Skip to main content

Maleagi – Bekeer julle van geestelike minagting

prayer-shawlInleiding

Die twaalfde boek, die boek van die profeet Maleagi, rond die boodskap van die Twaalf Kleiner Profete af.

Dit is duidelik dat die tempel al herbou en in gebruik geneem is (1:10; 3:1). Die aanvanklike opgewondenheid daaroor het egter begin taan. Ons lees dat die altaardiens herstel is (1:7), maar dat die priesters laks geraak het en die Here met minagting behandel is (1:6). Daarom minag ook die volk die Here deur blinde, siek, lam of verminkte diere, en soms selfs gesteelde diere (kan jy glo!) te offer (1:8, 13-14) en daarby nie hulle volle tiendes te bring na die tempel toe nie (3:6-12).

Ironies genoeg beteken dit dat die Leviete en priesters ook daaronder ly deurdat daar geen voorsiening vir hulle is nie. Hulle is egter ironies genoeg in die eerste plek aandadig daaraan deurdat hulle self die Here minag in hulle dienswerk.

Die omstandighede waarbinne dié boodskap van Maleagi dus gelewer word, lyk dus na die tyd van Nehemia, waarskynlik sy tweede termyn in Jerusalem van ongeveer 432 v.C. af. Dit lei ons af onder andere uit die feit dat Maleagi van ‘n Persiese goewerneur praat (1:8 – die Persiese woord vir goewerneur word gebruik) en weens die feit dat Nehemia dieselfde tipe priesterlike nalatigheid en godsdienstig-gemengde huwelikke aanvat (Neh. 13) as waaroor Maleagi kla. Lees meer oor dié tydperk in Nehemia se lewe in my vorige bydrae daaroor: Nehemia 13 – Nehemia stel nog hervormings in met sy tweede termyn.

Indeling

Maleagi roep die volk op deur God se antwoorde weer te gee op twee basiese probleme wat hulle met Hom het.

Die twee probleme wat hulle met Hom het, is:

  1. dat Hy hulle nie liefhet nie (1:2-5 – Hulle kla: “Hoe het U ons lief?”), en
  2. dat Hy niks doen aan boosheid en onreg nie (2:17 – Hulle kla: “Almal wat verkeerd doen, is goed in die oë van die HERE, met húlle is Hy ingenome.” En: “Waar is die God wat oordeel?“).

Daarop antwoord die Here:

  1. dat hulle Hom minag en dat dit aan die basis lê van hulle ervaring van ‘n gebroke verhouding (1:6-2:9; 2:10-16), en
  2. dat hulle self onreg doen met onder andere toordery, egbreuk, gosdienstig-gemengde huwelikke, vals eedswerings, die uitbuiting van weerloses in die samelewing, en halfhartige godsdienstige handelinge (offers en tiendes). Dit is dinge wat God veroordeel. (2:17-3:5; 3:13-4:3).

God het dus nie verander nie – hulle het!

Met hierdie boek roep Maleagi hulle dus op om die verbondsverhouding met God heelhartig te handhaaf en Hom nie te minag met oppervlakkige godsdienstigheid nie en Hom boonop op die koop toe op allerhande maniere te verkwalik nie. God sal sy kant van die verbond handhaaf. Daarop kan hulle staatmaak. Wat in gedrang is, is hulle eie gehoorsaamheid aan Hom.

Maleagi berei hulle ook voor om die deurlugtige, maar nog toekomstige, “dag van die Here” te verwag, wanneer die lankverwagte Messias te voorskyn sal kom wat versoening in die gemeenskap sal bring. Dan sal: “die son van redding deurbreek met genesing in sy strale.” (4:2).

Dit is ‘n gepaste noot om nie net die Twaalf Kleiner Profete mee af te sluit nie, maar die hele OT boodskap in afwagting van die Messias-Koning wat die “dag van die Here” in vervulling laat gaan, soos die NT met die vier Evangelies se boodskap van Jesus, die Messias, aankondig.

Ons lees dit as volg:

  • 1:1-2:16 – God het die volk lief ten spyte van hulle liefdeloosheid
  • 2:17-4:6 – God sal reg laat geskied ten spyte van hulle ongeregtigheid

Maleagi 1:1-2:16 – God het die volk lief ten spyte van hulle liefdeloosheid

prayer-shawlHierdie twee hoofstukke fokus op die eerste basiese probleem wat die volk met God het – sy oënskynlike gebrek aan liefde (1:2-5). Die Here wys in sy eerste reaksie op die basiese rede vir dié ervaring wat hulle interpretasie van wat aan die gang is in ‘n heel ander lig stel. God het nie verander nie – hulle het!  Hy het hulle lief ten spyte van hulle liefdeloosheid.

Die priesters het Hom egter met minagting hanteer in die godsdiensbeoefening van offergawes en die volk het hulle daarin nagevolg (1:6-2:9). Daarby voeg Maleagi dat dié minagting verder gevoer is deurdat die volk gemengde-godsdiens huwelikke sowel as egskeidings goedkeur. Beide aksies verbreek egter die verbond met die Here (2:10-16).

Let op hoe die stem van die Here in al drie perikope sterk deurkom, maar dat die eerste perikoop veral die probleem van die volk, die tweede veral die reaksie van die Here daarop en die derde perikoop veral die reaksie van die profeet, Maleagi, daarop verwoord. Ons lees die perikope dus as volg:

  • 1:2-5 – Die volk: U het ons nie meer lief nie.
  • 1:6-2:9 – Die Here: Julle hanteer My met minagting in die offergawes
  • 2:10-16 – Maleagi: Julle hanteer God met minagting in julle huwelikke

Continue reading

Maleagi 2:17-4:6 – God sal reg laat geskied ten spyte van hulle ongeregtigheid

prayer-shawlIn hierdie twee hoofstukke fokus Maleagi op die tweede basiese probleem wat die volk met God het – sy gebrek aan optrede om iets aan die probleem van boosheid en onreg te doen (2:17-3:5). Dié vraag maak die Here skoon “moeg”, omdat dit só ver van die waarheid af is. Hy gaan dit vir hulle wys deur sommer by hulle te begin om die onreg wat hulle doen, uit te roei. Weereens – God het nie verander nie – hulle het! Hy sal reg laat geskied ten spyte van hulle ongeregtigheid.

Die volk se onreg sluit in dat hulle Hom met minagting behandel deur nie al die vereiste offers sowel as die volle tiende na die tempel te bring nie. Dit is natuurlik die eintlike rede waarom dit met hulle sleg gaan. Hulle kom nie hulle deel van die verbond na nie (3:6-12). Die toppunt van hulle vermetelheid is egter om die Here te verkwalik vir dinge waaraan hulleself aandadig is. Dit is so groot dat hulle so ver gaan as om te verkondig dat dit nutteloos is om die Here te dien. Hulle sien dus glad nie hulle eie aandeel in die sinloosheid van hulle godsdiens raak nie.

Gelukkig is dit nie die geval by almal nie. Dié wat eerbied vir die Here het, sê Maleagi, sal ervaar dat die Here vir hulle goed is. Daardeur sal die verskil tussen dié wat goed doen en dié wat goddeloos is, helder sigbaar word, al beskryf hy dit as iets wat eers op die “dag van die Here” volledig sigbaar sal word (3:13-4:3).

Die boek word afgesluit met ‘n opdrag om aan die wet van Moses aandag te gee in voorbereiding vir die koms van die profeet Elia wat versoening sal bewerk vir almal (4:4-6).

Continue reading

Onlangse kommentaar

  • originalblizzard19aaa84c56 on Herodes die Grote pleeg kindermoordDankie.
  • perfectly57edc75df4 on Josef-hulle vlug van Betlehem na EgipteDankie, Matteus het deurgekom. Was eers 'n dag laat, maar nou daagliks op tyd. Sover kry ek 'n paar interessante gedagtes wat mens maklik miskyk as jy net lees v/d geboorte en nie na die mesnlike aspekte kyk nie. Dankie and Vrede.
  • sparklybc467b2e69 on Josef-hulle vlug van Betlehem na EgipteGoeie môre, baie dankie, ja dit maak sin, want dit is hoekom Dawid ñ man na GOD se hart was, hy was ook elke keer gehoorsaam aan GOD. Daar is egter iets wat my so diep geraak het, terwyl ek u opmerkings lees, JESUS die seun van GOD het geen rykdom of enige voortrekkery ontvang nie, HY was regtig so…
  • originalblizzard19aaa84c56 on Josef-hulle vlug van Betlehem na EgipteTans so gepas in my vrou en my se lewe. Moet noukeurig let op die detail van die Heer se leiding. Kan nie wag om die volgende stappe te volg nie. Dankie.
  • Philip Vermaak on Hoe het “Bid die Psalms” jou gehelp?Wat my weer getref het is God se liefde vir alle mense en Dawid se nederige houding as hy tot God roep en hom met alles aan God "oorgee" En- wat ons het is aan ons deur God geskenk en wat ons is is slegs Genade Baie dankie
  • originalblizzard19aaa84c56 on Sterrekundiges besoek Jesus in die huis in Betlehem MATTEUS 2:1-12Prys die Here vir sy Heilige Woord en Gees.
  • sparklybc467b2e69 on ‘n Engel van die Here oortuig Josef dat Maria se Kind van die Heilige Gees is MATTEUS 1:18-25Dit is vir my opsig self so groot bewys van GOD se grootheid, Sy Heilige Gees wat Maria bevrug. Ek het altyd gedink dat Maria baie besonders was onder die vroue, maar as ñ mens lees van Josef en sy karakter, was hulle albei uitverkies as JESUS, GOD se seun.
  • originalblizzard19aaa84c56 on Jesus se geslagsregister in Matteus verbind Hom aan Abraham, Dawid en die volk na die ballingskap MATTEUS 1:1-17Matteus. Amazing, om my te verwonder aan die Heilige Skrif. Dankie vir navorsing.
  • Chris van Wyk on Psalm 150Hi, jy sal steeds die Matteus bydraes kry as jy ingeteken is. Die skakel is daar vir nuwe mense. Die opmerkings moet eers goedgekeur word deur my, vandaar die verposing. Hoop jy het steeds Matteus gekry?
  • perfectly57edc75df4 on Psalm 150Naand Chris. Ek dink daar is iets met die website verkeerd. Psalms was op Bybelskool beskikbaar, maar vir Mattteus vra dit jou om weer in te teken op Bybelskool. Ek is op Bybelskool. Dan stuur die opmerkings ook nie elke keer nie. Die inskrywing vir Matteus vat jou na 'n snaakse vorm. Is dit reg so,…
  • Doreen Snyders on Hoe het “Bid die Psalms” jou gehelp?Baie baie dankie vir die Psalms. Dit was só insiggewend en het baie gehelp om om die Skrif te bid. Nogmaals dankie. Ek sien baie uit na Matteus. Doreen Snyders
  • johannes buhrmann on Psalm 150Die God aan wie die Psalm digters hul lof en dankbaarheid betuig het , en teenoor wie hulle hul klagtes en swaarkry en onsekerhede kon bekendmaak is dieselfde God teenoor wie gelowiges hulle in die huidige tydsgewrig gewrig hul kan wend om geloof en lewensrigting te verkry Dankie
  • originalblizzard19aaa84c56 on Inleiding'n Mondvol oor Matteus. Sien uit na die reis. Dankie
  • Francois Du Toit on Hoe het “Bid die Psalms” jou gehelp?Dit was n wonderlike reis deur die psalms, teen n pas wat genoeg tyd vir nadenke toegelaat het. En die diep nuanses vd Onse Vader laat deurskemer het. Baie dankie vd leiding en verklari gs.
  • Hannes. on Hoe het “Bid die Psalms” jou gehelp?Middag Dr. Chris, Baie dankie vir ‘n insiggewende reis deur Psalms. Dit het beslis gehelp om my persoonlike gebedslewe te verbeter, en ek glo sterk dat elke gebed beslis my verhouding met die Here verdiep op ‘n manier waar ek tans baie meer pligsgetrou is teenoor my persoonlike stiltetyd en gesprekk…