Skip to main content

Maleagi 2:17-4:6 – God sal reg laat geskied ten spyte van hulle ongeregtigheid

prayer-shawlIn hierdie twee hoofstukke fokus Maleagi op die tweede basiese probleem wat die volk met God het – sy gebrek aan optrede om iets aan die probleem van boosheid en onreg te doen (2:17-3:5). Dié vraag maak die Here skoon “moeg”, omdat dit só ver van die waarheid af is. Hy gaan dit vir hulle wys deur sommer by hulle te begin om die onreg wat hulle doen, uit te roei. Weereens – God het nie verander nie – hulle het! Hy sal reg laat geskied ten spyte van hulle ongeregtigheid.

Die volk se onreg sluit in dat hulle Hom met minagting behandel deur nie al die vereiste offers sowel as die volle tiende na die tempel te bring nie. Dit is natuurlik die eintlike rede waarom dit met hulle sleg gaan. Hulle kom nie hulle deel van die verbond na nie (3:6-12). Die toppunt van hulle vermetelheid is egter om die Here te verkwalik vir dinge waaraan hulleself aandadig is. Dit is so groot dat hulle so ver gaan as om te verkondig dat dit nutteloos is om die Here te dien. Hulle sien dus glad nie hulle eie aandeel in die sinloosheid van hulle godsdiens raak nie.

Gelukkig is dit nie die geval by almal nie. Dié wat eerbied vir die Here het, sê Maleagi, sal ervaar dat die Here vir hulle goed is. Daardeur sal die verskil tussen dié wat goed doen en dié wat goddeloos is, helder sigbaar word, al beskryf hy dit as iets wat eers op die “dag van die Here” volledig sigbaar sal word (3:13-4:3).

Die boek word afgesluit met ‘n opdrag om aan die wet van Moses aandag te gee in voorbereiding vir die koms van die profeet Elia wat versoening sal bewerk vir almal (4:4-6).

Let op hoe die stem van die Here in al vier perikope sterk deurkom, maar dat die eerste perikoop veral die probleem van die volk, die tweede veral die reaksie van die Here daarop en die derde perikoop veral die reaksie van die profeet, Maleagi, daarop verwoord. Die laaste perikoop bevat ‘n woord vir die toekoms wat in Jesus vervul is. Ons lees die perikope dus as volg:

  • 2:17-3:5 – Die volk: Vir U is almal wat verkeerd doen, goeie mense.
  • 3:6-12 – Die Here: Julle hanteer My met minagting in die tiendes
  • 3:13-4:3 – Maleagi: Die Here sal die verskil tussen dié wat goed doen en dié wat goddeloos is, sigbaar maak
  • 4:4-6 – Die Here: Onthou die wet van Moses in afwagting van die profeet Elia wat versoening sal bring

2:17-3:5 – Die volk: Vir U is almal wat verkeerd doen, goeie mense.

Maleagi begin met die stelling: “Julle het die Here moeg gemaak met wat julle gesê het.” Op hulle vraag waarmee? antwoord hy: “toe julle gesê het: ‘Vir die Here is almal wat verkeerd doen, goeie mense, Hy hou van hulle.’” Sowel as toe hulle gevra het: “Waar is die God wat reg moet laat geskied?

Die Here antwoord op ‘n manier wat hulle moontlik nie verwag het nie. In plaas daarvan om in die eerste plek die onreg in die gemeenskap aan te spreek, gaan die Here begin met sy eie mense, meer spesifieke die Leviete, voordat Hy vandaar af uit die hele geloofsgemeenskap sal verander.

  • Die probleem met die tempelpersoneel is dat hulle hulle rol om tussen God en die volk te staan en dié verhouding te fasiliteer, verwaarloos het.
  • Die probleem met die volk is dat hulle self onreg doen met dinge wat getuig van ‘n halfhartige dien van die Here wat ook tot onreg in die gemeenskap lei. Hulle is onder andere skuldig aan toordery, egbreuk, gosdienstig-gemengde huwelikke, vals eedswerings, die uitbuiting van weerloses in die samelewing, en halfhartige godsdienstige handelinge (offers en tiendes).

Dit is dinge wat God veroordeel en wat Hy gaan regstel. Let op dat die Here hulle van binne af transformeer dat hulle: “aan die Here ‘n offer kan bring wat bestaan uit regdoen.” Dit is die voorvereiste wat hulle gewone offers weer aanneemlik sal maak vir die Here.

Die Here se agent van verandering word in eskatologiese taal geskets, soos in die derde en vierde perikoop ook na vore sal kom. Dit is sy boodskapper. Hoewel die woord ooreenkom met Maleagi se naam, wat ook “boodskapper” beteken, word die boodskapper ook die Verbondsengel – die enigste plek in die Bybel wat dié woord gebruik word – genoem wat die gesag en die mag het om die volk te suiwer om die Here op die regte wyse te kan dien. Hy neem dus ‘n Messiaanse karakter aan, hoewel Maleagi anders as Sagaria nie van ‘n Lydende Messias praat nie. Sy reinigende en regsprekende werk staan voorop. In die NT word dié boodskapper met Johannes die Doper verbind (Mark. 1:2-3; Matt. 11:10,14)

3:6-12 – Die Here: Julle hanteer My met minagting in die tiendes

Maleagi se fokus skuif terug na die huidige situasie van die volk. Die Here verklaar dat Hy nie verander het nie en verwag van die volk dat hulle tot bekering sal kom. Dít sal die seën van die Here oor hulle bring.

Op die vraag van die volk waarom hulle tot bekering moet kom, lig die Here hulle nalatigheid uit om die volle tiende na die tempel te bring. Hy laat hulle onder geen onsekerheid nie dat die tiendes ‘n ononderhandelbare deel van hulle verhouding is. As motivering koppel Hy aan die gee van tiendes ‘n omvattende belofte: “Bring die volle tiende na die voorraadkamer toe … en toets My hierin of Ek nie die vensters van die hemel vir julle sal oopmaak en vir julle reën sal uitgiet, meer as wat julle kan gebruik nie.”   Die Here belowe verder dat Hy hulle sal beskerm van plae en misoeste, en selfs die nasies se houding oor hulle sal verander dat hulle mense van betekenis is. “Dan sal al die nasies julle as gelukkige mense beskou.

Dit gaan natuurlik nie in die eerste plek oor die tiendes as sodanig nie, maar oor die verhouding wat tussen God en die volk herstel moet word. Binne ‘n gesonde verhouding kom God se seën tot sy volle werking. Daarop kan die volk staatmaak. Die gee van tiendes is net ‘n simbool van die regte tipe verhouding wat tussen God en sy mense bestaan. Die tiendes kan daarom egter ook nie nagelaat word nie, want dan getuig dit van ‘n gebroke verhouding met die Here, soos dit nou die geval was met die volk. Lees hier meer oor die betekenis van tiendes in die NT elders op die webtuiste.

3:13-4:3 – Maleagi: Die Here sal die verskil tussen dié wat goed doen en dié wat goddeloos is, sigbaar maak

Die toppunt van die volk se vermetelheid is egter om die Here te verkwalik vir dinge waaraan hulleself aandadig is. Maleagi wys uit dat dit so groot is dat hulle selfs so ver gaan as om te verkondig dat dit nutteloos is om die Here te dien. Hulle sien dus glad nie hulle eie aandeel in die sinloosheid van hulle godsdiens raak nie. Hulle beskuldig ander van opstand teen die Here, terwyl hulle selfs in opstand teen die Here is.

Gelukkig is dit nie die geval by almal nie. Maleagi vertel van ‘n gesprek tussen mense wat wel eerbied vir die Here het en oor die toedrag van sake onder die volk gesels het. Die Here het hulle gesprek gehoor en met groot toegeneentheid teenoor hulle gereageer. Trouens, hule name is in sy gedenkboek opgeskrywe.

Dié wat eerbied vir die Here het, sê Maleagi, sal dus ervaar dat die Here vir hulle goed is. Daardeur sal die verskil tussen dié wat goed doen en dié wat goddeloos is, helder sigbaar word, al beskryf Maleagi dit as iets wat eers op die “dag van die Here” volledig sigbaar sal word (3:13-4:3). Die opstandiges sal verbrand soos kaf. Vir die eerbiediges sal: “die son van redding skyn met genesing in sy strale.

4:4-6 – Die Here: Onthou die wet van Moses in afwagting van die profeet Elia wat versoening sal bring

Die boek word afgesluit met ‘n opdrag om aan die wet van Moses te bly aandag gee in voorbereiding vir die koms van die profeet Elia wat versoening sal bewerk vir almal (4:4-6). Hoewel Johannes die Doper self die konneksie met Elia ontken het (Joh. 1:19-23), verbind Lukas hom in die NT met hierdie profesie van Maleagi (Luk. 1:16-17, 76-77) en Markus en Matteus hom met die boodskapper van hfst. 3, soos dit ook in Jesaja 40 aangehaal word (Mark. 1:2-3; Matt. 3:1-6). Jesus self sê dat Johannes die Doper die Elia is wat moes kom (Matt. 11:14; 17:12).

Boodskap

Dié laaste twee hoofstukke van Maleagi konfronteer ons met die problematiek van omstandighede en die gevaar om die Here se straf of seën reglynig daaraan te koppel na gelang van die teë- of voorspoed wat ons of ander mense ervaar.

Aan die een kant kan ons die fout maak dat ons na goddeloses kyk, hulle voorspoed raaksien, en dan die gevolgtrekking maak dat die Here nie straf nie. Ten diepste bevraagteken ‘n mens dan God se regverdigheid. ‘n Mens het egter ‘n langer termyn visie nodig, soos Ps. 73 ons herinner (lees my bydrae: Psalm 73 – God is my krag en erfenis), terwyl ‘n mens steeds die verhouding met God najaag, ten spyte van omstandighede. Op die langtermyn kry goddeloses hulle verdiende loon. Sonder God struikel goddeloses op die einste Godlose pad wat hulle verkies.

Aan die ander kant kan ons die fout maak dat ons na onsself kyk, ons teë-of voorspoed raaksien, en dan ook die eenvoudige gevolgtrekking maak dat die Here ons straf of seën na aanleiding van die gehalte van ons verhouding met die Here. Daar is natuurlik waarheid daarin. Maleagi verbind immers spesifiek die beloftes van beskerming en betekenis aan die gee van tiendes. En ons kan die Here daarvoor vertrou.

Maar, dit is nie al waarheid nie. Daar is ook slegte goed wat met goeie mense gebeur wat nie van ‘n oorvloed of gebrek aan tiendes afgelei kan word nie. Daar is ook lyding wat deel is van ‘n lewe wat aan God getrou wil bly, soos die Lydende Messias van Jesaja en Sagaria ons aan herinner. Hierdie lyding het ook niks met die gee (al dan nie) van tiendes as sodanig te make nie, hoewel ‘n kenmerk van sulke mense waarskynlik altyd sal wees dat hulle getrou sal bly daarin, selfs al sien hulle nie altyd die vrug daarop nie.

Dit is mense vir wie God genoeg is, wat tevrede is om in sy gedenkboek opgeskrywe te wees, wat Hom vertrou dat die band met Hom deur niks in gedrang sal kom nie, wat vertrou op die Een wat alles uiteindelik sal verander, die Messias. Daarmee sluit die boek die boodskap van die Twaalf Kleiner Profete af en die OT daarmee saam met die verwagting wat in Jesus vervul is. Sela.


Discover more from Bybelskool

Subscribe to get the latest posts sent to your email.

Maleagi


Chris van Wyk

Ek is Direkteur van Bediening en Geestelike Vorming by Veritas College International. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am Director of Ministry and Spiritual Formation at Veritas College International. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Comments

Maak 'n opmerking

Onlangse kommentaar

  • perfectly57edc75df4 on Josef-hulle vlug van Betlehem na EgipteDankie, Matteus het deurgekom. Was eers 'n dag laat, maar nou daagliks op tyd. Sover kry ek 'n paar interessante gedagtes wat mens maklik miskyk as jy net lees v/d geboorte en nie na die mesnlike aspekte kyk nie. Dankie and Vrede.
  • sparklybc467b2e69 on Josef-hulle vlug van Betlehem na EgipteGoeie môre, baie dankie, ja dit maak sin, want dit is hoekom Dawid ñ man na GOD se hart was, hy was ook elke keer gehoorsaam aan GOD. Daar is egter iets wat my so diep geraak het, terwyl ek u opmerkings lees, JESUS die seun van GOD het geen rykdom of enige voortrekkery ontvang nie, HY was regtig so…
  • originalblizzard19aaa84c56 on Josef-hulle vlug van Betlehem na EgipteTans so gepas in my vrou en my se lewe. Moet noukeurig let op die detail van die Heer se leiding. Kan nie wag om die volgende stappe te volg nie. Dankie.
  • Philip Vermaak on Hoe het “Bid die Psalms” jou gehelp?Wat my weer getref het is God se liefde vir alle mense en Dawid se nederige houding as hy tot God roep en hom met alles aan God "oorgee" En- wat ons het is aan ons deur God geskenk en wat ons is is slegs Genade Baie dankie
  • originalblizzard19aaa84c56 on Sterrekundiges besoek Jesus in die huis in Betlehem MATTEUS 2:1-12Prys die Here vir sy Heilige Woord en Gees.
  • sparklybc467b2e69 on ‘n Engel van die Here oortuig Josef dat Maria se Kind van die Heilige Gees is MATTEUS 1:18-25Dit is vir my opsig self so groot bewys van GOD se grootheid, Sy Heilige Gees wat Maria bevrug. Ek het altyd gedink dat Maria baie besonders was onder die vroue, maar as ñ mens lees van Josef en sy karakter, was hulle albei uitverkies as JESUS, GOD se seun.
  • originalblizzard19aaa84c56 on Jesus se geslagsregister in Matteus verbind Hom aan Abraham, Dawid en die volk na die ballingskap MATTEUS 1:1-17Matteus. Amazing, om my te verwonder aan die Heilige Skrif. Dankie vir navorsing.
  • Chris van Wyk on Psalm 150Hi, jy sal steeds die Matteus bydraes kry as jy ingeteken is. Die skakel is daar vir nuwe mense. Die opmerkings moet eers goedgekeur word deur my, vandaar die verposing. Hoop jy het steeds Matteus gekry?
  • perfectly57edc75df4 on Psalm 150Naand Chris. Ek dink daar is iets met die website verkeerd. Psalms was op Bybelskool beskikbaar, maar vir Mattteus vra dit jou om weer in te teken op Bybelskool. Ek is op Bybelskool. Dan stuur die opmerkings ook nie elke keer nie. Die inskrywing vir Matteus vat jou na 'n snaakse vorm. Is dit reg so,…
  • Doreen Snyders on Hoe het “Bid die Psalms” jou gehelp?Baie baie dankie vir die Psalms. Dit was só insiggewend en het baie gehelp om om die Skrif te bid. Nogmaals dankie. Ek sien baie uit na Matteus. Doreen Snyders
  • johannes buhrmann on Psalm 150Die God aan wie die Psalm digters hul lof en dankbaarheid betuig het , en teenoor wie hulle hul klagtes en swaarkry en onsekerhede kon bekendmaak is dieselfde God teenoor wie gelowiges hulle in die huidige tydsgewrig gewrig hul kan wend om geloof en lewensrigting te verkry Dankie
  • originalblizzard19aaa84c56 on Inleiding'n Mondvol oor Matteus. Sien uit na die reis. Dankie
  • Francois Du Toit on Hoe het “Bid die Psalms” jou gehelp?Dit was n wonderlike reis deur die psalms, teen n pas wat genoeg tyd vir nadenke toegelaat het. En die diep nuanses vd Onse Vader laat deurskemer het. Baie dankie vd leiding en verklari gs.
  • Hannes. on Hoe het “Bid die Psalms” jou gehelp?Middag Dr. Chris, Baie dankie vir ‘n insiggewende reis deur Psalms. Dit het beslis gehelp om my persoonlike gebedslewe te verbeter, en ek glo sterk dat elke gebed beslis my verhouding met die Here verdiep op ‘n manier waar ek tans baie meer pligsgetrou is teenoor my persoonlike stiltetyd en gesprekk…
  • Kobus on Hoe het “Bid die Psalms” jou gehelp?Dit was vir my 'n wonderlike ervaring, ek kyk met 'n ander insig nou na die Psalms