Psalm 25:8-15
Die fokus van hierdie Leesplan is gemeenskap met God. Ons begin telkens met die bid van die Ons Vader, bid dan die Psalm met ‘n tyd van nadenke, en sluit ons gebedstyd af met ‘n kort Lofprysing. Die idee is dat jy na die Ons Vader die kort gedeelte oor die teks en konteks van die Psalm lees, daarna die Psalm met aandag deurlees, en dan vers vir vers in jou eie woorde (hardop as dit kan) bid. Daarna kan jy die kort bydrae oor die boodskap en betekenis lees vir nadenke. Sluit met die bid van die Lofprysing. Die middag en aand bid jy net die Ons Vader, die Psalm, en die Lofprysing.
Ons Vader
“Ons Vader wat in die hemele is, laat u Naam geheilig word. Laat u koninkryk kom. Laat u wil geskied, soos in die hemel, so ook op die aarde. Gee ons vandag ons daaglikse brood. En vergeef ons ons sondes, soos ons ook ons skuldenaars vergeef. En laat ons nie in versoeking kom nie, maar verlos ons van die Bose. Want aan U behoort die koninkryk en die krag en die heerlikheid tot in ewigheid. Amen.” (Matt. 6:9-13)
Teks en konteks
In die tweede deel van die Psalm brei die Psalmis op die vorige gedagtes uit. Die Psalmis se ervaring is dat God liefde en trou bewys aan dié wat Hom vertrou, van Hom leer, en afhanklik van Hom lewe. Selfs sondaars wat op Hom fokus, word deur God geleer (vers 8-10). Dit laat hom sy skuld bely in die verwagting dat God hom sy weë sal leer. Meer nog, hy verwag dat God hom in Sy vertroue sal neem, sy geheime aan hom bekend sal maak, sodat hy met ‘n al hoe groter sekerheid met God die pad kan stap.
Bid die Psalm
“Die Here is goed en doen wat reg is. Daarom wys Hy vir sondaars die regte pad. Mag Hy die nederiges op die regte weg lei, en vir dié wat beskeie is, sy pad leer. Die paaie van die Here is goedheid en trou vir dié wat getrou is aan die bepalings van sy verbond. Ter wille van u Naam, Here, vergewe tog my sondes, want dit is baie. Wie is die een wat die Here dien? Hy sal hom wys watter pad hy moet kies. Hy sal in voorspoed lewe, en sy nageslag sal die beloofde land beërwe. Die Here se voorneme is duidelik vir dié wat Hom dien. Aan hulle maak Hy sy verbond bekend. Ek kyk altyd op na die Here vir hulp, want Hy sal my voete van die vangnet bevry.” NLV
Boodskap en betekenis
Vers 14 kan ook só vertaal word: “Die verborgenheid van die Here (NLV vertaal: “voorneme”) is duidelik vir die wat Hom vrees, en sy verbond om hulle dit bekend te maak.” (vgl. Amos 3:7 wat ook verklaar dat die Here sy raadsbesluit aan sy diensknegte, die profete, bekend maak). Dawid se reaksie is dus om in afhanklikheid van God te lewe, soos vers 15 dit sê: “Ek kyk altyd op na die Here vir hulp, want Hy sal my voete van die vangnet bevry.” Dink na oor die feit dat jy al hoe meer in die “circle of confidants” van die Here ingetrek word soos jou vertroue in die Here toeneem. Die Psalm laat my dink aan Jesus wat vir sy dissipels gesê het, dat hulle nou sy vriende is, en dat Hy aan hulle alles bekend maak wat die Vader vir Hom gesê het (Joh. 15:15).
Lofprysing
“Weet vandag en verstaan dat die Here God is; Hy alleen is God in die hemel en op die aarde.” (Deut. 4:39)
Onlangse kommentaar