Skip to main content

Jeremia 7:1-8:3 – Moenie op die tempel vertrou nie

Jeremiah lamenting - Rembrand van RijnDie hoofstuk word weereens ingelui met die frase: “Die woord van die Here het tot my gekom” wat ons vroeër in hfst. 2 aangetref het wat daarom ’n nuwe afdeling in Jeremia se boek inlui, hfst. 7-10, hierdie keer meesal in prosa.  Ons sal dit weer vind in hfst. 11:1 wat ’n volgende hoofdeel inlui.

Jeremia word opdrag gegee om in die poort van die huis van die Here te gaan staan en aan die volk die woord van die Here te verkondig (7:1-15).  Hoewel daar nie ’n tydsaanduiding in hierdie hoofstuk is wanneer dit gebeur het nie, dui die inhoudelike ooreenkoms met die soortgelyke opdrag in hfst. 26 daarop dat dit oor dieselfde opdrag gaan.  Hfst. 26 word aan die begin van koning Jojakim se regeringstyd geplaas (26:1) wat dus ook van toepassing is op hfst. 7.  Die tyd is dus ongeveer 609-608 v.C.

Daarna volg daar drie gesprekke van God met Jeremia waarin hy verbied word om vir die volk in te tree (7:16-20), gewaarsku word dat hulle nie na hom sal luister nie (7:24-29), en aangekondig word dat dié ongehoorsaamheid sal lei tot ballingskap (7:30-8:3).  Die gesprek met Jeremia word onderbreek deur een woord wat waarskynlik aan die volk gerig was oor die nutteloosheid om offers te bring en nie terselfdertyd aan God gehoorsaam te wees nie (7:21-23).

7:1-15 – Jeremia bring die woord van die Here in die tempel

Dit kan wees dat Jeremia sy beurt as priester gebruik het om in die poort van die huis van die Here te gaan staan om dié opdrag van die Here uit te voer.  Soos verskeie Psalms ons herinner, was dit ’n belangrike deel van die verrigtinge by die tempel, om jouself te ondersoek en gereed te maak om die tempel binne te gaan (Ps. 15; 24; 95 ens.).  “Wie het die reg om in u woonplek te kom, Here? … Hy wat onberispelik wandel en doen wat reg is, wat met sy hele hart die waarheid praat, … sy medemens nie kwaad aandoen nie en niemand beledig nie … en hom nie laat omkoop om die onskuldige te kort te doen nie.” (dele uit Ps. 15:1-5).

Jeremia sluit dus hierby aan om die volk te waarsku om hulle lewe en hulle dade reg te maak, om die voorreg van die land te kan bly geniet.  En hy spel die dinge uit wat hulle lewens moet kenmerk, om aan mekaar reg te doen, om nie vreemdelinge, weeskinders en weduwees onreg aan te doen nie, om nie onskuldige bloed in die land te vergiet nie en ook nie ander gode te dien nie.  Hulle sosiale en morele lewe moet hulle geestelike verbintenis aan God reflekteer, anders trek hulle ’n streep deur hulle verhouding met die Here.

Die probleem was dat die volk gedink het dat God só verbind was aan die tempel dat dit outomaties beteken het dat Hy Jerusalem sou beskerm, en daarmee saam ook vir hulle.  Hulle het dus met die valse idee geleef dat hulle veilig is.  Die Here dwarsboom egter dié leuen met ’n oproep uit die wet van die Here en koppel hulle voortgesette verblyf in die land aan die nakoming van die wet, opgesom in aspekte van die tweede tafel van die wet wat hulle nie mag doen nie: steel (8ste), moor (6de), egbreuk pleeg (7de), vals ede aflê (9de) en daarby ook nog aspekte van die eerste tafel van die wet wat hulle oortree deur wierookoffers te bring vir Baäl (1ste en 2de gebod).  Sonder gehoorsaamheid sal hulle nie behoue bly nie.

Die Here verwys dan na die voorbeeld van Silo, so 50 km noord van Jerusalem, die plek waar die tabernakel met die ark eers geplaas is voor die tempel in Jerusalem gebou is.  Weens die ongehoorsaamheid van die volk is die ark toentertyd weggevoer in “ballingskap” en die tabernakel verwoes in die tyd van Eli en die dorpie self verwoes in 722 v.C. met die noordryk se ballingskap.  Psalm 78:59-64 (lees meer: Psalm 78 – Die raaisel van onbestendigheid) verwys ook na die feit dat die Here die volk die onderspit laat delf het in die oorlog by Silo en die ark  weggevoer is.

Die Here roep dié gebeure in herinnering as waarskuwing dat hulle misplaaste vertroue in die tempel hulle suur gaan bekom.  Die verwerping en gevolglike vernietiging blyk onafwendbaar te wees.

7:16-20 – God weier dat Jeremia vir die volk intree

Die ontstellende waarheid wat in dié gesprek met Jeremia na vore kom, is dat genadetyd verbygaan en dat selfs die grootste voorbidder dan nie meer ‘n oor by God het nie.  “Jy moenie vir hierdie volk bid nie.  Moet My nie ter wille van hulle smeek nie en by My vir hulle voorspraak probeer doen nie.  Ek sal nie na jou luister nie.”

Op dieselfde manier sal die Here dit nog twee keer vir Jeremia sê.  In Jer. 11:14 word Jeremia op soortgelyke manier belet om te bid vir die volk en in Jer. 15:1 gaan die Here selfs so ver as om te sê: “Al het Moses en Samuel self by My gepleit, sou Ek geen gevoel vir dié volk gehad het nie.”  En onthou, Moses en Samuel was by uitstek bekend as voorbidders wie se gebede God verhoor het: “Moses en Aäron was onder sy priesters,Samuel onder dié wat sy Naam aangeroep het. Hulle het die Here aangeroep en Hy het hulle gebed verhoor.” (Ps 99:6 – lees meer in my bydrae oor Psalm 99).

Ook Esegiël  wat net hierna in ballingskap met sy bediening begin, kry die ontstellende boodskap dat dinge só sleg kan gaan in ’n volk dat voorbidding ‘n baie beperkte invloed sal hê.  Die Here verkondig aan hom die wrede waarheid dat as Hy uiteindelik ’n oordeelsbesluit in werking stel: “sou selfs daardie drie manne van ouds, Noag, Daniël en Job wat volgens my wil geleef het, net hulleself in die lewe kon hou.” (Eseg. 14:14).

Terloops, dié Daniël waarvan Esegiël praat, is waarskynlik nie sy tydgenoot in ballingskap nie, die Daniël waaroor die boek Daniël handel nie.  Esegiël verwys moontlik eerder na Danel, die skoonpa van Henog in die pseudepigrafiese werk Jubileum (4:20 – wat as kanonieke teks in die Etiopiese Ortodokse kerk erken word).  Daar is ook ’n Danel bekend uit die Ugaritiese Aqhat epos wat as ’n goeie regter bekend gestaan het vir wie die saak van weduwees en wese na aan die hart gelê het. Lees meer in my inleiding oor die boek Daniël.

Vir Jeremia verduidelik die Here die rede waarom dit so is.  Die volk, klein en groot, vereer eerder die koningin van die hemel (waarskynlik Isjtar/Astarte), as vir God.  Daardeur maak hulle nie vir God seer nie, maar hulleself, omdat hulle skande oor hulleself bring.  God se toorn kom daarom oor die land en sy mense , die ekologie sowel as die ekonomie en sal deur niks, selfs nie gebed nie, tot bedaring gebring word nie.

7:21-23 – God eis gehoorsaamheid eerder as offers

As ’n tersyde leer die Here tog die volk weer iets van Homself, miskien by dieselfde geleentheid waar Jeremia by die tempel opgetree het.  Hy soek nie brandoffers nie.  Hy soek gehoorsaamheid.  Hulle verhouding met God hang van hulle gehoorsaamheid af, nie van hulle offerkultus nie.  Hulle moet leef soos die Here hulle beveel.  Dan sal dit goed gaan met hulle.

7:24-29 – God waarsku Jeremia dat die volk nie na hom sal luister nie

In die res van die hoofstuk fokus die Here op Jeremia en waarsku hom dat die volk nie na Hom sal luister nie.  Immers, hulle het nie na God geluister nie.  Hoekom sal hulle na Jeremia luister wat God se woord aan hulle bring.  Die Here gooi ’n blik terug na die verlede waar Hy op vele wyses met die volk deur sy dienaars die profete gepraat het, maar tevergeefs.

Hoewel Jeremia op dié punt nie antwoord nie, is dit natuurlik sy probleem, soos hy later dit gaan formuleer.  Waarom kry hy die taak om iets te sê, selfs tot vervelens toe, as hulle in elk geval nie gaan luister nie.  Die Here gee egter vir hom steeds die opdrag om te praat, maar verander die toon daarvan na dié van ’n klaaglied.  Hy word ook aangesê om sy hare af te sny, soos ’n wafferse Simson, om sy nasireërskap te verbreek as ’n simbool daarvan dat die volk hulle verhouding met God verbreek het, en Hy hulle daarom verwerp het.

7:30-8:3 – God kondig die ballingskap aan

In hierdie verse word die afskuwelike afgodediens van die Judeërs wat selfs kinderoffers ingesluit het, aangevat, iets wat selfs nie in God se gedagtes opgekom het nie.  Die hoogtes Tofet en Ben-Hinnom vallei net suid van Jerusalem was dus doodgewoon in die oë van die Here ’n Moorddal, ’n plek waar kinders om die lewe gebring is.  Josia het probeer om ’n einde daaraan te maak, maar blykbaar nie daarin geslaag nie (2 Kon. 23:10).

Daarom doen die Here nou die vreeslike ding om hulle voorsate se grafte te ontheilig as ’n straf vir hulle eie ontheiliging van kinders se lewens.  Daarmee gee Hy die vernietigende boodskap dat Hy hulle totaal sal vernietig soos Hy selfs die bene van hulle voorsate sal uitwis.  En as iemand die oordeel miskien sou vryspring, sal die dood vir hulle verkieslik wees bo die lewe in die plekke waarheen die Here hulle sal verdrywe.

Boodskap

’n Mens sug eintlik ’n sug van verligting as jy dié oordeelswoorde klaar gelees het.  Dit is nie lekker leesstof nie!  Daar is geen hoop in nie.  As selfs gebed nie meer werk nie, dan het dit regtig laat geword.  Maar dit is natuurlik presies wat die Here wil kommunikeer.  Dinge kan só uitrafel dat die klere by wyse van spreke nie meer van enige nut sal wees nie.

Ek dink die enigste positiewe boodskap wat uit dié gedeelte kom en wat my dié dag kan dra, is dat die Here se belofte steeds is, selfs wanneer Hy oordeel preek, dat Hy ’n God sal wees vir enigiemand wat Hom gehoorsaam en leef soos Hy dit wil (Jer. 7:23).


Discover more from Bybelskool

Subscribe to get the latest posts sent to your email.

Jeremia


Chris van Wyk

Ek is Direkteur van Bediening en Geestelike Vorming by Veritas College International. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am Director of Ministry and Spiritual Formation at Veritas College International. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Comments

Maak 'n opmerking

Onlangse kommentaar

  • Chris van Wyk on Psalm 119:169-176Absoluut!
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 119:169-176Psalm 119 is voorwaar ñ baie Geseënde Psalm
  • Chris van Wyk on Psalm 119:145-152Dis self opnuut weer ‘n vreugde vir my.
  • originalblizzard19aaa84c56 on Psalm 119:145-152Ek was altyd baie langtand om Ps 119 aan te durf, nou wens ek dat dit nie ophou nie... Ps 119 is te kort!!! PDH
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 119:105-112Goeie middag, baie dankie vir die deel van die kosbare verhaal wat so gepas is met die Psalm
  • originalblizzard19aaa84c56 on Psalm 119:1-8Sien waarlik die nou verband tussen OT EN NT. waarlik verhelderend. אמן
  • Chris van Wyk on Psalm 118:19-29Ek gee maar net aan wat ek ontvang het. Dit bly egter 'n kosbare voorreg.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 118:19-29Goeie môre, baie dankie dat u met ons deel wie en waar die vertaaling van die Bybel sy oorsprong gekry het, dit is so kosbaar, baie dankie vir een en elkeen wat deel is en was om hierdie kosbare woord ook vir ons in ons Taal te kon uitlê
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 110Baie dankie vir hierdie kosbaarhede wat u met ons deel. Ek het Openbaring 22 gelees en dit klink baie soos die tuin van Eden, hy praat van die boom van lewe. Die sondeval gemaak dat die mens gesondig het en dat hul nie meer in die tuin kon woon nie asgevolg van die sonde.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 109:6-19Goeie middag, ek wil ook by las dat in Psalm 139:23 bid David;"Deurgrond my, O GOD, en ken my hart, toets my en ken my gedagtes" GOD ken die mens en HY deersoek die hart en die gedagtes. Ek het self al telkens gebid, HERE vergewe hulle want hulle weet nie wat hulle doen nie en dan soos die woord sel…
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 107:33-38Baie dankie vir hierdie verduideliking. Ons lees die eerste keer van Baäl-Peor in Numeri 25. Baäl was die Kanaänitiese god van vrugbaarheid, terwyl Peor verwys na die berg in Moab waar hy onder andere aanbid is. Hy is ook in Kanaän aanbid en was 'n groot versoeking vir die Israeliete met hulle vesti…
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 107:33-38GOD is so goeie GOD. HY gee vir ons die voorskrifte vanaf Deut. 28 en dan volg HY dit ook op in Psalm 107 en sê as ons net doen wat HY ons beveel sal dit met ons goed gaan en ons geseënd wees, nie oor ons nie, maar oor GOD en wie HY is.
  • Chris van Wyk on Psalm 106:43-48Ons lees die eerste keer van Baäl-Peor in Numeri 25. Baäl was die Kanaänitiese god van vrugbaarheid, terwyl Peor verwys na die berg in Moab waar hy onder andere aanbid is. Hy is ook in Kanaän aanbid en was 'n groot versoeking vir die Israeliete met hulle vestiging in die Beloofde Land.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 107:1-9Psalm 1:1 Stel dit so mooi hoe ons, ons pad moet hou en dat ons moet hou en bly by GOD se gebooie
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 106:43-48Goeie naand, Psalm 106: 28 Kan u asb vir my verduidelik wat Baâlpeor is ? Baie dankie Amanda