Jeremia 10 – Die Here die Almagtige is die ware God

Jeremiah lamenting - Rembrand van RijnHierdie hoofstuk kan in twee dele opgedeel word:

  1. 10:1-16 – Jeremia se openbare belydenis dat daar geen god is soos die God van Juda nie waarin hy waarskynlik onder andere dele uit Jesaja hfst. 40-46 ingespan het vir sy eie verwoording van God se grootheid.
  2. 10:17-25 – Jeremia se intersessie gebed vir genade in die lig van die onafwendbare oordeel.  Hy span onder andere dele uit Hosea 4 en Spreuke 16 in sy verwoording in.

Jeremia se openbare belydenis: die Here die Almagtige is die ware God -10:1-16

Jeremia wy uit oor die magteloosheid van die afgode in die eerste 5 verse.  Hulle is net versierde houtstompe wat met spykers teen die vloer vasgeslaan moet word, sodat hulle nie omkantel nie.  Geen mens kan vir hulle bang wees.  Hulle het geen mag om goed of kwaad te doen nie.  Let op die pragtige metafoor waarmee hulle beskryf word: “Sulke gode kan net so min praat as ’n voëlverskrikker in ’n komkommerland.”!  Jeremia wil ook nie hê dat die Jode die gewoonte van die heidennasies, om vir allerlei tekens aan die hemel op die uitkyk te wees, moet aanleer nie, want dit is betekenisloos.  Hulle kan eerder op God se wysheid staatmaak wat Hy uitdeel aan dié wat Hom dien.

Teenoor die magteloosheid van die afgode staan die absolute mag van die Here wat die Koning van die nasies is.  Sy wysheid is weergaloos.  Hoe kan ’n mens dit oor jou hart kry om Hom nie te dien nie.  Hy is nie maar net die vrug van kunstenaars se arbeid, soos die afgode nie.  Hy is die ware God, die lewende God, die Koning vir altyd.  Hy heers in die geskiedenis en die nasies bewe vir Hom.

Dít, sê Jeremia, is ’n boodskap wat die nasies moet hoor.  Daarom is vers 11 in Aramees geskryf, die wêreldtaal van die tyd, sodat mense dit sommer kan aanhaal in hulle gesprekke met mense van ander nasies.

Dan brei Jeremia uit oor God se skeppingsmag en prys God vir sy krag, wysheid en insig wat hy met die totstandkoming van die hemel en die aarde ten toon gestel het.  Die natuurkragte – water, weerlig, en wind – is in God se wêreld nie gode of selfs onpersoonlike magte, elemente of beginsels nie, soos dit die geval was met die vier Griekse natuurkragte nie: water, lug, vuur, en grond.  Die hele Skepping is alles onder God se beheer en Hy wend dit aan soos Hy dit wil.

Hy is die Skepper van alles en almal, sê Jeremia, en op die koop toe, is Israel die volk wat aan Hom behoort.  Daarom kan sy Naam eintlik in dié verband net op een manier uitgedruk word.  “Die Here die Almagtige is sy Naam.”  Jahwe (Here) is sy verbondsnaam, die naam waarmee Hy Homself aan Israel bekend gestel het.  Die Almagtige is die naam waarmee Hy Hom aan die wêreld en die nasies bekend gestel het.

Jeremia se intersessie gebed: Straf ons nie in u toorn nie – 10:17-25

Jeremia spreek eers in die eerste twee verse die beleërde volk aan om gereed te wees om in ballingskap te gaan.  Hulle moet hulle besittings gereed hou, omdat die Here se besluit vasstaan.

Dan vervolg hy in die res van die perikoop met ’n klaaglied waarin hy sy eie ellende en dié van sy volk voor die Here bekla (vers 19-22) en dit opvolg met ’n intersessie gebed waarin hy vir genade in die oordeel vra (vers 23-25).

Dit is nogal belangrik om vers 19 se oorspronklike teks hier te lees, want die vers is eintlik in die eerste persoon enkelvoud geskryf. Die frase: “Dan sal elkeen roep:” is ’n dinamiese byvoeging van die vertalers wat verberg dat dit eintlik Jeremia aan die woord is.  Die Hebreeuse teks lees net: “Groot is my ellende, pynlik my wonde” (Letterlik: “Wee my vanweë my vermorseling/verbreking, my wond is ernstig”).

Dan maak die res van die verse sin as ’n klaaglied van Jeremia waarin hy sy eie lot voor die Here bekla, maar ook sy volk se ellende op roerende wyse beskrywe – sy tent is verwoes, en daar is niemand meer om dit op te slaan nie.  Die rede is eenvoudig, die herders het dwaas geword en nie na die wil van die Here gevra nie, en daarom het die volk verwilder.  ’n Mens hoor hier vir die 8ste eeuse Hosea praat: “My volk gaan ten gronde weens gebrek aan kennis.” (OAV 4:6).

Dit laat Jeremia oorgaan in ’n spesiale intersessie gebed waarin hy op voetspoor van Spreuke 16:9 erken dat die mens nie self sy pad of koers kan kies nie, maar tog wil vra dat die Here sy straf sal temper.  Vers 24 is eintlik in die eerste persoon enkelvoud geskryf. Jeremia bid wel namens die volk, maar in sy eie hoedanigheid: “Here, straf my soos ek verdien, maar nie in toorn nie, dat U my nie tot niet maak nie (dat u my nie te klein maak nie!).”

Hy sal veel eerder wil sien dat die Here die nasies in sy toorn straf omdat hulle God nie aanroep nie, en sy volk vernietig het.

Boodskap

Dit tref my hoe Jeremia in hierdie hoofstuk Bybelgedeeltes uit die verlede inweef in sy belydenis en sy gebed – Jesaja 40, Hosea 4 en Spreuke 16.  Hy gebruik dié bekende gedeeltes om met beide die volk as met God in gesprek te tree.  Wat veral tref, is hoe hy ’n bekende wysheidspreuk neem, die waarheid daarvan erken, maar tog vra dat die Here genade sal betoon, selfs al hou God Hom aan sy plan met die ongehoorsame volk.

Dit leer my net weer hoe ongelooflik belangrik die Bybel in ons geestelike lewe is.  Dit moet letterlik ’n huis word waarin ons woon.  Jeremia het in sy huis die kamers van Jesaja, Hosea en Spreuke (en nog ‘n paar ander ook!) geken en ingespan in sy verhouding met God.  Só moet dit ook met ons wees.

Jeremia


Chris van Wyk

Ek is gemeenteleraar by Somerstrand gemeente, Port Elizabeth. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am pastor at Summerstrand congregation, Port Elizabeth. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Comments (4)

  • Ds Chris wat my tref is in Jeremia 9:24 God se hart “Ek bewys liefde, reg en geregtigheid op die aarde, want dit is wat ek wil he, se die Here.

    • In die konteks van oordeel bly die drie aspekte van God ons hoop. En ons riglyn: “Dat liefde, reg en geregtigheid belangriker is as insig, krag en rykdom bly ’n fundamentele keuse van dié wat die Here ken en Hom in alles wil erken. Dat dít gelowiges in konflik bring met wêreldse insig, krag en rykdom is daarom egter ook ’n feit. Maar, dit is wat getrouheid van ons vra.”

  • Hi Chris
    Ek is ‘n onlangs wedergeborene (op ouderdom 52!) en worstel maar nog met van die interpretasies van die Woord wat uit soveel oorde bestaan. Ek het onlangs gehoor dat die kersboom (soos wat ons dit vandag aanvaar met al sy gepaardgaande versieringe), in terme van Jer. 7 verse 3 en 4, aan die beskrywing soos in die twee verse genoem, voldoen. Jou kommentaar hieroor sal waardeer word.

    • Hi Riaan. Wonderlik om te hoor. Die genade van die Here ken geen grense nie. Selfs op 52!

      Jeremia 10:1-16 (ek vermoed dit is hfst 10 waarna jy verwys) gaan egter nie oor Kersbome nie.

      Daar is wel sommige mense wat verkeerdelik probeer om ‘n Bybelse argument teen Kersfees, veral teen die idee van ‘n Kersboom, te voer met die gedagte dat die Bybel ons verbied om bome in ons huise te bring en te versier. Die gedeelte wat dikwels aangehaal word, is Jeremia 10:1-16.

      Maar hierdie gedeelte in Jeremia verwys na die afsny van bome, die afkap van die hout om ‘n afgod te maak, en dan die afgod met silwer en goud te versier om te aanbid. (sien ook Jesaja 44: 9-18). Dit het dus niks te make met Kersbome nie. Jeremia leef darem ook baie jare vóór Kersfees.

      Die gedeelte in Jeremia kan nie só uit sy konteks geneem word as ‘n argument teen Kersbome nie. Dit gaan vir Jeremia oor afgode waarteen tereg gewaarsku moet word. Maar Kersbome is nie afgode en word nêrens aanbid nie.

Maak 'n opmerking

  • Chris van Wyk on OpenbaringHi Ronel, dit hang af wat die selgroepe doen. As dit net daar is vir die bestaande lidmate sal dit die gelowiges opbou, maar nie die gemeente groei nie. As daar 'n strategie is om ongelowiges te bevriend en te evangeliseer - uiteraard waar dit moontlik is in julle konteks - dan is kleingroepe 'n wes…
  • Ronel on OpenbaringDs Chris, wat is u mening oor selgroepe in die gemeente die belangrikste manier is om die evangelie in n gemeente uit the brei en gemeente getalle te vergroot? Sal graag u mening wil hoor. Ons is tans in die VAE in Al Ain. Hier is ongeveer 35 verskillende dominansies van gelowiges waarvan ons Suid A…
  • Chris van Wyk on OpenbaringHi Marelize, ja, jy kan dit hier aflaai: https://bybelskool.com/ek-kom-gou-n-boek-oor-openbaring-deur-chris-van-wyk/. (direkte skakel na die boek: https://ngkerksomerstrand.co.za/wp-content/uploads/2020/05/Ek-kom-gou.pdf) Daar is ook 'n skakel na 9 video's wat ek gemaak het oor Openbaring vir 'n Pin…
  • Marie Elizabeth on OpenbaringHi Chris Is dit moontlik om die studie materiaal tov die boek Openbaring as een n boek te onvang? Ons wil met die boek as bybelstudie begin maar wil nie elke hoofstuk apart aflaai nie Laat weet asb? Groete Marelize Van Niekerk Cell: 083 321 4666
  • Chris van Wyk on Lukas 16:1-13 – God vertrou ons met die ware rykdom as ons betroubaar is met aardse rykdomHi Mike, "ewige tente" of "ewige woonplekke" in Lukas 16:9 verwys na die lewe by God in die hemel (vgl Joh 14:2). Paulus skryf ook hieroor in 2 Korintiërs 5:1 en gebruik 'n ooreenstemmende metafoor vir die onverganklike liggaam wat ons in die hemel van God sal ontvang. Hy noem dit 'n "ewige gebou" o…
  • Mike on Lukas 16:1-13 – God vertrou ons met die ware rykdom as ons betroubaar is met aardse rykdomHi Chris, verduidelik vir my wat word bedoel met die woorde, "ewige tente".
  • Chris van Wyk on Genesis 35 – Jakob voltooi sy verbintenis aan God by Bet-El waar alles begin hetHi Petrus, in albei gevalle het die broers wel opgetree, maar in Dina se geval heeltemal oorboord gegaan, en in Tamar se geval sonder 'n regsproses. Dat Jakob en Dawid nie self opgetree het nie is waarskynlik te wyte aan nalatigheid, hoewel die Bybel nie hulle gedagtegang uitspel nie. Met Absalom se…
  • Petrus on Genesis 35 – Jakob voltooi sy verbintenis aan God by Bet-El waar alles begin hetBeste Chris Ek is weer by Genesis en met die Jakob verhaal is daar iets wat my opval: Jakob and Dawid se dogters is onteer en seuns was in opstand teen hul vaders, maar is nie gestraf vir hulle oortredings nie. Dit blyk ook uit ander verhale. Jakob het Ruben met sy seen "vervloek," maar hoekom het d…
  • Chris van Wyk on Psalm 29Dankie Tertia, my voorreg en plesier.
  • Tertia Botha on Psalm 29Dr Chris dankie dat jy met jou kennis en wysheid my sommer ook vandag toerus. Vandag word ek opnuut herinner van God se krag bo die natuur maar ook God se stem in die natuur!! Alledaagse herinneringe aan ons GOD wat alles goed geskep het en steeds daaroor heers.
  • Chris van Wyk on Inleiding op OpenbaringHou moed Amanda! Lees wat ek geskryf het vir Yvonne oor Psalm 103:5: https://bybelskool.com/psalm-1031-5-loof-die-here-wat-al-jou-siektes-genees/comment-page-1/#comment-29597
  • Chris van Wyk on Psalm 103:1-5 – Loof die Here wat al jou siektes geneesHi Yvonne Vers 5 moet in die konteks van die Psalm uitgelê word. Die eerste vyf verse vorm 'n eenheid: 1 Van Dawid. Loof die Here, o my siel, ja, alles wat in my is, sy heilige Naam! 2 Loof die Here, o my siel, en moenie enige van sy weldade vergeet nie – 3 Hy wat al jou sondeskuld vergewe, wat al j…
  • amanda on Inleiding op Openbaringhoe ( op aarde ) gaan God se koninkryk op aarde so gevestig word, dat Hy uiteindelik deur almal as Alleenheerser erken gaan word. Elkeen is so besig om sy eie ding te doen, dat dit byna onmoontlik klink. Dis vir my n moedelose gedagte.
  • Yvonne on Psalm 103:1-5 – Loof die Here wat al jou siektes geneesEk wil graag meer weet oor psalm 103vers 5
  • Chris van Wyk on 1 Samuel 28Hi Elsa, die doderyk is in twee gedeel. Kyk in Lukas 16 vir 'n beskrywing daarvan.
%d bloggers like this: