Skip to main content

Nahum 3:1-19 – Die Here maak Nineve ‘n toonbeeld van vernedering

prayer-shawlDie boek van Nahum word afgesluit met ‘n beskrywing van die grusame nederlaag wat Nineve en die Assiriërs gaan tref en die skandelike vernedering waaraan hulle blootgestel gaan word (3:1-7). ‘n Sarkastiese spotlied word oor hulle aangehef wat hulle oproep om hulle te verweer teen die aanslag, in die volle wete dat dit verniet sal wees (3:9-19).

Die hoofstuk word afgesluit met ‘n retoriese vraag wat God se deernis met almal wat onder die magspolitiek van die regerings van die wêreld deurloop, illustreer. God se lankmoedige en deernisvolle karakter met mense word daarmee aan sy vermoë om onreg en korrupsie reg te stel, gekoppel. God se redding en sy oordeel is kante van dieselfde munt.

Nineve word getref met ‘n grusame nederlaag en ‘n skandelike vernedering – 3:1-7

Nahum gebruik besondere digterlike beeldspraak om die ellende van Nineve uit te lig. “Swepe klap, wiele dreun, perde jaag, strydwaens vat net hier en daar grond; ruiters galop, swaarde blink, spiese blits.” Uitmuntende digwerk!

Let op hoe hierdie digterlike beskrywing in vers 2-3 ‘n mens help om ‘n prentjie te kry van die grusame nederlaag – “baie gewondes, hope dooies, ontelbare lyke” – en die verdere beskrywing in vers 4-7 van die skandelike vernedering – die “mooi vrou” word kaal uitgetrek, letterlik: “Ek sal haar rok oor haar kop trek”, die straf wat prostitute in dié tyd getref het.

Die rede vir hierdie ellende word reeds in vers 1 uitgespel en aan die einde van die hoofstuk in vers 19 opgesom. Die ellende tref hulle weens die wreedheid van hulle bedrog, roof en moord wat oor eeue teen ander gepleeg is.

Omdat Nineve ander verwoes het, sal God hulle verwoes: “Ek tree teen jou op, sê die Here die Almagtige.” Omdat hulle ander se regte geminag en vertrap het, sal die Here hulle aan minagting prysgee en hulle ‘n spektakel maak in die oë van al die nasies. Op die koop toe sal niemand hulle jammer kry nie.

Nineve is verwoes en sal nie herstel nie – 3:8-19

Nahum verwys hier na Egipte wat onderwerp is met die veldslag teen No-Amon (3:8-10) wat inderdaad in 663 v.C. gebeur het. No-Amon (Thebes) was baie lank die hoofstad van Egipte en Kus (gebied rondom Aswan). Egipte was ‘n sterk wêreldmag wat kon staatmaak op sterk bondgenote na die weste, Put (deel van Libië) en Libië. Soos Nahum sê: “en hulle wás sterk!” Dit het hulle egter nie gehelp nie, en hulle is deur Assurbanipal II van Assirië in ballingskap weggevoer, ironies genoeg beplan vanuit die hoofstad Nineve!

Dieselfde lot sal Nineve nou egter tref. Hulle sal skuilplek soek teen die vyand, maar verniet: “Al jou vestings is soos vyebome met ryp voorvye: as die bome geskud word, val die vye in die eter se mond!” Grusame maar treffende beeldspraak.

Die soldate verloor hulle moed, die weerstand verbrokkel, en hoewel Nineve op ‘n sarkastiese wyse opgeroep word om planne te maak om die aanval af te weer (water, bouwerk), is die boodskap dat dit liederlik sal misluk. Soos sprinkane in die voetganger stadium sal die inwoners deur vuur vernietig word. Hulle leiers sal wegvlieg soos ‘n swerm sprinkane: “en niemand weet waarheen nie!

Jy is verwoes, en jy sal nie herstel nie.” Die grote Nineve is verwoes en verstrooi: “want wie het nie almal voortdurend onder jou wreedhede gely nie?

Soos die boek Jona, sluit Nahum sy boek af met ‘n retoriese vraag van die Here waarin sy karakter na vore kom.

  • In Jona het die vraag God se deernis met die onskuldiges (mens en dier) van Nineve geïllustreer.
  • In Nahum illustreer die vraag God se deernis met die onskuldiges wat onder Nineve se wreedhede deurgeloop het.

Boodskap

Die verhaal van Assirië en Nineve is ‘n getuienis van die noodwendige gevolg van die korrupsie van mag en geweld. ‘n Ryk wat op magswellus gebou is, sal altyd uiteindelik self sneuwel. Korrupsie en die gewelddadige onderdrukking van mense kan nooit die toets van die tyd deurstaan nie. Dit dra die onvermydelike kiem van vernietiging en ondergang.

Dié patroon is duidelik in die opgetekende geskiedenis van die wêreld, van die een kant daarvan tot die ander kant. In die werklikheid van die historiese prosesse raak die opstand teen onreg uiteindelik net te groot vir korrupte magspolitiek om enduit te slaag.

Die boek van Nahum gee ‘n profetiese interpretasie van die historiese gebeure. Dit is nie net die Galdeërs, Mede en Perse wat hulleself verset teen die magspolitiek van Assirië en Nineve nie. Dit is die Here self: “Ek tree teen jou op, sê die Here die Almagtige.” (3:5). God is aan die kant van dié wat onregverdig ly. Die sigbare opstand word dus vanuit die onsigbare werklikheid aangevoer deur die Here self. Dit dra die seël van sy goedkeuring.

Dit beteken natuurlik nie dat die Here die geweld waarmee dit gebeur noodwendig goedkeur nie. Dieselfde oordeel wat hier die Assiriërs tref, tref later ook die Galdeërs en nog later ook die Mede en Perse. Korrupte magspolitiek sal altyd onder die oordeel van die Here deurloop.

Dit is egter baie belangrik om in Nahum te hoor dat hierdie oordeelsboodskap gedra word deur hierdie troosvolle Godsbeeld: “Die Here is lankmoedig, maar sy krag is groot: Hy laat geen skuldige ongestraf nie.” (1:3). God se oordeel is vanweë sy deernis met mense wat onder die wreedhede van magspolitiek deurloop, uitgedruk met die retoriese vraag aan die einde van die boek: “want wie het nie almal voordurend onder jou wreedhede gely nie?” (3:19).

Nahum wil dus met dié profesie – wat met Nineve se val vervul is – die vrees vir magspolitiek verander in vertroue in dié God wat deernis het met almal wat daaronder deurloop, ook vandag nog. Die korrupte regerings van die wêreld het nie die laaste sê oor die lewens van mense nie, al moet baie daaronder ly. Gód het die laaste woord oor ons almal. God is sowel lankmoedig en deernisvol met mense as in staat om onreg en korrupsie reg te stel in die geskiedenis van die wêreld. God se redding en sy oordeel is immers kante van dieselfde munt. Daarop kan ons vertrou.


Discover more from Bybelskool

Subscribe to get the latest posts sent to your email.

Nahum


Chris van Wyk

Ek is Direkteur van Bediening en Geestelike Vorming by Veritas College International. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am Director of Ministry and Spiritual Formation at Veritas College International. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Maak 'n opmerking

Onlangse kommentaar

  • sparklybc467b2e69 on Psalm 119:105-112Goeie middag, baie dankie vir die deel van die kosbare verhaal wat so gepas is met die Psalm
  • originalblizzard19aaa84c56 on Psalm 119:1-8Sien waarlik die nou verband tussen OT EN NT. waarlik verhelderend. אמן
  • Chris van Wyk on Psalm 118:19-29Ek gee maar net aan wat ek ontvang het. Dit bly egter 'n kosbare voorreg.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 118:19-29Goeie môre, baie dankie dat u met ons deel wie en waar die vertaaling van die Bybel sy oorsprong gekry het, dit is so kosbaar, baie dankie vir een en elkeen wat deel is en was om hierdie kosbare woord ook vir ons in ons Taal te kon uitlê
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 110Baie dankie vir hierdie kosbaarhede wat u met ons deel. Ek het Openbaring 22 gelees en dit klink baie soos die tuin van Eden, hy praat van die boom van lewe. Die sondeval gemaak dat die mens gesondig het en dat hul nie meer in die tuin kon woon nie asgevolg van die sonde.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 109:6-19Goeie middag, ek wil ook by las dat in Psalm 139:23 bid David;"Deurgrond my, O GOD, en ken my hart, toets my en ken my gedagtes" GOD ken die mens en HY deersoek die hart en die gedagtes. Ek het self al telkens gebid, HERE vergewe hulle want hulle weet nie wat hulle doen nie en dan soos die woord sel…
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 107:33-38Baie dankie vir hierdie verduideliking. Ons lees die eerste keer van Baäl-Peor in Numeri 25. Baäl was die Kanaänitiese god van vrugbaarheid, terwyl Peor verwys na die berg in Moab waar hy onder andere aanbid is. Hy is ook in Kanaän aanbid en was 'n groot versoeking vir die Israeliete met hulle vesti…
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 107:33-38GOD is so goeie GOD. HY gee vir ons die voorskrifte vanaf Deut. 28 en dan volg HY dit ook op in Psalm 107 en sê as ons net doen wat HY ons beveel sal dit met ons goed gaan en ons geseënd wees, nie oor ons nie, maar oor GOD en wie HY is.
  • Chris van Wyk on Psalm 106:43-48Ons lees die eerste keer van Baäl-Peor in Numeri 25. Baäl was die Kanaänitiese god van vrugbaarheid, terwyl Peor verwys na die berg in Moab waar hy onder andere aanbid is. Hy is ook in Kanaän aanbid en was 'n groot versoeking vir die Israeliete met hulle vestiging in die Beloofde Land.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 107:1-9Psalm 1:1 Stel dit so mooi hoe ons, ons pad moet hou en dat ons moet hou en bly by GOD se gebooie
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 106:43-48Goeie naand, Psalm 106: 28 Kan u asb vir my verduidelik wat Baâlpeor is ? Baie dankie Amanda
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 106:13-33Baie dankie vir die verduideliking, dit is hoekom ek hier is om te kan leer.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 106:13-33Dit breuk ñ mens se hart dat die Isrealiete ten spyte van al die tekens en wonders hulle telkemale opstandig word en GOD met so min agting behandel, en dat selfs Abraham vir hulle in die brese tree, en hoeveel keer die volk homself ook laat sondig het. Ek kan net sê ons dien ñ genadige GOD en GOD so…
  • Chris van Wyk on Psalm 106:6-12Die verskillende vertalings - "Rietsee", "Rooi See" en "Skelfsee" – het ontstaan omdat die Hebreeuse uitdrukking יַם־סוּף (yam sûf) verskillend vertaal is. Die Hebreeuse teks in Eksodus 13:18 beteken letterlik "See van Riete" of "Skelfsee" soos die 1933-vertaling dit vertaal het (skelf = riete, 'n w…
  • Chris van Wyk on Psalm 105:37-45Baie waar, vergifnis is genesend.