Prediker 2:24-26 – genot is ‘n gawe uit die hand van God

27 November
Prediker 2:24-26 – genot is ‘n gawe uit die hand van God
24Daar is niks beter vir die mens as dat hy eet en drink en sy keel laat geniet wat goed is vir sy inspanning nie. Ook dit het ek ingesien: Dit is uit die hand van God, 25want: “Wie kan eet en wie kan geniet sonder My?” 26Ja, aan die mens wat Hy aanvaarbaar vind, gee Hy wysheid, kennis en vreugde; maar vir die een wat verkeerd optree, gee Hy die taak om te versamel en bymekaar te maak – net om dit te oorhandig aan een wat aanvaarbaar is vir God. Ook dit is sinloos en ‘n gejaag na wind.
Dit is goed om ook in hierdie Adventstyd ‘n treetjie terug te gee en na te dink oor die harde werklikheid van die lewe aan die hand van die boek Prediker. In hoofstuk 2 van sy boek beskryf hy twee persoonlike eksperimente: ‘n lewe van plesier en vreugde, en ‘n lewe van wysheid versus dwaasheid. Die eksperimente slaag egter nie die toets nie. Alles kom tot niks, sê hy.
Die Prediker sluit die hoofstuk egter wel af met die belofte in vers 24-26 dat genot ‘n gawe uit God se hand kan wees. Dat ‘n mens die lewe kan geniet ten spyte van die oënskynlike sinloosheid van die einde daarvan; dat die lewe ten diepste ‘n gawe uit die hand van God is. Hy sal later daarop terugkom en die genot van brood en wyn, feeste en die huwelik op dieselfde wyse verheerlik (Pred 9:9-10).
Trouens, die Prediker gaan verder met die belofte dat God wysheid, kennis en vreugde gee aan die mense met wie se lewens Hy tevrede is. Soos Paulus jare later sou sê: “Ons weet dat God alles ten goede laat meewerk vir hulle wat Hom liefhet, vir hulle wat volgens sy voorneme geroep is.” (Rom 8:28). Iets wat ons ook in hierdie Adventstyd vir onsself kan toeëien, want Jesus het vir ons die deur na die ewige lewe oopgemaak. Dit waarna die Prediker gesmag het.
Lees meer: https://bybelskool.com/prediker-112-226-niks-bevredig-werklik-nie-net-gawes-uit-die-hand-van-god/
Discover more from Bybelskool
Subscribe to get the latest posts sent to your email.
Onlangse kommentaar