Handelinge 16:6-15 – Die Here maak harte oop om ag te slaan op ons getuienis
Handelinge 16:6-15 – Die Here maak harte oop om ag te slaan op ons getuienis
6Hulle het deur Frigië en die landstreek van Galasië gereis, omdat hulle deur die Heilige Gees verhinder is om die woord in Asië te verkondig. 7Toe hulle naby Misië kom, het hulle probeer om na Bitinië te gaan, maar die Gees van Jesus het hulle nie toegelaat nie. 8Hulle het toe by Misië verbygereis en afgegaan na Troas. 9Daardie nag het Paulus ‘n visioen gehad. ‘n Macedoniese man het daar gestaan en hom gesmeek met die woorde: “Kom oor na Macedonië en help ons!” 10Nadat hy die visioen gesien het, het ons dadelik probeer om na Macedonië te gaan, omdat ons oortuig was dat God ons geroep het om aan hulle die evangelie te verkondig. 11Toe ons van Troas af vertrek het, het ons reguit na Samotrake gevaar, die volgende dag na Neapolis, 12en daarvandaan na Filippi, wat ‘n toonaangewende stad was in daardie deel van Macedonië, ‘n Romeinse kolonie. In hierdie stad het ons ‘n paar dae lank vertoef. 13Op die Sabbat het ons by die stadspoort uitgegaan na die rivier, waar ons vermoed het ‘n bidplek was. Ons het gaan sit en met die vroue gepraat wat daar bymekaargekom het. 14‘n Vrou uit die stad Tiatira, ‘n purperhandelaar met die naam Lidia, wat God vereer het, het ook geluister, en die Here het haar hart oopgemaak om ag te slaan op wat Paulus gesê het. 15Nadat sy en haar huishouding gedoop is, het sy by ons aangedring en gesê: “As julle daarvan oortuig is dat ek in die Here glo, kom bly dan in my huis.” En sy het ons oorgehaal.
Let op dat Lukas nou weer saamreis, soos die “ons” in Handelinge 16:10-17 (Troas) aandui. Dit sal weer die geval wees in Handelinge 20:5 (Troas) tot in Handelinge 21:19 (Jerusalem) en dan weer by Handelinge 27:1-28:16 (van Sesarea tot in Rome). Lukas skryf hierdie deel as ooggetuie en die detail is volop en lewendig (moontlik het hy ‘n joernaal gebruik). Dit is opmerklik hoe nou en onlosmaaklik die verband is tussen Jesus en die Gees; dit is die Gees van Jesus wat hier Paulus lei om Europa te betree, aan die een kant deur hom te verhinder om sy eie kop te volg, en aan die ander kant deur ’n gesig wat die rigting aandui. Let op dat dit ’n gesamentlike besluit was: “omdat ons tot die oortuiging gekom het”. Lukas het dus nou by Paulus, Silas en Timoteus aangesluit en reis saam na Filippi,’n Romeinse kolonie in Masedonië. Dit is ongeveer 50 of 51 nC. Daar was nie ‘n sinagoge nie (jy het 10 mans nodig gehad daarvoor). Daarom het die Joodse gelowiges – ons lees hier net van Joodse vroue, moontlik getroud met Grieke – by ‘n bidplek by die rivier, die Gangitis, vergader. En dan gebeur die wonder, die hele Europese kerkgeskiedenis begin met ‘n eenvoudige verhaal van ‘n vrou, nogal ryk ook, wat langs ‘n rivier in Jesus begin glo. Ironies dat ‘n Masedoniese man Paulus in ‘n droom hierheen lok, en dat die eerste bekeerling ‘n vrou is!
Wys jou net hoe die evangelie nie langs die normale sosiale konvensies loop nie. Dit is interessant hoe God ongewone mense gebruik in die verspreiding van die evangelie na nuwe gebiede. Dit is Hy wat harte oopmaak vir die evangelie. Wat mense oortuig om na ons getuienis te luister. In Afrika was dit ‘n Ethiopiese ontmande wat God deur Filippus bereik het. In Europa was dit ‘n Grieks-Joodse vrou wat God deur Paulus bereik het. Dit is asof God sulke mense kies om van die begin af te wys dat HÝ agter die diversiteit in mense staan en verandering bring van die periferie af om só ‘n sterk eenheid tussen diverse mense te smee.
Lidia nooi Paulus-hulle onmiddellik na haar huis, en so word haar huis die eerste huisgemeente in Europa, een van die mooiste gemeentes waarvan ons lees in die Nuwe Testament. Daar is geen gemeente wat die apostel so hoog geroem het as dié van Filippi nie en geen gemeente van wie hy meer liefde ontvang het nie. Ons lees regdeur die brief aan die Filippense hoe Paulus hierdie eerste Europese gemeente liefgehad het en dat hulle hom terug liefgehad het. Geen wonder dat die brief so vol van vreugde en blydskap is nie, en daarby ‘n oproep is aan almal is om dié vreugde oral te versprei. Soos met die proseliete-doop vir heidene wat die Joodse geloof aanneem, word Lidia se huismense (oikos) ingesluit toe sy gedoop word as een wat in Jesus glo. Interessant is dat haar kinders waarskynlik ingesluit is en dat dit onmiddellik gebeur het. Paulus mors dus nie tyd nie – wanneer jy met jou hele hart glo, is jy alreeds ‘n deel van die liggaam van Christus, en moet jy daarom gedoop word. Geen kategese nie, net geloof in Christus.
Lees meer: https://bybelskool.com/handelinge-166-40-die-europese-kerkgeskiedenis-begin-met-die-bekering-van-n-vrou/
Discover more from Bybelskool
Subscribe to get the latest posts sent to your email.

Onlangse kommentaar