Openbaring 21:9-27 – Almal wat opgeteken is in die boekrol van die lewe van die Lam kry toegang tot die stad van God
Openbaring 21:9-27 – Almal wat opgeteken is in die boekrol van die lewe van die Lam kry toegang tot die stad van God
9Daarop het een van die sewe engele wat die sewe bakke vol van die sewe laaste plae vashou, gekom en met my gepraat en gesê: “Kom hierheen, ek sal jou die bruid wys, die vrou van die Lam.” 10Hy het my toe deur die Gees na ‘n groot en hoë berg geneem, en aan my die heilige stad Jerusalem gewys wat van God uit die hemel neergedaal het. 11Die stad was vol van die heerlikheid van God – haar glans het net soos dié van ‘n baie kosbare edelsteen gelyk, soos kristalhelder jaspis. 12Die stad het ook ‘n groot en hoë muur met twaalf poorte, en by die poorte is daar twaalf engele. Op die poorte is name gegraveer, die name van die twaalf stamme van die kinders van Israel. 13Aan die oostekant is daar drie poorte, aan die noordekant drie, aan die suidekant drie en aan die westekant drie. 14Die stadsmuur het twaalf fondamente, en daarop is ook twaalf name. Dit is die name van die twaalf apostels van die Lam. 15Die engel wat met my gepraat het, het ‘n goue meetstok gehad om daarmee die stad, haar poorte en haar muur te meet. 16Die stad is vierkantig uitgelê, haar lengte is dieselfde as haar breedte. Hy het toe die stad met die meetstok gemeet, twaalfduisend stadion – die lengte, breedte en die hoogte daarvan is dieselfde. 17Hy het ook die muur van die stad gemeet – honderd vier-en-veertig el hoog in mensemaat, wat ook die engelemaat is. 18Die boumateriaal van die muur was jaspis, en dié van die stad suiwer goud, so blink soos ‘n skoon spieël. 19Die fondamente van die stadsmuur is met elke soort edelsteen versier: die eerste fondament met jaspis, die tweede met lasuursteen, die derde met chalcedoon, die vierde met smarag, 20die vyfde met sardoniks, die sesde met karneool, die sewende met chrisoliet, die agtste met berilsteen, die negende met topaas, die tiende met chrisopraas, die elfde met hiasint en die twaalfde met ametis. 21En die twaalf poorte is twaalf pêrels. Elkeen van die poorte is uit een pêrel gemaak. Die hoofstraat van die stad is van suiwer goud, so blink soos deurskynende glas. 22‘n Tempel het ek egter nie in haar gesien nie, want die Here God, die Almagtige, en die Lam is haar tempel. 23Ook het die stad nie die son en die maan nodig om haar te verlig nie, want die heerlikheid van God het haar verlig, en die Lam is haar lamp. 24En die nasies sal leef in haar lig, en die konings van die aarde sal hulle heerlikheid na haar toe bring. 25Haar poorte sal bedags nie gesluit word nie, en daar sal ook nie meer nag wees nie. 26Hulle sal die heerlikheid en die eer van die nasies na haar toe bring. 27En niks wat besoedel is, en niemand wat iets gruweliks en vals gedoen het, sal ooit toegang tot haar kry nie, slegs hulle wat opgeteken is in die boekrol van die lewe van die Lam.
Een van die sewe engele met die sewe bakke wys vir Johannes die bruid, die vrou van die Lam. In ’n heerlike beskrywing word die skoonheid van die Nuwe Jerusalem, die Godsvolk, beskrywe, wat in wese ook ’n beskrywing van God se heerlikheid is. Haar glans is dié van kristalhelder jaspis soos God ook in Openbaring 4 beskryf worc. Sy is veilig omdat daar ’n hoë muur om haar gebou is, met twaalf engele wat die volk by die twaalf poorte oppas. Die stad is gegrondves op twaalf fondamente, die twaalf apostels “van die Lam” (vgl Paulus se opmerkings hieroor in 1 Kor 3:10). Dié getal twaalf (maal twee) staan vir die volle getal van die Godsvolk – beide die twaalf stamme van die ou bedeling en die twaalf apostels van die nuwe bedeling.
Weereens word ’n meetstok uitgehaal om die stad te meet – soos in Openbaring 11 waar Johannes die tempel van God moes meet – om te simboliseer dat hulle almal aan God behoort. Die stad vorm ’n enorme kubus waarvan hoogte, breedte en lengte gelyk is. Dit beteken dit is ’n 2 220 km kubus (‘n stadion is 185 m lank), hoewel die presiese letterlike mate natuurlik nie so belangrik is as die feit dat dit groots is nie. Die muur is 65 m hoog (’n el is 45 cm lank). Die verdere boumateriaal is ook besonders: goud, 12 tipe edelstene en pêrels (een van die kosbaarste juwele van die antieke tyd en in dié geval enorm groot!). Die twaalf edelgesteentes is almal van die sogenaamde anisotropiese edelgesteentes wat nie net hulle eie kleur het nie, maar onder suiwer lig al die kleure van die reënboog aanneem. Interessant is dat daar nie isotropiese edelgesteentes op die fondamente is nie, moontlik omdat wanneer suiwer lig daarop hulle val, raak hulle swart of grys. Dit is edelgesteentes soos diamante of robyne. Dit is nie iets wat Johannes in die eerste eeu van ons jaartelling sou geweet het nie, maar iets wat sin maak uit ons kennis daarvan vandag. Dit is waarskynlik wel ‘n getuienis van God se kennis wat allesomvattend is.
Dit alles dien egter net om die sentrale heerlikheid van God self te belig. Die Here God woon in die stad, dws in en tussen sy mense en verlig nie net vir hulle nie, maar ook vir almal rondom. Die son en maan is oorbodig, want God is daar. Binne-in die stad kan egter net die gelowiges wie se name in die lewensboek van die Lam geskryf is, kom. Wat ‘n voorreg! Wat ‘n vooruitsig!
Lees meer (dit is my boek oor Openbaring wat jy gerus gratis kan aflaai om die hele Openbaring deur te werk): https://ngkerksomerstrand.co.za/wp-content/uploads/2020/05/Ek-kom-gou.pdf
Discover more from Bybelskool
Subscribe to get the latest posts sent to your email.

Onlangse kommentaar