Skip to main content

Tag: Jesaja

Jesaja 37 – Gebed en vertroue beweeg God tot optrede

Let op die dialoog wat onstaan tussen Hiskia, Jesaja, Sanherib en die Here in reaksie op die Assiriese aggressie en lastering.
  1. Hiskia se boodskap aan Jesaja: Hiskia stuur ‘n boodskap na Jesaja van die huis van die Here af oor die moeilikheid waarin die stad hulle bevind en brei uit oor die vernedering wat nie net vir Israel te beurt geval het nie, maar wat ook die Here self gesmaad het.  Let op hoe hy hier nog vir Jesaja vra om vir die agtergeblewenes te bid, iets wat hy binnekort op homself sal neem – 37:1-4.
  2. Jesaja se boodskap aan Hiskia: Jesaja stuur ‘n boodskap na Hiskia van die Here af dat Hy die Assiriese uitdaging sal afweer, trouens die Here sal die koning laat terugkeer na sy eie land en hom daar laat doodmaak, soos later bevestig word – 37:5-7.
  3. Hoofadjudant se berig aan Sanherib: Die hoofadjudant tref Sanherib aan waar hy besig is om Libna (stad in Juda, egter onseker waar sy ligging was) aan te val, vermoedelik om hom in te lig oor wat in Jerusalem gebeur het – 37:8.
  4. Sanherib se boodskap aan Hiskia: Sanherib kry ook berig dat koning Tirhaka van Ethiopië (eintlik op dié stadium ‘n generaal wat eers later koning word van Egipte, en nog later van Ethiopië) op pad was om hom aan te val.  Hy stuur briewe aan Hiskia moontlik met die hoop dat hy hulle bang kan praat terwyl hy die uitdaging uit die Suide kan hanteer, waarin hy  uitbrei oor al sy vorige suksesse (Gosan was in Mesopotamië; Haran was die stad in Ur waarvandaan Abraham na Kanaän getrek het; Resef is die moderne Rusafa; Eden in Telassar is onseker, moontlik ‘n gebied naby die Eufraat) – 37:9-13.
  5. Hiskia se gebed tot die Here: Uiteindelik wend Hiskia hom direk tot die Here en sprei die briewe in gebed voor Hom uit.  Let op hoe Hiskia die Here se Almag, Alleen-heerskappy en Skepper-status erken en vra dat Hy sal luister en sal oplet wat met hulle gebeur.  Hy erken wel die mag van Assirië, maar nie die mag van sy gode nie!  Die spits van sy gebed is die lastering wat Sanherib pleeg teenoor die Here, met die versoek dat die Here hulle sal red as ‘n teken aan alle nasies dat “net U, Here, God is”– 37:14-20.
  6. Die Here se antwoord aan Hiskia deur Jesaja: Let op hoe die Here vir Hiskia deur sy profeet antwoord.  Dit is in twee dele: ‘n woord aan Sanherib (37:21-29) en ‘n woord aan Hiskia (37:30-35).  Sanherib word gewys op sy flagrante oorskatting van sy mag wat hom verlei het om God te minag.  Hy is net die instrument van die Here wat nou weens sy arrogante hoogmoed verwerp sal word.  Hiskia word ‘n teken gegee, soos aan sy pa ‘n paar jaar tevore, van ‘n normalisering van die landbou wat die vryheid van die Assiriese verdrukking vir die volk simboliseer.  Let op die redes vir dié optrede van God: 1) ter wille van Homself en sy eer en 2) ter wille van God se dienaar Dawid en Sy verbintenis aan dié se nageslag – 37:21-35.
  7. Die engel van die Here se optrede teen Sanherib en die Assiriese leërmag: Die engel van die Here, wat eintlik maar net God self is, tree teen Sanherib op met ‘n groot slagting en sonder dat Hisia en sy mense ‘n vinger verroer, word die Assiriese bedreiding die hoof gebied.  Sanherib is terug na sy hoofstad Nineve waar hy deur twee van sy seuns doodgemaak is (waarskynlik 20 jaar later in 681 v C soos Assiriese inskripsies te kenne gee), en deur ‘n derde seun opgevolg is – 37:36-38.

Op ‘n baie praktiese wyse word die boodskap van Jesaja 30 hier geïllustreer: in stille vertroue en gebed kom God in beweging en red Hy sy volk van bedreiging.

Jesaja 36 – Stilwees en vertroue teen ‘n oormag

‘n Paar verduidelikings:
  • Lakis lê so 40 km suid van Jerusalem – opgrawings bevestig die verwoesting van Lakis deur die Assiriërs.  Assirië val hulle dus vanuit hulle eie grondgebied aan.
  • Sanherib het koning van Assirië geword in 705 v C as Sargon II se opvolger en sy ryk begin uitbrei na Judese gebied.
  • Hiskia het in 715 v C koning geword, wat beteken dié beleëring het in 701 v C plaasgevind.
  • Die plek vanwaar hulle die stad beleër het, die kanaal op pad na die Bleikveld, is presies waar Agas die stad wou beveilig met die vorige bedreiging van die Arameërs en die noordryk (Jes 7:3), baie duidelik ‘n strategiese punt.
  • Eljakim en Sebna tref ‘n mens ook in hoofstuk 22:15-25 aan, oor wie Jesaja daar ‘n oordeel uitgespreek het.  Hulle boesem ook nie hier veel vertroue in nie, en dit wil lyk asof hulle rolle reeds omgeruil is soos vroeër voorspel.

Let op met hoeveel finesse die hoofadjudant van Sanherib die Joodse afvaardiging bang praat.

  • Oor Egipte: Hy vat hulle aan oor hulle poging om met Egipte ‘n alliansie aan te gaan, en wys uit hoe vrugteloos dit is.  Woorde is nie genoeg nie!  (36:4-6; 8-9)
  • Oor Hiskia: Hy verdraai die betekenis van die hervormings wat Hiskia aangebring het, en sê dat dit die Here se altare is wat Hiskia verwoes het – dit terwyl dit juis nie so was nie; Hiskia het die wet se voorskrifte nagekom om die Joodse volk te lei om net in Jerusalem te aanbid (36:7).  Die hoofadjudant vry daarmee natuurlik ook na die Joodse teëstanders van Hiskia se hervormings – slim!
  • Oor God: En Hy maak aanspraak daarop dat dit God se wil is dat hulle Juda onderwerp.  Let op hoe hy God se persoonsnaam Jahwe (Here) vir sy doel inspan (36:10)!  Maar dan gaan hy voort om juis dié God te relativeer as Een wat hulle nie uit Assirië se hand sal kan red nie.

Geen wonder die Joodse afvaardiging wil nie hê die manskappe moet hoor wat gesê word nie!  Die hoofadjudant spreek dan egter juis die manskappe toe en raai hulle aan om nie op die koning of sy God te vertrou nie.  Anders sal dit hulle suur bekom.  Onderwerping bring vir hulle vrede, al is dit nie in hulle eie land nie.  Maar teënstand sal tot groot verdrukking lei.

Let op hoe die koning die manskappe beveel om nie te antwoord nie, en hulle stilbly.  Die eerste tekens van ‘n gehoorsaamheid aan die opdrag van die Here in Jes 30 dat hulle krag lê in stilwees en vertroue, saam met gebed, soos ons in die volgende hoofstuk gaan sien.

WEEK 5 – Jesaja 36-39

Ons gaan dié 4 hoofstukke ‘n hoofstuk ‘n dag deurlees, en die laaste dag ‘n bietjie terugkyk na wat die Here ons al geleer het van Homself en sy manier om met mense, met my, te werk.  Dit gaan dus ‘n rustige week wees, wat jy kan gebruik om diep na te dink en te reflekteer oor die betekenis van die leeswerk tot dusver.

Hoofstuk 36-39 kom byna woordeliks ooreen met 2 Konings 18-20, behalwe vir 2 goed:  1) Hiskia se lied in 38:9-20 kom net in Jesaja voor en 2) die boete wat Hiskia aan Sanherib betaal in 2 Kon 18:14-16 kom nie voor in Jesaja nie (vgl ook 2 Kron 32). Jy kan ook my bydrae oor 2 Konings se weergawe lees: 2 Konings 18-20 – God luister waar sy eer in gedrang kom.

Die fokus is op die bedreiging van Assirië en die Here se ingrype om Juda te verlos, waarin Hiskia dit regkry, anders as sy pa Agas, om sy vertroue in God en nie in Egipte te plaas nie.  Daarna kom die besoek van die Babelse afvaardiging, wat Hiskia egter verlei om sy skatte in hoogmoed vir hulle ten toon te stel.  Die oordeelsuitspraak van Jesaja op dié optrede van Hiskia lei dan die volgende deel van die boek in, wat afspeel teen die bedreiging en onderdrukking deur die einste Babel.

Ons lees hoofstuk 36-39 as volg:

Donderdag 17 Februarie Jesaja 36
Vrydag 18 Februarie Jesaja 37
Maandag 21 Februarie Jesaja 38
Dinsdag 22 Februarie Jesaja 39
Woensdag 23 Februarie Terugkyk na deel I

Jesaja 34-35 – God bring verandering deur oordeel en redding

Voor Jesaja die historiese verhaal van Hiskia in hoofstuk 36-39 gaan vertel, wat baie van die vorige hoofstukke geantisipeer het, word hier nog een laaste keer van die oordeel oor die nasies (hfst 34), en die redding van God se mense (hfst 35) gepraat.

Hoofstuk 34

Die fokus skuif van die Mesiaanse koning na die herhalende oordeelsboodskap oor die nasies.  Weereens kry dit ‘n kosmiese kleur – die hemelliggame smelt weg, die sterre verloor hulle glans – soos dit ook in die NT in 2 Pet 3:10-12 aangehaal word.

Hierdie keer is dit Edom, die nageslag van Esau, die broer van Jakob-Israel, wat – net soos Moab in hoofstuk 25 – uitgesonder word as simbool van wat met die nasies sal gebeur (34:5-17).  In ‘n grusame uitbeelding word die mense soos diere geslag as offers vir Hom (Bosra is hulle hoofstad).  Die land word verbrand (die brandende teer herinner aan die verwoesting van Sodom en Gomorra in Gen 19) en onbewoonbaar. Net die diere sal daar tuis wees.  En let op dat dié skrikwekkende oordeel deur die Gees van die Here voltrek word, dieselfde Gees wat vrede bring vir dié wat die Here dien (32:15).  En dit word in God se boek opgeskryf (verwysing na die boek Jesaja?) as getuienis vir die nageslag.

Hoofstuk 35

Met pragtige natuurbeelde word die redding van God se volk beskryf – die woestyn oortrek met affodille.  En Jesaja roep almal op om mekaar te bemoedig met die boodskap van God se ingrype en teenwoordigheid.  Hy oordeel die vyande, maar red dié noodlydendes: blindes, dowes, lammes en stommes.  Water vloei in die woestyn.  Gevare verdwyn, en uitbundige vreugde bars los uit die skare, die oorblyfsel wat die Here gered het.

Jesaja 32-33 – Die Here is ons Koning

As kroon op die belofte van ‘n omkeer vir die volk wat deur vertroue en gebed te weeg gebring sal word, belowe God ‘n koning wat reg sal regeer saam met ‘n amptenary wat reg sal laat geskied.  Die koning sal met die Gees van Bo toegerus wees (32:15); Hy sal God self wees (33:22).

In 6 perikope word aspekte daarvan uitgespel:

  1. 32:1-8 – Die koning voed mense op om reg te lewe
  2. 32:9-20 – Die Gees vestig reg en vrede
  3. 33:1-6 – God is die Een op wie jy kan vertrou
  4. 33:7-9 – Die oordeel ontsien niemand nie
  5. 33:10-16 – Net dié wat reg bly doen, sal beskerm word
  6. 33:17-24 – Die Here is ons Koning!

32:1-8: Die profeet skets ‘n droom-prentjie van die effek wat die koning wat God sal stuur op die mense sal hê.  Let op hoe die beskerming en versorging van die land se mense voorop staan in die koning en sy amptenare se agenda.  Dit het ‘n opvoedende effek op die mense wat hulle menswaardigheid bou.  Dit laat ‘n mens dink aan wat nodig is vir enige samelewing om voorspoed te beleef: 1) veiligheid, 2) sosiaal-maatskaplike ontwikkeling en 3) onderwys en opvoeding.

Hoe mooi klink die ideaal nie: “’n dwaas sal nie meer as eerbaar beskou word nie en ‘n skurk nie meer as edel beskryf word nie”(32:5).  Goed sal goed wees, en kwaad kwaad.  Niemand sal daaroor meer enige twyfel hê nie.  Let ook op die onderskeid tussen ‘n dwaas en ‘n skurk.  Die dwaas weet nie van beter nie; die skurk buit ander se dwaasheid tot sy eie voordeel uit.  Daarteenoor staan die eerbare en edel mens wat weet hoe om te leef, en opkom vir wat eerbaar is.  Die toppunt van dit alles is dat die koning hulle ook in die regte verhouding met God bring, wat die sentrum van alle wysheid is.

32:9-20: Die profeet keer terug na die huidige situasie en kritiseer die vrouens met ‘n skerp tong!  Die rede daarvoor lê in hulle onbesorgdheid en selfversekerdheid wat tot die oordeel van die Here sal lei.  Die verwysing na Ofel (vers 14), dui waarskynlik ‘n heuwel in Jerusalem aan, waarop die paleis gebou was (2 Kron 33:14).

Dit sal egter verander wanneer die “Gees van Bo af op ons uitgestort word”, wat die vrede sal herstel deurdat almal sal fokus op die doen van dít wat reg is.

Die belofte van die Gees is iets wat reeds in Jesaja 11:2 voorspel is, en aan die “takkie” gekoppel is, en weer in Jesaja 44:3 ge-eggo sal word.  Dit is ‘n gedagterigting wat uitgebrei word deur Esegiël (39:29) ‘n bietjie meer as ‘n eeu later.  Ook Joël (2:28), na die ballingskap, borduur hierop voort.  Sy voorspelling word met Pinkster in verband gebring (Hand 2), iets wat Jesaja reeds in die 8ste eeu aangeroer het.

33:1-6: ‘n Oordeelboodskap word ook uitgespreek oor die verwoester – soos telkemale al in Jesaja gedoen is – gekoppel aan die gebed van God se mense, wat op Hom vertrou om reg in Sion te laat geskied.  Let op hoe diepsinnig God beskrywe word: “Hy is die Een op wie jy jou lewe lank kan vertrou!” Hy is die kosbare besitting wat werklik kan help!

33:7-9: Jesaja keer terug na die situasie in Jerusalem en beskrywe die nood wat die land beleef weens die verdrag wat verbreek is (waarskynlik met Assirië – vgl 2 Kon 18:14: Hiskia het sy deel nagekom, 10 ton silwer betaal, maar Sanherib het steeds Jerusalem beleër).  Saron is die naam vir die kusvlakte ongeveer waar Tel Aviv vandag is; Basan is ‘n berg op die Golan hoogte; Karmel is ook ‘n berg, dié een waar Elia die Baälgodsdiens so beslissend uitgedaag het (1 Kon 18).

33:10-16: Dié nood is nie net vanweë die bedreiging van buite, maar ook weens die volk se sonde.  Let op die ooreenkoms van die volk se woorde (strooi, kaf) met Jesaja wat ook bewus geword het van sy lippe wat reiniging nodig het (Jes 6).  Die oordeel oor hulle sal as getuienis dien van God se mag.  Net die mens wat opreg is in wat hy sê, en reg en eties bly in wat hy doen, sal ‘n skuilplek hê in die oordeel wat kom.

33:17-24: Jesaja keer hier terug na die tema waarmee hy die gedeelte begin het, die koning wat sal kom en hulle sal red.  Die verwoesting van die oordeel sal vervaag as ‘n onwerklike herinnering, en ‘n era van vrede en veiligheid sal aanbreek met die eintlike koning, Jahwe, wat nie net as Koning sal optree nie, maar ook as die Regter en Leidsman, temas wat in die NT met Jesus se koninkryk verbind word (bv. Hebr 12:4).  Vergifnis en genesing sal almal se deel wees.

Onlangse kommentaar

  • Chris van Wyk on Psalm 119:169-176Absoluut!
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 119:169-176Psalm 119 is voorwaar ñ baie Geseënde Psalm
  • Chris van Wyk on Psalm 119:145-152Dis self opnuut weer ‘n vreugde vir my.
  • originalblizzard19aaa84c56 on Psalm 119:145-152Ek was altyd baie langtand om Ps 119 aan te durf, nou wens ek dat dit nie ophou nie... Ps 119 is te kort!!! PDH
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 119:105-112Goeie middag, baie dankie vir die deel van die kosbare verhaal wat so gepas is met die Psalm
  • originalblizzard19aaa84c56 on Psalm 119:1-8Sien waarlik die nou verband tussen OT EN NT. waarlik verhelderend. אמן
  • Chris van Wyk on Psalm 118:19-29Ek gee maar net aan wat ek ontvang het. Dit bly egter 'n kosbare voorreg.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 118:19-29Goeie môre, baie dankie dat u met ons deel wie en waar die vertaaling van die Bybel sy oorsprong gekry het, dit is so kosbaar, baie dankie vir een en elkeen wat deel is en was om hierdie kosbare woord ook vir ons in ons Taal te kon uitlê
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 110Baie dankie vir hierdie kosbaarhede wat u met ons deel. Ek het Openbaring 22 gelees en dit klink baie soos die tuin van Eden, hy praat van die boom van lewe. Die sondeval gemaak dat die mens gesondig het en dat hul nie meer in die tuin kon woon nie asgevolg van die sonde.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 109:6-19Goeie middag, ek wil ook by las dat in Psalm 139:23 bid David;"Deurgrond my, O GOD, en ken my hart, toets my en ken my gedagtes" GOD ken die mens en HY deersoek die hart en die gedagtes. Ek het self al telkens gebid, HERE vergewe hulle want hulle weet nie wat hulle doen nie en dan soos die woord sel…
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 107:33-38Baie dankie vir hierdie verduideliking. Ons lees die eerste keer van Baäl-Peor in Numeri 25. Baäl was die Kanaänitiese god van vrugbaarheid, terwyl Peor verwys na die berg in Moab waar hy onder andere aanbid is. Hy is ook in Kanaän aanbid en was 'n groot versoeking vir die Israeliete met hulle vesti…
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 107:33-38GOD is so goeie GOD. HY gee vir ons die voorskrifte vanaf Deut. 28 en dan volg HY dit ook op in Psalm 107 en sê as ons net doen wat HY ons beveel sal dit met ons goed gaan en ons geseënd wees, nie oor ons nie, maar oor GOD en wie HY is.
  • Chris van Wyk on Psalm 106:43-48Ons lees die eerste keer van Baäl-Peor in Numeri 25. Baäl was die Kanaänitiese god van vrugbaarheid, terwyl Peor verwys na die berg in Moab waar hy onder andere aanbid is. Hy is ook in Kanaän aanbid en was 'n groot versoeking vir die Israeliete met hulle vestiging in die Beloofde Land.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 107:1-9Psalm 1:1 Stel dit so mooi hoe ons, ons pad moet hou en dat ons moet hou en bly by GOD se gebooie
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 106:43-48Goeie naand, Psalm 106: 28 Kan u asb vir my verduidelik wat Baâlpeor is ? Baie dankie Amanda