‘n Gesonde etos is gebaseer op die morele wet van God
Ek het ‘n navraag gekry oor die morele wet van God. Bestaan dit steeds nádat die wet in sy seremoniële gedaante opgehef is deur Christus? Wat sou die inhoud daarvan wees?
Ek wil die vraag beantwoord deur veral na die Nederlandse Geloofsbelydenis, artikel 25, te verwys, sowel as na die talle verwysings in die NT na “goeie sedes”, of te wel, ‘n “gesonde etos”.
Die Nederlandse Geloofsbelydenis artikel 25
Die Nederlandse Geloofsbelydenis is helder daaroor dat die sermoniële dele van die wet tot ‘n einde gekom het in Christus. Ons aanbid nie meer by die tempel nie. Ons bring nie meer offers om verbrand te word op die altaar nie. Christene hoef dit nie meer na te kom nie. Trouens, die gebruik daarvan moet afgeskaf word.
Maar, ons is steeds gebind aan die morele kant daarvan, die etiese riglyne wat dit vir ons verskaf. Soos die NGB dit stel: “Die waarheid en inhoud daarvan bly nogtans vir ons in Christus Jesus bestaan.”
Ons gaan dus voort om die getuienisse in die wet en die profete te gebruik om ons in die evangelie te bevestig en ons lewe aan die hand daarvan in te rig. Lees dit self:
NGB Artikel 25: DIE SEREMONIËLE WET IN CHRISTUS VERVUL
Ons glo dat die seremonies en heenwysings van die Wet met die koms van Christus opgehou het en dat alle voorafskaduwing tot ‘n einde gekom het. Die gebruik daarvan moet derhalwe onder die Christene afgeskaf word. Die waarheid en inhoud daarvan bly nogtans vir ons in Christus Jesus bestaan: in Hom het hierdie seremonies en heenwysings juis hulle vervulling. Ons gaan ook nog voort om die getuienisse van die wet en die profete te gebruik om ons in die evangelie te bevestig en ook om ons lewe in alle eerbaarheid tot eer van God en volgens sy wil in te rig.
Rom. 10:4; Gal. 3, 4; Kol. 2:17; 2 Pet. 1:19; 3:2, 18.
Christene word deur die morele wet tot “goeie sedes” geroep, ‘n gesonde etos
Die NT praat op ‘n hele paar plekke van “sedes” of “etos” wat deur die wet gevorm word. In Grieks ἔθος. Dit wil sê, die morele kode wat deur die wet vir gelowiges daar gestel is om volgens te lewe. Hierdie kant van die wet het dus nooit ophou bestaan nie.
Dit geld ook Jode en Christene, soos dit duidelik is uit verskeie verhale in die boek Handelinge. Vergelyk die volgende verwysings:
- In Handelinge 6:14 word Stefanus aangekla dat hy die “sedes wat Moses aan ons oorgelewer het, verander”. Stefanus verset hom daarteen en wy roerend uit oor die “lewende woorde” van die wet wat Moses van God ontvang het op die berg Sinai, en wat bedoel was ook vir “ons”, dws vir die Jode, sowel as vir die volgelinge van Jesus (Hand 7:38).
- In Handelinge 16:21 word Paulus in die tronk gegooi, omdat hy die “sedes” van die Jode verkondig wat deur die Romeine verwerp word. Sy boodskap was dus in lyn met dít wat die Jode geleer het. Hy het dieselfde “sedes” of etos gehandhaaf. Dit is onder andere waarom hy in die tronk beland.
- Paulus verweer hom in Handelinge 21:21 teen die beskuldiging van Jakobus, die broer van die Here Jesus, en al die ouderlinge van Jerusalem dat hy die heidene leer om van Moses afvallig te word deur nie volgens die “sedes” van die Skrif te lewe nie. Dit is waarom hy ‘n gelofteoffer gee in die tempel om duidelik te laat blyk dat hy nie teen die Joodse “sedes” optree nie. Dit was vir hom deel van die geloofsgewoontes wat hy gehandhaaf en geleer het. Die morele wet van God is nie opgehef in Christus nie, maar deur die Gees in gelowiges se harte geskryf om daarvolgens te lewe.
- Paulus verweer hom ook in Handelinge 26:3 teen sy teenstanders by Agrippa op grond van die feit dat die koning goed bekend is met al die sedes en vraagstukke onder die Jode. Hy het dit nooit oortree nie. Paulus verwag dus dat sy pleidooi gunstig deur hom ontvang sal word. Agrippa gee hom uiteindelik gelyk, maar stuur hom wel Rome toe, omdat Paulus hom op die keiser beroep het.
- Paulus verweer hom nog ‘n keer in Handelinge 28:17 teen die vernaamste Jode in Rome en sê die volgende: “Broeders, alhoewel ek niks gedoen het teen die volk of die voorvaderlike sedes nie, is ek uit Jerusalem as gevangene oorgelewer in die hande van die Romeine.” Luister mooi! Hy het niks gedoen teen die voorvaderlike sedes nie!
Dit is daarom geen wonder dat Paulus op ‘n keer in 1 Korintiërs 15:33 skryf aan die gemeente en hulle aanspoor om nie te dwaal nie: “Slegte gesprekke bederf goeie sedes.” Hy gebruik die Griekse woord etos ook daar in die sin van die morele wet.
Hy vermaan daarom gelowiges aan die hand van hierdie opmerking om nugter te wees, en nie te sondig nie. Dit is wat die ware kennis van God ons immers leer, sê hy (1 Kor 15:34). Die angel van die dood is die sonde, en ons moet daarom die sonde vermy, die morele wet nakom, deurdat ons vasstaan in die oorwinning wat Jesus gee.
Discover more from Bybelskool
Subscribe to get the latest posts sent to your email.