Handelinge 9:1-25 – Daar sal vir jou gesê word wat jy moet doen
Handelinge 9:1-25 – Daar sal vir jou gesê word wat jy moet doen
1Saulus, wat nog steeds dreigemente en moord teen die dissipels van die Here aangeblaas het, het na die hoëpriester gegaan 2en van hom briewe gevra aan die sinagoges in Damaskus, sodat, indien hy enige mense opspoor wat aanhangers van die Weg is, mans sowel as vroue, hy hulle geboeid na Jerusalem kon bring. 3Terwyl hy onderweg was, en naby Damaskus kom, het ‘n lig uit die hemel hom skielik omstraal, 4en hy het op die grond neergeval en ‘n stem vir hom hoor sê: “Saul, Saul, waarom vervolg jy My?” 5Hy het gevra: “Wie is U, Here?” En Hy antwoord: “Ek is Jesus, wat jy vervolg. 6Maar staan op en gaan na die stad, en daar sal vir jou gesê word wat jy moet doen.” 7Die manne wat saam met hom gereis het, het sprakeloos gestaan, omdat hulle wel die stem gehoor het, maar niemand gesien het nie. 8Saulus het van die grond af opgestaan en, alhoewel sy oë oop was, kon hy niks sien nie. Hulle het hom aan die hand gelei en Damaskus binnegebring. 9Drie dae lank kon hy nie sien nie, en het hy nie geëet of gedrink nie. 10Daar was ‘n dissipel in Damaskus met die naam Ananias. In ‘n visioen het die Here vir hom gesê: “Ananias!” En hy het geantwoord: “Hier is ek, Here.” 11Toe sê die Here vir hom: “Maak gereed en gaan na die straat bekend as Reguitstraat, en vra in die huis van Judas na iemand uit Tarsus met die naam Saulus. Want kyk, hy is besig om te bid, 12en het in ‘n visioen gesien dat ‘n man met die naam Ananias binnekom en hom die hande oplê om hom weer te laat sien.” 13Ananias het geantwoord: “Here, ek het by baie mense van hierdie man gehoor, van al die kwaad wat hy u heiliges in Jerusalem aangedoen het. 14En hier het hy volmag van die leierpriesters om almal wat u Naam aanroep, in boeie te slaan.” 15Maar die Here sê vir hom: “Gaan, want Ek het hom uitgekies as instrument om my Naam uit te dra na nasies en na konings en na Israel. 16Ek sal boonop aan hom toon hoeveel hy ter wille van my Naam moet ly.” 17Ananias het toe vertrek, en die huis binnegegaan en hom die hande opgelê, met die woorde: “Saul, broer, die Here het my gestuur – Jesus wat aan jou verskyn het op die pad waarmee jy gekom het – sodat jy weer kan sien en met die Heilige Gees vervul kan word.” 18En dadelik het daar iets soos skille van sy oë afgeval. Hy kon weer sien en het opgestaan en is gedoop. 19Nadat hy geëet het, het hy sy krag herwin. Hy was ‘n paar dae lank saam met die dissipels in Damaskus, 20en het Jesus dadelik in die sinagoges verkondig deur te sê dat Hy die Seun van God is. 21Almal wat hom gehoor het, was verstom en het gevra: “Is hy nie die man wat in Jerusalem die mense wat hierdie Naam aanroep, probeer uitroei het, en hierheen gekom het om hulle geboeid na die leierpriesters te neem nie?” 22Saulus het egter al hoe meer krag ontvang, en die Jode wat in Damaskus woon, verwar deur te bewys dat Jesus die Christus is. 23Maar nadat ‘n hele paar dae verloop het, het die Jode saamgespan om hom dood te maak. 24Saulus het egter van hulle komplot te hore gekom. Hulle het die stadspoorte dag en nag dopgehou, sodat hulle hom kon doodmaak, 25maar sy dissipels het hom in die nag gaan haal en hom deur ‘n opening in die muur in ‘n mandjie laat afsak.
Waar die verhaal van die vestiging van die kerk in Jerusalem by die groot Pinksterdag begin (Hand 1-2), begin die verhaal van die vestiging van die kerk in die wêreld by Saulus se bekering en die klein Pinksterdag (Hand 8-9) in die huis in Reguitstraat in Damaskus, Sirië (240 km noord van Jerusalem). Sirië is dus nie net bekend vir die onrus wat daar oor die eeue heers nie, maar ook vir die bekering van een van die grootste apostels van die kerk. Saulus word hier nie net gekonfronteer met die sonde van vervolging nie – en let op dat wat Saulus aan die gelowiges gedoen het, word gereken as teen Jesus self – maar ook geroep soos Moses van ouds om God se boodskap van verlossing aan nasies (vervul in bv Hand 13), konings (vervul in bv Hand 26), sowel as Israel (vervul in bv Hand 22) te neem.
Dit is opmerklik hoe vinnig Saulus begin om die belofte van Jesus dat hy ‘n werktuig vir God sal wees, te vervul. Sy bekering transformeer hom van ‘n bedreiging vir die kerk na ‘n bedreiging vir die vyande van die kerk. Hierdie verhaal is daarom so ’n belangrike een vir Lukas, dat hy dit nog twee keer vertel (hfst 22 en 26), want hoewel Petrus hierna die eerste treë na die heidene sou gee (Hand 10), is dit veral Saulus wat die evangelie oor sy Joodse grense sou laat bars waarmee die wêreld onherroeplik verander is. Ietsie meer oor Saulus: sy familie was uit die stam van Benjamin, soos koning Saul van vroeër. Hulle het voor sy geboorte uit Galilea na Tarsus in Silisië (oos-Turkye) verhuis, waar Saulus sy eerste lewenslig aanskou het. Vroeg na sy geboorte het hulle na Jerusalem verhuis (Hand 26:4) waar hy aan die voete van Gamaliël gestudeer het. Lukas vertel vir ons ook van ’n suster van hom (Hand 23:16). Verder, as jy mooi oplet, sal jy sien dat Lukas hier van “Saulus” praat, en Jesus van “Saul”. Eersgenoemde is die Griekse spelling van sy Hebreeuse naam, en laasgenoemde die Griekse transkripsie van sy Hebreeuse naam, want Jesus het met hom in Hebreeus gepraat. Die naam “Paulus” wat van Handelinge 13:9 af gebruik word, is sy Latynse naam.
Wat ‘n mens verder opval is dat die dissipels weliswaar afskeid van Jesus geneem het by sy hemelvaart (Hand 1), maar regdeur die boek sien ons dat Jesus steeds met die bediening – want dit is SY bediening – op aarde voortgaan. Hoewel Jesus normaalweg vir ons oë verskuil is, word die gordyn van tyd tot tyd weggeskuif, sodat ons die voortgaande aktiwiteit van God die Vader, Seun en Heilige Gees op aarde kan sien, soos in hierdie verhaal van Saulus. Jesus tree hier in namens sy liggaam, die kerk. Wie die kerk vervolg, vervolg ook die Here van die kerk. Hierdie Jesus is betrokke by die lewe en werk van die kerk. In Handelinge 9 red Jesus die kerk van vervolging deur die hoofvervolger te omskep in die hoofverkondiger van die evangelie. Die vervolger sal ook self ‘n vervolgde word, ter wille van die evangelie (2 Kor 11). Die bevrydende perspektief uit Handelinge 9 is dat God die Vader, Seun en Heilige Gees dus aktief op aarde teenwoordig is. Jesus doen hier wat geen mens kan doen nie: Paulus, die besete vervolger uit Jerusalem, word in sy spore gestuit, en in ’n oogwink van ’n vervolger tot ’n verkondiger omskep. Die vraag is of ons sou kon leer om raak te sien waarmee God rondom ons besig is? Wanneer mens met God rekening hou, en Hom navolg, is daar immers geen grense vir wat jy kan hoop of bid nie. Hy sê nog steeds vir ons wat ons moet doen. Ons word nie verniet – soos die gelowiges hier – “aanhangers van die Weg” genoem nie. Dit geld almal, nie net die Saulusse en die Ananiase onder ons nie. Is jy besig daarmee?
Lees meer: https://bybelskool.com/handelinge-91-19-die-besete-saulus-word-n-begeesterde-apostel/
Discover more from Bybelskool
Subscribe to get the latest posts sent to your email.

Johan Mahne
Dankie vir die wonderlike Bybelstudie wat ons elke oggend so kan geniet
Chris van Wyk
My voorreg!