Skip to main content

Openbaring 20:1-6 – Gelukkig is dié wat deel het aan die eerste opstanding; die tweede dood het geen mag oor hulle nie

20 Mei

Openbaring 20:1-6 – Gelukkig is dié wat deel het aan die eerste opstanding; die tweede dood het geen mag oor hulle nie

1Toe het ek ‘n engel gesien, wat uit die hemel neerdaal, met die sleutel van die onpeilbare diepte en ‘n swaar ketting in sy hand. 2En hy het die draak, die slang van weleer, wat Duiwel en Satan is, gegryp en hom vasgeketting vir ‘n duisend jaar lank. 3Hy het hom toe in die onpeilbare diepte gegooi, dit toegesluit, en dit bokant hom verseël, sodat hy nie meer die nasies op ‘n dwaalspoor sou lei nie, totdat die duisend jaar verstryk het. Daarna moet hy vir ‘n kort tydjie losgelaat word. 4Ek het ook trone gesien, en aan dié wat daarop sit, is mag verleen om te oordeel. Ek het die siele gesien van hulle wat onthoof is vanweë die getuienis oor Jesus en die woord van God. Dit is hulle wat nie neergeval het om die dier en sy beeld te aanbid nie, en nie die merk op die voorkop of op die hand ontvang het nie. Hulle het lewend geword, en saam met Christus regeer, ‘n duisend jaar lank. 5Die oorblywende dooies het nie lewend geword voordat die duisend jaar verstryk het nie. Dit is die eerste opstanding. 6Gelukkig en heilig is die een wat deel het aan die eerste opstanding. Oor hulle het die tweede dood nie mag nie. Hulle sal priesters van God en van Christus wees, en saam met Hom ‘n duisend jaar lank regeer.

Jesus Christus word in Openbaring 19 voorgestel in sy rol as beide die Regter wat regverdig oordeel en die Generaal wat met die swaard van sy mond die oorlog teen die Bose aanvoer. Sy karakter word beskryf as een wat getrou is – die Getroue – en ook een wat die waarheid lief het – die Betroubare. Hy het ‘n ontsagwekkende voorkoms met oë soos ‘n vuurvlam en op sy kop nie net sewe of tien krone soos die draak of die dier uit die see nie (Openb. 12:3; 13:1), maar baie krone. Dat sy klere deurweek is met bloed verbind Hom aan die vorige beeld van die wingerdoes (Openb 14:14-20; vgl Jes 63:1-6) as die Regter en Generaal wat sy oordeel uitoefen. Jesus lei die leërs van die hemel in ’n groot oorlog op wit perde om sy heerskappy te vestig. Die word deur sy vurige oordeel tot stand gebring. Hy is ‘n Herder, sy sewende beskrywing, maar met ‘n ysterstaf (vgl Ps. 2:9; Openb. 12:5). ‘n Besondere Naam is op sy kleed geskrywe wat Hom as die Koning van die konings en die Here van die heersers aandui. Hy verslaan die magte van die antichris en die valse profeet in die oorlog (Armageddon). Dit berei die weg voor vir die finale oorwinning oor die draak, die Satan.

Die oorlog van die Lam met die leërs van die hemel teen die antichris en die valse profeet en hulle aanhangers word nou in Openbaring 20 opgevolg deur die binding van die draak in die bodemlose put (Openb 9:1-6; 11:7) met ‘n groot ketting. Die draak word hier as die slang van die oertyd beskryf, die duiwel en die Satan wat deur ‘n engel vir ‘n duisend jaar vasgebind en verseël word, sodat hy nie verder die nasies sou mislei nie. Met die onheilige drie – die antichris, die valse profeet en die Satan – uit die weg geruim, breek die tyd vir die mense van Christus aan om te oordeel en vir die martelare om saam met Christus te regeer. Let op dat dit lyk asof daar twee groepe genoem word in vers 4. Daar is mense wat op trone gaan sit om te oordeel. En daar is die siele van dié wat onthoof is vanweë hulle getuienis van Jesus en die woord van God en saam met Hom regeer. Hulle word verder geïdentifiseer as diegene wat nie neergeval het om die dier en sy beeld te aanbid nie. Hulle het ook nie die merk op hulle voorkop en op die hand ontvang nie.

Hierdie mense en martelare het deel aan ‘n eerste opstanding uit die dood vóór die res van die dooies lewendig sal word. Hulle regeringstyd beslaan ‘n 1 000 jaar saam met Christus vanuit die hemel. Johannes noem hulle gelukkig en heilig. Die tweede dood sal oor hulle geen mag hê nie. Hulle regeer as ‘n koninklike priesterdom van God en van Christus (vgl 1 Pet 2:9; Dan 7:9). Dit word as ‘n 1 000 jaar tydperk beskryf – onthou dit is ‘n simboliese getal, maar steeds ‘n beskrywing van die werklikheid – ná die wederkoms. Daar is dus ‘n eerste opstanding en ‘n tydperk van heerskappy oor die nasies wat saam met Christus is, maar vóór die finale oordeel en vestiging van die nuwe hemel en nuwe aarde. Dit kan moeilik met die tyd waarin ons leef, verbind word. Dit lê dus waarskynlik nog in die toekoms. ‘n Kort woord oor die wegraping. Die idee van die wegraping kom nie in die Bybel voor nie. Dit is ‘n idee wat eers in die 1800’s na vore gekom het is en deur die Scofield Bible, Hal Lindsey en die Left Behind series gepopulariseer is. Dit het geen Bybelse basis nie en kan gerus eenvoudig geïgnoreer word. Die enigste teks in die Bybel wat naastenby daarmee verbind kan word, is 1 Tessalonisense 4:13-17. Let op dat Paulus daar verwys na die ontslapenes wat in Jesus geglo het wat opstaan uit die dood en na die Here Jesus in die wolke geneem word. Dit verwys dus na iets wat ná die eerste opstanding uit die dood gebeur. Dieselfde gebeur met die gelowiges wat dan nog lewe. Hulle word saam met die opgestane ontslapenes na die Here op die wolke weggevoer om vir altyd by Hom te wees.

Lees meer (dit is my boek oor Openbaring wat jy gerus gratis kan aflaai om die hele Openbaring deur te werk): https://ngkerksomerstrand.co.za/wp-content/uploads/2020/05/Ek-kom-gou.pdf


Discover more from Bybelskool

Subscribe to get the latest posts sent to your email.

Beloftes


Chris van Wyk

Ek is Direkteur van Bediening en Geestelike Vorming by Veritas College International. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am Director of Ministry and Spiritual Formation at Veritas College International. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Maak 'n opmerking

Onlangse kommentaar