Psalm 67 – God seën ons om te seën sodat al die uithoeke van die aarde vir Hom ontsag kan hê
Psalm 67 – God seën ons om te seën sodat al die uithoeke van die aarde vir Hom ontsag kan hê
1Vir die musiekleier. Met snarespel. ‘n Psalm. ‘n Lied. 2Mag God ons genadig wees en ons seën; mag Hy die lig van sy aangesig by ons laat skyn. Sela 3Mag U pad op die aarde bekend wees, u verlossing onder al die nasies. 4Mag volke U prys, o God, mag al die volke U prys. 5Mag nasies bly wees en jubel, want U oordeel volke billik; en nasies, mag U hulle op die aarde lei. Sela 6Mag volke U prys, o God, mag al die volke U prys. 7Die aarde het sy opbrengs gelewer. Mag God, ons God, ons seën. 8Mag God ons seën, sodat al die uithoeke van die aarde vir Hom ontsag sal hê.
Psalm 67 is ’n Psalm wat in ’n neutedop saamvat wat God se doel is nie net met sy volk nie, maar ook wat sy doel met alle nasies is. God seën mense om tot ’n seën te wees vir ander, sodat hulle Hom kan eer. Let op hoe die gebed in vers 2-3 albei kante insluit in die opeenstapeling van die woord “mag”: “Mag God ons genadig wees en ons seën; mag Hy die lig van sy aangesig by ons laat skyn. Mag U pad op die aarde bekend wees, u verlossing onder al die nasies.” God se seën is bedoel om Sy teenwoordigheid op aarde bekend te stel en as ’n teken daarvan te dien, soos die vorige Psalm ook oor gebedsverhoring uitspel. Die opgewonde verwagting van God se ingrype en verbintenis om daarvan te vertel, lei tot ’n verdere dubbel-herhaalde gebed (vers 4 en 6) dat dié dade van God mag lei daartoe dat alle nasies Hom sal loof. Die spits daarvan is: “Mag nasies bly wees en jubel, want U oordeel volke billik.” (vers 5). Let op dat daarmee die versugting van tallose mense regoor die aarde in die gebed opgeneem word, dat mense in God die geregtigheid sal vind waarna hulle smag. Dít is dus ’n gebed waarvoor ons onsself kan en moet gee.
Die Psalm eindig met lof vir die wyse waarop God ook in die land sy seën laat blyk met die oes op die regte tyd. Maar selfs dít is bedoel as getuienis van God se teenwoordigheid vir die mense op die hele aarde! (vers 8). Die Psalm sluit dus volledig aan by God se doel met die mens van die begin af. 1) Adam en Eva – God tree met hulle in ’n verhouding, seën hulle (Gen 1:28 vv) en maak hulle vrugbaar sodat hulle die aarde kan bewoon, bewerk en bewaar as God se verteenwoordigers. Sy seën aan hulle moet lei tot ’n seën van die wêreld. 2) Noag en sy mense – God seën hulle (Gen 9:1 vv) en maak hulle vrugbaar sodat hulle die aarde kan bewoon en as God se verteenwoordiger kan optree op die aarde. 3) Abraham en sy nageslag – God laat hom uittrek uit sy land en van sy mense af na die land toe wat Hy vir hom aanwys met die belofte: “Ek sal jou seën ..” en die opdrag: “Jy moet tot ’n seën wees.” (Gen 12:2 vv). 4) God se volk – Dit bly die droom vir die volk van God regdeur die OT, soos Jesaja 19:24 dit onder andere uitspel, dat die volk só met God sal wandel, dat hulle dit sal regkry om: “vir die aarde tot ’n seën wees.”
Jesus sluit ook by dié gedagtegang aan in sy Vlakterede, maar neem dit nog ’n stappie verder: “Maar vir julle wat na My luister, sê Ek: Julle moet julle vyande liefhê; doen goed aan die mense deur wie julle gehaat word; seën die mense deur wie julle vervloek word; bid vir die mense deur wie julle sleg behandel word. As iemand jou op die een wang slaan, bied hom ook die ander een aan. En vir iemand wat jou boklere vat, moet jy ook jou onderklere nie weier nie. Aan elkeen wat iets vra, moet jy gee; en as iemand jou goed vat, moet jy dit nie terugeis nie. Behandel ander mense soos julle self behandel wil word.” (Luk 6:27-31).
Lees meer: https://bybelskool.com/psalm-67-geseen-om-te-seen/
Discover more from Bybelskool
Subscribe to get the latest posts sent to your email.

Onlangse kommentaar