Skip to main content

Lukas 9:51-62 – Vasberade volgelinge wys dat hulle geskik is vir die koninkryk van God

22 Junie

Lukas 9:51-62 – Vasberade volgelinge wys dat hulle geskik is vir die koninkryk van God

51Toe die tyd vir Jesus se hemelvaart nader kom, was Hy vasberade om die reis na Jerusalem te onderneem. 52Hy het boodskappers voor Hom uitgestuur. En hulle het vertrek en by ‘n Samaritaanse dorpie aangekom om daar vir Hom voorbereidings te tref. 53Maar die Samaritane het Hom nie ontvang nie, omdat Hy doelgerig na Jerusalem op pad was. 54Toe die dissipels Jakobus en Johannes dit sien, sê hulle: “Here, wil U hê ons moet vuur uit die hemel laat neerkom om hulle te vernietig?” 55Maar Hy het omgedraai en hulle tereggewys. 56Hulle het toe na ‘n ander dorpie gegaan. 57Terwyl hulle op pad was, het iemand vir Hom gesê: “Ek sal U volg, waar U ook al gaan.” 58Maar Jesus het hom geantwoord: “Die jakkalse het gate en die voëls van die hemel neste, maar die Seun van die Mens het geen plek waar Hy sy kop kan neerlê nie.” 59Vir ‘n ander een het Hy gesê: “Volg My!” Maar hy het geantwoord: “Here, laat my toe om eers my vader te gaan begrawe.” 60En Jesus het vir hom gesê: “Laat die dooies hulle eie dooies begrawe; maar jy, gaan verkondig jy die koninkryk van God.” 61Nog ‘n ander een het gesê: “Ek sal U volg, Here, maar laat my toe om net eers van my huismense afskeid te neem.” 62En Jesus het vir hom gesê: “Niemand wat sy hand aan die ploeg slaan en dan omkyk, is geskik vir die koninkryk van God nie.”

Jesus stuur boodskappers voor Hom uit om akkommodasie in ‘n dorp van die Samaritane te reël, waarskynlik weens die grootte van die groep wat Jesus nou alreeds gevolg het. Hy stel net hierna bv 72 as sendelinge aan. Die Samaritane wou Hom egter nie ontvang nie, omdat hulle Jerusalem as geestelike hoofstad verwerp het, en nie Jesus en sy volgelinge op die reis daarheen wou ondersteun nie. Die twee broers, Jakobus en Johannes, die “seuns van die donder”, wil soos Elia van ouds vuur uit die hemel laat neerdaal en die dorpie verteer. Hulle het duidelik onthou dat Elia net voor sy hemelvaart vuur op  twee groepe van vyftig man van koning Ahasia laat neerkom het om hulle te verteer (2 Kon 1:9-11). Jesus wys hulle egter tereg, waarskynlik om aan te dui dat dit nou genadetyd was (2 Pet 3:9). Sommige manuskripte voeg by: “Julle weet nie van hoedanige gees julle is nie … Die Seun van die mens het immers nie gekom om die lewens van mense te verdelg nie, maar om te red.” Die tyd vir oordeel sou wel kom, soos Hy net hierna sou reageer op mense wat die boodskap van die sewentig nie wou aanvaar nie (Luk 10:12-16). Maar, die vuur van verdelging was nie nou die regte reaksie nie. Die vuur van oordeel is nie soseer verkeerd nie, maar dit pas nie in hierdie genadetyd nie. Teregwysing is eerder die geskikte optrede, en die verkondiging van die waarheid, soos Jesus nog telkemale gaan demonstreer in sy strydgesprekke met die Jode. Maar, uitwissing pas nie nou nie. Trouens, Jesus is bereid om te ly en selfs uiteindelik te sterf vir juis dié mense wat Hom verwerp. En Hy verwag van sy volgelinge om dieselfde te doen. Die dag van afrekening kom aan die einde van die tyd, maar elke oomblik daarvoor moet benut word as ‘n geleentheid vir genade en geloof.

Jesus is dus op pad na sy “eksodus”, sy hemelvaart, maar steeds roep Hy mense om Hom te volg, en spreek hulle aan as hulle die roepstem probeer ontduik. Hy doen dus wat Hy moet doen, nooi mense saam op dié pad, maar dwing hulle nie saam nie. Hy gryp die geleentheid aan wat iemand Hom gee wat verklaar dat hy die Here sal volg waar Hy ook al gaan. Jesus lewer dus kommentaar op die keuse om Hom oral te volg deur te waarsku dat Hy nie ‘n vaste tuiste het nie. Jakkalse het gate. Voëls het neste. Maar, die Seun van die mens het geen tuiste nie. Só moet sy dissipels bereid wees om sonder ‘n vaste tuiste te leef.  Jesus gebruik hier die titel “Seun van die mens” vir Homself waarskynlik ook in die betekenis van die nederige vereenselwiging met die mensdom waaraan Hy Hom blootgestel het met sy geboorte as mens. Hy knoop self die gesprek aan met ‘n ander dissipel om Hom te bly volg, toe die dissipel eers sy familieverpligting om na sy pa om te sien, wou vervul. Jesus se antwoord is dat die dooies hulle eie dooies moet begrawe, maar dat sy opdrag aan hom is om die koninkryk van God te gaan verkondig. Daarmee sê Jesus dat die normale sosiale en familiale verwagtinge nie bó dié van die koninkryk geplaas mag word nie. Implisiet in die beskrywing van die familie as “dooies” lê waarskynlik ook ‘n tipering van hulle as “geestelike dooies” wat ook nie toegelaat mag word om die fokus op dissipelskap te verhinder nie. ‘n Ander wou net gaan totsiens sê, waarop Jesus steeds skerp reageer dat jy nie jou hand aan die ploeg kan slaan – soos dié dissipel kennelik gedoen het, hy is immers op pad saam met Jesus – en dan aanmekaar agter toe na sy familie bly kyk nie. Want dan is hyself nie geskik vir die koninkryk van God nie. In die lig van die talle verwysings na Elia in hierdie fase van Jesus se reis kan ‘n mens moontlik Elia se boodskap aan die volk op die berg Karmel in herinnering roep. Hoe lank hink julle op twee gedagtes. As Baäl god is, kies hom. As die Here God is, kies Hom (1 Kon 18:21). Maar, moenie jou keuse halfhartig maak nie. Dit kan ook ‘n verwysing wees na Elia wat Elisa as profeet geroep het. Elisa was juis besig om te ploeg, en as hy aanmekaar sou terugdink aan wat hy agtergelaat het, sou hy nie sy roeping kon vervul nie (1 Kon 19:19-21). ‘n Belangriker Profeet as Elia was hier ter sprake, en om Hom te volg was die grootste eer wat ‘n mens te beurt kan val.

Die kerk en elke volgeling van Jesus het telkens nodig om hierdie boodskap ter harte te neem, en nie te gemaklik deel van die normale patroon van doen van hierdie wêreld te word nie. Die roeping van Jesus tot dissipelskap is regtig só radikaal as dit. Die uitdaging van geen vaste verblyf mag jou nie afsit van dissipelskap nie. Die uitdaging van familieverpligtinge mag eweneens nie jou dissipelskap bepaal nie. Die uitdaging van die roeping self mag jou eweneens nie laat terugkeer na ‘n makliker lewe nie. Die Here sal immers instaan vir verblyf, familie en jou roeping. Daarop kan ‘n mens vertrou.

Lees meer: https://bybelskool.com/lukas-951-1154-gefokus-op-god-en-die-naaste/


Discover more from Bybelskool

Subscribe to get the latest posts sent to your email.

Beloftes


Chris van Wyk

Ek is Direkteur van Bediening en Geestelike Vorming by Veritas College International. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am Director of Ministry and Spiritual Formation at Veritas College International. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Maak 'n opmerking

Onlangse kommentaar

  • Chris van Wyk on Psalm 137Dit is my voorreg. Groete!
  • Doreen Snyders on Psalm 137Net om weer 'n slag dankie te sê vir al die wonderlike verklarings en verduidelikings van al die Bybelse waarhede. Ons dien 'n wonderbare en allerheilige God. Ek sien baie uit na die Matteusevangelie. Nogmaals baie dankie. Doreen Snyders
  • Chris van Wyk on Psalm 119:169-176Absoluut!
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 119:169-176Psalm 119 is voorwaar ñ baie Geseënde Psalm
  • Chris van Wyk on Psalm 119:145-152Dis self opnuut weer ‘n vreugde vir my.
  • originalblizzard19aaa84c56 on Psalm 119:145-152Ek was altyd baie langtand om Ps 119 aan te durf, nou wens ek dat dit nie ophou nie... Ps 119 is te kort!!! PDH
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 119:105-112Goeie middag, baie dankie vir die deel van die kosbare verhaal wat so gepas is met die Psalm
  • originalblizzard19aaa84c56 on Psalm 119:1-8Sien waarlik die nou verband tussen OT EN NT. waarlik verhelderend. אמן
  • Chris van Wyk on Psalm 118:19-29Ek gee maar net aan wat ek ontvang het. Dit bly egter 'n kosbare voorreg.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 118:19-29Goeie môre, baie dankie dat u met ons deel wie en waar die vertaaling van die Bybel sy oorsprong gekry het, dit is so kosbaar, baie dankie vir een en elkeen wat deel is en was om hierdie kosbare woord ook vir ons in ons Taal te kon uitlê
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 110Baie dankie vir hierdie kosbaarhede wat u met ons deel. Ek het Openbaring 22 gelees en dit klink baie soos die tuin van Eden, hy praat van die boom van lewe. Die sondeval gemaak dat die mens gesondig het en dat hul nie meer in die tuin kon woon nie asgevolg van die sonde.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 109:6-19Goeie middag, ek wil ook by las dat in Psalm 139:23 bid David;"Deurgrond my, O GOD, en ken my hart, toets my en ken my gedagtes" GOD ken die mens en HY deersoek die hart en die gedagtes. Ek het self al telkens gebid, HERE vergewe hulle want hulle weet nie wat hulle doen nie en dan soos die woord sel…
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 107:33-38Baie dankie vir hierdie verduideliking. Ons lees die eerste keer van Baäl-Peor in Numeri 25. Baäl was die Kanaänitiese god van vrugbaarheid, terwyl Peor verwys na die berg in Moab waar hy onder andere aanbid is. Hy is ook in Kanaän aanbid en was 'n groot versoeking vir die Israeliete met hulle vesti…
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 107:33-38GOD is so goeie GOD. HY gee vir ons die voorskrifte vanaf Deut. 28 en dan volg HY dit ook op in Psalm 107 en sê as ons net doen wat HY ons beveel sal dit met ons goed gaan en ons geseënd wees, nie oor ons nie, maar oor GOD en wie HY is.
  • Chris van Wyk on Psalm 106:43-48Ons lees die eerste keer van Baäl-Peor in Numeri 25. Baäl was die Kanaänitiese god van vrugbaarheid, terwyl Peor verwys na die berg in Moab waar hy onder andere aanbid is. Hy is ook in Kanaän aanbid en was 'n groot versoeking vir die Israeliete met hulle vestiging in die Beloofde Land.