Jakobus 1:19-2:26 – Doen wat die woord sê

LEES

JakobusRaak stil voor die Here met ’n kort gebed. Lees die teksgedeelte deeglik deur. Let op vir temas in die gedeelte. Vra jouself af: Wat sê dit van God? Wat sê dit van mense? Wat sê dit van die wêreld? Soek vir een sleutelgedagte wat jou besonderlik tref. Skryf dit in jou joernaal neer. Lees dan wat ek hieronder geskryf het.

My bydrae

As God vrygewig is, as Hy genadig is en as Hy die beste voorsien, veral wanneer mens van hom wysheid vra (Jak. 1:5), dan is dit net logies dat Hy kan verwag dat ’n mens sal doen wat Hy sê. Die wysheid wat Hy gee, is bedoel vir optrede en gehoorsaamheid. Ons moet doen wat Hy sê.

Jakobus pas hierdie waarhede van God nou toe op ’n aantal praktiese maniere wat as volg gekategoriseer kan word:

  • Doen wat die woord sê – 1:19-27
  • Moenie volgens die uiterlike beoordeel nie – 2:1-12
  • Doen wat jy glo – 2:13-26

Let veral op hoe die twee liefdegebooie – om God lief te hê en jou naaste soos jouself – verweef word regdeur hierdie gedeelte. Dit is twee kante van dieselfde munt.

1:19-27 – Doen wat die woord sê

FLINK OM TE LUISTER: Om te kan doen wat die woord sê, moet ‘n mens uiteraard in die eerste plek die woord van God kan hoor. Hoor gaan doen vooraf. Dit is waarom Jakobus klem lê op drie dinge: dat ‘n mens 1) “flink (moet) wees om te luister,”2) “stadig om te praat, en 3) “stadig om kwaad te word.” In alles wat met jou en rondom jou gebeur, moet jy jou dus instel om agter te kom wat aan die gang is, en veral wat die Here besig is om te doen. In alles is Hy besig om wysheid te gee, uitkoms te gee en sy voorsiening te laat gebeur. Daarom moet jy nougeset luister en nie te gou wees om te praat nie, en veral nie kwaad te word oor wat gebeur nie

Dit is al manier waarop ons die woord van God “wat in ons geplant is” kan hoor. ‘n Mens het ore nodig om te luister – dus flink om te luister. Jy het ‘n wag voor jou mond nodig om genoeg tyd te hê om jou woorde te weeg voor jy dit sê – dus stadig om te praat. En jy moet veral jou humeur oor en ongeduld met wat gebeur bedwing, sodat jou emosies oor wat gebeur nie God se stem uitdoof en jy uiteindelik net jou eie stem hoor nie – dus stadig om kwaad te word. God se woorde (wette) word immers in die nuwe verbond in ons harte gegee, en op ons verstand neergeskryf (Jer. 31:33; Hebr. 8:10; 10:16). Dit veronderstel ‘n innerlike proses wat baie meer subtiel en intuïtief is as iets wat ‘n mens doodgewoon uit die eksplisiete gebeure om jou kan aflei.

Soms is die luisterproses ook ‘n pynlike proses, want die “woord van God is lewend en kragtig en skerper as enige tweesnydende swaard. Dit dring deur tot by die raakpunt tussen siel en gees, tussen gewrig en murg, en beoordeel die hart se voornemens en gedagtes.” Alles is immers oop en bloot voor God en dit is aan Hom wat ons ons moet verantwoord (Hebr. 4:12-13).

Oor woede leer Jakobus ons dat dit nie “geregtigheid voor God” bewerk nie. Dit stel dinge nie reg nie. Trouens dit vererger meesal dinge. Daarom is sy raad dat hulle: “in sagmoedigheid afstand doen van alle morele besoedeling en die ongebreidelde kwaad.” Die bron van die kwaad, hulle sondige natuur, moet afgelê word, sodat hulle (en ander) nie daardeur besoedel en verlei word nie. Die gevolge daarvan is ongebreideld, d.w.s. dit kan nie beheer word nie. Soos Paulus aan die Efesiërs skryf: “dat julle, wat julle vroeëre lewenswandel betref, die ou mens moet aflê wat as gevolg van sy drang na dwaling vergaan. Julle moet eerder deur die aard van julle denke vernuwe word. Ja, trek die nuwe mens aan wat in geregtigheid en ware heiligheid na God se beeld geskep is.” (Ef. 4:22-24).

Dan sal hulle die “ingeplante woord” van God kan hoor, en dié woord sal hulle red. Dit is hoe God liefgehê word.

DOEN DIE WOORD: As ‘n mens flink is om te luister, is daar egter nog iets waarop jy moet fokus as jy wil doen wat die woord sê. En dit is, om die woord in jou lewe toe te pas, om dit prakties uit te voer: “Wees doeners van die woord en nie slegs hoorders wat julleself mislei nie.” Anders is jy soos iemand wat in die spieël kyk, maar weer gou vergeet hoe jy lyk.

Jakobus roep hulle dus op daartoe om hulle te verdiep in die “volmaakte wet van vryheid” en daarby te bly deur dit uit te voer. God se woord is volmaak en dit maak vry, aan die een kant vry van sonde en aan die ander kant vry om die lewende God te kan dien, en spesifiek in deernis teenoor ander te kan optree, soos in die laaste verse van die perikoop uitgespel word.

Dan sal hulle lewens aan God se standaarde beantwoord. Dan kom hulle liefde vir God tot sy volle reg. Hulle sal nie net hulle tong kan beheer nie, iets waaroor hy nog verder gaan uitwy, maar ook kan omsien na mense wat in ellende is, weeskinders en weduwees, wat suiwer en onbesmette godsdiens voor ons God en Vader is. Dit is deel van hulle liefde vir hulle naaste.

Daarby sal hulle onbesmet deur die wêreldse dinge kan lewe. Let op dat deernis met behoeftige mense jou in ‘n sekere sin in staat stel om vry van die besmetting van die wêreld te bly, waarskynlik omdat jy dan nie toegee aan die sondige begeerte om net na jou eie belange om te sien nie. Nogal iets om oor na te dink. Liefde vir die naaste help jou om lief te bly vir God!

2:1-12 – Moenie volgens die uiterlike beoordeel nie

LEEF ONPARTYDIG EN IN DEERNIS: Dit is só belangrik, omdat in die proses om die woord van God te doen en daaraan gehoorsaam te word, kan juis dié deernis met mense in gedrang kom as ‘n mens verlei word om met slegte oorwegings, d.w.s. vooroordele of partydigheid, na ander te kyk. Dan kom jou naasteliefde in gedrang. Wanneer ‘n mens onderskeid tref tussen rykes en armes net op grond van hulle uiterlike, stel jy jouself boonop as ‘n regter oor mense aan. Dit is iets wat net God toekom.

Jakobus begrond dit in die feit dat die Here Jesus Christus die Here van die heerlikheid is. Hy is die kurios, die Here, die soewereine God, die een wat baie hoër in status as die aardse kurios is, die keiser. Jesus se heerlikheid bestaan egter, anders as die keiser, in diens aan en deernis met sy naaste. Dieselfde diensbaarheid en deernis moet dus die geloofslewe van die geloofsgemeenskap kenmerk. Ryk mense mag nie bevoordeel word bó armes nie.

Trouens, Jakobus gee ‘n verdere rede waarom dit belangrik is. Hy verwys na die uitspraak in Jesus se Bergrede waar Hy hulle geleer het: “Geseënd is dié wat geestelik arm is, want hulle behoort die koninkryk van die hemele.” (Matt. 5:3). Of soos Lukas dit weergee: “Geseënd is julle wat arm is, want die koninkryk van God behoort aan julle.” (Luk. 6:20). Jakobus lê dit uit as aanduiding van God se keuse vir armes in die wêreld om ryk in die geloof te wees. Hy bevoordeel dus armes om hulle afhanklikheid van Hom beter te besef. Rykes daarenteen is baie keer juis dié mense wat armes uitbuit en voor die gereg sleep. Daardeur word die goeie Naam van die Here belaster wat oor hulle uitgeroep is.

Jakobus gee nog ‘n verdere rede. Partydigheid of voortrekkery dwarsboom ook God se wet van naasteliefde. En dit is nie iets wat ongestraf sal bly nie. Jakobus is duidelik daaroor dat God se oordeel: “genadeloos is oor wie nie deernis betoon nie.” Die voordeel van deernis is daarby dat dit op sigself jou gerus kan stel met die oog op die Wederkoms, soos in die gelykenis van die skape en die bokke reeds aan die orde gestel is deur Jesus, nog ‘n verwysing wat moontlik agter hierdie gedagte lê (Matt. 25:31-46): “Deernis triomfeer oor die oordeel.

2:13-26 – Doen wat jy glo

GEE VIR DIÉ WAT NODIG HET: Jakobus gaan verder met sy tema van deernis en koppel dit aan geloof. Dade bewys nie net deernis nie. Dade bewys geloof. Trouens: geloof sonder dade is sonder meer dood, sonder enige lewe. Geloof moet bevestig word met dade. Dit help nie om vir ‘n broer of suster sonder klere en daaglikse kos – onthou die Ons Vader se bede: “Gee óns vandag ons daaglikse brood,” (Matt. 6:11) – weg te stuur met mooi woorde en nie in hulle behoefte te voorsien nie.

Jakobus illustreer hierdie dooie geloof met die bekende voorbeeld van die duiwels se geloof wat per se nutteloos is. Daarby voeg hy twee voorbeelde uit die Skrif – ‘n man en ‘n vrou: Abraham wat bereid was om sy seun Isak te offer en Ragab wat die boodskappers gasvry ontvang en beskerm het – om te wys hoe geloof meegewerk het met hulle dade en “dat vanuit die dade die geloof volkome geword het.

Abraham het die voorreg ontvang om ‘n vriend van God genoem te word, en Ragab, die prostituut, het een van die voorouers van Jesus geword: “Want net soos die liggaam sonder asem dood is, só is die geloof sonder dade dood.

Boodskap

Jakobus onderstreep vir my twee sake in dié gedeelte.

  • Luister met volle aandag tot jy weet wat God sê sodat jy dit kan doen. As jy te gou praat of te gou kwaad word, sal dit in jou pad staan om regtig te kan luister. WEES FLINK OM TE LUISTER EN DOEN DIE WOORD.
  • Leef in deernis met alle mense, maar veral teenoor weeskinders, weduwees en armes, mense wat nie vir hulleself kan sorg nie. LEEF ONPARTYDIG EN IN DEERNIS EN GEE VIR DIÉ WAT NODIG HET.

Dit is ‘n wonderlike opsomming van die twee tafels van die wet van God – liefde vir God, en liefde vir ons naaste – dié wet wat ons aan die een kant vrymaak van sonde en aan die ander kant vrymaak om God te en ons naaste met aandag en deernis te dien. Dit is die evangelie in ‘n neutedop.

LUISTER

Dink na oor wat God vir jou prakties deur hierdie gedeelte wil sê. Vra jouself af: Wat vra dit van jou? Wat belowe dit vir jou? Wat moet jy dink of doen daarmee?

LEEF

Besluit hoe jy daarop gaan reageer. Sê dit vir die Here in gebed en skryf dit neer in jou joernaal. Laat die boodskap wat God jou gee met jou saamgaan.

Jakobus


Chris van Wyk

Ek is gemeenteleraar by Somerstrand gemeente, Port Elizabeth. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am pastor at Summerstrand congregation, Port Elizabeth. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Comments (2)

  • Phillip van den Berg

    Hi Chris…ek verstaan nie die volgende nie…. “Geseënd is dié wat geestelik arm is, want hulle behoort die koninkryk van die hemele.”…hoekom geestelik arm?

    • Dit is mense wat hulle afhanklikheid van God besef, wat weet hoe nodig hulle God het. Eugene Peterson parafraseer dit so: “You’re blessed when you’re at the end of your rope. With less of you there is more of God and his rule.”

Maak 'n opmerking

  • Chris van Wyk on Numeri 36Ja, alles het eintlik met alles te make in die Skrif. Dit onderstreep die waarde van elke enkele deel daarvan vir alle tye.
  • Chris van Wyk on Numeri 36My voorreg!
  • Ansie Lessing on Numeri 36Dankie. Ek mis die stukkies vir niks nie. Groete, Ansie
  • Chris van Zyl on Numeri 36Baie dankie vir jou bydraes, Chris, en betekenisse wat vir my soveel beter insig verskaf het. Die kruisverwysings tussen OT en NT het my laat besef dat die OT se verhale konteks verskaf vir die Jesus se oorwinning in die NT. Baie dankie, ek sien uit na Deut.
  • Chris van Wyk on JeremiaHi Petro, my bydraes oor Jeremia is net op die Internet by hierdie skakel beskikbaar.
  • Petro on JeremiaMiddag Waar kan ek net die boek Jeremia aflaai Dankie
  • Chris van Wyk on Jesaja 21-23 – God se oordeel bereik alle nasiesDie boodskap van die drie hoofstukke is dat God se oordeel werklik is en dat sy waarskuwings nie in die wind geslaan moet word nie. Dit geld ook sy volk om hulle te bekeer van hulle verkeerde weë. Hulle status as God se uitverkore volk moet nie ligtelik opgeneem word nie. Groter kennis van die waarh…
  • Marizanne Louw on Jesaja 21-23 – God se oordeel bereik alle nasiesHi ek is besig met bybelstudie..en ek kry va oggend Jesaja 21..maar ek kry nie n vers op toepassing van my nie..ek kan nie opsevasie maak nie..ook nie hoe dit op toepassing van my is nie. Kan u dalk dit vir my uiteensit?/verduidelik asb??
  • Chris van Wyk on LukasHi Susanna, Lukas skryf daarvan in Lukas 24:50-53 JESUS SE HEMELVAART (Mark 16:15,19; Hand 1:4-11) 50Daarna het Jesus hulle uit die stad gelei, tot by Betanië. Hy het sy hande opgehef en hulle geseën. 51Terwyl Hy hulle seën, het Hy van hulle af weggegaan, en is in die hemel opgeneem. 52Hulle het Hom…
  • Susanna Ellis on LukasWaar in Lukas en in Markus verskyn die woord Hemelvaart in die verse.
  • Chris van Wyk on Numeri 13Hi, daar is baie teorieë oor die Nefilîm (reuse - soos die Griekse vertaling van die Hebreeuse teks dit interpreteer). Die Joodse boek 1 Henog open die moontlikheid dat van Noag se skoondogters Nefilîm gebaar het om die voorkoms na die sondvloed te verklaar. Maar, die Bybelse weergawe is stil daaroo…
  • Jerimy on Numeri 13Baie dankie vir die Skrif en bemoeding dat ons nie 45 jaar moet wag soos Kaleb om genoeg geloof bymerkaar te skraap en sdan nie eers ons erf porsie in besit wil neem nie.Is dit nie moontlik dat Noag se seuns se vroue die Nefilîm gene gedra het nie,daarom die melding van reuse na die vloed ?
  • Chris van Wyk on Openbaring 7 – God beskerm en versorg die kerk as geloofsgemeenskapHi Rudi, ja, jy is reg, maar Dan word daar net genoem as "seun" van Jakob, maar anders as met die ander stamme, word die geslagsregister van Dan nie in die res van 1 Kronieke 1-9 gegee nie. Ek het dit nou helderder gestel: "Dit korreleer onder andere met die Kronis wat die stam van Dan ook in die ge…
  • Rudi van Tonder on Openbaring 7 – God beskerm en versorg die kerk as geloofsgemeenskapDan is in 1 Kronieke 2 vers 1?
  • Chris van Wyk on Levitikus 27Menseoffers is in verskeie antieke kulture en selfs in meer onlangse kulture beoefen. Green het sy omvattende studie van menslike offerandes in die antieke Nabye Ooste opgesom met die algemene stelling dat “menslike offerande dwarsdeur hierdie streek opgespoor kan word,” d.w.s. dwarsdeur Mesopotamië…
%d bloggers like this: