Skip to main content

Jakobus 1:19-2:26 – Doen wat die woord sê

LEES

JakobusRaak stil voor die Here met ’n kort gebed. Lees die teksgedeelte deeglik deur. Let op vir temas in die gedeelte. Vra jouself af: Wat sê dit van God? Wat sê dit van mense? Wat sê dit van die wêreld? Soek vir een sleutelgedagte wat jou besonderlik tref. Skryf dit in jou joernaal neer. Lees dan wat ek hieronder geskryf het.

My bydrae

As God vrygewig is, as Hy genadig is en as Hy die beste voorsien, veral wanneer mens van hom wysheid vra (Jak. 1:5), dan is dit net logies dat Hy kan verwag dat ’n mens sal doen wat Hy sê. Die wysheid wat Hy gee, is bedoel vir optrede en gehoorsaamheid. Ons moet doen wat Hy sê.

Jakobus pas hierdie waarhede van God nou toe op ’n aantal praktiese maniere wat as volg gekategoriseer kan word:

  • Doen wat die woord sê – 1:19-27
  • Moenie volgens die uiterlike beoordeel nie – 2:1-12
  • Doen wat jy glo – 2:13-26

Let veral op hoe die twee liefdegebooie – om God lief te hê en jou naaste soos jouself – verweef word regdeur hierdie gedeelte. Dit is twee kante van dieselfde munt.

1:19-27 – Doen wat die woord sê

FLINK OM TE LUISTER: Om te kan doen wat die woord sê, moet ‘n mens uiteraard in die eerste plek die woord van God kan hoor. Hoor gaan doen vooraf. Dit is waarom Jakobus klem lê op drie dinge: dat ‘n mens 1) “flink (moet) wees om te luister,”2) “stadig om te praat, en 3) “stadig om kwaad te word.” In alles wat met jou en rondom jou gebeur, moet jy jou dus instel om agter te kom wat aan die gang is, en veral wat die Here besig is om te doen. In alles is Hy besig om wysheid te gee, uitkoms te gee en sy voorsiening te laat gebeur. Daarom moet jy nougeset luister en nie te gou wees om te praat nie, en veral nie kwaad te word oor wat gebeur nie

Dit is al manier waarop ons die woord van God “wat in ons geplant is” kan hoor. ‘n Mens het ore nodig om te luister – dus flink om te luister. Jy het ‘n wag voor jou mond nodig om genoeg tyd te hê om jou woorde te weeg voor jy dit sê – dus stadig om te praat. En jy moet veral jou humeur oor en ongeduld met wat gebeur bedwing, sodat jou emosies oor wat gebeur nie God se stem uitdoof en jy uiteindelik net jou eie stem hoor nie – dus stadig om kwaad te word. God se woorde (wette) word immers in die nuwe verbond in ons harte gegee, en op ons verstand neergeskryf (Jer. 31:33; Hebr. 8:10; 10:16). Dit veronderstel ‘n innerlike proses wat baie meer subtiel en intuïtief is as iets wat ‘n mens doodgewoon uit die eksplisiete gebeure om jou kan aflei.

Soms is die luisterproses ook ‘n pynlike proses, want die “woord van God is lewend en kragtig en skerper as enige tweesnydende swaard. Dit dring deur tot by die raakpunt tussen siel en gees, tussen gewrig en murg, en beoordeel die hart se voornemens en gedagtes.” Alles is immers oop en bloot voor God en dit is aan Hom wat ons ons moet verantwoord (Hebr. 4:12-13).

Oor woede leer Jakobus ons dat dit nie “geregtigheid voor God” bewerk nie. Dit stel dinge nie reg nie. Trouens dit vererger meesal dinge. Daarom is sy raad dat hulle: “in sagmoedigheid afstand doen van alle morele besoedeling en die ongebreidelde kwaad.” Die bron van die kwaad, hulle sondige natuur, moet afgelê word, sodat hulle (en ander) nie daardeur besoedel en verlei word nie. Die gevolge daarvan is ongebreideld, d.w.s. dit kan nie beheer word nie. Soos Paulus aan die Efesiërs skryf: “dat julle, wat julle vroeëre lewenswandel betref, die ou mens moet aflê wat as gevolg van sy drang na dwaling vergaan. Julle moet eerder deur die aard van julle denke vernuwe word. Ja, trek die nuwe mens aan wat in geregtigheid en ware heiligheid na God se beeld geskep is.” (Ef. 4:22-24).

Dan sal hulle die “ingeplante woord” van God kan hoor, en dié woord sal hulle red. Dit is hoe God liefgehê word.

DOEN DIE WOORD: As ‘n mens flink is om te luister, is daar egter nog iets waarop jy moet fokus as jy wil doen wat die woord sê. En dit is, om die woord in jou lewe toe te pas, om dit prakties uit te voer: “Wees doeners van die woord en nie slegs hoorders wat julleself mislei nie.” Anders is jy soos iemand wat in die spieël kyk, maar weer gou vergeet hoe jy lyk.

Jakobus roep hulle dus op daartoe om hulle te verdiep in die “volmaakte wet van vryheid” en daarby te bly deur dit uit te voer. God se woord is volmaak en dit maak vry, aan die een kant vry van sonde en aan die ander kant vry om die lewende God te kan dien, en spesifiek in deernis teenoor ander te kan optree, soos in die laaste verse van die perikoop uitgespel word.

Dan sal hulle lewens aan God se standaarde beantwoord. Dan kom hulle liefde vir God tot sy volle reg. Hulle sal nie net hulle tong kan beheer nie, iets waaroor hy nog verder gaan uitwy, maar ook kan omsien na mense wat in ellende is, weeskinders en weduwees, wat suiwer en onbesmette godsdiens voor ons God en Vader is. Dit is deel van hulle liefde vir hulle naaste.

Daarby sal hulle onbesmet deur die wêreldse dinge kan lewe. Let op dat deernis met behoeftige mense jou in ‘n sekere sin in staat stel om vry van die besmetting van die wêreld te bly, waarskynlik omdat jy dan nie toegee aan die sondige begeerte om net na jou eie belange om te sien nie. Nogal iets om oor na te dink. Liefde vir die naaste help jou om lief te bly vir God!

2:1-12 – Moenie volgens die uiterlike beoordeel nie

LEEF ONPARTYDIG EN IN DEERNIS: Dit is só belangrik, omdat in die proses om die woord van God te doen en daaraan gehoorsaam te word, kan juis dié deernis met mense in gedrang kom as ‘n mens verlei word om met slegte oorwegings, d.w.s. vooroordele of partydigheid, na ander te kyk. Dan kom jou naasteliefde in gedrang. Wanneer ‘n mens onderskeid tref tussen rykes en armes net op grond van hulle uiterlike, stel jy jouself boonop as ‘n regter oor mense aan. Dit is iets wat net God toekom.

Jakobus begrond dit in die feit dat die Here Jesus Christus die Here van die heerlikheid is. Hy is die kurios, die Here, die soewereine God, die een wat baie hoër in status as die aardse kurios is, die keiser. Jesus se heerlikheid bestaan egter, anders as die keiser, in diens aan en deernis met sy naaste. Dieselfde diensbaarheid en deernis moet dus die geloofslewe van die geloofsgemeenskap kenmerk. Ryk mense mag nie bevoordeel word bó armes nie.

Trouens, Jakobus gee ‘n verdere rede waarom dit belangrik is. Hy verwys na die uitspraak in Jesus se Bergrede waar Hy hulle geleer het: “Geseënd is dié wat geestelik arm is, want hulle behoort die koninkryk van die hemele.” (Matt. 5:3). Of soos Lukas dit weergee: “Geseënd is julle wat arm is, want die koninkryk van God behoort aan julle.” (Luk. 6:20). Jakobus lê dit uit as aanduiding van God se keuse vir armes in die wêreld om ryk in die geloof te wees. Hy bevoordeel dus armes om hulle afhanklikheid van Hom beter te besef. Rykes daarenteen is baie keer juis dié mense wat armes uitbuit en voor die gereg sleep. Daardeur word die goeie Naam van die Here belaster wat oor hulle uitgeroep is.

Jakobus gee nog ‘n verdere rede. Partydigheid of voortrekkery dwarsboom ook God se wet van naasteliefde. En dit is nie iets wat ongestraf sal bly nie. Jakobus is duidelik daaroor dat God se oordeel: “genadeloos is oor wie nie deernis betoon nie.” Die voordeel van deernis is daarby dat dit op sigself jou gerus kan stel met die oog op die Wederkoms, soos in die gelykenis van die skape en die bokke reeds aan die orde gestel is deur Jesus, nog ‘n verwysing wat moontlik agter hierdie gedagte lê (Matt. 25:31-46): “Deernis triomfeer oor die oordeel.

2:13-26 – Doen wat jy glo

GEE VIR DIÉ WAT NODIG HET: Jakobus gaan verder met sy tema van deernis en koppel dit aan geloof. Dade bewys nie net deernis nie. Dade bewys geloof. Trouens: geloof sonder dade is sonder meer dood, sonder enige lewe. Geloof moet bevestig word met dade. Dit help nie om vir ‘n broer of suster sonder klere en daaglikse kos – onthou die Ons Vader se bede: “Gee óns vandag ons daaglikse brood,” (Matt. 6:11) – weg te stuur met mooi woorde en nie in hulle behoefte te voorsien nie.

Jakobus illustreer hierdie dooie geloof met die bekende voorbeeld van die duiwels se geloof wat per se nutteloos is. Daarby voeg hy twee voorbeelde uit die Skrif – ‘n man en ‘n vrou: Abraham wat bereid was om sy seun Isak te offer en Ragab wat die boodskappers gasvry ontvang en beskerm het – om te wys hoe geloof meegewerk het met hulle dade en “dat vanuit die dade die geloof volkome geword het.

Abraham het die voorreg ontvang om ‘n vriend van God genoem te word, en Ragab, die prostituut, het een van die voorouers van Jesus geword: “Want net soos die liggaam sonder asem dood is, só is die geloof sonder dade dood.

Boodskap

Jakobus onderstreep vir my twee sake in dié gedeelte.

  • Luister met volle aandag tot jy weet wat God sê sodat jy dit kan doen. As jy te gou praat of te gou kwaad word, sal dit in jou pad staan om regtig te kan luister. WEES FLINK OM TE LUISTER EN DOEN DIE WOORD.
  • Leef in deernis met alle mense, maar veral teenoor weeskinders, weduwees en armes, mense wat nie vir hulleself kan sorg nie. LEEF ONPARTYDIG EN IN DEERNIS EN GEE VIR DIÉ WAT NODIG HET.

Dit is ‘n wonderlike opsomming van die twee tafels van die wet van God – liefde vir God, en liefde vir ons naaste – dié wet wat ons aan die een kant vrymaak van sonde en aan die ander kant vrymaak om God te en ons naaste met aandag en deernis te dien. Dit is die evangelie in ‘n neutedop.

LUISTER

Dink na oor wat God vir jou prakties deur hierdie gedeelte wil sê. Vra jouself af: Wat vra dit van jou? Wat belowe dit vir jou? Wat moet jy dink of doen daarmee?

LEEF

Besluit hoe jy daarop gaan reageer. Sê dit vir die Here in gebed en skryf dit neer in jou joernaal. Laat die boodskap wat God jou gee met jou saamgaan.


Discover more from Bybelskool

Subscribe to get the latest posts sent to your email.

Jakobus


Chris van Wyk

Ek is Direkteur van Bediening en Geestelike Vorming by Veritas College International. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am Director of Ministry and Spiritual Formation at Veritas College International. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Comments

Maak 'n opmerking

Onlangse kommentaar

  • Chris van Wyk on Psalm 118:19-29Ek gee maar net aan wat ek ontvang het. Dit bly egter 'n kosbare voorreg.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 118:19-29Goeie môre, baie dankie dat u met ons deel wie en waar die vertaaling van die Bybel sy oorsprong gekry het, dit is so kosbaar, baie dankie vir een en elkeen wat deel is en was om hierdie kosbare woord ook vir ons in ons Taal te kon uitlê
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 110Baie dankie vir hierdie kosbaarhede wat u met ons deel. Ek het Openbaring 22 gelees en dit klink baie soos die tuin van Eden, hy praat van die boom van lewe. Die sondeval gemaak dat die mens gesondig het en dat hul nie meer in die tuin kon woon nie asgevolg van die sonde.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 109:6-19Goeie middag, ek wil ook by las dat in Psalm 139:23 bid David;"Deurgrond my, O GOD, en ken my hart, toets my en ken my gedagtes" GOD ken die mens en HY deersoek die hart en die gedagtes. Ek het self al telkens gebid, HERE vergewe hulle want hulle weet nie wat hulle doen nie en dan soos die woord sel…
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 107:33-38Baie dankie vir hierdie verduideliking. Ons lees die eerste keer van Baäl-Peor in Numeri 25. Baäl was die Kanaänitiese god van vrugbaarheid, terwyl Peor verwys na die berg in Moab waar hy onder andere aanbid is. Hy is ook in Kanaän aanbid en was 'n groot versoeking vir die Israeliete met hulle vesti…
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 107:33-38GOD is so goeie GOD. HY gee vir ons die voorskrifte vanaf Deut. 28 en dan volg HY dit ook op in Psalm 107 en sê as ons net doen wat HY ons beveel sal dit met ons goed gaan en ons geseënd wees, nie oor ons nie, maar oor GOD en wie HY is.
  • Chris van Wyk on Psalm 106:43-48Ons lees die eerste keer van Baäl-Peor in Numeri 25. Baäl was die Kanaänitiese god van vrugbaarheid, terwyl Peor verwys na die berg in Moab waar hy onder andere aanbid is. Hy is ook in Kanaän aanbid en was 'n groot versoeking vir die Israeliete met hulle vestiging in die Beloofde Land.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 107:1-9Psalm 1:1 Stel dit so mooi hoe ons, ons pad moet hou en dat ons moet hou en bly by GOD se gebooie
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 106:43-48Goeie naand, Psalm 106: 28 Kan u asb vir my verduidelik wat Baâlpeor is ? Baie dankie Amanda
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 106:13-33Baie dankie vir die verduideliking, dit is hoekom ek hier is om te kan leer.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 106:13-33Dit breuk ñ mens se hart dat die Isrealiete ten spyte van al die tekens en wonders hulle telkemale opstandig word en GOD met so min agting behandel, en dat selfs Abraham vir hulle in die brese tree, en hoeveel keer die volk homself ook laat sondig het. Ek kan net sê ons dien ñ genadige GOD en GOD so…
  • Chris van Wyk on Psalm 106:6-12Die verskillende vertalings - "Rietsee", "Rooi See" en "Skelfsee" – het ontstaan omdat die Hebreeuse uitdrukking יַם־סוּף (yam sûf) verskillend vertaal is. Die Hebreeuse teks in Eksodus 13:18 beteken letterlik "See van Riete" of "Skelfsee" soos die 1933-vertaling dit vertaal het (skelf = riete, 'n w…
  • Chris van Wyk on Psalm 105:37-45Baie waar, vergifnis is genesend.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 106:6-12Askies u praat van die Rietsee, maar die Bybel praat van die Skelfsee
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 106:1-5Amen, baie dankie vir hierdie woord, GOD het die mens so lief dat HY nie wil hê dat enige een verlore sal gaan nie, maar die ewige lewe sal hê. GOD het ons so lief dat HY SY SEUN vir ons gegee het om ons sonde te vergewe, sal jy as mens dit doen? Ek self sal baie swaar kry, sou GOD dit ooit van my s…