Skip to main content

Ons God is ‘n verterende vuur – Hebreërs 12

Hebreers-200Die teks in Hebreërs 12 gaan op ’n nuwe manier oop vir my, na ek vanoggend daarop gefokus het in PAYG en in voorbereiding vir my prediking môre (dit is een van die leesrooster tekste).
Waar ek die teks in Hebreërs 12 altyd in ’n persoonlike hoedanigheid gelees het – my eie sonde wat tot lyding en dissipline lei – besef ek vandag dat dit eintlik oor die uitdaging van sondaars en die sonde binne die geloofsgemeenskap gaan. Wonder hoe ek dit al die jare gemis het!

Ons stryd is nie net teen persoonlike sonde nie, al is dit ook hoe werklik.  Ons stryd, sê die geestelike leier van ’n huisgemeente (in Italië, waarskynlik Rome), is teen mense in die geloofsgemeenskap wat in hulle sonde volhard sowel as uiteindelik teen die mag van die sonde self.  Die verlossing van Christus moet in alle dele van ons eie lewe sowel as in die lewe van die geloofsgemeenskap beleef en geleef word.  Hy moet voor oë gehou word en Hy moet in die volle konsekwensie van die woord gevolg word.

Hebreërs help ons dus verstaan dat daar ’n kant van lyding is wat gelowiges ervaar wat nie weens hulle eie persoonlike oortredinge is of weens die verganklikheid en verydeling van die wêreld nie.  Lyding kom ook en soms veral van mense binne die geloofsgemeenskap.  Sondaars en die sonde binne die geloofsgemeenskap bring lyding oor ons net soos dit die geval was met die Here Jesus.

Trouens, dit was nog altyd so, selfs in die OT geloofsgemeenskap.  Dink maar net aan die teenstand wat gelowiges vanuit die geloofsgemeenskap van die begin af ervaar het.  Die siekte van die sonde van Kain wat Abel vermoor, is van die begin af deel van die geloofskonteks (Gen. 4).  Die goddelose in die Psalms is nie mense buite die geloofsgemeenskap nie, maar deel van die liturgie en die erediens in Jerusalem.  Hulle sê die voorskrifte van die Here op en hulle beskou hulleself as deel van die verbond, sê Psalm 50, maar steur hulle nie aan óf God se gebod óf die geloofsgemeenskap se wel en weë nie!

Jesus wys ons daarom deur sy voorbeeld aan die kruis hoe om die sondige optrede van sondaars teen ons te verdra, sonder om vir die skande daarvan terug te deins nie, maar om soos Hy, en met die krag wat Hy verleen, teen die sonde weerstand te bied as ’n saak wat letterlik lewe en dood inhou.

Hou Hom voor oë wat so ’n vyandige optrede van die sondaars teen Hom verdra het. Dan sal julle nie geestelik moeg word en uitsak nie.” (Hebr. 12:3).

Ons durf dus nie geestelik moeg raak en uitsak in ons weerstand teen die sonde nie.

  1. Dit sluit die persoonlike geestelike stryd teen die sonde in, dws dat ons soos atlete die lam hande en die swak knieë moet versterk (aangehaal uit Jes. 35:3: Stilwees en vertroue teen ‘n oormag!), reguit paaie vir onsself moet maak (aangehaal uit Spr. 4:26: Baken jou koers af!) sodat ons op God se pad kan bly en ons gesond kan word in ons eie toewyding (Hebr. 12:13).
  2. Maar dit sluit ook die stryd in die geloofsgemeenskap in dat ons die vrede najaag met alle mense in die geloofsgemeenskap – nie soseer subjektief om in vrede met mekaar te lewe nie, maar eerder objektief dat hulle almal die vrede van Christus kan ervaar en omhels as die evangelie – en terselfdertyd ook heiligheid, want ons weet dat niemand sonder heiligmaking die Here sal sien nie (Hebr. 12:14).  Dit is die mense wat rein van hart is wat die Here sal sien, het Jesus immers gesê (Matt. 5:8: Jesus fokus op die stryd vir geregtigheid!).
  3. Dit sluit dus in dat ons na mekaar omsien en sorg dat niemand in die genade van die Here veragter nie (Hebr. 12:15).  Ons almal moet vorder op die pad van heiligmaking en ons het mekaar nodig op daardie pad. Niemand mag argeloos en traakmynieagtig raak in ons toewyding aan die Here nie.  As ons sulke mense nie waarsku nie, sal God hulle bloed van ons hande eis.  Esegiël praat baie spesifiek van die goddelose (Eseg. 3; Eseg. 33: God soek bekering nie die dood nie!)!
  4. Dit sluit in dat ons sorg dat ons nie onderling verbitterd raak oor iets en dit onenigheid en besoedeling bring nie (Hebr. 12:15).  Anders word ons as geloofsgemeenskap besoedel en word letterlik ons karakter verander as ’n gemeenskap waarin die heilige God tuis voel.  Die uiteinde daarvan is afvalligheid en goddeloosheid, dws waar God se bestaan en werk onder ons nie meer as ’n kragtige realiteit ervaar word nie. Is dit nie moontlik die primêre rede waarom baie gemeentes kragteloos is en nie meer die sout en die lig is wat God bedoel het dat hulle in hierdie wêreld moet wees nie?  Herlewing begin altyd waar gemeentes hulle sondigheid voor God besef en tot inkeer kom, persoonlik en as geloofsgemeenskap.
  5. Dit sluit dus in dat ons sedeloosheid (pornos) en goddeloosheid (bebelos – goddeloos of wêreldsgesind) moet vermy, en daadwerklik moet teenstaan.  Dit is in wese soortgelyk aan wat die sinode in Jerusalem besluit het dat alle geloofsgemeenskappe hulleself aan moet hou (Handelinge 15), en deur Jesus in sy brief aan Tiatira herhaal (Openbaring 2).  Vermy losbandigheid en afgodery, die dinge wat julle kan besoedel in julle verhoudinge met mekaar, en díe dinge wat julle afvallig kan maak van God.

Hoekom is dit so belangrik?  

Die diepste rede is dat God gepraat het en dit van ons eis, sê die geestelike leier van die Hebreër gemeente.  Ons kan nie anders as om na Hom te luister nie, want Hy is ’n verterende vuur, waarsku hy ons.

God se woorde moet met ontsag en eerbied hanteer word.  Ons gee onsself dus oor óf aan die suiwering van die heiligmaking in dié lewe, óf aan die vuur van vernietiging van die toekomstige bedeling.  Laasgenoemde sal katastrofies wees vir die onsedelikes en afgodsdienaars (Openbaring 21:8).

Geen wonder dat die skrywer net hierna in hoofstuk 13 oor die broederliefde, die huwelik en geldgierigheid praat nie, die drie dinge wat die heiligmaking op ’n menslike vlak die meeste kan beïnvloed nie en net daarna oor aanbidding binne die gemeente, die een ding wat die heiligmaking op ’n geestelike verhoudingsvlak die meeste kan beïnvloed nie.

Laat ons God dankbaar dien met eerbied en ontsag, soos Hy dit wil, want ons God is ’n verterende vuur.” (Hebr. 12:28-29).

  • Lees meer wat ek verder oor Hebreërs sê in my Lees, Luister, Leef metodiek by http://bybelskool.com/hebreers/.  
  • Jy kan dit ook as ’n eboek aflaai om dit rustig op jou iPad of rekenaar te bestudeer.

Discover more from Bybelskool

Subscribe to get the latest posts sent to your email.

Hebreërs


Chris van Wyk

Ek is Direkteur van Bediening en Geestelike Vorming by Veritas College International. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am Director of Ministry and Spiritual Formation at Veritas College International. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Comments

Maak 'n opmerking

Onlangse kommentaar