Nahum 1:1-15 – Die Here sorg vir wie by Hom skuil
Nahum begin in vers 1 om sy boek as ‘n profesie of uitspraak van die Here téén Nineve te tipeer. Dit bevat die openbaring van die Here van wat met hulle, sowel as met die Godsvolk, gaan gebeur.
God se liefde en oordeel word in die werklikheid voltrek – 1:2-8
Let op hoe dié boek begin met die prentjie van hoe God oor sy volk en sy mense voel: “Die Here is ‘n God wat baie begaan (jaloers of besitlik) is oor sy volk.” Sy gevoel vir die volk – sy jaloersheid of besitlikheid oor hulle – sluit in dat Hy Hom wreek op sy teëstanders, dié wat dit waag om téén Hom en daarmee ook teen sy volk in opstand te kom. Hulle word dus God se teëstanders omdat hulle die volk van Hom wil afrokkel. Dit is wat die jaloersheid of besitlikheid van God in wese beteken. Dit is om nie enige mededingers in sy verhouding met sy volk te duld nie. Daarom is jaloersheid in die Godsbeskrywing nie ‘n sonde nie, maar ‘n deugde.
Die karakter van God word daarna verder beskryf aan die een kant in eienskappe soos lankmoedig (1:3) en goed (1:7) en aan die ander kant in handelinge soos die groot krag waarmee Hy optree waar dit nodig is (1:3). ‘n Hele aantal skeppingsfenomene word genoem om God se kosmiese krag waarmee God chaos tot orde roep, mee uit te druk – rukwind, storm, wolke, droogte (Basan, Karmel en Libanon was bekend vir hulle vrugbaarheid), en aardbewings.
Dit herroep ook die tye in Israel se geskiedenis wat dié tekens God se openbaring vergesel het, in die woestyn met die Uittog (see wat droog word), op Sinai met die gawe van die wet en op Horeb met die hernuwing van God se roeping van Elia. God gee sulke teofanieë – Godsverskynings – as openbarings van sy magtige teenwoordigheid.
Let op hoe God se liefde en sy oordeel in vers 7 en 8 langs mekaar gestel word. Aan die een kant is God goed, en is Hy ‘n toevlug in tyd van nood. Daar kan altyd op Hom gereken word om te sorg vir dié wat by Hom skuil. Aan die ander kant is Hy ook soos ‘n vloed wat alles meesleur, en gaan Hy dit illustreer deur “haar plek” – Nineve – nou weg te vee soos met ‘n besem.
Dit is klaar met jou, Nineve! – 1:9-15
Nahum verkondig hier die eeu-oue waarheid van die spreuk: “Die mens wik, maar God beskik.” Nineve kan maar planne maak. Wat hulle ook al bedink, die Here sal dit tot niet maak. Hulle planne vir Juda sal spesifiek nie geluk nie. Al was hulle so ondeurdringbaar soos inmekaargevlegte dorings en deurweek van drank (moeilik verstaanbaar, maar miskien beteken dit natgemaak as beskerming teen die vuur), sal hulle soos kurkdroë stoppels verbrand word (vers 10).
Uit die verlede herroep Nahum die oorwinning van koning Hiskia oor Assirië in die tyd van die veldslag van Sanherib (vgl. my bydrae wat onder andere 2 Konings 19 insluit). Hy/hulle het kwaad bedink teen die Here, maar dit was planne wat nie geslaag het nie. Trouens, Hiskia het oorwin sonder om ‘n vinger te verroer. Die Here het die veldslag vir hulle gewen.
Die Here sê vir Nineve: “dit is klaar met jou.” ‘n Mens kan ook vertaal: “jy is onbenullig.” Ironies: die groot rolspeler op die wêreldverhoog is in God se oë onbenullig, van geen waarde nie. Op die punt om van die wêreldtoneel af te verdwyn.
Dié boodskap moet Juda met vreugde vervul. Hulle kan hul feeste vier en hulle geloftes betaal. “Die verdrukker sal nie weer deur jou land trek nie, hy is verslaan, vernietig.”
Boodskap
Die versoeking is groot om die groot rolspelers op die wêreldtoneel as die hoofakteurs van die menslike drama te beskou. Die Assiriërs met hulle hoofstad in Nineve was immers in oortreffende trap ‘n groot rolspeler wat oor ‘n wye gebied geheers het in die 7de eeu v.C.
Nahum help ons om die eintlik groot rolspeler op die wêreldtoneel en die ware hoofakteur van die menslike drama raak te sien. Dit is die Here self, dié God wat wel lankmoedig en geduldig is, maar met gloeiende toorn kán optree om Hom op sy teenstanders te wreek. Die feit dat dinge vir jare oënskynlik deur die wêreldmagte beheer en gestuur word, is presies dit, oënskynlik.
Agter die skerms is God besig met sy haarfyn beplanning en uitvoering van sy wil vir hierdie lewe. Dit het hy in die verlede bewys. Dit sal Hy ook in die toekoms bewys. Assirië – en enige mag daarvoor of daarna, ook die magte van vandag – sal uiteindelik voor God se mag moet buig. Om die waarheid te sê, Nahum kan met stelligheid die waarheid verkondig aan dié magte wat God nie erken nie: “Al is hulle hoe sterk, hoe baie, hulle sal afgemaai word en tot niet gaan.” Hulle is in sy oë onbenullig.
Daarteenoor staan die wonderlike troos dat die Here “sorg vir dié wat by Hom skuil.” “Hy is ‘n toevlug in tyd van nood.” Daarop kan sy mense te alle tye staatmaak. Dit is waar ook vandag. Dit is waar ook vir jou.