Wat beteken dit om te glo in die NT?
Daar is verskillende Griekse woorde wat gebruik word om geloof te beskryf in die NT. Die volgende vyf gebruike van hierdie woorde kan onderskei word:
- VERTROUE: Die woord πίστις (pistis) word in die NT gebruik om die vertroue (believing or trusting) in of op die verlossing van Jesus Christus aan te dui (Gal. 2:20; 3:6). Hierdie geloofsvertroue is iets wat die Gees in ons wek (2 Kor. 4:13), en tegelykertyd ook die middel waardeur ons die Gees ontvang (Gal. 3:14). πίστις is dus ‘n beskrywing van reddende geloof (Rom. 1:8; Ef. 2:8). Dit is ook hoe die werkwoord πιστεύω (pisteuō) gebruik word om die aksie van geloof en vertroue uit te druk (Luk. 1:20; Matt. 18:6; Hand. 4:32; Rom. 1:16-17; 3:2; 4:3; 1 Kor. 11:18; Jak. 2:19; 1 Pet. 2:6). Die werkwoord πιστόομαι (pistoomai) wat in die sin van “om te begin glo” of “tot geloof kom” gebruik word, kan ook hierby ingereken word (2 Tim. 3:14). Dit is dan ook die wyse waarop die Hebreërskrywer oor geloof skrywe: “Die geloof dan is ’n vaste vertroue op die dinge wat ons hoop, ’n bewys van die dinge wat ons nie sien nie.” (Hebr. 11:1).
- TOEWYDING: Die woord πίστις word ook gebruik om die toewyding (commitment) aan die verlossing van Jesus Christus aan te dui wat deur die liefde tot dade oorgaan (Gal. 5:6). πίστις is dus ‘n beskrywing van jou belofte van en lojaliteit aan die Here Jesus Christus (1 Tim. 5:12).
- GETROUHEID: Die woord πίστις word verder ook gebruik om die getrouheid (faithfulness) aan die verlossing van Jesus Christus aan te dui wat die Gees in ons binnekant bewerk as deel van die etiese vrug van die Gees (Gal. 5:22). Dit is immers ook ‘n eienskap van God dat Hy πίστις is in dié sin, d.w.s. betroubaar en getrou (Rom. 3:3; 1 Kor. 1:9; 10:13; 2 Kor. 1:18; 1 Tess 5:24; 2 Tess. 3:3).
- GELOOFSLEER: Die woord πίστις dui ook die geloofsleer of Christelike dogma aan (Gal. 1:23), d.w.s die inhoud van die geloof (vgl. 1 Kor. 15:14).
- BETROUBAAR: Die woord πίστις word ook as ‘n beskrywing gebruik van die geloof wat betroubaar of seker is (Hand. 17:31). Daar is ook die verwante selfstandige naamwoord πιστός (pistos) wat ook in die sin van betroubaarheid of sekerheid gebruik word (Hand. 13:34). In dieselfde sin is daar ook die selfstandige naamwoord πιστικός (pistikos) wat in die sin van suiwerheid gebruik word (parfuum in Joh. 12:3), maar dit word net volledigheidshalwe genoem.
Uiteraard kan mense wat geloof beoefen dus as gelowiges beskryf word. Daarvoor word die verwante selfstandige naamwoord πιστή (pistē) gebruik vir ‘n gelowige of Christen (Hand. 16:1,4).
Dit is egter ook duidelik dat daar in NT ‘n onderskeid is in die wyse waarop oor geloof in die sin van vertroue gepraat word, die eerste betekenis hierbo.
1. Hierdie vertroue kan aan die een kant as ‘n reddende geloof uitgelê word. Dit sien ons in die plekke waar daar gepraat word oor “jou geloof het jou gered” (Matt. 9:22; Mark. 10:52; Luk. 17:19; 18:42; Rom. 1:16-17). Dit is ‘n baie belangrike manier waarop geloof in Jesus Christus as die krag tot redding uitgespel word. Dit is die tipe geloof wat deur die Woord en die Gees in ons geskep word (Rom. 10:9-10).
2. Aan die ander kant is daar plekke waar hierdie vertroue as ‘n aktiewe werkende geloof uitgelê word. Dit sien ons in die plekke waar daar gepraat word oor geloof wat net so groot soos ’n mosterdsaadjie hoe te wees, waarmee ‘n mens vir ‘n berg sou kan sê: “‘Gaan staan daar anderkant!’ en hy sal gaan. Niks sal vir julle onmoontlik wees nie.” (Matt. 17:20; vgl. 1 Kor. 13:2). Uiteraard het dit steeds met tekens van die koninkryk te make, nie met lukraak wonderwerke as sodanig nie, maar is steeds ‘n geloof wat werklikhede tot stand bring wat daarsonder nie sou gebeur nie.
Hierdie betekenisse is soms moeilik van mekaar onderskeibaar, maar tog waardevol om in gedagte te hou.
Aan die een kant is dit duidelik in die NT dat die reddende en saligmakende geloof in ons versterk moet word (Hand. 16:5) sodat dit kan toeneem (2 Kor. 10:15) en nie miskien verswak nie (Rom. 4:19). Hierdie geloof dien ook tot onderlinge bemoediging (Rom. 1:12) onder andere deur die egtheid wat gesamentlike volharding bring (Rom. 5:14). Dit is ook duidelik dat hierdie geloof kan kwyn (Luk. 8:13; 22:32), en iets is waarvan jy kan afdwaal (1 Tim.6:10). Ons moet dus alles in die stryd werp om mense in hierdie geloof te versterk, want dit het met ‘n vertroue in God se reddende genade te make. In hierdie geloofsvertroue roep Paulus ons op om vas te staan (1 Kor. 16:13; Kol. 1:23; 2:5).
Aan die ander kant is dit ook duidelik dat die werkende geloof of vertroue in aksie ook in ons versterk moet word. Die beskrywings in die NT van die geloof wat te klein kan wees (Matt. 17:20), of swak (Rom. 14:1-2), of groot (Matt. 8:10; 15:28; Luk. 7:9) of sterk (Rom. 15:1), maar eintlik net so groot soos ‘n mosterdsaadjie hoef te wees (Matt. 13:31), hou waarskynlik hiermee verband. Dit is waarom Paulus die gemeente as kindertjies in die geloof kan beskryf (1 Kor. 3:1), en op ‘n ander plek juis gelowiges kan aanmoedig om sterk en volwasse te word in hulle geloof in Christus Jesus (Ef. 4:13). Hierdie geloof is dus nie soseer vertroue in die sin van ‘n reddende of saligmakende geloof nie, maar geloof en vertroue gemik op die werklikheid en handelinge van God in hierdie lewe. Hierdie tipe geloof verskil van mens tot mens volgens die maat van geloof wat God aan elkeen toebedeel het (Rom. 12:3), maar moet juis doelbewus beoefen en opgebou word om al hoe meer effektief in die lewe te kan wees.
Dit is hierdie tipe geloof wat sommige ook as ‘n genadegawe van die Gees ontvang soos dit in 1 Korintiërs 12:9 (vgl. 1 Kor. 13:2; Rom. 12:3) beskryf word, en waar dit waarskynlik dui op ‘n onwrikbare vertroue in God se beloftes dat iets besonders sal gebeur of sal waar word. Wat dié mense egter in ‘n besondere sin as ‘n gawe – benewens die saligmakende geloof – ontvang, moet alle gelowiges ook as ‘n vertroue in aksie leer beoefen sodat ons as ‘n liggaam al hoe meer effektief in die koms van die koninkryk kan word.
Lees meer hieroor in Louw en Nida se semantiese ontleding van geloof in die NT.