Skip to main content

Johannes 21:1-19 – Gehoorsaamheid aan Jesus se opdragte bring sy beloftes in vervulling

25 April

Johannes 21:1-19 – Gehoorsaamheid aan Jesus se opdragte bring sy beloftes in vervulling

1Hierna het Jesus by die See van Tiberias weer aan sy dissipels verskyn. En dit is hoe Hy verskyn het: 2Saam daar bymekaar was Simon Petrus en Thomas, wat bekend staan as Didimus, Natanael, van Kana in Galilea, die seuns van Sebedeus, en nog twee ander van sy dissipels. 3Simon Petrus sê vir hulle: “Ek gaan visvang.” En hulle sê vir hom: “Ons gaan ook saam met jou.” Hulle het uitgegaan en in die boot geklim, maar daardie nag het hulle niks gevang nie. 4Teen dagbreek het Jesus daar op die strand gestaan, maar die dissipels het nie geweet dit is Jesus nie. 5Jesus vra hulle toe: “My kinders, julle het seker niks om te eet nie?” Hulle antwoord Hom: “Nee.” 6Hy sê toe vir hulle: “Gooi die visnet uit aan die regterkant van die boot, en julle sal iets kry.” Hulle gooi dit toe uit, en vanweë die groot klomp vis was hulle nie in staat om dit in te trek nie. 7Daarop sê die dissipel, die een vir wie Jesus liefgehad het, vir Petrus: “Dit is die Here!” Toe Simon Petrus hoor dat dit die Here is, het hy sy bokleed omgebind – want sy bolyf was kaal – en in die see gespring. 8Maar die ander dissipels het met die skuit gekom en die net met die visse gesleep, want hulle was nie ver van die land af nie, net ongeveer tweehonderd el. 9En toe hulle aan land kom, sien hulle daar ‘n koolvuur gereed, en vis wat daarop lê, en ook brood. 10Jesus sê vir hulle: “Bring van die visse wat julle nou net gevang het.” 11Simon Petrus het toe aan boord gegaan en die net vol groot visse op die land getrek, honderd drie-en-vyftig; en hoewel daar so baie was, het die net nie geskeur nie. 12Jesus sê vir hulle: “Kom eet ontbyt!” Niemand van die dissipels het egter gewaag om Hom te vra, “Wie is U?” nie, want hulle het geweet dit is die Here. 13Jesus kom toe, neem die brood en gee dit vir hulle, en so ook die vis. 14Dit was reeds die derde keer dat Jesus aan die dissipels verskyn het nadat Hy uit die dood opgewek is. 15Toe hulle klaar was met ontbyt, vra Jesus vir Simon Petrus: “Simon, seun van Johannes, het jy My baie lief, meer as hulle?” Hy sê vir Hom: “Ja, Here, U weet dat ek U liefhet.” Hy sê vir hom: “Laat my lammers wei.” 16Hy vra hom weer ‘n tweede keer: “Simon, seun van Johannes, het jy My baie lief?” Hy sê vir Hom: “Ja, Here, U weet dat ek U liefhet.” Hy sê vir hom: “Pas my skape op.” 17Hy vra hom die derde keer: “Simon, seun van Johannes, het jy My lief?” Petrus het bedroef geword omdat Hy hom die derde keer gevra het, “Het jy My lief?” en hy antwoord Hom: “Here, U weet alles. U weet dat ek U liefhet.” Jesus sê vir hom: “Laat my skape wei. 18Amen, amen, Ek sê vir jou: Toe jy jonger was, het jy self jou gordel vasgemaak en gegaan waar jy wou; maar wanneer jy oud word, sal jy jou hande uitsteek, en iemand anders sal jou gordel vasmaak en jou bring waar jy nie wil wees nie.” 19Hy het dit gesê om aan te dui deur watter soort dood Petrus God sou verheerlik. En nadat Hy dit gesê het, sê Hy vir Petrus: “Volg My!”

Johannes sluit sy Evangelie af met die beskrywing van die derde verskyning van Jesus aan die dissipels as ‘n groep. Hierdie keer is dit by die See van Tiberias waarheen Hy hulle beveel het om te gaan. Tiberius is deel van die See van Galilea, dieselfde plek waar die broodvermeerdering plaasgevind het (Joh 6). Ses dissipels gaan saam met Petrus visvang: Tomas (in Grieks Didimus – albei name beteken “Tweeling”), Natanael van Kana in Galilea, die seuns van Sebedeus (Johannes en Jakobus – vgl Mark 1:19) en nog twee ander. Hulle is dus ten minste sewe dissipels. Dit wil lyk asof hierdie sewe oorweeg om weer hulle vorige beroep te volg. Hulle volg daarin die leiding van Petrus. Hulle is egter steeds gehoorsaam aan die opdrag van Jesus om Hom in Galilea te ontmoet, die plek waar hulle aanvanklik as dissipels geroep is (vgl Matt 28:7; Mark 16:7). Hoewel die nag die beste tyd vir visvang was, vang hulle die hele nag deur egter niks vis nie.

Soos met die Emmausgangers verskyn Jesus aan hulle. Hierdie keer op die strand, maar hulle het Hom eers nie herken nie. Jesus vra dan of hulle vis gevang het, waarop hulle negatief reageer. Let op dat Hy hulle “kinders” noem wat hulle al ‘n leidraad moes gegee het wie met hulle praat, want Jesus het hulle ook só genoem aan tafel met die voetewas episode (Joh 13:33). Daarby is hulle geroep as vissers van mense. Hulle lewens het nie meer aan hulleself behoort nie. Jesus is daarom hier om hulle finaal te roep om die roeping wat Hy vir hulle het, uit te voer. Jesus gee dan aan hulle die opdrag om aan die regterkant van die boot hulle trammelnette uit te gooi, soos Hy een keer tevore ook gedoen het met hulle roeping as dissipels (Luk 5:4): “Gooi die visnet uit aan die regterkant van die boot, en julle sal iets kry.” Hulle besluit om sy opdrag te gehoorsaam en beleef die wonder dat sy belofte vir hulle bewaarheid word. Soos die vorige keer is die visvangs so groot dat hulle die nette nie weer kan terug kry in die boot nie, en dit in die water aan wal moes sleep.

‘n Verdere welkome verrassing het vir hulle aan die wal gewag. Toe hulle land, sien hulle ‘n vuur van brandende kole daar met visse daarop, en ‘n bietjie brood. Hoe die opgestane Jesus die vis gekry het wat hy gekook het of die brood, word nie verduidelik nie, maar die betekenis daarvan is duidelik. Hy is in beheer van alles. Deur self aan wal te voorsien. En deur ‘n kombinasie van sy opdragte en hulle gehoorsaamheid. Dit is hoe wonderwerke gebeur. Petrus het in die skuit geklim en die net met ‘n baie groot vangs “groot visse” aan wal gebring. Die presiese getal (153) word vertel om 1) die werklikheid van die gebeure aan te dui, nie een of ander simboliese getal nie. En 2) om te wys watter oorvloed spruit uit gehoorsaamheid aan Hom, net soos Hy dit met die groot hoeveelheid wyn in Kana aan die begin van sy openbare bediening geïllustreer het (Joh 2:6). “Great blessing comes to one’s efforts when he follows the Lord’s will.” (EA Blum). Na hulle geëet het, fokus Jesus op Petrus. Let op hoe Jesus vir Petrus nou op sy geboortenaam noem, Simon, seun van Johannes. Hy sluit dus ook in sy gesprek met hom by Petrus se oorspronklike roeping aan (Joh 1:42), en roep hom as‘t ware by hernuwing. Jesus herhaal sy vraag na Petrus se liefde driemaal, dieselfde getal as die kere wat Petrus Jesus verloën het. Daarmee kry Petrus kans om sy vroeëre verklaring van onwrikbare lojaliteit aan Jesus te herhaal (Joh 13:31-28) en die geheue van die verloëning uit te wis (Joh 18:27). Jesus sluit hierdie roepingsgesprek af met die mededeling dat dié opdrag die hoogste prys van Simon Petrus gaan vra. Hy sal God verheerlik met ‘n martelaarsdood. Maar, Jesus se belofte by steeds dat Hy vir hom sal sorg. Petrus moet doodgewoon Jesus se leiding volg. Gehoorsaamheid aan Jesus se opdragte bring sy beloftes in vervulling.

Lees meer: https://bybelskool.com/johannes-211-25-jesus-leer-petrus-om-hom-te-volg/


Discover more from Bybelskool

Subscribe to get the latest posts sent to your email.

Beloftes


Chris van Wyk

Ek is Direkteur van Bediening en Geestelike Vorming by Veritas College International. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am Director of Ministry and Spiritual Formation at Veritas College International. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Maak 'n opmerking

Onlangse kommentaar