Skip to main content

Nahum 2:1-13 – Die Here jaag Nineve uitmekaar

prayer-shawlNahum voorspel die val van Nineve, die hoofstad van die Assiriërs: “Daar kom iemand wat jou sal verjaag, Nineve.” Hierdie voorspelling het waar geword in 612 v.C. toe ‘n koalisie van ‘n hele aantal magte teen Assirië in opstand gekom en hulle oorwin het. Dit was ‘n leërmag van onder andere Meders, Perse, Galdeërs, Babiloniërs en nog ander. Die Galdeërs van Nabopolassar het hierna vanuit Babilon regeer en die volgende wêreldmag geword. Nebukadnesar, Nabopolassar se seun, sou in 604 v.C. sy pa opvolg en verantwoordelik wees vir die uiteindelike ballingskap van Juda in 597 en 586 v.C., hoewel dit iets is wat Nahum nie hier aanraak nie.

Nineve word opgeroep om hulleself te beskerm, maar dit is tevergeefs. Die Here gaan hulle verwoes – deur die nasies wat teen hulle in opstand kom – en Juda weer herstel deur die juk van die oorheerser van hulle af te werp.

Terloops, hoe jammer is dit nie dat Josia, die koning van Juda wat amper die gety vir hulle met sy hervormings gedraai het, dié voorsiening van die Here in die laaste dekade van die 7de eeu nie genoegsaam aangegryp het nie. Sy koppigheid om by wêreldpolitiek betrokke te raak, dwarsboom die kanse wat die volk op ‘n werklike radikale transformasie gehad het. Lees meer daaroor by 2 Kronieke 34 – Josia bestry afgodery, herstel die tempel en gehoorsaam die voorskrifte van die wetboek en 2 Kronieke 35 – Josia hou die grootste Paasfees, maar sneuwel in oorlog weens sy koppigheid.

Die aanvallers, sê Nahum, is soos ‘n “rooi gevaar” wat met groot vertoon so vernietigend soos fakkels of weerlig die stad oorrompel. Nineve probeer keer, maar die soldate struikel met hulle verdediging en die stormram van die vyand is al aan die werk. Vers 6 se vertaling van: “sluise van die kanale” gee die Hebreeuse teks: “die poorte van die rivier,” weer. Dit kan verwys na die Griekse storie hieroor wat die val van die stad wyt aan die rivier wat deur die stad loop en in vloed die stadsmure laat intuimel het. Dit is egter meer waarskynlik dat dit verwys na die stadspoorte by die rivier wat oopgebreek is en vanwaar die stad ingeneem is.

Die stad word dus ingeneem en hulle “mooi goed” gebuit. Die stad word ontvolk en weggevoer in ballingskap. Hulle is soos ‘n dam waarvan die water uitloop, ‘n besonder effektiewe metafoor, weens die sisteem van damme wat in die rivier gebou is om nie net beheer oor die rivier uit te oefen nie, maar ook water vir die stad te verskaf.

Let op hoe hartverskeurend die harde werklikheid van die nederlaag beskryf word: “sy mense is verslae, hulle knieë knak, hulle kry krampe in die onderlyf (stomachs retch, vertaal Peterson in The Message), almal is bleek van die skrik.

Die tragiek van die situasie word in die laaste drie verse verhoog met ‘n spotlied wat oor Nineve aangehef word: “Waar is die lêplek van die leeus nou … waar is die leeu en sy wyfie wat onbevrees met hulle welpies rondgeloop het?” Nahum gebruik juis dié beeld, omdat Nineve lief was om hulle as leeus voor te stel soos op die baie reliëf tekeninge uit dié tyd te siene is. Die eens trotse wêreldmag se moed is gebreek, hulle mag is tot niet.

Die Here tree op teen hulle. “Hy vee alles wat jy bymekaargemaak het, van die aarde af.” Dit is klaar met Nineve.

Boodskap

Die oorheersende gevoel wat my bybly ná die lees van hierdie hoofstuk is een van verydeling. Die wyse waarop nasies mekaar regdeur die eeue verwoes en vernietig, bly ‘n hartverskeurende werklikheid. Dat die Here uiteindelik agter dié gebeure sit, maak dit net nog erger.

Die enigste drie ligpunte in dié ontstellende stuk is eerstens dat die Here die ontvolking en wegvoering van Nineve laat gebeur nádat hy reeds ‘n profeet, Jona, daarheen gestuur het, en tweedens dat die grusame dade van die Assiriërs van Nineve regtig eeue lank aangehou het. Aan hulle word gedoen wat hulle aan ander gedoen het. Daar is ‘n sekere sin vir regverdigheid wat daardeur bevredig word.

In die derde plek herstel dié nederlaag “die eer van Jakob” (vers 2) … maar dit is op sy beurt weer ‘n tragedie van sy eie, want Josia kon dié kans wat die Here vir hulle gegee het, nie benut nie, weens sy koppigheid om eerder sy stem op die internasionale verhoog dik te probeer maak, met tragiese gevolge. Hy is dood in die veldslag teen Egipte en sy opvolgers het die land in die afgrond in bestuur.

Die evangelie in dié tragiese ontplooiing van Josia se lewe is dat daar tóg die kans is om die uitkoms van die Here aan te gryp. ‘n Mens kán onderskeiding aan die dag lê en die Here se plan vir die toekoms aangryp. Mag jy genade kry om dit te doen.


Discover more from Bybelskool

Subscribe to get the latest posts sent to your email.

Nahum


Chris van Wyk

Ek is Direkteur van Bediening en Geestelike Vorming by Veritas College International. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am Director of Ministry and Spiritual Formation at Veritas College International. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Maak 'n opmerking

Onlangse kommentaar