Galasiërs 5:1, 13-25 – Leef deur die Gees, dan sal julle beslis nie die begeertes van die vlees uitvoer nie

21 Junie

Galasiërs 5:1, 13-25 – Leef deur die Gees, dan sal julle beslis nie die begeertes van die vlees uitvoer nie

1Vryheid is waarvoor Christus ons bevry het! Staan dan vas, en laat julle nie weer onder ‘n juk van slawerny indwing nie!… 13Julle, broers, is tog tot vryheid geroep. Moet net nie julle vryheid misbruik, sodat dit aanleiding gee vir die vlees nie, maar dien mekaar deur liefde. 14Want die hele wet word in één uitspraak vervul: “Jy moet jou naaste liefhê soos jouself.” 15As julle mekaar byt en verslind, pas op dat julle nie deur mekaar verorber word nie! 16Maar ek sê: Leef deur die Gees, dan sal julle beslis nie die begeertes van die vlees uitvoer nie. 17Want die vlees begeer teen die Gees, en die Gees begeer teen die vlees; die twee opponeer mekaar, sodat julle dit wat julle ook al wil, nie kan doen nie. 18As julle egter deur die Gees gelei word, staan julle nie onder die wet nie. 19Die praktyke van die vlees is goed bekend, naamlik onsedelikheid, onreinheid, losbandigheid, 20afgodery, towery, vyandskap, twis, jaloesie, woede, selfsug, tweespalt, skeuring, 21afguns, dronkenskap, gefuif, en hierdie soort dinge – waarteen ek julle nou weer waarsku, soos ek julle vroeër gewaarsku het, naamlik dat diegene wat sulke dinge doen, die koninkryk van God nie sal beërf nie. 22Maar die vrug van die Gees is: liefde, blydskap, vrede, geduld, vriendelikheid, goedheid, getrouheid, 23sagmoedigheid, selfbeheersing. Teen hierdie soort dinge is daar nie ‘n wet nie. 24Almal wat aan Christus Jesus behoort, het die vlees met sy hartstogte en begeertes gekruisig. 25Aangesien ons deur die Gees leef, laat ons ook met die Gees in pas bly. 26Laat ons nie verwaand wees, mekaar uittart of op mekaar jaloers wees nie.

Die vryheid waarvan Paulus hier praat, is die vryheid van die gewete voor God, die vryheid van die ewige toorn van God op die sonde. Vryheid is om nooit weer bang te wees dat jy gestraf sal word vir jou sonde nie. Vryheid is om te weet dat God in Christus jou as sy kind aangeneem het. Vryheid is om te weet dat God nooit weer vir jou kwaad sal wees oor jou sonde nie. Vryheid is om te weet dat God ‘n plek vir jou voorberei het om vir ewig saam met jou te lewe. Dít is die vryheid wat Christus gebring. Dit is daarom ook ‘n vryheid van die wet. Dit is ‘n vryheid van die sonde. En dít is hierdie vryheid waarin ons moet vasstaan.

Die enigste manier waarop ons dit kan doen, is deur die Heilige Gees. Die geheim van ’n Gees vervulde lewe is om onder beheer van die Gees te lewe, om in gelid te kom met Hom, en met Hom te wandel. Nie onder beheer van die wet of die sondige natuur nie. Jou keuse bepaal die rigting waarin jou lewe ontwikkel. Óf jy dra al hoe meer die vrug van die Gees en loop die pad saam met Hom – óf jy word beheer deur jou sondige begeertes en loop die pad van die sonde. Óf jy lewe in die kragveld van die Gees deur in gelid met Hom te wees – óf jy leef in die kragveld van die vlees deur die vlees toe te laat om te oorheers in jou lewe. Dit is hoe God se genade tot sy reg kom in jou lewe … óf nie.

Dit beteken dat jy sekere sondige praktyke (let op die meervoud, met die klem op wat mense doen) binne die gemeenskap van gelowiges sal vermy, daarvan af sal wegvlug, die begeertes van jou sondige vlees nie sal uitvoer nie. Agt van die 15 sondige praktyke het met die konflik van liefdeloosheid in die gemeenskap van gelowiges te make: vyandskap, twis, jaloesie, woedeselfsugtweespaltskeuring en afguns. Dit beteken ook dat jy jou PERSOONLIKE GEDRAG vry van sondige praktyke sal hou, dat jy daarvan sal wegvlug, dat jy die begeertes van jou sondige vlees nie sal uitvoer nie. Paulus wys hulle op sekere slegte moreel-etiese praktykeonsedelikheidonreinheidlosbandigheid, dronkenskap (dronk-drink partytjies) en gefuif (oordadige orgies) asook die navolg van verkeerde godsdienstige praktykeafgodery (beeld-aanbidding) en towery (gebruik van magiese voorwerpe).

Daarteenoor staan die vrug van die Gees (let op die enkelvoud, met die klem op hoe ‘n mens is) wat jou laat vasstaan in die vryheid van die genade van God. Dit het eweneens direk met PERSOONLIKE GEDRAG binne die gemeenskap van die gelowiges te make: liefdeblydskapvredegeduldvriendelikheidgoedheidgetrouheidsagmoedigheidselfbeheersing. Jou vryheid in Christus maak jou verantwoordelik binne die gemeenskap van die geloof. Maar belangrik, die dinge is nie soseer iets wat jy doen nie, dit is iets wat in jou groei deur die werk van die Heilige Gees. Dit dui ’n manier van omgaan met ander aan, ’n manier van wees. Uitleggers wys gereeld daarop dat hier 3 groepe van 3 deugdes genoem word. In lyn daarmee sal ek dit ook só kan voorstel:

  1. Gawes vir jou innerlike lewe: liefde, blydskap, vrede;
  2. Gawes vir jou gedrag in die gemeente: geduld, vriendelikheid, goedheid;
  3. Gawes vir jou gedrag in die gemeenskap: getrouheid, sagmoedigheid, selfbeheersing.

Die lewe in die Gees het dus alles te make met ’n mens se gedrag in die gemeenskap van die gelowiges. Jou gedrag word bepaal deur die liefde vir die naaste. Dit is wat die Gees in ons laat groei. Daarom sê Paulus in vers 25: “Aangesien ons deur die Gees leef, laat ons ook met die Gees in pas bly”. Die Griekse woord vir in pas bly (stoicheō) beteken dat ons sy standaarde navolg, dat ons in gelid met sy leiding en insig binne die gemeenskap van gelowiges moet optree. Die Gees se standaarde bepaal dus die liefde tot die naaste.

Lees meer (preek): https://bybelskool.com/galasiers-5-ons-leef-deur-die-gees-sola-gratia/

Beloftes


Chris van Wyk

Ek is gemeenteleraar by Somerstrand gemeente, Port Elizabeth. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am pastor at Summerstrand congregation, Port Elizabeth. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Maak 'n opmerking

%d bloggers like this: