Maleagi – Bekeer julle van geestelike minagting

prayer-shawlInleiding

Die twaalfde boek, die boek van die profeet Maleagi, rond die boodskap van die Twaalf Kleiner Profete af.

Dit is duidelik dat die tempel al herbou en in gebruik geneem is (1:10; 3:1). Die aanvanklike opgewondenheid daaroor het egter begin taan. Ons lees dat die altaardiens herstel is (1:7), maar dat die priesters laks geraak het en die Here met minagting behandel is (1:6). Daarom minag ook die volk die Here deur blinde, siek, lam of verminkte diere, en soms selfs gesteelde diere (kan jy glo!) te offer (1:8, 13-14) en daarby nie hulle volle tiendes te bring na die tempel toe nie (3:6-12).

Ironies genoeg beteken dit dat die Leviete en priesters ook daaronder ly deurdat daar geen voorsiening vir hulle is nie. Hulle is egter ironies genoeg in die eerste plek aandadig daaraan deurdat hulle self die Here minag in hulle dienswerk.

Die omstandighede waarbinne dié boodskap van Maleagi dus gelewer word, lyk dus na die tyd van Nehemia, waarskynlik sy tweede termyn in Jerusalem van ongeveer 432 v.C. af. Dit lei ons af onder andere uit die feit dat Maleagi van ‘n Persiese goewerneur praat (1:8 – die Persiese woord vir goewerneur word gebruik) en weens die feit dat Nehemia dieselfde tipe priesterlike nalatigheid en godsdienstig-gemengde huwelikke aanvat (Neh. 13) as waaroor Maleagi kla. Lees meer oor dié tydperk in Nehemia se lewe in my vorige bydrae daaroor: Nehemia 13 – Nehemia stel nog hervormings in met sy tweede termyn.

Indeling

Maleagi roep die volk op deur God se antwoorde weer te gee op twee basiese probleme wat hulle met Hom het.

Die twee probleme wat hulle met Hom het, is:

  1. dat Hy hulle nie liefhet nie (1:2-5 – Hulle kla: “Hoe het U ons lief?”), en
  2. dat Hy niks doen aan boosheid en onreg nie (2:17 – Hulle kla: “Almal wat verkeerd doen, is goed in die oë van die HERE, met húlle is Hy ingenome.” En: “Waar is die God wat oordeel?“).

Daarop antwoord die Here:

  1. dat hulle Hom minag en dat dit aan die basis lê van hulle ervaring van ‘n gebroke verhouding (1:6-2:9; 2:10-16), en
  2. dat hulle self onreg doen met onder andere toordery, egbreuk, gosdienstig-gemengde huwelikke, vals eedswerings, die uitbuiting van weerloses in die samelewing, en halfhartige godsdienstige handelinge (offers en tiendes). Dit is dinge wat God veroordeel. (2:17-3:5; 3:13-4:3).

God het dus nie verander nie – hulle het!

Met hierdie boek roep Maleagi hulle dus op om die verbondsverhouding met God heelhartig te handhaaf en Hom nie te minag met oppervlakkige godsdienstigheid nie en Hom boonop op die koop toe op allerhande maniere te verkwalik nie. God sal sy kant van die verbond handhaaf. Daarop kan hulle staatmaak. Wat in gedrang is, is hulle eie gehoorsaamheid aan Hom.

Maleagi berei hulle ook voor om die deurlugtige, maar nog toekomstige, “dag van die Here” te verwag, wanneer die lankverwagte Messias te voorskyn sal kom wat versoening in die gemeenskap sal bring. Dan sal: “die son van redding deurbreek met genesing in sy strale.” (4:2).

Dit is ‘n gepaste noot om nie net die Twaalf Kleiner Profete mee af te sluit nie, maar die hele OT boodskap in afwagting van die Messias-Koning wat die “dag van die Here” in vervulling laat gaan, soos die NT met die vier Evangelies se boodskap van Jesus, die Messias, aankondig.

Ons lees dit as volg:

  • 1:1-2:16 – God het die volk lief ten spyte van hulle liefdeloosheid
  • 2:17-4:6 – God sal reg laat geskied ten spyte van hulle ongeregtigheid

Maleagi


Chris van Wyk

Ek is gemeenteleraar by Somerstrand gemeente, Port Elizabeth. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am pastor at Summerstrand congregation, Port Elizabeth. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Comments (2)

  • Hoe sou u maleagi 3vers 10 beskryf .met wie praat die Here. Kan dit vandag nog toegepas word.

    • Hi Andreas, in die tyd van Maleagi (ook Esra en Nehemia) het die opgewondenheid oor die herbou van die tempel al begin afneem (Mal 1:10; 3:1). Ons lees dat die altaardiens herstel is (Mal 1:7), maar dat die priesters laks geraak het en die Here met minagting behandel is (Mal 1:6). Daarom minag ook die volk die Here deur blinde, siek, lam of verminkte diere, en soms selfs gesteelde diere (kan jy dit glo!) te offer (Mal 1:8, 13-14). Daarby het hulle nie die volle tiendes gebring na die tempel se stoorkamer toe nie (Mal 3:6-12). Ironies genoeg het dit beteken dat die Leviete en priesters ook daaronder gely het deurdat daar geen voorsiening vir hulle was nie. Hulle was egter in die eerste plek aandadig daaraan deurdat hulle self die Here geminag het in hulle dienswerk.

      Maleagi spreek die volk van die 5de eeu vC (ongeveer 432 vC) aan in die konteks van die boodskap van die Here dat Hy van die volk verwag dat hulle tot bekering sal kom. Indien hulle na Hom luister en terugdraai om Hom te dien, sal die Here hulle weer seën.

      Dit is dan, wanneer die volk vra, maar waarom moet hulle tot bekering kom, dat die Here hulle nalatigheid uitlig om die volle tiende na die tempel te bring. Hy laat hulle onder geen onsekerheid nie dat die tiendes ‘n ononderhandelbare deel van hulle verhouding is. As motivering koppel Hy aan die gee van tiendes ‘n omvattende belofte: “Bring die volle tiende na die voorraadkamer toe … en toets My hierin of Ek nie die vensters van die hemel vir julle sal oopmaak en vir julle reën sal uitgiet, meer as wat julle kan gebruik nie.”

      Die Here belowe verder dat Hy hulle sal beskerm van plae en misoeste, en selfs die nasies se houding oor hulle sal verander dat hulle mense van betekenis is. “Dan sal al die nasies julle as gelukkige mense beskou.”

      Dit gaan natuurlik nie in die eerste plek oor die tiendes as sodanig nie, maar oor die verhouding wat tussen God en die volk herstel moet word. Binne ‘n gesonde verhouding kom God se seën tot sy volle werking. Daarop kan die volk staatmaak. Die gee van tiendes is net ‘n simbool van die regte tipe verhouding wat tussen God en sy mense bestaan. Die tiendes kan daarom egter ook nie nagelaat word nie, want dan getuig dit van ‘n gebroke verhouding met die Here, soos dit nou die geval was met die volk.

      Lees hier meer oor die betekenis van tiendes in die NT elders op die webtuiste.

Maak 'n opmerking

%d bloggers like this: