Jakobus 3 – Tree met sagmoedige wysheid op
LEES
Raak stil voor die Here met ’n kort gebed. Lees die teksgedeelte deeglik deur. Let op vir temas in die gedeelte. Vra jouself af: Wat sê dit van God? Wat sê dit van mense? Wat sê dit van die wêreld? Soek vir een sleutelgedagte wat jou besonderlik tref. Skryf dit in jou joernaal neer. Lees dan wat ek hieronder geskryf het.
My bydrae
Die feit dat ‘n mens flink moet wees om te luister en stadig om te praat, beteken nie dat ‘n mens stom deur die lewe moet gaan nie. Inteendeel. Daarom wy Jakobus uit oor hoe belangrik dit is om op die regte wyse die tong te gebruik – om te seën eerder as te vervloek. Só werk die tipe sagmoedige wysheid wat Jakobus voorstel.
3:1-12 – Die krag van woorde
‘n Mens sou met Jakobus kon saamstem dat almal van ons dikwels struikel met woorde. En dink dat dit ‘n algemeen menslike kwaal is, iets wat verstaanbaar en daarom verskoonbaar is. Jakobus herinner ons egter daaraan hoe ‘n groot invloed die tong kan hê. Met twee metafore dui hy die positiewe rigtinggewende krag van woorde aan – soos ‘n stang in die bek van ‘n perd en soos die roer van ‘n boot – asook met ‘n derde negatiewe metafoor die destruktiewe krag van woorde – soos ‘n klein vuurtjie wat ‘n groot hoop hout aan die brand steek.
Hy is eintlik meer bekommerd oor die laaste negatiewe tekening van die krag van woorde, omdat die tong “’n wêreld van ongeregtigheid” is. Dit steek die hele lewensloop aan, soos “’n onbestendige kwaad, vol dodelike gif.” Dit kom veral na vore in die dubbelsinnige karakter van ons woorde: “Daarmee loof ons die Here en Vader, en daarmee vervloek ons mense wat na die beeld van God geskep is.” Dít, sê Jakobus, kan tog nie. Dít hoort tog nie só nie.
Met vier verdere metafore wys hy die onhoudbaarheid van só ‘n manier van praat uit: ‘n fontein kan nie vars én bitter water gee nie, ‘n vyeboom kan nie olywe dra nie, ‘n druiwestok kan nie vye dra nie, en ‘n brak fontein kan nie soet water gee nie. Die manier van praat moet pas by die karakter van die mens wat praat. Daar moet koherensie wees tussen wat ons sê en hoe ons is en doen.
Dié vermaning is uiteraard op al die gelowiges van toepassing, maar veral op die leermeesters. Hulle sal nie net strenger geoordeel word in terme van die ooreenkoms tussen hulle woorde en dade nie, maar spesifiek ook aan die rigtinggewende of destruktiewe krag van hulle woorde. Daarom is só ‘n roeping nie iets wat ‘n mens aanvaar sonder om goed daaroor na te dink nie. Dit is nie almal beskore nie.
3:13-18 – Die vredemakende krag van sagmoedige wysheid
Jakobus brei vervolgens uit oor die bron vanwaar dié rigtinggewende of destruktiewe kragte ontspring. Die wysheid van bó af, d.w.s. van God af, kan met agt byvoeglike naamwoorde beskryf word as suiwer, vredeliewend, bedagsaam, inskiklik, vol deernis, vol goeie vrugte, onpartydig en ongeveins.
Die wysheid wat aards is, kan beskryf word as niegeestelik en demonies, en kom na vore in bittere afguns en selfsug, leuens, wanorde en allerlei gemene dade.
Die wyses en verstandiges onder die geloofsgemeenskap wys in hulle goeie gedrag en dade die sagmoedige karakter van hulle wysheid. Die ander die teendeel deur die afguns en selfsug, wanorde en gemeenheid wat hulle lewens kenmerk.
Jakobus wys daarop dat hierdie sagmoedige wysheid ‘n vredemakende krag het wat geregtigheid tot gevolg het. Iets om te onthou in die luister na wat God se ingeplante woord ons wysmaak oor die lewe.
Boodskap
Woorde het ongelooflike krag. Dit kan rigting gee. Dit kan ook vernietig. Die geheim lê in die gebed om wysheid wat van bó af kom, van dié God wat vrygewig en genadig voorsien (Jak. 1:5). Waar God se wysheid die deurslag gee, kom daar vrede en geskied reg en geregtigheid. Waar dit nie die deurslag gee nie, daar heers wanorde en allerlei gemene dade.
LUISTER
Dink na oor wat God vir jou prakties deur hierdie gedeelte wil sê. Vra jouself af: Wat vra dit van jou? Wat belowe dit vir jou? Wat moet jy dink of doen daarmee?
LEEF
Besluit hoe jy daarop gaan reageer. Sê dit vir die Here in gebed en skryf dit neer in jou joernaal. Laat die boodskap wat God jou gee met jou saamgaan.
Vicky
Goeiedag,
Dalk sal u my kan help met iets wat my baie deurmekaar maak asb. 🙂
Ek glo en verstaan dat ons woorde krag dra, maar hoe groot is die impak werklik?
Ek is geleer of onder die indruk gestel dat enige negatiewe woorde teenoor ‘n ander person krag dra en dat jy sodoende hulle kan vervloek. Soos byvoorbeeld as mens ‘n ander verwens met woorde soos. Dra dit steeds krag as die woorde in ‘n grap bedoel is?
Ek weet nie of ek dalk heeltemal die pot mis sit nie, maar ek konsentreer altyd erg daarop om nie dinge oor mense uit te spreek nie en as iemand so iets doen teenoor my of ‘n ander, dan kanselleer ek dit uit in die Naam van Jesus. Redeneer ek verkeerd?
Groete,
Vicky
Chris van Wyk
Ons woorde het nie ‘n outomatiese (magiese) krag soos mense soms van ‘n vloek of ‘n seën verstaan nie. Ons woorde moet gehoor word voordat dit ‘n krag kan uitoefen. Maar, selfs wanneer woorde gehoor word, is die krag daarvan nie outomaties (magies) nie.
* As iemand iets opbouend sê oor jou, kan jy dit ontkrag deur dit nie te glo nie.
* Of as iemand iets afbrekends sê, kan jy dit teenstaan, deur te besluit om liewer te glo wat die Here of ander (of jyself) oor jouself glo.
Dit beteken ons moet erns maak met ons woorde, maar ook onderskei tussen dié dinge wat vir ons gesê word. ‘n Grap kan bv. ‘n opbouende of afbrekende krag hê, afhangende van wat jy daarmee maak.
Ek hou veral van Paulus se hantering hiervan in Filippense 4:6-9.
* Hy begin deur te sê: “Wees altyd bly in die Here! Ek herhaal: Wees bly! Wees inskiklik teenoor alle mense. Die Here is naby.”
* Dan bemoedig hy ons deur alles met God deur te gesels: “Moet oor niks besorg wees nie, maar maak in alles julle begeertes deur gebed en smeking en met danksegging aan God bekend.”
* En wat gebeur dan? “En die vrede van God wat alle verstand te bowe gaan, sal oor julle harte en gedagtes die wag hou in Christus Jesus.” Hy hou die wag, bewaar en beskerm ons, in ons harte en gedagtes, in ons gevoelens en denke! Hy gee ons sy vrede in ons gevoelens en gedagtes.
* Daarom raai Paulus ons aan: “Verder, broers en susters, alles wat waar is, alles wat edel is, alles wat reg is, alles wat rein is, alles wat mooi is, alles wat prysenswaardig is — watter deug of lofwaardige saak daar ook mag wees — daarop moet julle julle gedagtes rig.” Dit is die manier waarop ons met woorde moet omgaan.
* Dit sluit ons dade in: “En wat julle van my geleer en ontvang het, en gehoor en gesien het, dit moet julle doen.”
* En die grootste belofte is: “En God wat vrede gee, sal by julle wees.”
Lees meer by my Bybelskool oor Filippense 4.