Nahum – God voltrek sy oordeel oor Nineve
Die boodskap van die eerste ses Kleiner Profete
Wat die eerste ses Kleiner Profete tot dusver gesamentlik gesê het, is dat wat in die Godsverhouding tussen Hom en mense gebeur, ‘n impak het op hulle voorspoed en selfs hulle voortbestaan – ten goede en/of ten kwade. Aan Hóm moet hulle lojaal wees en bly in hulle liefde. Na Hóm moet hulle begeerte wees. Aan Hóm moet hulle in alles gehoorsaam bly.
Maar wat die profete net so sterk op die tafel sit is dat dié verhouding medebepaal word deur die wyse waarop mense in die gemeenskap teenoor mekaar optree. Sosiale geregtigheid en deernis met die weerloses is onafskeidbaar deel van die Godsverhouding. Trouens, dit is ook nie net van toepassing op die Godsvolk alleen nie. God verwag van alle mense om te doen wat reg is, troue liefde aan mekaar te bewys terwyl hulle noulettend die pad saam met God loop.
Inleiding
Die profeet Nahum, tydgenoot van Jeremia en Sefanja, word as Elkosiet aan ons bekendgestel, d.w.s afkomstig van die dorpie Elkos, moontlik in Noord-Galilea volgens die geskiedskrywer Hiëronimus. Sy beskrywings van die stad Nineve, asook twee moontlike Assiriese leenwoorde (“mense aan jou hof”, en “amptenare” – 3:17), getuig egter volgens sommige geleerdes van ‘n deeglik genoeg kennis van die stad dat hy moontlik daar gebly het, moontlik ’n nasaat van mense wat weggevoer is met die ballingskap van die noordelike tienstamme ryk (2 Kon. 15). Ons weet egter nie genoeg oor hom om met groter sekerheid daarop uit te brei nie. Hy sou ook dié profesieë in Juda kon gelewer het.
Nahum is die sewende boek in die ry van die Twaalf Kleiner Profete, en bevat ‘n grusaam-helder boodskap van God se finale oordeel oor Nineve, die hoofstad van die Assiriërs. Dit word as ‘n troosboodskap aan die mense van Juda aangebied: “Vier maar jou feeste, Juda! Betaal jou geloftes, want die booswigte sal nooit weer deur jou trek nie; hulle is almal uitgeroei.” (1:15).
Onlangse kommentaar