Skip to main content

Wat beteken dit om te glo in die NT?

Daar is verskillende Griekse woorde wat gebruik word om geloof te beskryf in die NT.  Die volgende vyf gebruike van hierdie woorde kan onderskei word:

  1. VERTROUE: Die woord πίστις (pistis) word in die NT gebruik om die vertroue (believing or trusting) in of op die verlossing van Jesus Christus aan te dui (Gal. 2:20; 3:6).  Hierdie geloofsvertroue is iets wat die Gees in ons wek (2 Kor. 4:13), en tegelykertyd ook die middel waardeur ons die Gees ontvang (Gal. 3:14).  πίστις  is dus ‘n beskrywing van reddende geloof (Rom. 1:8; Ef. 2:8).  Dit is ook hoe die werkwoord πιστεύω (pisteuō) gebruik word om die aksie van geloof en vertroue uit te druk (Luk. 1:20; Matt. 18:6; Hand. 4:32; Rom. 1:16-17; 3:2; 4:3; 1 Kor. 11:18; Jak. 2:19; 1 Pet. 2:6).  Die werkwoord πιστόομαι (pistoomai) wat in die sin van “om te begin glo” of “tot geloof kom” gebruik word, kan ook hierby ingereken word (2 Tim. 3:14).  Dit is dan ook die wyse waarop die Hebreërskrywer oor geloof skrywe: “Die geloof dan is ’n vaste vertroue op die dinge wat ons hoop, ’n bewys van die dinge wat ons nie sien nie.” (Hebr. 11:1).
  2. TOEWYDING: Die woord πίστις word ook gebruik om die toewyding (commitment) aan die verlossing van Jesus Christus aan te dui wat deur die liefde tot dade oorgaan (Gal. 5:6).  πίστις  is dus ‘n beskrywing van jou belofte van en lojaliteit aan die Here Jesus Christus (1 Tim. 5:12).
  3. GETROUHEID: Die woord πίστις word verder ook gebruik om die getrouheid (faithfulness) aan die verlossing van Jesus Christus aan te dui wat die Gees in ons binnekant bewerk as deel van die etiese vrug van die Gees (Gal. 5:22).  Dit is immers ook ‘n eienskap van God dat Hy πίστις is in dié sin, d.w.s. betroubaar en getrou (Rom. 3:3; 1 Kor. 1:9; 10:13; 2 Kor. 1:18; 1 Tess 5:24; 2 Tess. 3:3).
  4. GELOOFSLEER: Die woord πίστις dui ook die geloofsleer of Christelike dogma aan (Gal. 1:23), d.w.s die inhoud van die geloof (vgl. 1 Kor. 15:14).
  5. BETROUBAAR: Die woord πίστις word ook as ‘n beskrywing gebruik van die geloof wat betroubaar of seker is (Hand. 17:31). Daar is ook die verwante selfstandige naamwoord πιστός (pistos) wat ook in die sin van betroubaarheid of sekerheid gebruik word (Hand. 13:34).  In dieselfde sin is daar ook die selfstandige naamwoord πιστικός (pistikos) wat in die sin van suiwerheid gebruik word (parfuum in Joh. 12:3), maar dit word net volledigheidshalwe genoem.

Uiteraard kan mense wat geloof beoefen dus as gelowiges beskryf word.  Daarvoor word die verwante selfstandige naamwoord πιστή (pistē) gebruik vir ‘n gelowige of Christen (Hand. 16:1,4).

Dit is egter ook duidelik dat daar in NT ‘n onderskeid is in die wyse waarop oor geloof in die sin van vertroue gepraat word, die eerste betekenis hierbo.

1.  Hierdie vertroue kan aan die een kant as ‘n reddende geloof uitgelê word.  Dit sien ons in die plekke waar daar gepraat word oor “jou geloof het jou gered” (Matt. 9:22; Mark. 10:52; Luk. 17:19; 18:42; Rom. 1:16-17).  Dit is ‘n baie belangrike manier waarop geloof in Jesus Christus as die krag tot redding uitgespel word.  Dit is die tipe geloof wat deur die Woord en die Gees in ons geskep word (Rom. 10:9-10).

2.  Aan die ander kant is daar plekke waar hierdie vertroue as ‘n aktiewe werkende geloof uitgelê word.  Dit sien ons in die plekke waar  daar gepraat word oor geloof wat net so groot soos ’n mosterdsaadjie hoe te wees, waarmee ‘n mens vir ‘n berg sou kan sê: “‘Gaan staan daar anderkant!’ en hy sal gaan. Niks sal vir julle onmoontlik wees nie.” (Matt. 17:20; vgl. 1 Kor. 13:2).  Uiteraard het dit steeds met tekens van die koninkryk te make, nie met lukraak wonderwerke as sodanig nie, maar is steeds ‘n geloof wat werklikhede tot stand bring wat daarsonder nie sou gebeur nie.

Hierdie betekenisse is soms moeilik van mekaar onderskeibaar, maar tog waardevol om in gedagte te hou.

Aan die een kant is dit duidelik in die NT dat die reddende en saligmakende geloof in ons versterk moet word (Hand. 16:5) sodat dit kan toeneem (2 Kor. 10:15) en nie miskien verswak nie (Rom. 4:19).  Hierdie geloof dien ook tot onderlinge bemoediging (Rom. 1:12) onder andere deur die egtheid wat gesamentlike volharding bring (Rom. 5:14).  Dit is ook duidelik dat hierdie geloof kan kwyn (Luk. 8:13; 22:32), en iets is waarvan jy kan afdwaal (1 Tim.6:10).  Ons moet dus alles in die stryd werp om mense in hierdie geloof te versterk, want dit het met ‘n vertroue in God se reddende genade te make.  In hierdie geloofsvertroue roep Paulus ons op om vas te staan (1 Kor. 16:13; Kol. 1:23; 2:5).

Aan die ander kant is dit ook duidelik dat die werkende geloof of vertroue in aksie ook in ons versterk moet word.  Die beskrywings in die NT van die geloof wat te klein kan wees (Matt. 17:20), of swak (Rom. 14:1-2), of groot (Matt. 8:10; 15:28; Luk. 7:9) of sterk (Rom. 15:1), maar eintlik net so groot soos ‘n mosterdsaadjie hoef te wees (Matt. 13:31), hou waarskynlik hiermee verband.  Dit is waarom Paulus die gemeente as kindertjies in die geloof kan beskryf (1 Kor. 3:1), en op ‘n ander plek juis gelowiges kan aanmoedig om sterk en volwasse te word in hulle geloof in Christus Jesus (Ef. 4:13).  Hierdie geloof is dus nie soseer vertroue in die sin van ‘n reddende of saligmakende geloof nie, maar geloof en vertroue gemik op die werklikheid en handelinge van God in hierdie lewe.  Hierdie tipe geloof verskil van mens tot mens volgens die maat van geloof wat God aan elkeen toebedeel het (Rom. 12:3), maar moet juis doelbewus beoefen en opgebou word om al hoe meer effektief in die lewe te kan wees.

Dit is hierdie tipe geloof wat sommige ook as ‘n genadegawe van die Gees ontvang soos dit in 1 Korintiërs 12:9 (vgl. 1 Kor. 13:2; Rom. 12:3) beskryf word, en waar dit waarskynlik dui op ‘n onwrikbare vertroue in God se beloftes dat iets besonders sal gebeur of sal waar word.  Wat dié mense egter in ‘n besondere sin as ‘n gawe – benewens die saligmakende geloof – ontvang, moet alle gelowiges ook as ‘n vertroue in aksie leer beoefen sodat ons as ‘n liggaam al hoe meer effektief in die koms van die koninkryk kan word.

Lees meer hieroor in Louw en Nida se semantiese ontleding van geloof in die NT.


Discover more from Bybelskool

Subscribe to get the latest posts sent to your email.

Geloof, Vertroue


Chris van Wyk

Ek is Direkteur van Bediening en Geestelike Vorming by Veritas College International. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am Director of Ministry and Spiritual Formation at Veritas College International. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Maak 'n opmerking

Onlangse kommentaar

  • Chris van Wyk on Psalm 119:169-176Absoluut!
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 119:169-176Psalm 119 is voorwaar ñ baie Geseënde Psalm
  • Chris van Wyk on Psalm 119:145-152Dis self opnuut weer ‘n vreugde vir my.
  • originalblizzard19aaa84c56 on Psalm 119:145-152Ek was altyd baie langtand om Ps 119 aan te durf, nou wens ek dat dit nie ophou nie... Ps 119 is te kort!!! PDH
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 119:105-112Goeie middag, baie dankie vir die deel van die kosbare verhaal wat so gepas is met die Psalm
  • originalblizzard19aaa84c56 on Psalm 119:1-8Sien waarlik die nou verband tussen OT EN NT. waarlik verhelderend. אמן
  • Chris van Wyk on Psalm 118:19-29Ek gee maar net aan wat ek ontvang het. Dit bly egter 'n kosbare voorreg.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 118:19-29Goeie môre, baie dankie dat u met ons deel wie en waar die vertaaling van die Bybel sy oorsprong gekry het, dit is so kosbaar, baie dankie vir een en elkeen wat deel is en was om hierdie kosbare woord ook vir ons in ons Taal te kon uitlê
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 110Baie dankie vir hierdie kosbaarhede wat u met ons deel. Ek het Openbaring 22 gelees en dit klink baie soos die tuin van Eden, hy praat van die boom van lewe. Die sondeval gemaak dat die mens gesondig het en dat hul nie meer in die tuin kon woon nie asgevolg van die sonde.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 109:6-19Goeie middag, ek wil ook by las dat in Psalm 139:23 bid David;"Deurgrond my, O GOD, en ken my hart, toets my en ken my gedagtes" GOD ken die mens en HY deersoek die hart en die gedagtes. Ek het self al telkens gebid, HERE vergewe hulle want hulle weet nie wat hulle doen nie en dan soos die woord sel…
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 107:33-38Baie dankie vir hierdie verduideliking. Ons lees die eerste keer van Baäl-Peor in Numeri 25. Baäl was die Kanaänitiese god van vrugbaarheid, terwyl Peor verwys na die berg in Moab waar hy onder andere aanbid is. Hy is ook in Kanaän aanbid en was 'n groot versoeking vir die Israeliete met hulle vesti…
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 107:33-38GOD is so goeie GOD. HY gee vir ons die voorskrifte vanaf Deut. 28 en dan volg HY dit ook op in Psalm 107 en sê as ons net doen wat HY ons beveel sal dit met ons goed gaan en ons geseënd wees, nie oor ons nie, maar oor GOD en wie HY is.
  • Chris van Wyk on Psalm 106:43-48Ons lees die eerste keer van Baäl-Peor in Numeri 25. Baäl was die Kanaänitiese god van vrugbaarheid, terwyl Peor verwys na die berg in Moab waar hy onder andere aanbid is. Hy is ook in Kanaän aanbid en was 'n groot versoeking vir die Israeliete met hulle vestiging in die Beloofde Land.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 107:1-9Psalm 1:1 Stel dit so mooi hoe ons, ons pad moet hou en dat ons moet hou en bly by GOD se gebooie
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 106:43-48Goeie naand, Psalm 106: 28 Kan u asb vir my verduidelik wat Baâlpeor is ? Baie dankie Amanda