‘n Kort bydrae oor die hel, doderyk en vuurpoel in die NT
Jesus het ons geleer dat mense óf gered word om in die koninkryk van God in te gaan óf in die hel (gehenna) gegooi te word (Matt. 10:28; Luk. 13:28). Op soortgelyke wyse verkondig Hy aan die ongelowiges in Kapernaum dat hulle tot die doderyk (hades – sheol in die OT bv. in Ps. 16:10) verdoem sal word. Dieselfde geld mense wat in hulle sonde bly (Matt. 5:22, 29-30; 23:31-33). Die hel en die doderyk (vir ongelowiges) kan dus min of meer as sinoniem aan mekaar gesien word.
Hy beskryf hierdie plek weg van God se aangesig as ‘n ewige vuur (Matt. 25:41), ‘n plek van donkerte (Matt. 8:8-12), ‘n bodemlose afgrond (abussos – Luk. 8:31), waar mense in pyn verkeer weens die vuur van die doderyk (Luk. 16:23). Die vuur word nooit geblus nie en die wurm hou nooit op met vreet nie (Mark. 9:48).
Paulus praat nie oor die hel en die doderyk as sodanig nie, maar kontrasteer steeds die wonder van die koninkryk van God met die afgryse van die dood (thanatos – 2 Kor. 7:10) en die ewige verdoemenis of verwoesting (olethros) waar God die mense wat nie vir Hom ken nie, sal straf (2 Tess. 1:6-10). Dit sluit dus alle mense in wat nie in Jesus glo nie, maak nie saak in watter godsdiens hulle hulle bevind nie.
Daar is volgens Petrus alreeds engele wat daarheen verdoem is (tartaroō – 2 Pet. 2:1-10). Dit is ‘n plek van gloeiende vuur waarin al die vyande van God uiteindelik gegooi sal word (Hebr. 10:26-27).
Sommige interpreteer al bogenoemde beskrywings as metaforiese beskrywings. Ander interpreteer dit letterlik. Dit maak in wese nie saak watter roete ‘n mens met die interpretasie gaan nie, want selfs metafore het werklike referente. Die hel/doderyk is dus ‘n plek waar God in sy toorn aanwesig is, en in sy genade afwesig. Dit is ‘n werklikheid van onbedenkbare leed.
Johannes brei op dié temas uit in sy Openbaring en voeg nog twee belangrike elemente by.
- Dit is Jesus wat die mag het oor die doderyk (hades – Openb. 1:18). Hy sluit dit oop vir die ongelowiges en Hy sluit dit toe vir die gelowiges. Gelowiges is immers ná hulle dood met God verenig (Luk. 16:19-31; 23:43; 2 Kor. 5:8; Fil. 1:23; Hebr. 12:23; Openb. 14:13).
- Die doderyk (hades) word as sodanig uiteindelik in ‘n vuurpoel (hē limnē tou pyros) gegooi wat bedoel is vir almal wie se name nie in die boek van die lewe opgeskryf is nie (Openb. 20:13-14). Die hel/doderyk beland dus uiteindelik in hierdie finale vuurpoel. Dit is ook die plek waar die duiwel vir ewig sal brand (Openb. 20:20) saam met al die ongelowiges.
anna makwatie
Baie dankie vir die brood wat my siel voed, soos dit in Ps 23 staan. God wil ook nie he dat een mens(Sy beeld) verlore moet gaan nie. Die bybel getuig van Sy liefde vir die mensdom, soos dit staan in Miga 6 vers 8. Nogmaals dankie!
Chris van Wyk
Ja, Petrus sê: “Hy is geduldig met julle (gemeente), omdat Hy nie wil hê dat iemand verlore gaan nie: Hy wil hê dat almal hulle moet bekeer.” (2 Pet. 3:9). God se wens is dus bekering van almal wat deel is van die geloofsgemeenskap en dat dit nie uiteindelik blyk dat sommige die pad byster geraak het omdat hulle hulle nie in geloof en bekering aan God verbind het nie.