Nahum 3:1-19 – Die Here maak Nineve ‘n toonbeeld van vernedering

prayer-shawlDie boek van Nahum word afgesluit met ‘n beskrywing van die grusame nederlaag wat Nineve en die Assiriërs gaan tref en die skandelike vernedering waaraan hulle blootgestel gaan word (3:1-7). ‘n Sarkastiese spotlied word oor hulle aangehef wat hulle oproep om hulle te verweer teen die aanslag, in die volle wete dat dit verniet sal wees (3:9-19).

Die hoofstuk word afgesluit met ‘n retoriese vraag wat God se deernis met almal wat onder die magspolitiek van die regerings van die wêreld deurloop, illustreer. God se lankmoedige en deernisvolle karakter met mense word daarmee aan sy vermoë om onreg en korrupsie reg te stel, gekoppel. God se redding en sy oordeel is kante van dieselfde munt.

Nineve word getref met ‘n grusame nederlaag en ‘n skandelike vernedering – 3:1-7

Nahum gebruik besondere digterlike beeldspraak om die ellende van Nineve uit te lig. “Swepe klap, wiele dreun, perde jaag, strydwaens vat net hier en daar grond; ruiters galop, swaarde blink, spiese blits.” Uitmuntende digwerk!

Let op hoe hierdie digterlike beskrywing in vers 2-3 ‘n mens help om ‘n prentjie te kry van die grusame nederlaag – “baie gewondes, hope dooies, ontelbare lyke” – en die verdere beskrywing in vers 4-7 van die skandelike vernedering – die “mooi vrou” word kaal uitgetrek, letterlik: “Ek sal haar rok oor haar kop trek”, die straf wat prostitute in dié tyd getref het.

Die rede vir hierdie ellende word reeds in vers 1 uitgespel en aan die einde van die hoofstuk in vers 19 opgesom. Die ellende tref hulle weens die wreedheid van hulle bedrog, roof en moord wat oor eeue teen ander gepleeg is.

Omdat Nineve ander verwoes het, sal God hulle verwoes: “Ek tree teen jou op, sê die Here die Almagtige.” Omdat hulle ander se regte geminag en vertrap het, sal die Here hulle aan minagting prysgee en hulle ‘n spektakel maak in die oë van al die nasies. Op die koop toe sal niemand hulle jammer kry nie.

Nineve is verwoes en sal nie herstel nie – 3:8-19

Nahum verwys hier na Egipte wat onderwerp is met die veldslag teen No-Amon (3:8-10) wat inderdaad in 663 v.C. gebeur het. No-Amon (Thebes) was baie lank die hoofstad van Egipte en Kus (gebied rondom Aswan). Egipte was ‘n sterk wêreldmag wat kon staatmaak op sterk bondgenote na die weste, Put (deel van Libië) en Libië. Soos Nahum sê: “en hulle wás sterk!” Dit het hulle egter nie gehelp nie, en hulle is deur Assurbanipal II van Assirië in ballingskap weggevoer, ironies genoeg beplan vanuit die hoofstad Nineve!

Dieselfde lot sal Nineve nou egter tref. Hulle sal skuilplek soek teen die vyand, maar verniet: “Al jou vestings is soos vyebome met ryp voorvye: as die bome geskud word, val die vye in die eter se mond!” Grusame maar treffende beeldspraak.

Die soldate verloor hulle moed, die weerstand verbrokkel, en hoewel Nineve op ‘n sarkastiese wyse opgeroep word om planne te maak om die aanval af te weer (water, bouwerk), is die boodskap dat dit liederlik sal misluk. Soos sprinkane in die voetganger stadium sal die inwoners deur vuur vernietig word. Hulle leiers sal wegvlieg soos ‘n swerm sprinkane: “en niemand weet waarheen nie!

Jy is verwoes, en jy sal nie herstel nie.” Die grote Nineve is verwoes en verstrooi: “want wie het nie almal voortdurend onder jou wreedhede gely nie?

Soos die boek Jona, sluit Nahum sy boek af met ‘n retoriese vraag van die Here waarin sy karakter na vore kom.

  • In Jona het die vraag God se deernis met die onskuldiges (mens en dier) van Nineve geïllustreer.
  • In Nahum illustreer die vraag God se deernis met die onskuldiges wat onder Nineve se wreedhede deurgeloop het.

Boodskap

Die verhaal van Assirië en Nineve is ‘n getuienis van die noodwendige gevolg van die korrupsie van mag en geweld. ‘n Ryk wat op magswellus gebou is, sal altyd uiteindelik self sneuwel. Korrupsie en die gewelddadige onderdrukking van mense kan nooit die toets van die tyd deurstaan nie. Dit dra die onvermydelike kiem van vernietiging en ondergang.

Dié patroon is duidelik in die opgetekende geskiedenis van die wêreld, van die een kant daarvan tot die ander kant. In die werklikheid van die historiese prosesse raak die opstand teen onreg uiteindelik net te groot vir korrupte magspolitiek om enduit te slaag.

Die boek van Nahum gee ‘n profetiese interpretasie van die historiese gebeure. Dit is nie net die Galdeërs, Mede en Perse wat hulleself verset teen die magspolitiek van Assirië en Nineve nie. Dit is die Here self: “Ek tree teen jou op, sê die Here die Almagtige.” (3:5). God is aan die kant van dié wat onregverdig ly. Die sigbare opstand word dus vanuit die onsigbare werklikheid aangevoer deur die Here self. Dit dra die seël van sy goedkeuring.

Dit beteken natuurlik nie dat die Here die geweld waarmee dit gebeur noodwendig goedkeur nie. Dieselfde oordeel wat hier die Assiriërs tref, tref later ook die Galdeërs en nog later ook die Mede en Perse. Korrupte magspolitiek sal altyd onder die oordeel van die Here deurloop.

Dit is egter baie belangrik om in Nahum te hoor dat hierdie oordeelsboodskap gedra word deur hierdie troosvolle Godsbeeld: “Die Here is lankmoedig, maar sy krag is groot: Hy laat geen skuldige ongestraf nie.” (1:3). God se oordeel is vanweë sy deernis met mense wat onder die wreedhede van magspolitiek deurloop, uitgedruk met die retoriese vraag aan die einde van die boek: “want wie het nie almal voordurend onder jou wreedhede gely nie?” (3:19).

Nahum wil dus met dié profesie – wat met Nineve se val vervul is – die vrees vir magspolitiek verander in vertroue in dié God wat deernis het met almal wat daaronder deurloop, ook vandag nog. Die korrupte regerings van die wêreld het nie die laaste sê oor die lewens van mense nie, al moet baie daaronder ly. Gód het die laaste woord oor ons almal. God is sowel lankmoedig en deernisvol met mense as in staat om onreg en korrupsie reg te stel in die geskiedenis van die wêreld. God se redding en sy oordeel is immers kante van dieselfde munt. Daarop kan ons vertrou.

Nahum


Chris van Wyk

Ek is gemeenteleraar by Somerstrand gemeente, Port Elizabeth. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am pastor at Summerstrand congregation, Port Elizabeth. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Maak 'n opmerking

  • Chris van Wyk on Numeri 36Ja, alles het eintlik met alles te make in die Skrif. Dit onderstreep die waarde van elke enkele deel daarvan vir alle tye.
  • Chris van Wyk on Numeri 36My voorreg!
  • Ansie Lessing on Numeri 36Dankie. Ek mis die stukkies vir niks nie. Groete, Ansie
  • Chris van Zyl on Numeri 36Baie dankie vir jou bydraes, Chris, en betekenisse wat vir my soveel beter insig verskaf het. Die kruisverwysings tussen OT en NT het my laat besef dat die OT se verhale konteks verskaf vir die Jesus se oorwinning in die NT. Baie dankie, ek sien uit na Deut.
  • Chris van Wyk on JeremiaHi Petro, my bydraes oor Jeremia is net op die Internet by hierdie skakel beskikbaar.
  • Petro on JeremiaMiddag Waar kan ek net die boek Jeremia aflaai Dankie
  • Chris van Wyk on Jesaja 21-23 – God se oordeel bereik alle nasiesDie boodskap van die drie hoofstukke is dat God se oordeel werklik is en dat sy waarskuwings nie in die wind geslaan moet word nie. Dit geld ook sy volk om hulle te bekeer van hulle verkeerde weë. Hulle status as God se uitverkore volk moet nie ligtelik opgeneem word nie. Groter kennis van die waarh…
  • Marizanne Louw on Jesaja 21-23 – God se oordeel bereik alle nasiesHi ek is besig met bybelstudie..en ek kry va oggend Jesaja 21..maar ek kry nie n vers op toepassing van my nie..ek kan nie opsevasie maak nie..ook nie hoe dit op toepassing van my is nie. Kan u dalk dit vir my uiteensit?/verduidelik asb??
  • Chris van Wyk on LukasHi Susanna, Lukas skryf daarvan in Lukas 24:50-53 JESUS SE HEMELVAART (Mark 16:15,19; Hand 1:4-11) 50Daarna het Jesus hulle uit die stad gelei, tot by Betanië. Hy het sy hande opgehef en hulle geseën. 51Terwyl Hy hulle seën, het Hy van hulle af weggegaan, en is in die hemel opgeneem. 52Hulle het Hom…
  • Susanna Ellis on LukasWaar in Lukas en in Markus verskyn die woord Hemelvaart in die verse.
  • Chris van Wyk on Numeri 13Hi, daar is baie teorieë oor die Nefilîm (reuse - soos die Griekse vertaling van die Hebreeuse teks dit interpreteer). Die Joodse boek 1 Henog open die moontlikheid dat van Noag se skoondogters Nefilîm gebaar het om die voorkoms na die sondvloed te verklaar. Maar, die Bybelse weergawe is stil daaroo…
  • Jerimy on Numeri 13Baie dankie vir die Skrif en bemoeding dat ons nie 45 jaar moet wag soos Kaleb om genoeg geloof bymerkaar te skraap en sdan nie eers ons erf porsie in besit wil neem nie.Is dit nie moontlik dat Noag se seuns se vroue die Nefilîm gene gedra het nie,daarom die melding van reuse na die vloed ?
  • Chris van Wyk on Openbaring 7 – God beskerm en versorg die kerk as geloofsgemeenskapHi Rudi, ja, jy is reg, maar Dan word daar net genoem as "seun" van Jakob, maar anders as met die ander stamme, word die geslagsregister van Dan nie in die res van 1 Kronieke 1-9 gegee nie. Ek het dit nou helderder gestel: "Dit korreleer onder andere met die Kronis wat die stam van Dan ook in die ge…
  • Rudi van Tonder on Openbaring 7 – God beskerm en versorg die kerk as geloofsgemeenskapDan is in 1 Kronieke 2 vers 1?
  • Chris van Wyk on Levitikus 27Menseoffers is in verskeie antieke kulture en selfs in meer onlangse kulture beoefen. Green het sy omvattende studie van menslike offerandes in die antieke Nabye Ooste opgesom met die algemene stelling dat “menslike offerande dwarsdeur hierdie streek opgespoor kan word,” d.w.s. dwarsdeur Mesopotamië…
%d bloggers like this: