Is daar ‘n verskil tussen ‘n Christen en ‘n kind van God?
‘n Christen is Bybelsgesproke iemand wat as ‘n gelowige en ‘n volgeling van Christus bekend is. Dit is wat die Griekse woord Christianos in die NT beteken. Louw en Nida beskryf die woord in hulle woordeboek as volg: “one who is identified as a believer in and follower of Christ.”
Dit word die eerste keer vir gelowiges gebruik in Antiogië (Hand. 11:26). Die gemeenskap sien in die gelowiges se lewe dat hulle met Christus identifiseer en Hom navolg. Dit is ook die hart van hulle getuienis. Hulle het teenoor mense getuig van die noodsaak om met Christus te identifiseer en Hom na te volg. Ons hoor bv. by koning Agrippa dat hy in Paulus se passievolle getuienis voor die hof ervaar dat Paulus probeer om hom te beweeg om ook ‘n Christianos te word, iemand wat glo in Christus en Hom navolg (Hand. 26:28). En Petrus moedig ons met dieselfde passie aan om as draers van die naam Christianos ons nie te skaam vir die lyding wat baie keer daarmee gepaard gaan nie, maar God te verheerlik as onbeskaamde Christianoi.
‘n Christen is dus iemand wat in Christus glo en wat Hom volg. Hulle is dus ook kinders van God, want Johannes sê, elkeen wat glo dat Jesus die Christus is, is uit God gebore, is ‘n kind van God (1 Joh. 5:1). Dit is die groot liefde wat God aan ons bewys het dat almal wat in Christus glo kinders van God genoem kan word (1 Joh. 3:1).
Daar behoort dus nooit enige verskil te wees tussen iemand wat ‘n Christen is – ‘n Christianos soos die Bybel dit sê, iemand wat in Christus glo en Hom navolg – en ‘n kind van God nie.
Die werklikheid is egter dat baie mense vandag hulleself Christene noem, omdat hulle óf biologies deel van die kerk is, óf hulleself nog as deel van die Westerse Christendom samelewing beskou wat aanvanklik op Christelike waardes gebou is, maar daardie Christelike basis lankal versaak en verlaat het. Dit wil sê, daar is mense vandag wat nie waarlik glo in Christus en Hom navolg nie, maar tog steeds as Christene identifiseer omdat hulle deel is van die kerk of van die Westerse samelewing. Sulke mense is egter nie kinders van God nie, al dra hulle wel nog in die oë van die wêreld, asook in hulle eie beoordeling van hulleself, die naam Christen.
Paulus waarsku ons in sy tweede brief aan Timoteus teen sulke mense wat die krag van Christus in hulle lewe verloën deur ‘n gedaante van godsdienstigheid te hê (‘n breë identifisering met Christenwees), maar met hulle lewens bewys dat hulle nie Christene is nie deurdat hulle Christus nie meer volg in geloof, leer of gedrag nie. Dit is mense wat selfsugtig is, geldgierig, grootpraterig, aanmatigend, godslasterlik, ongehoorsaam aan hulle ouers, ondankbaar, goddeloos, ongevoelig, genadeloos, beledigend, sonder selfbeheersing, wreed, sonder liefde vir die goeie, verraaiers, roekeloos, hooghartig, lief vir plesier eerder as vir God, mense wat wel op die oog af godsdienstig lyk, maar wat die krag daarvan misken (2 Tim. 3:2-5 – BDV). Van sulke mense moet ons wegbly, sê Paulus, terwyl hy ons waarsku dat dit swaar tye voorspel.
Discover more from Bybelskool
Subscribe to get the latest posts sent to your email.
Sonja Slater
Wat van ander gelowe wat nie Christus erken nie? Hulle is kinders van God maar nie Christene nie? Volgens wat ons glo gaan hulle dan nie Hemel toe nie omdat hulle nie in Christus glo nie?
Chris van Wyk
Mense wat nie Christus erken nie, is skepsels van God, maar nie kinders van God nie. Jy kan net ‘n kind van God word deur in Christus te glo (Joh. 1:12). Net hierdie kinders van God beërf die ewige lewe (Joh. 6:47).
Sonja Slater
Maw Jode, Moslems en ander gaan almal hel toe?
Chris van Wyk
Jesus het ons geleer dat mense óf gered word om in die koninkryk van God in te gaan óf in die hel (gehenna) gegooi te word (Matt. 10:28; Luk. 13:28). Op soortgelyke wyse verkondig Hy aan die ongelowiges in Kapernaum dat hulle tot die doderyk (hades) verdoem sal word. Dieselfde geld mense wat in hulle sonde bly (Matt. 5:22, 29-30; 23:31-33). Hy beskryf hierdie plek weg van God se aangesig as ‘n ewige vuur (Matt. 25:41), ‘n plek van donkerte (Matt. 8:8-12), ‘n bodemlose afgrond (Luk. 8:31), waar mense in pyn verkeer weens die vuur van die doderyk (Luk. 16:23). Die vuur word nooit geblus nie en die wurm hou nooit op met vreet nie (Mar. 9:48).
Paulus praat minder oor die hel en die doderyk, maar kontrasteer steeds die wonder van die koninkryk van God met die afgryse van die dood (2 Kor. 7:10) en die ewige verdoemenis waar God die mense wat nie vir Hom ken nie, sal straf (2 Tess. 1:6-10). Dit sluit dus alle mense in wat nie in Jesus glo nie, maak nie saak in watter godsdiens hulle hulle bevind nie.
Dit wil voorkom of die vuur daar alreeds brand, want daar is alreeds engele wat daarheen verdoem is (2 Pet. 2:1-10). Dit is ‘n plek van gloeiende vuur waarin al die vyande van God uiteindelik gegooi sal word (Hebr. 10:26-27).
Sommige interpreteer al bogenoemde beskrywings as metaforiese beskrywings. Ander interpreteer dit letterlik. Dit maak in wese nie saak watter roete ‘n mens met die interpretasie gaan nie, want selfs metafore het werklike referente. Die hel is dus ‘n plek waar God in sy toorn aanwesig is, en in sy genade afwesig. Dit is ‘n werklikheid van onbedenkbare leed.
Johannes brei op dié temas uit in sy Openbaring en voeg nog twee belangrike elemente by. Een, dit is Jesus wat die mag het oor die doderyk (Openb. 1:18). Hy sluit dit oop vir die ongelowiges en Hy sluit dit toe vir die gelowiges. Twee, die doderyk (hades) word as sodanig uiteindelik in ‘n vuurpoel gegooi wat bedoel is vir almal wie se name nie in die boek van die lewe opgeskryf is nie (Openb. 20:13-14). Die hel/doderyk beland dus uiteindelik in hierdie finale vuurpoel. Dit is ook die plek waar die duiwel vir ewig sal brand (Openb. 20:20) saam met al die ongelowiges.
Natascha
Baie baie dankie vir die breedvoerige verduideliking. Ek waardeer dit opreg.
Adri
Hi Chris
Kan jy my asb verduidelike wat is die verskil tussen Christen en Yahwis.
Groete Adri
Chris van Wyk
Hi Adri, ‘n Christen is iemand wat in die Here Jesus Christus glo en Hom gehoorsaam, wat deur die Gees ‘n kind van God gemaak is. Die “Jahwis” dui op ‘n hipotetiese bron wat gebruik is om die eerste vyf boeke van die Bybel, die Pentateug, te skrywe. Oral waar in die teks “Jahwe” voorkom, word dit as die “Jahwis” bron deur sommige geleerdes beskou (bv Gen 2). Oral in die teks waar net “Elohim” (God) voorkom, word dit as die “Elohis” beskou (bv Gen 1). Ek ondersteun egter nie hierdie onderskeid in bronne nie. Daar is nog nooit enige boek gevind wat eers naastenby met só ‘n bron vergelyk kan word nie. Die onderskeid is net gebaseer op die verbeelding van geleerdes.
Miems Albrecht
Mag Mense selfdood pleeg
Chris van Wyk
Hi Miems, die wet is duidelik dat ‘n mens nie moord mag pleeg nie (Eks 20:13) soos Jesus (Matt 5:21-22) en Paulus (Rom 13:9) dit ook bevestig. Die Heidelbergse Kategismus verduidelik dit so:
Sondag 40
105 Vraag: Wat eis God in die sesde gebod?
Antwoord: Ek mag nie self en ook nie deur iemand anders my naaste onteer, haat, beledig of doodmaak nie. Ek mag dit nie met my gedagtes, woorde of gebare doen nie en nog minder met die daad (a). Ek moet alle wraaksug laat vaar (b). Ek mag ook myself nie kwaad aandoen of moedswillig in gevaar begewe nie (c). Daarom dra die owerheid die swaard om doodslag te weer (d).
(a) Matt 5:21, 22; 26:52; Gen 9:6. (b) Ef 4:26; Rom 12:I9; Matt 5:25;18:35. (c) Rom 13:14; Kol 2:23; Matt 4:7. (d) Gen 9:6; Eks 21:14; Matt 26:52; Rom 13:4.
106 Vraag: Praat hierdie gebod net van doodmaak?
Antwoord: Deur doodmaak te verbied, leer God ons dat Hy die wortel daarvan (a), soos afguns, haat (b), woede (c) en wraaklus verafsku. Dit alles is vir Hom heimlike moord (d).
(a) Spr 14:30; Rom 1:29. (b) 1 Joh 2:11. (c) Jak 1:20; Gal 5:19-21. (d) 1 Joh 3:15.
107 Vraag: Het ons die gebod gehoorsaam as ons maar net nie ons naaste doodmaak, soos hierbo gesê is nie?
Antwoord: Nee, terwyl God afguns, haat en woede verbied, gebied Hy dat ons ons naaste moet liefhê soos onsself (a). Ons moet teenoor hom geduldig, vredeliewend, sagmoedig, barmhartig en vriendelik wees (b), alles wat hom kan benadeel, sover moontlik probeer voorkom (c) en selfs aan ons vyande goed doen (d).
(a) Matt 22:39; 7:12; Rom 12:10. (b) Ef 4:2; Gal 6:1, 2;Matt 5:5; Rom 12:18; Luk 6:36; Matt 5:7; 1 Pet 3:8; Kol 3:12. (c) Eks 23:5. (d) Matt 5:44, 45; Rom 12:20.
Carol
Love this explanation…Clear and concise.Thank you
Chris van Wyk
👍