips van Jesaja” in hoofstukke 24-27 waar die oordeel van die Here universeel uitgebrei word na die hele aarde toe[1].  God gaan oor begin, waarin grootskaalse kosmiese ontwrigting ervaar gaan word (24), hemelse en aardse magte geoordeel sal word (24:21-22) en die oorwinning oor die dood behaal sal word deur die opstanding van die dode, een van die min plekke in die OT waar dié perspektief oopgebreek word (26:19).

Dit word geskryf in taal wat herinner aan die ander apokaliptiese gedeeltes in die Bybel (Daniël, profetiese redes in die evangelies en Openbaring).  Apokalips beteken “om die sluier te lig” en kan daarom ook met die woord openbaring vertaal word.

Dit sluit die wonderlike heilsboodskap in dat God aan die einde ’n feesmaal vir die volke sal voorberei, hoewel dit steeds sommige se vernietiging sal insluit, soos bv. Moab (25), maar deurgaans ’n totale lotsverandering vir sy volk inhou (26-27).

Hoofstuk 24

24:1-13: Die hele aarde is in die profeet se oog.  Die voorkoms verander – verwoes, geplunder, verdroog, vergaan, en dit sluit die hemel in: 1) omdat die aarde verontreinig is deur sy inwoners deur ongehoorsaam te wees aan God se voorskrifte en die verbond met Hom verbreek is en 2) omdat die inwoners die magte in die hemel aanbid het en nie vir God nie (:21).  In ontstellende taal word vertel dat ’n vloek die aarde sal verteer en die inwoners vir hulle sonde sal laat boet – min mense sal oorbly.

Dit gee ’n mens ’n perspektief op hoe God werk met ongehoorsame mense.  Waar Hy nie gedien word nie, verontreinig dit figuurlik gesproke die land, sodat die land net gereinig kan word deur die inwoners op een of ander manier te straf of weg te dryf.  Dit het reeds só met die Kanaäniete gebeur (Lev 18:25) en word nou hier in die vooruitsig gestel vir al die volke van die aarde, weens die grootskaalse minagting van God en sy gebod (24:5).

Wingerde verdroog, wyn word skaars, vrolikheid verander in versugtinge, selfs musiek word stil (vgl Open 18:22 waar dit ook van die mense in Babilon-[Rome] gesê word – laat my dink aan die liedjie van Don Mclean The day the music died waar hy die dood van drie musikante, Buddy Holly, Ritchie Valens, en The Big Bopper in 1959 verwoord).  Daar is geen vreugde meer nie en die inwoners is verstrooi.  En alle sosiale en ekonomiese lae van die samelewing word geraak.

Die oordeel sluit in dat die stad (:12) afgebreek en onbewoonbaar word met afgebreekte stadspoorte.  Hierdie stad kan óf met ’n wêreldstad verbind word (soos Babilon vir Rome staan in Openbaring) óf met ’n stad in Moab (kyk 25:12).  Indien dit eersgenoemde is, kan dié gedeelte (24-27) eintlik die “verhaal van twee stede” genoem word, waar die wêreldstad (24) met Jerusalem (26) gekontrasteer word.  Indien dit die laasgenoemde interpretasie sou wees, die hoofstad van Moab, staan hulle egter eintlik steeds as ’n simbool van die ander stede van die wêreld se opstand teenoor God.  Beide interpretasies maak dus sin.

24:14-16a: Die oorblyfsel van die mense regoor die aarde – let op hoe van die weste, die ooste en die eilande gepraat word – sal na die oordeel voltrek is, bly wees en God se mag en regverdigheid besing.

24:16b-23: Die profeet word egter nie deur die blydskap van sy eie boodskap meegevoer nie, omdat dit hom so seermaak om dit te moet verkondig,  Hy ervaar dat hy wegkwyn daardeur. Maar hy besef dat troueloosheid onafwendbaar deur God gestraf moet word.  Daar is geen wegkomkans nie.

Let op hoe hy weereens kosmies praat oor die tragedie wat mense gaan tref, amper soos dit was in Noag se tyd.  Wolkbreuke en aardbewings lei die verwoesting in wat so groot is dat die aarde in stukke breek en heen en weer waggel en wankel, slinger en heen en weer wieg.  Klink amper asof dit verwys na ’n soort wentelbaan van die aarde, hoewel dit natuurlik metaforiese taal is.

Terloops, die Grieke – onder ander Pythagoras uit die 5de eeu v C, en Plato en Aristoteles na hom – hoewel ’n bietjie later as Jesaja se geskrifte, het al van vroeg af van die aarde as ’n bolvormige sfeer gepraat.  Eratosthenes het die omtrek in die 3de eeu uitgewerk en was net 5% uit met wat ons vandag weet!  Nie almal het dus gedink die aarde is plat nie – gebruik dus die pre-moderne kategorie met omsigtigheid!

Ook die magte in die hemel word gestraf.  Dit verwys heel moontlik na die hemelliggame wat deur die omringende volke aanbid is, en deur Deut 4:19 verbied is. Daniël praat waarskynlik ook van hierdie magte in die gedaante van “astrale” engele wat ‘n invloed uitoefen op die aarde deur mense se aanbidding van hulle (vgl ook Ef 6:12).

Die konings op die aarde word ook gestraf en deur die regering van God self vervang.  Geen wonder nie dat een van Jesus se hoofboodskappe was dat God se koninkryk in Hom ‘n aanvang geneem het!  God verenig alle mense onder Sy heerskappy met die Een wat Hy daarvoor uitgekies en aangestel het, Immanuel, God-met-ons.

Hoofstuk 25

Hoofstuk 25 fokus op twee gevolge van die verwoesting van hoofstuk 24: 1) oorlog hou op – 25:1-5 – en 2) die Here word deur almal geëer by ‘n feesmaal wat Hy voorberei – 25:6-12.

25:1-5: Let op dat dit in praise-and-worship taal geskryf is.  God se beplanning (Wonderbare Raadsman – 9:5) en beskerming (Ewige Vader – 9:5) word geloof wat tot die staking van oorlog lei.  Jesaja se beelde is regtig verbluffend.  Of dit nou hy was of sy volgelinge of wie ook al, ‘n meester digter-skrywer is aan die woord.

25:6-12: Die lof gaan oor in ‘n feesmaal waarna alle volkere uitgenooi is, behalwe Moab.

Let op hoe die doek van onbegrip verwyder word.  Die meeste kommentare interpreteer dit eerder as ‘n doek van hartseer oor die wêreldwye oordeel, na aanleiding van Dawid wat sy kop met ‘n doek toegemaak het in sy smart – 2 Sam 15:30 – en wat nou weggeneem word en die konteks wat praat van trane wat verwyder word.

Daar is egter vir my baie raakpunte in hierdie doek met die sluier waarna Paulus verwys wat die Jode verhinder om die waarheid in die Skrifte raak te sien.  Dié sluier word verwyder, sê Paulus, wanneer die glans van Christus van sy mense af weerkaats word na die wêreld en hulle in ons lewenswandel Christus duidelik kan sien – 2 Kor 3 (jy kan meer daaroor lees in my bydrae: 2 Korintiërs 2:12-3:18 – Ons raak God se woorde aan die wêreld).  Daarom kies ek vir die interpretasie van doek van onbegrip, wat ook inpas met die versluierde boodskap wat Jesaja se roeping inhou – Jes 6.  ‘n Mens vind ‘n soortgelyke interpretasie in Jes 29:10-11 wat my vermoede hier versterk.

Die dood word ook vernietig (vgl 1 Kor 15, Open 20-21 bv.) en God se volk in ere herstel wat tot ‘n erkenning van God se getrouheid sal dien.

Die enigste wars noot is die oordeel oor Moab waarmee steeds volhard word.  Aan die een kant blyk dit dat die sonde van Num 22-24, waar Moab Israel se Intog in die Beloofde Land probeer stuit het, steeds teen hulle tel.  Aan die ander kant is hulle eintlik ‘n simbool van alle nasies wat hulle in hoogmoed teen God verset.

Let weereens op na die treffende – hoewel natuurlik ook uiters tragiese – beelde waarmee dit beskryf word.  Dit gebeur weens hulle trots (of hoogmoed – soos van Moab in Jes 16:6 gesê word, en reeds ook aangeroer is as die een ding wat alle volke tot ‘n val sal bring en hulle die heil van God sal laat ontbeer – Jes 2:6-22.  Vergelyk ook Jer 48:26 wat dieselfde motief onderstreep:  “Moab het hom groot gehou teen die Here”).  Hoogmoed bly die een ding wat God nooit mee vrede sal maak nie.

Hoofstuk 26 en 27

Hoofstuk 26-27 besing in drie dele die verlossing wat God se volk beleef: 1) gefokus op die oorwinning wat vir hulle behaal is deur God – 26:1-15 – 2) gefokus op die opstanding uit die dood wat moontlik word deur God se krag – 26:16-21 – en 3) die moeisame vestiging van die volk as die wingerd van die Here wie se vrugte vir die aarde bedoel is (Jes 5 se tragedie word in ‘n triomf omskep!) – hfst 27.

26:1-15: Die eerste deel van die perikoop is in die vorm van ‘n pelgrimslied geskrywe.  Let op die wisselwerking tussen verlossing en vertroue in vers 1-3.  In dié vertroue moet volhard word, ‘n sleutelboodskap van Jesaja.  Om die waarheid te sê, daaraan moet selfs in gevaar en oordeel volhard word.  Dit bring veiligheid en beskerming – vers 4-6.

Let ook op dat dié vertroue insluit om regverdig te lewe (:7).  Selfs God se oordeel teen die nasies is immers gemik daarop om die belang van geregtigheid te onderstreep (:9b), al steur hulle hul nie daaraan nie (:12-15).

26:16-21: Om God aan te roep, is die begin van die lewe, beide in goeie as in slegte tye.  Waar ‘n mens jou toevlug tot God neem, vind jy dit, al is daar ook oordeel aangekondig oor die mense van wie jy deel is (Rut, die Moabiet, is ‘n glinsterende voorbeeld daarvan).

Hierdie gedeelte is in die vorm van ‘n skuldbelydenis geskrywe, wat lei tot die verstommende geloofsbelydenis dat daar opstanding uit die dood moontlik is – ‘n skaars perspektief in die OT (vgl Job 19:25-27; Ps 16:9-11; 49:15-16; Dan 12:2).  Dit word aan God se krag toegeskryf.  Die laaste verse – 20-21 – is moeilik om te interpreteer, maar dra waarskynlik die boodskap oor van ‘n wagtydperk voordat dit ‘n werklikheid raak.

27:1-13: Jesaja 5 se tragedie – God se wingerd wat suur druiwe voortgebring het – word in ‘n triomf omskep deurdat die Here daarvoor sorg sodat die aarde vol sal word van hulle vrugte (:6).

Die gedeelte word ‘n apokaliptiese betekenis gegee deur die verwysing na die Leviatan, die monster van die see, wat hier in vers 1 as ‘n vinnige, kronkelende slang beskrywe, en deur die Here doodgemaak word.  Hierdie mitologiese monster – die Kanaäniete het van Lotan gepraat – is ‘n simbool vir al die magte wat teen God opstaan (vgl 24:21 – vgl ook die draak waarvan in Open 12 gepraat word).[2]

Let ook op na die voorwaardelike toon wat Jesaja aan hierdie heilsaankondiging gee.  Die volk van die Here sal sy beskerming en versorging geniet AS hulle by God kom skuil en met Hom vrede maak (:4b-5)  Dan sal die aarde vol word van hulle vrugte (:6).

‘n Onderskeid word getref tussen die manier wat God sy volk straf teenoor sy straf vir ander volke (vers 7-9).  God straf sy volk met die hoop dat hulle sal luister, en is baie gou om, as dit gebeur, hulle met Hom te versoen.  Bekering lei tot Bevestiging.  Verset lei tot Vernietiging.

Jesaja keer terug na die werklikheid van die verwoesting, en wyt dit aan die volk se gebrek aan begrip van wat God doen (:11 – vgl Jes 1:3), wat hoewel dit tot ‘n tyd van ongenade sal lei, nie God se einddoel sal verydel nie, dat Israel – weliswaar één-één (oorblyfsel-motief) – terug sal kom na sy heilige berg in Jerusalem om Hom te aanbid.  Ons kry dieselfde gedagtes in die NT se hantering van die eindtyd in Matt 24:31; 1 Kor 15:52; 1 Tess 4:16, toegepas op gelowiges verspreid oor die aarde.

Lees meer oor Paulus se perspektief oor die Jode in my bydrae daaroor: Romeine 9-11 – Die Jode se volle getal sal gelowig word.


[1] Die woord ha-aretz wat hier in vers 1,3,4,6 ens. met aarde vertaal word, kan ook land beteken.  ’n Mens lei die betekenis af uit die konteks.  Watts (Word kommentaar) kies om dit met land te vertaal wat beteken alles wat Jesaja sê in hoofstuk 24-27 word meesal van toepassing gemaak op die land Juda, en nie op die aarde nie.  Dit beteken ook dat die hoofstukke nie apokalipties is nie.  Ek stry nie graag met hom nie – uitstekende kommentator! – maar dink die konteks regverdig om hier van die aarde te praat, bv.: vers 4 se kontras tussen “hemel en aarde”; vers 14-16 waar duidelik die hele aarde bedoel word; vers 21 se verwysing na konings van die aarde.

[2] Watts verbind die Leviatan aan Tirus (hfst. 23), maar dit is omdat hy nie ’n apokaliptiese siening aanvaar vir hierdie hoofstukke nie.  Daarom moet hy aarde as die land vertaal in hfst. 24, en hierdie duidelike mitologiese beeld aan ’n konkrete entiteit verbind, sonder dat daar die minste getuienis daarvoor is.  Wys net hoe jou vooraf keuse van interpretasie jou vertalingskeuses kan beïnvloed (land in plaas van aarde) en jou selfs die teks se konnotasies kan laat aanpas, om by jou aanvanklike ideologie te kan inpas.  Dit is natuurlik omgekeerd ook waar, maar die apokaliptiese siening kom reeds uit die teks uit – Leviatan, ramshoring, feesmaal vir die volke ens. – wat dit vir my gevoel meer verantwoord maak. But you be the judge!

Jesaja 21-23 – God se oordeel bereik alle nasies

5 volke is in die 3 hoofstukke in Jesaja se visier.

21:1-10 – Teen Babel: Die profesie teen Babel in 21:1-10 sluit aan by die vorige een in 13-14:23.  Eintlik word Babel nie in die eerste vers genoem nie.  Die profesie is gemik teen “die woestyn van die see”, wat waarskynlik by die Persiese idioom aansluit wat van die land om die Persiese golf as “die land van die see” gepraat het.  Vers 9 verbind dit egter aan Babel.  Weereens word die Mediërs (vandag soos die Perse deel van Iran) as instrumente in die oordeel op Babel genoem, hierdie keer in tandem met Elam (die Hoogland noord-oos van Babel) (vers 2).

Let op die angs wat die visioen vir die profeet bring – die rustigste deel van die dag (skemeraand) is nou vir hom ’n verskrikking (vers 4) – terwyl die ander begin eet en drink.  Hy sit daarom ’n wag uit om goed op te let wat aan die gang is.  Sy waarneming bring die afleiding dat Babel geval het, wat beteken dat Israel nie op hulle sal kan staatmaak nie.  Dit is egter baie moeilik om die val van Babel hier histories te plaas.

21:11-12 – Teen Edom: – Die teks is baie misterieus.  Duma kan vertaal word as “Stilte” en klink daarby in Hebreeus soos “Edom”.  As ’n mens dit verbind met die  verwysing na Seïr in vers 11 wat ’n berg in Edom was, lyk dit asof dié orakel waarskynlik teen die Edomiete gerig was, soos wat die opskrif by die teks aandui. Die Edomiete is die nageslag van Esua (edom beteken rooi, wat verwys na Esau se gelaatskleur, sowel as die kleur van die lensies – Gen 25) – wat suid-oos van die Dooie See gewoon het.  Maar dit is sover soos my begrip van dié teks gaan, want hoewel dit grammaties perfekte sin maak, maak dit as ’n boodskap geen sin vir my nie.  Waarskynlik is dit intensioneel, of ’n kodewoord wat mense van daardie tyd sou verstaan het.  Dit kan seker ook terugverwys na vers 6-9, maar dan is die plek waar dit in die hoofstuk geplaas is vreemd.  Sal graag meerdere wyse woorde wil hoor hieroor!

21:13-17 – Arabië: Die plekname kan almal met Arabië verbind word: Dedan, Tema (’n oase) en Kedar.  Die Here kondig ’n einde aan hulle rykdom aan met net ’n klein oorblyfsel wat sal oorbly.

22 – Teen Jerusalem: Let op dat Jerusalem “die plek waar visioene gesien word” genoem word in vers 1 en 5, ’n verwysing na profetiese aktiwiteite.  Maar ’n mens soek tevergeefs na mense wat dié visioene ernstig neem.

Dit wil voorkom asof die beleëring van Sanherib teen Jerusalem in 701 v C die historiese agtergrond gee vir die aanvang van hierdie orakel, ’n aanval wat afgeweer is, soos ons later in Jes 36 vv gaan lees. Die vreugde daaroor is egter dwaas, sê Jesaja met ’n seer hart, want daar is nog ’n bedreiging wat kom, omdat die volk nie regtig hulle tot die Here bekeer het nie.

Die bedreiging word geïdentifiseer van Elam en Kir af (vers 6).  Elam was deel van die Assiriese ryk (noord-oos van Babilon) en Kir was een van die stede van die Arameërs (die Siriërs vandag) waarheen Assirië gevangenes geneem het.  Hulle sal die oordeel kom voltooi, al lewe die mense van Jerusalem onbewus daarvan (vers 13).  Let op die kras taal van vers 14 – die Here sal hulle dié sonde, om fees te vier sonder om Hom in ag te neem, nooit vergewe nie.

Terloops: die Paleis van die Bos was een van Salomo se bouwerke (1 Kon 7:2; 10:16-17; 14:25-28) waarin wapens gestoor was.

23 – Tirus: Vers 1-14 vorm ’n eenheid en is ’n “begrafnislied” oor Tirus en Sidon waarin die oordeel oor hulle uitgespreek word.  Vers 15-18 vorm ook ’n eenheid en is ’n boodskap van hoop gekoppel – van alle dinge! – aan die lied oor die prostituut wat vir ’n nuwe begin vra.

23:1-14: So bietjie agtergrond om sin te maak van die eerste gedeelte: Tirus (Sur in hedendaagse Lebanon – onthou dat dit aanvanklik ’n eiland (vers 2) langs die kus was en eers later ’n skiereiland geword toe Alexander ’n pad tussen die eiland en die vasteland gebou het) en Sidon (Saida vandag) was almal groot hawestede in Fenisië, westelike kusstrook van Israel, vanwaar hulle handel gedrywe het.  Tarsis was waarskynlik ’n stad in Spanje waarheen hulle handelsware uitgevoer het.  Dit is ook die stad waarheen Jona op pad was toe hy in Joppe aanboord gegaan het op die skip (onderskei dit egter van Tarsus, die geboortestad van Saulus in Klein-Asië).  Kittiërland was die naam vir Siprus en Sigor in Egipte geleë in die Nyl-delta.  Die Galdeërs was die bevolking van Suid-Babilon.  Die woord is later gebruik vir die hele koninkryk van Babel.  Op hierdie stadium het Assirië oor hulle geheers (vers13).

Let op die wêreldwye impak van die oordeel.  Almal praat daaroor.  En dan kom hulle agter, dit is al die tyd die Here wat die verwoesting laat gebeur het (9).  En let ook weereens op, soos met so baie ander nasies, dit is hulle hoogmoed wat die Here tot oordeel beweeg.

23:15-18: Hier het ons ’n boodskap van hoop, nogal gekoppel aan die metafoor van ’n lied oor ’n prostituut wat om ’n nuwe begin vra.  Die profeet voorspel dat die oordeel 70 jaar, ’n leeftyd, sal duur waarna Tirus weer sal handeldryf.  Die droom is egter dat sy wins en verdienste dan vir die Here afgesonder sal word, bestem vir dié wat in die diens van die Here is (vers 18), wat histories gesproke nog nie gebeur het nie.

Jesaja 18-20 – God laat nie sy droom vaar nie

Hoofstuk 18: Die Bybel praat min van Kus (Gen 2:13), wat ons vandag ken as Ethiopië.  In Jesaja se tyd was daar ’n Ethiopiese koning, Sabako, in Egipte op die troon wat waarskynlik die profesie tot gevolg gehad het.

Die riviere van Kus verwys na die Wit en die Blou Nyl wat die twee belangrikste sytakke van die Nyl is.  Die Blou Nyl ontspring in die Tana meer in Ethiopië en sluit by Khartoem in die Soedan by die Wit Nyl aan en vorm daarna die Nyl wat uitmond in Egipte.  Die Wit Nyl kom van die Victoria meer af verder suid tussen Kenia, Tanzanië en Uganda.

Dit wil voorkom of die Ethiopiërs (lang mense met die blink [of gladde] velle) Juda in dié tyd nader as bondgenote teen Assirië (ongeveer 715 v C) en dat Jesaja hulle aanspreek om liewer terug te keer.  Die Here is immers in beheer vanuit sy hemelse woonplek (vers 4) en sal die wingerdlote van Assirië afsny en weggooi (vers 5-6).  Interessant genoeg voorsien Jesaja ’n tyd waar hulle sal luister en die Here sal dank vir sy redding.  Ethiopië was dan ook die eerste landstreek in Afrika waar die evangelie geglo is en ’n kerk tot stand gekom het in die Nuwe Testamentiese tyd (Hand 8).

Hoofstuk 19: Ek moet sê dié hoofstuk het my verstom.  Dit begin met ’n uitspraak van die Here teen Egipte, en eindig met ’n visie op ’n eenheid tussen Assirië, Egipte en Israel wat saam die Here dien! Die droom van Jes 2 gaan beslis nie lê nie!

Egipte word veral ekonomies getref waarna Israel se God en godsdiens deur Egipte aanvaar sal word.  Die verwysing na die Verwoeste Stad sinspeel vermoedelik met woordspel op die Sonstad, Heliopolis, om aan te dui dat die sonaanbidding vir die ware diens van die Skepper van die son, God, plek maak.  En dan spoel die aanbidding van God oor die grense van die hele Midde-Ooste – mag ons dié droom se verwesenliking tog eendag sien!

Hoofstuk 20: Aan die einde van hierdie deel is daar die vreemde verhaal van Jesaja se liggaams-profesie in wat ook ’n woord teen Ethiopië (Kus) en Egipte was, en die orakels in die voorafgaande hoofstukke 18-19 teen die twee volke versterk het.  Jesaja se basiese posisie was dat ’n alliansie van opstand teen Assirië nie sou werk nie, soos dit in die res van die boek ook is.

Jesaja 15-17 – Dit kerm in my binneste

Hoofstuk 15-16 vorm ’n eenheid en bevat die orakel oor Moab (vgl Jer 48 wat ’n soortgelyke orakel het).

’n Bietjie agtergrond: Die Moabiete het oos van die Dooie See op die bergagtige Hoogland gewoon en was die nageslag van Lot se verbintenis met sy oudste dogter. Die jonger dogter se nageslag was die Ammoniete wat net noord van die Moabiete gewoon het (Gen 19).  Die twee volke was verskeie kere in konflik met Israel.  Hulle nasate het mettertyd met die Arabiere verenig.

Deuteronomium 23:3-6 het streng wette neergelê vir die hantering van die twee volke: “Geen Ammoniet of Moabiet mag lid van die gemeente word nie. Niemand uit hulle nageslag mag ooit lid van die gemeente word nie, selfs nie eers een van die tiende geslag nie.”

En die skrywer spel twee spesifieke redes uit waarom dit so kras was: “Dit is omdat hulle jou nie van kos en water voorsien het toe julle uit Egipte getrek het nie en hulle vir Bileam seun van Beor uit Petor in Mesopotamië gehuur het om jou te vervloek.”

“Die Here jou God wou egter nie na Bileam luister nie en die Here jou God het Bileam se vervloeking in ’n seën verander, want die Here jou God het jou lief.” Maar die wet het gebly: “Jy mag nooit in vrede leef met die Ammoniete en die Moabiete nie, en jy mag nooit iets goeds aan hulle doen nie.”

Tog moet ’n mens onthou dat Rut (lees my bydraes oor Rut hier) ’n Moabiet was en weens haar besondere verbintenis aan die Here en sy volk die voorreg gesmaak het om ingesluit te word in die koningsgeslag van Dawid, waaruit die Messias later gebore is.  En haar storie is opgeneem in die groeiende korpus Ou Testament boeke.  Dit wil dus tog lyk asof die Here ’n hart wat volledig op Hom gerig is, raaksien, maak nie saak wat die algemene reël is wat geld nie!

Dawid soek ook skuiling vir sy ouers by die koning van Moab toe dinge tussen hom en Saul begin warm word het (1 Sam 22), moontlik vanweë die familieverbintenis.  Met sy koningskap het dié verhouding egter versuur en het hy teen hulle oorlog gevoer en hulle onderwerp (2 Sam 8).

15-16: Die oordeel oor Moab begin met ’n veldslag wat wyd verwoesting in hulle gebied saai.  Selfs die profeet is ontsteld oor die omvang daarvan (vers 5).  Moab se poging om oor die Wilgerspruit (vers 7) na Edom uit te wyk bring geen verligting nie.  En die wat agterbly, word deur leeus opgevreet.  Die raad (miskien van die Edomiete?) om met Juda ’n ooreenkoms te probeer sluit, bring blykbaar geen verligting van die onmiddellike bedreiging nie.  Daar is wel die hoopvolle boodskap van die heerser uit die nageslag van Dawid wat in die toekoms weer op sy troon sal sit en reg sal laat geskied (vers 4b-5).  Dit kan egter die oordeel nie keer nie, weens hulle hoogmoed, hovaardigheid en grootpratery (vers 6).

Let op die geweldige hartseer wat met die oordeel gepaard gaan.  Dit kerm in God se binneste oor Moab (vers 11) omdat hulle tevergeefs bid tot hulle afgode.

Dit is ’n prentjie van God wat ons moet vashou as ons dink oor die geweld en lyding wat met oordeel gepaard gaan.  God self word diep geraak deur die pyn van vergelding, al kan dit nie anders nie.  En as ons Nuwe Testamenties daaroor nadink, is die betekenis duidelik.  Die kruis se lyding loop dubbel en dwars deur sy hart – aan die een kant moet Hy die sonde straf (en dit maak Hom seer), maar aan die ander kant straf Hy eintlik Homself, Sy Seun in ons plek (en dit maak Hom seer) – so het ons dit in Jesus leer ken.

Maar die einde is vir Moab naby en baie min van hulle sal oorbly.  As hulle maar net dit sou regkry om aan die woord van vers 5b-6 vas te hou vir die toekoms!

Hoofstuk 17 handel oor die orakel teen Damaskus en Efraim.

’n Bietjie agtergrond: Die Arameërs en die Israelitiese Noordryk word hier saam gegroepeer, vermoedelik weens die gesamentlike bedreiging teen Juda waarvan ons in hfst. 7 gelees het.  Vandag vind ons Damaskus in Sirië; dit is een van die oudste stede in die wêreld.

17: Let weereens op die beeldende wyse waarop die oordeelsvoltrekking beskryf word, veral met metafore uit die landbou (vers 5).  En let op hoe mooi die oorblyfsel metafoor na vore kom in vers 6.  Anders as in die meeste ander oordeelsorakels is daar dus hoop vir Israel, ten minste vir ’n oorblyfsel.  Na die oordeel oor Damaskus en die Arameërs, wat weer rus sal bring vir hulle bure, sowel as die oordeel oor Israel: “sal die mens weer sy hoop op sy Maker vestig, sy hulp van die Heilige van Israel verwag” (vers 7).  Israel sal wel die volle geweld van God se oordeel ondervind – selfs die nasies waarmee die Here dié oordeel uitvoer, sal getref word (vers 12-14) – maar daar is hoop in ’n nuwe verhouding met God.

Jesaja 13-14 – God is in beheer van die wêreldgeskiedenis

Jesaja maak hier ‘n aantal uitsprake teen Babel – 13-14:23 (vgl 21:1-10 ook), Assirië (14:24-27) en die Filistyne (14:28-32).  Tussenin is daar ’n heilsprofesie vir die verenigde volk van Juda en Israel (14:1-4).

So ’n bietjie agtergrond oor die nasies wat hier genoem word:

  • Babel – In die tyd van Jesaja was hulle ’n toekomstige mag, die sogenaamde Neo-Babiloniese ryk van Nebukadnesar, wat Assirië se mag eers ’n eeu later kon breek, met die val van Nineve in 612 v C.  Hulle wêreldryk het ongeveer 70 jaar geduur tot hulle op hul beurt deur die Persiese wêreldryk vervang is.  Die profesie van Jesaja gaan dus eers in vervulling in 539 v C toe Babilon deur Kores van die Perse en Mediërs verower is.  Die stad Babilon is in die huidige Irak.
  • Assirië – Dit was ’n baie groot empire wat sedert 1120 onder Tiglat-Pileser I vir 5 eeue die wêreldtoneel met opeenvolgende dinastieë oorheers het. Hulle beset op dié stadium ook die stad Babilon.
  • Filistyne – Dit was die seestrook langs Israel van Joppe in die noorde tot Gasa in die suide, vandag bekend as die Gasa-strook, waar steeds groot konflik tussen die Israelis aan die een kant en die Palestynse en Arabiese bevolking aan die ander kant heers.

13:1-22 Teen Babel.  Let op na 4 goed:

  1. Dit is die hoogmoed en boosheid van die trotse stad Babilon gebreek word eerder as hulle afgodsdiens per se (vers 11).  Net ’n klein oorblyfsel sal oorbly (skaarser as goud).  Die res van die nasies wat in Babilon saamgetrek is, sal terugkeer na hulle eie lande.
  2. Die verwoesting word in kosmiese terme beskryf wat duidelik metaforiese taal is (vers 10, 13 – vgl Joël 2:30-31 soos aangehaal in Hand 2:19-20).  Dit leer ons om nie te letterlik met sulke uitsprake om te gaan nie.
  3. Die wreedaardigheid van oorlog word baie grafies uitgebeeld – babatjies word papgeslaan en vrouens word verkrag (vers 16).  Dit is inderdaad ’n wrede dag (vers 9).  Die wreedheid lê egter in die dinge wat die leër doen, nie in die eerste plek in wat God doen nie.
  4. Die leër wat die verwoesting uitvoer (vers 4-5) word met die Mediërs geïdentifiseer (vers 17).

14:1-4a – Ontferming vir Juda en Jerusalem.  Dit is interessant dat die orakel onderbreek word deur ’n heilsprofesie wat dui op die nuwe toekoms wat na die val van Babel vir die verenigde volk, Juda en Israel, sal aanbreek.  Onthou net dat Jerusalem egter steeds ingesluit word by die oordeelsorakels in hoofstuk 22.  Hierdie verlossing kom dus eers ná die verwoesting.

Dit tref my hier hoe die beskrywing insluit dat Juda teruggehelp word deur ander – edik van Darius? – en dat ander volke by hulle aansluit.  Teenoor die nasies in Babel wat teruggaan na hulle eie lande toe, sluit nasies hier aan by die Godsvolk.  Die droom vir die nasies bly steeds lewendig, en is verbind aan wat God met sy volk doen.

14:4b-23 – Spotlied teen Babel.  Daar is groot blydskap oor die val van die verdrukker.  Dit tref my dat dit nie net die mense is wat bly is nie, maar metafories gesproke ook die doderyk en sy leiers (nogal ’n ironiese prentjie van dooie konings wat op trone in die doderyk sit!).  Jesaja sê selfs die bome is bly oor die val van Babilon omdat hulle nie meer afgekap sal word vir die grootskaalse bouwerk in die stad nie (14:8)!

Babel word hier die helder môrester – in Latyn Lucifer – genoem en in metaforiese taal beskryf as ’n entiteit wat na goddelike status gestreef het (konings in daardie tyd was inderdaad soms as gode beskou), maar inteendeel ’n groot terminale val gehad het.  Sy naam word nie eers in gedagtenis gehou nie (vers 20), so groot en volledig is sy val.  Die koning word met ’n besem weggevee (vers 23)!  ’n Mens vind ’n soortgelyke gedagtegang oor Tirus in Esegiël 28.

14:24-27 – Teen Assirië. Dieselfde lot as vir Babel sal die Assiriërs tref.  Hoewel dit eintlik ’n soort nagedagte is – vergelyk die vorige oordeelsprofesieë teen Assirië in hoofstuk 10 (ellende wag vir Assirië – 10:5) – word dit hier ingesluit om die volledigheid van God se oordeel te beklemtoon.  Dit berei die leser ook voor vir hoofstukke 15-23 wat in die tyd van die Assiriese oorheersing gelewer is.

14:28-32 – Teen die Filistyne. Hierdie orakel word gedateer in die jaar van koning Agas, kleinseun van Ussia, se dood (718 of 715 v C).  Waarskynlik word hier verwys na pogings om onder die juk van die Assiriërs uit te kom, deur met Juda ’n alliansie te sluit, maar wat deur God gefnuik sal word.  Daarteenoor sal die Here sy volk beskerm.

Onlangse kommentaar

  • Chris van Wyk on Psalm 119:169-176Absoluut!
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 119:169-176Psalm 119 is voorwaar ñ baie Geseënde Psalm
  • Chris van Wyk on Psalm 119:145-152Dis self opnuut weer ‘n vreugde vir my.
  • originalblizzard19aaa84c56 on Psalm 119:145-152Ek was altyd baie langtand om Ps 119 aan te durf, nou wens ek dat dit nie ophou nie... Ps 119 is te kort!!! PDH
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 119:105-112Goeie middag, baie dankie vir die deel van die kosbare verhaal wat so gepas is met die Psalm
  • originalblizzard19aaa84c56 on Psalm 119:1-8Sien waarlik die nou verband tussen OT EN NT. waarlik verhelderend. אמן
  • Chris van Wyk on Psalm 118:19-29Ek gee maar net aan wat ek ontvang het. Dit bly egter 'n kosbare voorreg.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 118:19-29Goeie môre, baie dankie dat u met ons deel wie en waar die vertaaling van die Bybel sy oorsprong gekry het, dit is so kosbaar, baie dankie vir een en elkeen wat deel is en was om hierdie kosbare woord ook vir ons in ons Taal te kon uitlê
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 110Baie dankie vir hierdie kosbaarhede wat u met ons deel. Ek het Openbaring 22 gelees en dit klink baie soos die tuin van Eden, hy praat van die boom van lewe. Die sondeval gemaak dat die mens gesondig het en dat hul nie meer in die tuin kon woon nie asgevolg van die sonde.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 109:6-19Goeie middag, ek wil ook by las dat in Psalm 139:23 bid David;"Deurgrond my, O GOD, en ken my hart, toets my en ken my gedagtes" GOD ken die mens en HY deersoek die hart en die gedagtes. Ek het self al telkens gebid, HERE vergewe hulle want hulle weet nie wat hulle doen nie en dan soos die woord sel…
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 107:33-38Baie dankie vir hierdie verduideliking. Ons lees die eerste keer van Baäl-Peor in Numeri 25. Baäl was die Kanaänitiese god van vrugbaarheid, terwyl Peor verwys na die berg in Moab waar hy onder andere aanbid is. Hy is ook in Kanaän aanbid en was 'n groot versoeking vir die Israeliete met hulle vesti…
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 107:33-38GOD is so goeie GOD. HY gee vir ons die voorskrifte vanaf Deut. 28 en dan volg HY dit ook op in Psalm 107 en sê as ons net doen wat HY ons beveel sal dit met ons goed gaan en ons geseënd wees, nie oor ons nie, maar oor GOD en wie HY is.
  • Chris van Wyk on Psalm 106:43-48Ons lees die eerste keer van Baäl-Peor in Numeri 25. Baäl was die Kanaänitiese god van vrugbaarheid, terwyl Peor verwys na die berg in Moab waar hy onder andere aanbid is. Hy is ook in Kanaän aanbid en was 'n groot versoeking vir die Israeliete met hulle vestiging in die Beloofde Land.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 107:1-9Psalm 1:1 Stel dit so mooi hoe ons, ons pad moet hou en dat ons moet hou en bly by GOD se gebooie
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 106:43-48Goeie naand, Psalm 106: 28 Kan u asb vir my verduidelik wat Baâlpeor is ? Baie dankie Amanda