Skip to main content

Jakobus 3 – Tree met sagmoedige wysheid op

LEES

JakobusRaak stil voor die Here met ’n kort gebed. Lees die teksgedeelte deeglik deur. Let op vir temas in die gedeelte. Vra jouself af: Wat sê dit van God? Wat sê dit van mense? Wat sê dit van die wêreld? Soek vir een sleutelgedagte wat jou besonderlik tref. Skryf dit in jou joernaal neer. Lees dan wat ek hieronder geskryf het.

My bydrae

Die feit dat ‘n mens flink moet wees om te luister en stadig om te praat, beteken nie dat ‘n mens stom deur die lewe moet gaan nie. Inteendeel. Daarom wy Jakobus uit oor hoe belangrik dit is om op die regte wyse die tong te gebruik – om te seën eerder as te vervloek. Só werk die tipe sagmoedige wysheid wat Jakobus voorstel.

3:1-12 – Die krag van woorde

‘n Mens sou met Jakobus kon saamstem dat almal van ons dikwels struikel met woorde. En dink dat dit ‘n algemeen menslike kwaal is, iets wat verstaanbaar en daarom verskoonbaar is. Jakobus herinner ons egter daaraan hoe ‘n groot invloed die tong kan hê. Met twee metafore dui hy die positiewe rigtinggewende krag van woorde aan – soos ‘n stang in die bek van ‘n perd en soos die roer van ‘n boot – asook met ‘n derde negatiewe metafoor die destruktiewe krag van woorde – soos ‘n klein vuurtjie wat ‘n groot hoop hout aan die brand steek.

Hy is eintlik meer bekommerd oor die laaste negatiewe tekening van die krag van woorde, omdat die tong “’n wêreld van ongeregtigheid” is. Dit steek die hele lewensloop aan, soos “’n onbestendige kwaad, vol dodelike gif.” Dit kom veral na vore in die dubbelsinnige karakter van ons woorde: “Daarmee loof ons die Here en Vader, en daarmee vervloek ons mense wat na die beeld van God geskep is.” Dít, sê Jakobus, kan tog nie. Dít hoort tog nie só nie.

Met vier verdere metafore wys hy die onhoudbaarheid van só ‘n manier van praat uit: ‘n fontein kan nie vars én bitter water gee nie, ‘n vyeboom kan nie olywe dra nie, ‘n druiwestok kan nie vye dra nie, en ‘n brak fontein kan nie soet water gee nie. Die manier van praat moet pas by die karakter van die mens wat praat. Daar moet koherensie wees tussen wat ons sê en hoe ons is en doen.

Dié vermaning is uiteraard op al die gelowiges van toepassing, maar veral op die leermeesters. Hulle sal nie net strenger geoordeel word in terme van die ooreenkoms tussen hulle woorde en dade nie, maar spesifiek ook aan die rigtinggewende of destruktiewe krag van hulle woorde. Daarom is só ‘n roeping nie iets wat ‘n mens aanvaar sonder om goed daaroor na te dink nie. Dit is nie almal beskore nie.

3:13-18 – Die vredemakende krag van sagmoedige wysheid

Jakobus brei vervolgens uit oor die bron vanwaar dié rigtinggewende of destruktiewe kragte ontspring. Die wysheid van bó af, d.w.s. van God af, kan met agt byvoeglike naamwoorde beskryf word as suiwer, vredeliewend, bedagsaam, inskiklik, vol deernis, vol goeie vrugte, onpartydig en ongeveins.

Die wysheid wat aards is, kan beskryf word as niegeestelik en demonies, en kom na vore in bittere afguns en selfsug, leuens, wanorde en allerlei gemene dade.

Die wyses en verstandiges onder die geloofsgemeenskap wys in hulle goeie gedrag en dade die sagmoedige karakter van hulle wysheid. Die ander die teendeel deur die afguns en selfsug, wanorde en gemeenheid wat hulle lewens kenmerk.

Jakobus wys daarop dat hierdie sagmoedige wysheid ‘n vredemakende krag het wat geregtigheid tot gevolg het. Iets om te onthou in die luister na wat God se ingeplante woord ons wysmaak oor die lewe.

Boodskap

Woorde het ongelooflike krag. Dit kan rigting gee. Dit kan ook vernietig. Die geheim lê in die gebed om wysheid wat van bó af kom, van dié God wat vrygewig en genadig voorsien (Jak. 1:5). Waar God se wysheid die deurslag gee, kom daar vrede en geskied reg en geregtigheid. Waar dit nie die deurslag gee nie, daar heers wanorde en allerlei gemene dade.

LUISTER

Dink na oor wat God vir jou prakties deur hierdie gedeelte wil sê. Vra jouself af: Wat vra dit van jou? Wat belowe dit vir jou? Wat moet jy dink of doen daarmee?

LEEF

Besluit hoe jy daarop gaan reageer. Sê dit vir die Here in gebed en skryf dit neer in jou joernaal. Laat die boodskap wat God jou gee met jou saamgaan.


Discover more from Bybelskool

Subscribe to get the latest posts sent to your email.

Jakobus


Chris van Wyk

Ek is Direkteur van Bediening en Geestelike Vorming by Veritas College International. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am Director of Ministry and Spiritual Formation at Veritas College International. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Comments

Maak 'n opmerking

Onlangse kommentaar

  • Chris van Wyk on Psalm 119:169-176Absoluut!
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 119:169-176Psalm 119 is voorwaar ñ baie Geseënde Psalm
  • Chris van Wyk on Psalm 119:145-152Dis self opnuut weer ‘n vreugde vir my.
  • originalblizzard19aaa84c56 on Psalm 119:145-152Ek was altyd baie langtand om Ps 119 aan te durf, nou wens ek dat dit nie ophou nie... Ps 119 is te kort!!! PDH
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 119:105-112Goeie middag, baie dankie vir die deel van die kosbare verhaal wat so gepas is met die Psalm
  • originalblizzard19aaa84c56 on Psalm 119:1-8Sien waarlik die nou verband tussen OT EN NT. waarlik verhelderend. אמן
  • Chris van Wyk on Psalm 118:19-29Ek gee maar net aan wat ek ontvang het. Dit bly egter 'n kosbare voorreg.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 118:19-29Goeie môre, baie dankie dat u met ons deel wie en waar die vertaaling van die Bybel sy oorsprong gekry het, dit is so kosbaar, baie dankie vir een en elkeen wat deel is en was om hierdie kosbare woord ook vir ons in ons Taal te kon uitlê
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 110Baie dankie vir hierdie kosbaarhede wat u met ons deel. Ek het Openbaring 22 gelees en dit klink baie soos die tuin van Eden, hy praat van die boom van lewe. Die sondeval gemaak dat die mens gesondig het en dat hul nie meer in die tuin kon woon nie asgevolg van die sonde.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 109:6-19Goeie middag, ek wil ook by las dat in Psalm 139:23 bid David;"Deurgrond my, O GOD, en ken my hart, toets my en ken my gedagtes" GOD ken die mens en HY deersoek die hart en die gedagtes. Ek het self al telkens gebid, HERE vergewe hulle want hulle weet nie wat hulle doen nie en dan soos die woord sel…
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 107:33-38Baie dankie vir hierdie verduideliking. Ons lees die eerste keer van Baäl-Peor in Numeri 25. Baäl was die Kanaänitiese god van vrugbaarheid, terwyl Peor verwys na die berg in Moab waar hy onder andere aanbid is. Hy is ook in Kanaän aanbid en was 'n groot versoeking vir die Israeliete met hulle vesti…
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 107:33-38GOD is so goeie GOD. HY gee vir ons die voorskrifte vanaf Deut. 28 en dan volg HY dit ook op in Psalm 107 en sê as ons net doen wat HY ons beveel sal dit met ons goed gaan en ons geseënd wees, nie oor ons nie, maar oor GOD en wie HY is.
  • Chris van Wyk on Psalm 106:43-48Ons lees die eerste keer van Baäl-Peor in Numeri 25. Baäl was die Kanaänitiese god van vrugbaarheid, terwyl Peor verwys na die berg in Moab waar hy onder andere aanbid is. Hy is ook in Kanaän aanbid en was 'n groot versoeking vir die Israeliete met hulle vestiging in die Beloofde Land.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 107:1-9Psalm 1:1 Stel dit so mooi hoe ons, ons pad moet hou en dat ons moet hou en bly by GOD se gebooie
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 106:43-48Goeie naand, Psalm 106: 28 Kan u asb vir my verduidelik wat Baâlpeor is ? Baie dankie Amanda